Kernwapens en kernterreur

terreur-terrorisme

Argieffoto.

Een van die blywende vrese in die debat oor kernwapenverspreiding, is die gebruik van kernwapens deur terroriste, oftewel kernterreur.

Die vooruitsig van ’n terreurgroep in besit van een of twee kernwapens (of dalk meer) boesem ongetwyfeld vrees in. Hoewel kernterreur ’n vreesaanjaende vooruitsig is, moet dié vrees in perspektief geplaas word. Alvorens ons oor die vooruitsig van kernterreur besin, mag dit dalk sinvol wees om allereers na die probleem van terreur te kyk.

’n Voormalige direkteur van die Amerikaanse Intelligensiediens, John Deutch, noem dat terreuraanvalle wêreldwyd afgeneem het tydens die periode 1971-1996. Op sy beurt, wys Larry Johnson, ’n teenterreurspesialis by die Amerikaanse departement van buitelandse sake, daarop dat die aantal sterfgevalle wêreldwyd van 4 833 gedurende die 1980’s tot 2 527 in die 1990’s afgeneem het. In hul beoordeling van die bedreiging van terreur, vermeld die Amerikaanse departement van buitelandse sake en die Amerikaanse Intelligensiediens dat slegs 153 van die terreuraanvalle gedurende die jaar 2000 as betekenisvol beskou kan word en dat slegs 17 van dié aanvalle betrekking op Amerikaners het. Trouens, die titel van Larry Johnson se rubriek in The New York Times (gedateer 10 Julie 2001) verwoord die konteks van terreur voor die aanvalle op 11 September 2001 (hierna: 9/11) uiters goed: “The Declining Terrorist Threat”. Toe gebeur 9/11, waartydens meer mense in één dag sterf as die gesamentlike terreurverwante sterfgevalle gedurende die voorafgaande dekade.

Hoewel lae-intensiteitterreur ’n voortdurende bekommernis in sommige dele van die wêreld is, is gebeure soos dié van 9/11 die uitsondering eerder as die reël. Enkele hoë-intensiteitgevalle van terreur staan wel uit, onder meer, die ontploffing van ’n passasiersvliegtuig oor Lockerbie, Skotland, gedurende 1988 (dodetal: 243); die Oklahoma-ontploffing van 1995 (waartydens ’n regeringsgebou in puin gelê is; dodetal: 168); die 1998-motorbomme gerig op die Amerikaanse ambassades in onderskeidelik Nairobi (dodetal: 213) en Dar es Salaam (dodetal: 11); die Madrid-treinaanvalle gedurende 2004 (dodetal: 193); die 2005 London-terreuraanvalle (dodetal: 56, insluitend die terroriste).

Hoewel elke terreuraanval betreurenswaardig is, moet ons in gedagte hou dat terreur in die meeste lande vir minder as 0,01% van alle sterftes verantwoordelik is (dié syfer is egter hoër in lande met hoër vlakke van konflik). Oor die afgelope dekade het terreuraanvalle ’n gemiddeld van 21 000 lewens elke jaar geëis. Gedurende 2017, byvoorbeeld, was terreuraanvalle vir slegs 0,05% van wêreldwye sterftes verantwoordelik. Terreur, gesien teen dié agtergrond, is weliswaar ’n weerbarstige probleem, maar dit is beswaarlik die eksistensiële krisis wat dikwels deur die media, politici en sommige kenners uitgewys word.

Die grootskaalse lewensverlies van 9/11, tesame met die modus operandi van dié aanvalle (te wete, selfdoodbomaanvalle), het die skrikbeeld van kernterreur aangewakker. John Mueller, professor in politieke wetenskap by die staatsuniversiteit van Ohio, wys heel kundig op die wydverspreide histerie oor die skrikbeeld van kernterreur ná die gebeure van 9/11:

“As for nuclear terrorism, ever since al Qaeda operatives used box cutters so effectively to hijack commercial airplanes, alarmists have warned that radical Islamist terrorists would soon apply equal talents in science and engineering to make and deliver nuclear weapons so as to destroy various so-called infidels”.

As die probleem van terreur ’n geringe een in die internasionale politiek is, wat kan ons gevolglik oor die skrikbeeld van kernterreur sê? Die Amerikaanse Politieke Wetenskaplike, Kenneth Waltz, noem dat, as ons oorweging skenk aan hul oogmerke, terroriste in een van drie kategorieë geplaas kan word.

