Wat dink jy as jy die woord ‘kerk’ hoor?

kerk-kapel

Foto: VinnyCiro/Pixabay.com

Wat is die eerste beeld wat by jou opkom as jy die woord “kerk” hoor?

Vir baie mense is dit ʼn gebou met ʼn toring en ʼn hoender daarop. Vir ander is dit ʼn ouditorium met ʼn verhoog en ʼn orkes. Sommiges sal sê ʼn kansel met ʼn dominee of ʼn pastoor wat preek en ander sal dadelik dink aan ʼn selgroep of ʼn Bybelstudiegroep.

Hierdie dinge is nie verkeerd nie, maar dit is dalk nodig dat ons net weer kyk na die eerste twee beelde van die kerk wat ons in die Nuwe Testament kry.

In Handelinge 2 staan daar: “Al die gelowiges was eensgesind en het alles met mekaar gedeel. Hulle het hulle grond en besittings verkoop en die geld aan almal uitgedeel volgens elkeen se behoefte. Hulle het almal elke dag getrou by die tempel bymekaargekom, van huis tot huis die gemeenskaplike maaltyd gehou, hulle kos met blydskap en in alle eenvoud geëet, en God geprys.”

Handelinge 4 skets baie dieselfde prentjie: “Die groot getal wat gelowig geword het, was een van hart en siel. Niemand het sy goed net vir homself gehou nie, maar hulle het alles met mekaar gedeel…”

As jy iemand in die antieke tyd sou vra wat die woord kerk beteken sou jy waarskynlik iets hoor soos: “Daai vreemde groep mense wat alles met mekaar deel, wat oor kultuur en ekonomiese grense heen mekaar “broer” en “suster” noem….”

Jesus het radikale idees gehad oor leierskap, familie, hoe ʼn mens met jou vyande maak en veral oor geld en besittings. Die vroeë kerk het duidelik iets hiervan gesnap.

Die uitdaging vir elke geslag Christene is om weer die ou kuns van kerk wees in ʼn nuwe tyd te ontdek.

Jesus het meer gepraat oor hoe sy volgelinge moet lewe as oor wat hulle moet glo. Hy het duidelik nie net gekom om ʼn klomp nuwe godsdienstige reëls of bloot ʼn nuwe filosofie voor te stel nie, maar om ʼn groepie volgelinge op aarde te vestig, ʼn alternatiewe gemeenskap wat iets van sy droom vir die wêreld sou illustreer – wat Hy die koninkryk noem.

Ons word aan die een kant geroep om te bid “laat U koninkryk kom, soos in die hemel so ook op aarde…”, maar ook om dit te lewe, om iets van daardie gebed waar te maak in ons tyd deur ʼn alternatiewe gemeenskap te wees.

As Christene bloot mense is wat weekliks geestelike byeenkomste bywoon, daagliks bid en uit die Bybel lees, terwyl ons vir onsself leef en net uithang met ons eie mense, getuig ons uiteindelik teen die boodskap van die Evangelie.

“Hoe die kerk lyk” is net so belangrik as “wat die kerk verkondig”. Christene se lewens sê eintlik meer as hulle preke.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Strydom

Jaco is betrokke by ECHO, ’n geloofsgemeenskap wat geleenthede en ondersteuning bied aan jongmense in nood en probeer om weer die eenvoud van kerkwees te herontdek. Hy skryf rubrieke vir onder andere Beeld en Kerkbode. Lees sy artikels op ECHO Jeugontwikkeling se webwerf.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

MTSteyn ·

Hallo Jaco,

Prysenswaardige skrywe, wat volgens my beskeie mening weer uit so 90% Skrif-gebaseerde Waarheid bestaan, met die 10% humanistiese beginsels wat jy gewoonlik deurmeng.

Hoe kan die “net uithang met ons eie mense” teen die boodskap van die Evangelie getuig? Meer toeligting sal waardeer word. Ek reken dat dit ‘n hoogs aanvegbare stelling is, en een wat ek sukkel om met ‘n God wat skeiding deel uitgemaak het van Sy Skeppingsplan, te versoen. Die Handelinge 2 gemeente waarna jy wys het slegs bestaan uit Weer-Gebore kinders van God, en slegs laasgenoemde is toegevoeg tot die gemeente (maw skeiding tussen kinders van God, en die ongereddes). Daar is self so ver gegaan om hierdie gemeentelede se besonderhede in lidmaatregisters op te teken, ‘n gebruik wat selfs vandag toegepas word.

Niemand word uit Jesus Christus se Verlossingsplan uitgesluit nie, maar deur te probeer voorgee dat diegene wat “net uithang met sy eie mense” teen die Evangelie getuig, verdoem jy ‘n klomp kinders van God (veral uit die vorige bedeling bv.) tot tee-werkers van die Evangelie, ipv die medewerkers wat hulle werklik is.

Burger ·

Jy beskryf godsdienstigheid teenoor die soeke na die waarheid. Niemand word uitgesluit nie , so baie is ongelukkig vasgevang in die kloue van godsdienstigheid wat tot die dood lei , die kern van die meeste tradisie gefokusde kerke. Dis nie maklik om daar uit te kom nie , maar redding is daar.

John ·

Waar is jou swartsak-kaia-kerk, Jaco? Ons wil kom diens doen in jou gee-program. Jy het skynbaar darem nog jou foontjie en internettyd (bewys bg traktaat), sodat jy die VO kan kontak om ook ‘n paar kospakkies uit die ruim vir ons honger gemeentelede te lewer as iets oor is na die besoek aan Soedan, Somalie en Zimbabwe?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.