Kerke in die spervuur

Die NG kerkgebou op Redelinghuys in die Wes-Kaap is in ‘n brand verwoes. (Foto: Facebook)

Deur ds. Johan Schütte

Dit is 9 April 2019 en op sosiale media word jy begroet deur die skokkende nuus en foto’s: Die NG kerk Redelinghuys is in vlamme gehul.

ʼn Plaaslike ouderling, Ockie Schoeman, het gesê dat dit nie net ʼn gebou is wat afgebrand het nie, maar deel van die dorp se erfenis. Terwyl die ondersoek in Redelinghuys nog besig is, kom die volgende berig op 11 April: Betogers het die Hervormde kerk Wesmoot beskadig en ook aan die brand gesteek. Alhoewel die brand geblus kon word, is duisende rande se skade aangerig.

Skaars vier dae later en die bekende Notre Dame-katedraal in Parys, Frankryk, staan in ligte laaie.

Hierdie tonele gryp ’n mens aan en ontlok verskeie emosies. Mense is verslae, geskok, hartseer en hulle treur, veral in die geval van ʼn gebou wat vir 800 jaar mense met sy skoonheid bekoor het. Selfs Protestante wat vurig en sonder enige diplomasie met Rooms-Katolieke sal stry oor leerstellige en historiese verskille, getuig van ʼn mate van verlies wat hulle voel. Talle harte het in stukke gebreek toe die toring na benede stort.

Ek het nooit die voorreg gehad om die katedraal te besoek nie, maar indien ek ooit die geleentheid sou kry om in Parys te kom en moes kies tussen die Eiffel-toring en die katedraal, sou die Eiffel-toring verloor. My waardering vir hierdie besonderse gebou het begin toe ek as tienjarige seuntjie ʼn legkaart daarvan voltooi het. Hier was ʼn gebou wat iets versinnebeeld van die mooi en die goed waartoe die mens in staat is. Dit is ʼn gebou wat ʼn boodskap uitgedra het, selfs al is die Woord van God nie altyd getrou en suiwer binne daardie mure verkondig nie.

Skade wat deur betogers by die Hervormde Kerk Wesmoot in Pretoria aangerig [11 April 2019]. (Foto: Verskaf)

Ek herinner studente in Kerkgeskiedenis telkens daaraan dat die Middeleeuse mense nie so vuil, agterlik en onopgevoed was soos wat die moderne sekulariste wil voorgee met die benaming “Donker Eeue” nie. Die Notre Dame-katedraal was ʼn getuienis van die teendeel.

Dit was ʼn gebou wat getuig hoe tot drie geslagte se mense aanvanklik daaraan gebou het om, ten spyte van ons kortstondige leeftyd, iets met tydlose skoonheid op te rig. Elke dag het sowat 35 000 toeriste by die deure ingegaan – dit is seker nie vergesog om te dink dat die oorgrote meerderheid van hulle nooit na enige preek geluister of op die Woord van God ag geslaan het nie. Maar wanneer die lig deur daardie drie ontsaglike groot roosvormige loodglasvensters sou skyn, word iets van die hemelse heerlikheid uitgestraal en kon hulle iets sien van dit wat hulle nie (wou of kon) hoor nie.

Die gebou van die Notre Dame-katedraal getuig van ʼn gemeenskap wat anders oor die plek van geloof in die samelewing gedink het. Dit is opgerig vyfhonderd jaar voor stiksienige Christene begin het om die Christendom tot ʼn privaat godsdiens te verskraal en besluit het dat dit niks met die markpleine te doen het nie.

Mense is verslae, want ʼn katedraal soos hierdie herinner ons daaraan dat aanbidding deel is van ons menswees. Katedrale redeneer in stilte met jou en woordloos trek die pilare en balke jou oë en aandag al hoër op na bo, van waar die transendente God Hom na nietige mense toe neerbuig.

Vlamme en rook borrel Maandag uit die brandende Notre Dame-katedraal in Parys, Frankryk. Geelbruinrook kan bokant die katedraal gesien word soos die as van die brand op toeriste en inwoners wat rondom die katedraal staan, val. (Foto: Diana Ayanna, AP)

Dit terwyl hedendaagse kerkgeboue pasgemaak moet wees. Dalk weerspieël dit juis iets van ’n mensgerigte of selfs mensgemaakte godsdienstigheid, waar God se eer, sy majesteit en skoonheid nie meer sentraal staan of die fokus is nie.

Vele kerkgeboue vandag getuig nie meer van die goddelikheid teenoor diegene wat daarin vergader nie. Die verlies van sulke heiligdomme word soveel meer gevoel omdat die hedendaagse aanbiddingsplekke weens finansiële en praktiese redes eenvoudig nie meer katedrale kan wees wat die prag en praal en goddelike atmosfeer wat daarmee gepaardgaan, kan uitstraal nie.

Ons is die erfgename van soveel waardevolle dinge uit die Westerse kultuur, soveel skoonheid, waarheid en waardes.

Talle mense huil oor die verlies van ʼn indrukwekkende gebou, maar ons moet eerder huil oor ons sonde. Ons is hartseer oor die skoonheid wat in enkele ure voor ons oë verkrummel het. In talle van ons dorpies was die kerkgebou die middelpunt van die dorp. Ons moet Christus wéér die middelpunt en die koning van ons lewens maak. Ons moet mense wees wat met ʼn helder stem getuig van die waarheid. Mense wat opstaan vir dit wat reg is, maar ook opstaan teen dit wat verkeerd is.

