Kernkragplanne voorlopig gestuit

pieter mulder

Dr. Pieter Mulder, voormalige leier van die Vryheidsfront Plus.

Die ANC-regering se kernkragplanne is deur ʼn uitspraak in die hooggeregshof in Kaapstad gestuit. Die vraag is of die planne permanent gestuit is.

Solank Jacob Zuma president is, moet aanvaar word dat die planne net voorlopig gestuit is. Hy is baie ernstig om dit deur te voer.

Waarom is die kernkragplanne vir Zuma so belangrik?

Omdat dit meer oor Brics en Zuma se verhouding met pres. Wladimir Poetin van Rusland gaan as oor die noodsaaklikheid van kernkrag vir Suid-Afrika.

In Desember 2010 het Suid-Afrika lid van Brics geword met Brasilië, Rusland, Indië, China en Suid-Afrika as lidlande. Van die vyf lande is Suid-Afrika verreweg die kleinste. In elke meetbare opsig hoort Suid-Afrika eintlik nie tussen hierdie groot ontwikkelende ekonomieë nie.

Waarom is ons dan daar?

Omdat die groot Brics-lande, soos China en Rusland, Suid-Afrika sien as ʼn gerieflike toegangspoort tot Afrika. Let wel, Afrika met ʼn potensiële koopmark van 1 200 miljoen inwoners. Afrika met minerale en landbougrond wat hierdie groot ekonomieë nodig het.

In Julie 2014 het die Brics-lande ooreengekom om ʼn nuwe Brics-ontwikkelingsbank te skep. Die bank moet hierdie lande help met infrastruktuur-ontwikkeling. Die nuwe bank is gestig oor frustrasies wat die Brics-lande met die Internasionale Monetêre Fonds – die IMF het. Die IMF is te Westers volgens hulle. Die IMF se hoofkantoor is in Washington en die VSA en die Europese lande kan dus eintlik enige besluit van die IMF veto.

Die Brics-besluit is dat die Afrika-hoofkantoor van die nuwe ontwikkelingsbank in Suid-Afrika moet wees.

Zuma voel baie gevlei en belangrik om deel van hierdie Brics-klub se leiers te wees.

Ná gesprekke tussen Zuma en die Russiese leier Poetin, is sekere ooreenkomste oor kernkrag vir Suid-Afrika tussen die twee lande geteken.

Min. Gordhan het ernstige probleme met die finansiële implikasies van hierdie ooreenkomste en het dit vertraag.

Min. Joemat-Petterson, wat nog altyd lojaal aan Zuma se kant was, moes die kernooreenkomste so gou moontlik in werking begin stel. As gevolg van opposisiepartye se navrae, sekere media-onthullings en die hofsake kon sy die proses nie vinniger laat gebeur nie. By elke Brics-beraad is Zuma nou in die verleentheid omdat hy nie vordering teenoor Poetin oor die kernsake kan meld nie.

Dieselfde probleme geld vir die Afrika-deel van die nuwe Brics-bank. Min. Gordhan het voorwaardes vir die stigting van die bank gehad wat nie vir Zuma aanvaarbaar was nie. Die gevolg is dat die bank ná drie jaar nog nie in Suid-Afrika gevestig is nie. In April vanjaar moes Suid-Afrika weer aan die ander Brics-lande verslag lewer waarom daar nie met die Afrika-deel van die bank gevorder is nie. Dit is ʼn groot verleentheid vir Zuma voor die ander Brics-leiers.

Deur Gordhan en Joemat-Petterson in Maart te kon vervang met ja-baas-ministers, hoop Zuma om gouer kernkrag- en bankresultate te kry. Daarmee bewys hy aan sy Brics-medeleiers dat hy wel nog in beheer van Suid-Afrika is.

Daarom moet ook aanvaar word dat Zuma teen die jongste hofuitspraak oor die kernooreenkoms sal appelleer of alles in sy vermoë sal doen om dit te omseil.