Een: Terroriste wat dreig om geweld te gebruik om die uitvoering van ’n spesifieke aksie af te dwing (dink, byvoorbeeld, aan Palestynse dreigemente om Israeliese teikens aan te val mits (krygs)gevangenes nie vrygelaat word nie).

Twee: Terroriste wat uitsluitlik poog om te straf. Waarom het al Qaeda ten doel gehad om soveel lewens op 9/11 te neem? Hul beskouing van hulself enersyds en die Amerikaners andersyds, is tersaaklik: die Amerikaners is arrogant, modern, sekulêr, magtig, het wêreldwyd invloed, ondersteun Israel, het gehelp om die demokraties verkose Irannese regering in 1953 omver te werp en stasioneer Amerikaanse soldate in Saoedi-Arabië. Hierteenoor is hulle nederig, tradisioneel, gelowig, plaaslik in invloed en swak (in vergelyking met die magtige Amerika). Amerikaanse boosheid, so meen hulle, ken geen einde nie en, op grond hiervan, verdien hulle om gestraf te word. Ten einde die ongelowiges (vandag die Amerikaners, môre iemand anders) voortdurend te straf, moet dié terreurgroepe hul organisasie in stand hou – geen al Qaeda (of dergelike terreurgroep), geen pyniging van die ongelowiges.

Drie: Terroriste wat verwoes en doodmaak bloot omdat hulle kan, wat glo dat daar ’n beloning in die hemel wag. Dié terreurgroepe het geen perke betreffende die skade wat hulle kan aanrig nie. Hoewel daar verskille tussen dié kategorieë is, word alle terreurgroepe verenig deur ’n diepe frustrasie en ongelukkigheid jeens die bestaande wêreld.

Die eerste kategorie terreurgroepe – dié wat poog om ’n spesifieke aksie af te dwing – het bepaalde oogmerke wat hulle najaag, en dié oogmerke plaas beperkinge op hul metodes om verandering teweeg te bring. Vir húlle hou kernwapens geen voordeel in nie. Palestynse kernwapens sou, soortgelyk aan Israeliese kernwapens, die omvang van geweld gedurende oorlog tussen die twee partye beperk, maar sal weinig die mate van lae-intensiteitgeweld gedurende tye van vrede demp.

Die oogmerke van terreurgroepe in die tweede kategorie – te wete, om te straf waar daar verkeerd gedoen word – demp nie die metodes wat gebruik kan word nie. Hoe groter die “sonde” wat gepleeg word, hoe groter die straf wat die oortreders toegedien moet word. Soos Kenneth Waltz tereg uitwys, Osama bin Laden en sy makkers het die Amerikaners in hierdie lig gesien. Daar is dikwels uitgewys dat bin Laden graag chemiese, biologiese en kernwapens tot sy beskikking wou hê. Verskeie faktore dring egter in teen die verkryging en gebruik van kernwapens deur dié groepe.

Allereers, hoe meer verwoestend die aanvalle deur terreurgroepe, hoe meer verwoestend sal die vergelding wees. Daar word wyd aanvaar dat ongeveer 50 terroriste direk betrokke was by die uitvoer van die aanvalle op 9/11, met die uitsondering van dié wat die aanvalle gefinansier en die aanvalle beplan het. Soos Waltz tereg uitwys, daar is veiligheid (en oorlewing) vir terreurgroepe in klein eerder as groot groepe: hoe meer terroriste by ’n aanval betrokke is, hoe groter die waarskynlikheid dat dié misdadigers voor die uitvoer van hul aanval in hegtenis geneem sal word en geredelik ná ’n aanval geïdentifiseer, opgespoor en in hegtenis geneem sal word. Die beperkinge wat op sodanige terreurgroepe geplaas word, is hoofsaaklik logistiek van aard. Hulle word minder beperk deur die vrees van individuele straf en veel meer deur die bedreiging dat hul terreurnetwerk, wat uiteraard klein (om veiligheidsredes) en omvattend (ten einde effektief te wees) moet wees, ontwrig mag word.