Christene is die erfgename van ʼn ewige lewe. Mag dit ook ʼn getuienis wees dat gelowiges steeds sal staande bly teen vernietigende kragte wat ons op ons knieë dwing en ons selfs tot op die grond “afbrand”. ’n Sigbare bevestiging dat die woorde van 2 Kor. 4:8-9 nie leë beloftes is nie: “In alles word ons verdruk, maar ons is nie terneergedruk nie; ons is verleë, maar nie radeloos nie; vervolg, maar nie verlate nie; neergewerp, maar nie vernietig nie.”

Die Notre Dame-katedraal ná die brand wat Maandagaand 14 April uitgebreek het. Ongeveer $1 miljard het reeds van oral in die wêreld vir herstelwerk aan dié geskiedkundige gebou ingestroom. (Foto: Francois Mori, AP)

My leeftyd op aarde is maar enkele dekades, maar my erfdeel is dié van ewigblywende skoonheid, waarheid en goedheid.

Mag hierdie gebeure ons ook daaraan herinner dat geboue nie die Kerk van Christus is nie, dit is maar net die plek waar Christus se kerk bymekaarkom om Hom te aanbid. Dit is die plek waar gelowiges die geleentheid het om dinge vir mekaar te doen. Dit is die plek wat jy gereeld besoek, nie net vir God en vir jouself nie, maar ook vir die ander mense wat daar is.

Dit is waar ek ander gelowiges kan aanmoedig om getrou te bly daarin om die regte dinge op die regte plek te doen. Dit is daar wat ek deur ander gelowiges regop gehou word in tye wat my knieë onder my wil meegee. Wanneer ek worstel en selfs nie eens weet hoe om te bid nie, is dit waar ek na ander se gebede kan luister en daardeur bekragtig word. Dit is waar ek en my halfdosyn klein kindertjies vir ouer geslagte ʼn bevestiging kan wees van God wat die toekoms in sy hande hou. Dit is waar my kinders weer by die ouer gelowiges kan leer van God wat deur die geslagte getrou bly. Dit is waar dit vir my ʼn vreugde is dat my motor in die parkeerplek kan staan as ʼn getuienis .”Kyk, mense is steeds besig om die Here te aanbid al is die wêreld hoe boos en deurmekaar.”

’n Mens kan maar net hoop dat die herstelwerk aan die Notre Dame-kerk en aan die vele ander kerke wêreldwyd, wat leeg staan en/of verwaarloos is, veel meer sal wees as net die herstel van die geboue self. Dat die opknapping en herbouing ook ʼn getuienis sal wees dat ons lewens en ons geloof ook gedurig opgeknap en herbou moet word.

  • Hierdie artikel is geredigeer vir plasing op Maroela Media. Lesers kan die oorspronklike en volledige weergawe op die AP Kerk se webblad lees.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

20 Kommentare

jongste oudste gewildste
John

Geboue gaan nie ons geloof behoue laat bly nie, maar eerder die Bybel en gebed in die binnekamer. Die Notre Dame is ‘n museum en toeriste-atraksie waarheen 13 milj mense jaarliks stroom om die gebou en allerhande mensgemaakte kunswerke, Katolieke beelde en glo ware ‘trinkets and tokens’ te bewonder. Frankryk geniet die aansien en inkomste… Dominees bearbei hul gemeentes gereeld vir nog ietsie vir ‘n mooi kerkie vir dominee-se-gemeente. Die tyd gaan kom dat ons weer in die geheim moet vergader vir die behoud van gemeentes. Die Jode se tempel is afgebreek en ‘n ander geloof se gebou pronk in… Lees meer »

Jerry

Ons moet opstaan vir wat volgens ons reg is vir ons, maar ons moet nie opstaan teen dit wat volgens ander reg is vir ander. Ons moet dit verstaan en reg bestuur anders sal ons kerke brand! Solidariteit/Afriforum verstaan dit nie, al wat hulle verstaan is hoe om skoor te soek en uit te lok sodat die aanslag teen die Afrikaner en sy regte, kultuur en geloof in felheid toeneem ten einde die Afrikaner te forseer na selfbeskikking en die bou van n sakeryk uit die Afrikaner en vir Solidariteit/Afriforum/vennote/Steve bestaansreg! Hierdie motief het dit ten doel om boosheid uit… Lees meer »

Hans Richardt

Ons wit Calvinistiese Afrikaners, se voorvaders het die vervolging oorleef, selfs die brandstapels van die Katolieke.
Tyd om ons belange te beskerm.

Sam

In Op. 18 staan geskrywe dat die kerke van die tyd verbrand sal word … Ons was ses maande terug in Europa. My siel het daar nie tuis gevoel nie. Die afbeeldinge op die geboue is niks anders as bose afgode nie en die aanbiddingsplekke is afgodstempels, nie heilige plekke nie! Ek stem saam met John en Saintjordaan. Ons moet terugkeer na die waarheid van die Woord en daardeur ons God leer ken, want die ware Een is nie die een wat in die wêreld voorgehou word nie. Ons kerke met torings is ‘n sinnebeeld van Nimrod se Babel, waar… Lees meer »

Jerry

Vergeet van jou belange Hans, beskerm jou mense!