Kerk en privatisering dalk antwoord op onderwyskrisis

Die afgelope maand of twee was die toestand van ons land se onderwys (weer) sterk in die nuus met die handboek-chaos in Limpopo asook die situasie in die Oos-Kaap.

Daar is met goeie reg rede vir kommer en onsteltenis oor die onderwyssituasie. Selfs die oënskynlike verbeterde matriekuitslae van 2011 is deur baie met ‘n knippie sout geneem – terwyl die onderwysdepartement vir ‘n wyle glorieryk in die sonskyn daarvan gebaai het.

Die werklike akademiese vermoë van menige matrikulant laat mens egter wonder. Dit is egter die aantal leerlinge wat tussen graad 1 en 12 uit die bus val, wat die meeste vrae laat ontstaan. Een van die ononderhandelbare vereistes vir voorspoed en hoop vir die toekoms, is die toeganklikheid en kwaliteit van onderwys en opleiding vir al ons land se mense.

Die grootste deel van die bevolking kan nie bekostig om hulle kinders in topklas skole te laat leer nie. Ongelukkig is die vlak van kwaliteit-onderwys, uitnemendheid en dissipline by baie skole in veral die arm en afgeleë gebiede dikwels beroerd. Onderwysers wat ondergekwaliseerd is, wat laat kom en vroeg loop, wat lustig deelneem aan stakings terwyl kinders met groot opoffering tevergeefs by skole wag en die seksuele misbruik van leerlinge vir spesiale “gunste”, is almal bydraende faktore wat ‘n onvergeeflike onreg jeens ‘n groot persentasie van die kinders van ons land is.

Daar word dikwels verwys na die “verlore geslag” leerlinge van die dekade of twee vóór 1994 wat onder die slagspreuk van “vryheid voor geleerdheid” hulleself van behoorlike opleiding beroof het. ‘n Groot deel van ons land se sosiale probleme en werkloosheid vandag kan hieraan gewyt word.

Die hartseer is egter dat daar ‘n verdere geslag van swak-geletterdes voortgebring word. Hierdie keer kan dit nie aan ‘n ideologie van rasse-diskriminasie gewyt word nie, maar aan ‘n regering wat sy mense faal. Dis ‘n ander vorm van diskriminasie – hierdie keer nie op grond van velkleur nie, maar teen diegene wat dit nie kan bekostig nie.

Suid-Afrika gaan gebuk onder ‘n plaag van swak leierskap. Daar is kwalik ‘n staatsdepartement waar leierskap van groter belang is as in onderwys. Dis veral hier waar ‘n leierskapskrisis bestaan – van grondvlak tot op nasionale vlak. Swak nasionale leiers produseer swak leiers op ander vlakke.

Myns insiens is dit veral skoolhoofde wat sleutelrolle in hierdie verband kan speel. Ek het in die kerkewêreld oor die jare iets waargeneem wat eweneens in die opvoedkunde van toepassing is. Die mees bepalende faktor wat ‘n gesonde en groeiende gemeente verseker, is die kaliber van leier wat voorloop.

Ek het dieselfde waarneming in skole gemaak. Die skoolhoof is die een enkele, belangrikste faktor wat die algemene toestand van ‘n skool bepaal. En dit is nie net van toepassing op welvarende skole nie. Daar was die afgelope paar jaar ‘n hele aantal voorbeelde van skole in die armste dele van ons land wat vestommende resultate toon, die kinders positief en gelukkig is, waar die skoolterrein en geboue netjies is tenspyte van  die gebrek aan geld en waar uitnemendheid en dissipline opmerklik is. Feitlik sonder uitsondering kan so ‘n toedrag van sake direk aan die skoolhoof verbind word wat deur sy eie voorbeeld, dissipline, passie en waardes die standaard in sy skool beïnvloed.

Die Kerk het nog altyd groot belang by onderwys gehad. Talle skole en universiteite het as gevolg van kerklike inisiatief ontstaan. Daar is vandag honderde, indien nie duisende kerklike en Christen-privaatskole in die land. Die meeste van hulle lewer uitstekende resultate en leiers op elke terrein van die lewe op.

In die lig van die onderwys-situasie in ons land, moet ook die inisiatiewe van Solidariteit om kwaliteit-onderrig en opleiding vir ons jeug te help verseker, met dankbaarheid en positiwiteit bejeën word.

 

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Isak Burger

Meer oor die skrywer: Isak Burger

Isak Burger is die voormalige president van die Apostoliese Geloofsending van Suid-Afrika.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae