Kennis, kundigheid in boerdery as grondslag vir groei

bennie-van-zyl-tlu-sa

Bennie van Zyl van TLU SA. Foto: Facebook.

Veel gewag word gemaak dat landbougrond gegee moet word vir swart mense sodat daar gedeel kan word in die rykdom van die land.

Dit is nodig om sodanige stelling in perspektief te plaas.

  • Grond alleen beteken nie rykdom nie, tensy dit korrek benut word en as een van die produksiefaktore aangewend word in ʼn winsgewende produksieproses wat, indien dit reg gedoen word, die moontlikheid skep van rykdom. Dit beteken dat daar met groot kundigheid deurlopend volhard moet word met die proses. Rykdom is dus nie iets wat daar is en net benut kan word nie – dit moet geskep word en dan ook deurlopend geskep word.
  • Grond is slegs een van die produksiefaktore. Die ander naamlik ondernemerskap, arbeid en finansiering is ook nodig om gesamentlik in ʼn bepaalde verhouding tot mekaar sukses in die produksieproses te bereik. Tegnologie word deesdae as ʼn vyfde produksiefaktor gereken en moet daarby gevoeg word.
  • Dit verg ʼn besonderse kundigheid om hierdie produksiefaktore te kan bestuur tot by winsgewendheid. Nie elkeen beskik oor die belangstelling, die toegewydheid, die sin vir dringendheid en die kennis (wat baie dinge behels) nie. Om die produksiekoste te kan diens is daar weinig boere wat uit eie vermoë dit kan finansier. Dit moet verkry word van ʼn finansiële instelling of insetverskaffer wat deeglik kyk na die terugbetaalvermoë alvorens finansiering enigsins oorweeg sal word.
  • ʼn Baie belangrike aspek wat ook in ag geneem moet word, is die beginsel van ekonomie van skaal. Die veranderlikes waarmee boere te doen het wat buite hul beheer is (byvoorbeeld droogtes en ander rampe, stygende insetkoste, fluktuerende pryse, politieke onsekerheid, onsekere veiligheidstoestande) verg dat ʼn boer in baie gevalle self verskansing daarteen moet doen. Indien daar te min kapasiteit is om van hierdie veranderlikes self te oorbrug sal iemand vinnig onder groot druk geplaas word. Die wêreldwye ervaring is dat plase al hoe groter word om seker te maak die kapasiteit daar is om volhoubaarheid te kan waarborg.

Suid-Afrika se armoede- en werkloosheidsvraagstuk is gewis ʼn uitdaging wat aandag moet kry. Dit kan nie genoeg benadruk word nie dat dit slegs volhoubaar gedoen kan word indien die ekonomie groei. Daar is sekere voorwaardes en vereistes waaraan voldoen moet word om dit reg te kry. Die volgende tabel illustreer dit.

bennie-van-zyl-en-adam-jacobs-tabel

Grafika: Verskaf.

Hierdie proses is ongenaakbaar met persone/regerings wat dit nie reg doen nie. Eerlik moet daar erken word dat Suid-Afrika tans nie baie suksesvol is om die genoemde voorvereistes en voorwaardes te bereik nie. Wat ook gesê moet word, is dat alvorens daar enigsins ʼn kans is dat dit bereik kan word die fondament waarop dit gebou moet word vertroue is wat verkry word deur ʼn gesonde beleidsomgewing waaroor daar baie gesê kan word.

ʼn Groot faktor in die onsekerheid en afbreek van vertroue is natuurlik die onaanvaarbare hoë vlakke van misdaad waarmee Suid-Afrika gebombardeer word. Die plundery van daardie middele deur korrupsie wat juis aangewend moes word deur die staat om sy stabiliserende en stimulerende rol te speel se prys is reeds te hoog vir ons land.

Dit bring ons terug na die stelling dat landbougrond (al is dit klein stukkies) oorgedra moet word aan swart persone. Wat is die verwagte uitkoms, hoe volhoubaar is dit en is daar enigsins ʼn kans dat daar suksesvol daarop geboer kan word?  Indien die regering eerlik is dat die grond oorgedra moet word aan swart boere moet daar dan gewys word dit is ʼn eerlike agenda. Begin by die staatsgrond en oorhandig ekonomiese eenhede aan gekeurde swart boere en gee vir hulle titelaktes en help hulle om ten minste in ʼn posisie te wees waar die produksiefaktore sinvol bestuur kan word.

