Februarie elke jaar die afgelope 41 jaar staan in die VSA bekend as Black History Month. Die idee is dat Amerikaners in hierdie maand meer oor die geskiedenis van hul swart landgenote moet opdoen met die veronderstelling dat dit tot rekonsiliasie sal bydra.
Hoewel daar vraagtekens is oor of so ’n maand ná soveel jare nog nodig is, en of dit ooit nodig was, word daar vanjaar oor ’n wye front meer aandag as in jare hieraan afgestaan. Daar is eenvoudig te veel tekens dat rasseversoening in die VSA nie op koers is nie. Selfs die verkiesing van Donald Trump as Amerikaanse president word in sekere kringe as ’n manifestasie hiervan beskou.
Die vraag is egter of groter kennis van mekaar se geskiedenis in Suid-Afrika nie die polarisasie wat oor ’n wye front ervaar word, sal kan help besweer nie? Of is die verskillende persepsies van die geskiedenis so ingebed dat die pad uit hierdie verskillende weergawes nie meer weerstand en konflik sal oplewer as die verskille self nie?
Hoewel persepsie oor grondbesit in Suid-Afrika uiteenlopend is, was die duidelikste demonstrasie van uiteenlopende historiese perspektiewe toe pres. Jacob Zuma ’n striemende aanval op die aankoms van Jan van Riebeeck aan die Kaap gedoen het. Sy idee dat swart mense tot voor 1652 in vrede en harmonie geleef, en baie pret gehad het, strook wel nie met die geskiedenis nie, maar het aanklank by baie gevind, ook sommige senior wit joernaliste.
Hoe sensitief die grondkwessie is, het geblyk uit die geskiedenisles wat dr. Pieter Mulder, destyds leier van die Vryheidsfront Plus, oor grondbesit in die parlement gelewer het. Dit het groot verontwaardiging onder swart parlementslede ontlok, en selfs Zuma het baie skerp reageer. Ook verskeie swart LP’s van die DA het Mulder erg verkwalik.
Peilings toon dat tot ongeveer 85 persent van swart mense glo wit mense het hul grond bekom deur dit van swart mense te steel. Die persentasie wit mense wat dit ook glo, neem ook geleidelik toe. Hierteenoor het die ad hoc-komitee oor grondbesit, wat verskeie Afrikanerorganisasies insluit, hierdie opvatting as die groot leuen beskryf.
Zuma se volgehoue opmerkings dat wit mense swart mense se grond gesteel het, het hom verskeie klagtes van haatspraak by die Menseregtekommissie op die lyf laat loop. Die kommissie is opsigtelik nie lus om die nodige aandag aan die saak te skenk nie.
Die oorwinnaar skryf die geskiedenis, en al beteken die Nasionale Vredesakkoord in beginsel dat daar nie ’n verloorder was nie, is dit nie wat in die praktyk ervaar word nie. Niemand behalwe die Afrikaner sal sy eie geskiedenis behoorlik bewaar nie, en daar is ’n groeiende bewuswording by Khoi-San-groepe dat hulle ook verantwoordelikheid vir hul eie geskiedenis moet neem. In te veel gevalle is die Khoi-San se geskiedenis reeds heeltemal verdring, en bring dit botsende grondaansprake mee.
Om ter wille van ’n skynbare vrede op leuens terug te val, kan ook nie deug nie.
- Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.
Vreeslik baie inligting oor die Afrikaner se geskiedenis le in stukkies en brokkies vol stof in biblioteke. Ons moet dit gaan soek en afstof voor ons die jongste duur slapband-handleidings van ‘kundige’ uitlanders wat die ‘truth’ namens ander landgenote opdis, verorber.