Bykomend kan ek noem dat die lewe van terroriste onseker en gevaarlik is. Hulle leef by uitstek in die terrein van die onsekere. Niemand vertrou hulle nie – nóg dié wie hul geweld finansier nóg dié wie hulle oplei en ’n veilige hawe vir hulle bied. Hoewel terreurgroepe konvensionele wapens met gemengde welslae gebruik, sal die besit en gebruik van kernwapens ’n wêreld van ongekende gevare blootlê. Vir terreurgroepe, soos reeds vermeld, is daar veiligheid in klein groepe.

Om kernwapens te bekom, verg ’n reeks gevaarlike aksies, waarvan elkeen presies reg moet verloop ten einde die groep se oorlewing te verseker. Vervolgens moet terreurgroepe uitbrei ten einde verskaffers, transportryers en tegnici in te sluit, wat op sigself vereis dat dié groepe ander medepligtiges en kriminele moet vertrou. Dít als speel af teen ’n agtergrond waar terreurgroepe voortdurend moet skuilplek vind vir die toenemende waarnemingsvermoëns van state.

Kernwapens is in der waarheid ’n groot beslommernis. Toewyding aan die groep, dissipline en geheimhouding word moeiliker namate die groep vergroot. Die waarskynlikheid dat terreurgroepe ’n kernwapen vanaf ’n goedgesinde staat sal kry, is ook uiters laag. State sal nie graag die risiko wil loop om die blaam (én straf) te dra vir ’n terreurgroep se kernmisdade nie. Dit is géén geheim in die internasionale politiek nie dat state terdeë bewus is van watter terreurgroepe deur watter state begunstig word.

Ook is dit nie so maklik vir terreurgroepe om kernwapens te steel nie. Stephen Younger, ’n voormalige hoof van kernwapenontwikkeling en -navorsing by die Los Alamos Nasionale Laboratorium, wys daarop dat alle kernwapenstate met groot erns na die veiligheid van hul wapens omsien. Waar daar vrae ontstaan het oor die veiligheid van kernmateriaal (dink, byvoorbeeld, hiér aan die Sowjetunie) of die bestaan van ’n swart mark in kernwapentegnologie, kan ek noem dat die verkryging van kernmateriaal, bomontwerpe, sentrifuges en dergelike kerntegnologie weinig van waarde is sonder die gepaardgaande kennis om als bymekaar te bring.

Die derde kategorie terreurgroepe – te wete, terroriste wat verwoes en doodmaak bloot omdat hulle kan – is waarskynlik min gepla oor die voortbestaan van hul terreurnetwerke. Dit is dié tipe terreurgroepe, gewapen met ’n kernwapen, wat vrees inboesem in die gedagtes van Jan Publiek en wêreldleiers. Wat kan ons hieroor sê?

Ongeag die prentjie wat dikwels in die media geskets word, het terreurgroepe tot op hede slegs ’n baie beperkte begeerte – en selfs nog minder vooruitgang – getoon om kernwapens te bekom. Voorts is dit ongetwyfeld waar dat vir terreurgroepe wat ten doel het om grootskaalse verwoesting aan te rig, daar meer doeltreffende en meer geredelik bekombare instrumente as kernwapens is. Vir terreurgroepe is gifgasse, bakteriologiese oorlogvoering of selfs kuberoorlogvoering ’n veel makliker en meer bekombare manier van oorlogvoering as om ’n stad met ’n kernwapen te pynig.

Vrese oor kernterreur spruit dikwels voort uit die aanname dat indien ’n terreurgroep kernwapens bekom, hulle dit beslis sal gebruik – en dan is dit die einde van die wêreld soos ons dit ken.

Die beste analogie hiermee, soos Kenneth Waltz uitwys, is om aan te neem dat as swak state kernwapens bekom, hulle dié wapens teen sterk state sal gebruik. Beide aannames is verkeerd. Hetsy vir state of terreurgroepe, die gebruik van kernwapens hou meer verliese as winste (meer pyn as voordele) in. Deur geduldig te wees, deur strategies te dink en te beplan, kan terreurgroepe hul langtermyndoelwitte bereik. Dié doelwitte kan nie bereik word deur onvolhoubare dreigemente om groot verwoesting teweeg te bring, te maak nie – dreigemente wat dié groepe in elk geval nie kan of wil uitvoer nie. Die skrikbeeld van kernterreur is, vervolgens, ’n uiters oordrewe een.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Eben Coetzee

Dr. Eben Coetzee is ʼn senior lektor aan die Universiteit van die Vrystaat se departement vir politieke studie en regeerkunde.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.