Om egter geleenthede daar te stel wat deurlopend deur middel van herkapitalisasie kunsmatig aan die gang gehou moet word, maak nie sin nie. Ons land het net te min landbougrond en ook water dat daarop politieke speletjies gespeel kan word. ʼn Gesonde uitgangspunt behoort te wees dat alle landbougrond ekonomiese eenhede behoort te wees. In dié verband het TLU SA reeds in 2005 konstruktiewe voorstelle aan die regering gedoen waarin ʼn proses daargestel kon word om wel nuwe swart toetreders in die landbou-omgewing te betrek, maar dan op só ʼn wyse dat hulle wel ʼn kans op sukses sou gehad het, nie soos die regeringsprojekte nou gedoen word met amper ʼn waarborg tot mislukking nie. Ongelukkig het die regering besluit om dit nie te aanvaar nie.

Die strategiese waarde van kommersiële boere wat voldoende voedsel produseer gegewe die meer as 66% inwoners in Suid-Afrika wat verstedelik is, kan nie genoeg beklemtoon word nie. Indien die regering ongeag die produksie-onvermoë van sy huidige oordragte gaan voortstu op sy huidige weg, moet hulle solank hul self gereed kry om die tekort aan voedsel in Suid-Afrika te bestuur. Dit is daarom nodig om seker te maak dat die beste en kundigste boere die geleentheid moet kry om te mag boer. Om dit te bepaal is daar net een meganisme wat dit kan doen naamlik die markkragbeginsel wat geld vir swart en wit boere.

Volgens die 2005-voorstel sou selfs die politieke teikens bereik kon word, maar dan wel volgens ekonomies volhoubare kriteria. Die belangrikste van daardie voorstel was dat die landbou-omgewing gestabiliseer sou wees, geen bestaande boer sou enigsins bedreig gewees het nie, persone sou graag daarin wou belê en die regte meganismes sou in werking gewees het om optimum produksie te kon handhaaf.

ʼn Boer se taak is om winsgewend te boer. Dit is die staat se verantwoordelikheid om na voedselsekerheid te kyk. Dit bly ʼn uitdagende beroep om steeds mededingend te wees. Die feit dat elke plaas ʼn sake-entiteit in eie reg is en nie met die buurplaas vergelyk kan word nie en soos elke ander plaas ʼn prysnemer is wat in eie reg winsgewend moet boer met geen hulp van die staat nie, maak dié uitdaging net nog groter veral met ons nuutverworwe rommelstatus.  Besef verder dat ʼn boer “nie op pensioen” gaan nie en dat sy belegging in sy grond inderwaarheid sy sekuriteit vir sy oudag is.

Op ʼn internasionale landboukongres in Europa is gesê dat Suid-Afrika se kommersiële boere van die beste in die wêreld is. Op navraag oor die rede vir só ʼn standpunt is daar deur ʼn baie hooggeplaaste gesê hy kan vinnig aan drie redes dink: 1) Ons land word as ʼn marginale landbouland beskou en steeds is ons ʼn netto uitvoerder van voedsel; 2) ons ding mee op internasionale markte teen gesubsidieerde voedsel; en 3) in enige ander land beleef hulle dat die boer se grootste vriend die regering van die dag is terwyl in Suid-Afrika dit net mooi andersom is.

Daardie status oor die kwaliteit van ons boere is nie uit die lug gegryp nie, dit is gevestig deur die jare in harde omstandighede ondersteun met puik navorsing en voorligtingsdienste wat pasmaak kennis vir die Suid-Afrikaanse boere plase toe gebring het. Mag Suid-Afrika se landbouers steeds voortbou op die pad van kennis en kundigheid as grondslag om ʼn bydrae te maak tot ekonomiese groei – dit is al hoe ons land se ernstige knelpunte sinvol hanteer kan word.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Bennie Van Zyl

Meer oor die skrywer: Bennie Van Zyl

Bennie van Zyl is hoofbestuurder van die Transvaalse Landbou-unie.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Pieter ·

Dankie TLU SA! Terwyl talle ‘n storm in ‘n Spur koppie meemaak is die aanval op ons eiendomsreg baie ernstig en verdien na regte besliste optrede en betrokkenheid van ons almal af.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.