Baie van Zuma se onlogiese en kortsigtige besluite maak nie sin nie. Om van Gordhan en Joemat-Petterson in Maart ontslae te wou raak, maak wel meer sin as dit teen die Brics-agtergrond beoordeel word. Dan is sake soos korrupsie en persoonlike bevoordeling van sekere individue uit hierdie transaksies nog nie bygereken nie.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Pieter Mulder

Dr Pieter Mulder is ’n voormalige VF Plus-leier, voormalige parlementslid en professor.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Leendert ·

Jip, en moet nie Duduzane Zuma, Rosatom en die uraan myne vergeet nie.

Loeis ·

Ja, en vra dan wie die uraanmyne besit.

En sommer ook wie die steenkoolmyne besit wie sulke lae kwaliteit steenkool aan Eskom lewer (waarvoor ons verbruikers betaal), en jy het die volledige prentjie. Alles kom terug na die misbruik van politieke mag vir geldelike gewin, maar ek wil my verstout deur te se dat dit lank voor Zuma reeds begin het. Die rede is dat die beleid dat sommiges bo ander bevoordeel moet word lankal reeds ingestel is. VF+ baklei (alleen) daarteen in die parlement.

humor ·

Dankie FV + die sluier is nou drasties gelig .Hopenlik bou die verset daarteen al sterker op.Wanneer hiedie ooreenkoms gesluit word sal die belastingbetaler sy hand baie dieper in die sak moet steek en bevind SA hom volledig in die greep van die Rooibeer en Ooste Brics. Met n geweldige skuldlas is SA n magtelose prooi en le die hele Afrika op n skinkbord.

apie ·

Baie dankie dit maak als baie duidelik. Mens wondeer ook hoeveel Poetin alreeds “ingeploeg” het in die kernkrag. En mens wonder ook of die Sassa-begroting nie n poging is om kontant bymekaar te maak nie

humor ·

Hierdie verwikkelinge wat versnel, is reeds in die tyd van dr, Connie Mulder tydens NP regring voorsien. In die latere jare het selfs die NP al meer verlibberaliseer en daarmee die die siening begin huldig dat SA gereed is vir vreedsame integrsasie met die swartbevolking. Die sg reenboognassie. Self vandag nog midde in hierdie tragiese werklikheid is daar mense wat glo dit is realiseerbaar. Ek hoop hierdie skrywe bring helderheid mbt hierdie seining en die uiteindelike doel waarop dit afstuur.

Cecilia Tjaden, Kaapstad. ·

Dankie Dr.Pieter Mulder vir wat julle doen.Met trots kan ek se,ek het nog altyd VF Plus gestem,en sal ook altyd!. Baie seen vorentoe.

John ·

FW de Klerk, Pieter Mulder… en waar is Pik Botha… ? Skrik die ou NP’s nou eers wakker? Bietjie laat hoor. Die koeel is laaaankal deur die kerk. Net die ou bloekom, dominee se parkeerplek, is nog oor en die aasvoels sit in rye op die takke… en die ouderlinge mag nou net met Engelse ketties skiet… en rubber-klippies, made in China…

Jan Jooste ·

Stem saam met Leendert dat korrupsie en diefstal buite rekening gelaat is. Die BRICS-motivering verteenwoordig seker minder dan 20% van Zuna se motivering. Die Zuptas is uitstekend geposisioneer om met die kernskandaal die wapenskandaal se buit na kleingeld te laat lyk. Verklaar Dr Mulder se stilswye hieroor die VF+ se insig en dus onbetrokkenheid om SA te beskerm?

Chris ·

Ek het in die vorige bedeling vir die goewerment gewerk. Ek is op ‘n stadium voor ‘n komitee waartydens een van die lede my gevra het, “kan jy vir my sê hoe jy die toekoms van Suid Afrika in die jaar 2000 sou sien”. Ek antwoord toe, “ons sal omtrent 20 Roebels vir ‘n brood moet betaal”. Nodeloos om te sê, ek is nie in aanmerking vir die pos geneem nie. Dit is weereens ‘n duidelike bewys wat die strategiese waarde die land is. Ongelukkig is die persoon/organisasie wat aan bewind is ‘n lakei van die moonthede en is die persoon wie die meeste geld aanbied, die wenner. Ek huldig nog steeds die mening dat die land nie aan die inwoners gaan behoort nie. Ons is net marionette in die groot spel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.