Kersfees – die rewolusie sonder einde

2011 is gekenmerk deur talle rewolusies en opstande.

Die jaar het afgeskop met die sg. “Arabiese Lente”, die rewolusie in Egipte, die opstande in London, die rewolusie in Libië en tans in Sirië.

In Suid-Afrika moet ons nie te gerus wees oor die die potensiaal van ‘n rewolusie hier te lande nie. Die kloof tussen ryk en arm word groter; werkloosheid en korrupsie neem toe. Voeg hierby die regerende party se klaaglike mislukking om van bevrydingsbeweging tot ‘n funksionele en effektiewe regering te promoveer en hulle interne, spanning en twiste wat nie langer meer onder die spreekwoordelike kombers gehou kan word nie, en die moontlikheid van ‘n volbloed-rewolusie in Suid-Afrika word ‘n al groter moontlikheid.

Teen hierdie agtergrond kan ons gerus in hierdie besondere tyd van die jaar weer dink aan ‘n ander “rewolusie”. ‘n Rewolusie wat die lewens van ontelbare mense oor die afgelope 2 000 jaar ten goede verander het. ‘n Rewolusie wat ons tans weer vier – ‘n gebeure wat aanvanklik glad nie na iets rewolusionêrs gelyk het nie – toe daar een stille nag in ‘n stal in Bethlehem, Judea, ‘n Kind gebore is…

Die profeet Jesaja het dit 750 jaar vantevore geprofeteer: “Want ‘n Kind is vir ons gebore, ‘n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouer, en Hy word genoem: Wonderbaar Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors.” (Jes. 9:5)

Sy koms en heerskappy was so ingrypend dat dit die wêreldgeskiedenis in twee tydvakke uiteen laat val het: “vóór Christus” en “ná Christus”. Sy koms het dit vir gewone mense moontlik gemaak om in ‘n werklike en lewende verhouding met God te staan.

Kersfees herinner my aan die verandering ten goede wat Christus deur Sy geboorte, sterwe en opstanding in my eie lewe teweeggebring het.

Dis nodig dat ons wat die vrymoedigheid het om ons met Sy Naam te identifiseer, die rewolusie wat Sy koms meegebring het, sal vier – ‘n rewolusie van lig oor duisternis, verlossing van die mag van die bose, en vergifnis van sonde.
Alhoewel ons Hom dikwels faal, is die globale impak van Sy koms steeds verstommend. Lewens word verander, gemeenskappe word beïnvloed en Sy lig van hoop verdryf steeds die duisternis op talle plekke.

Mag ek in ootmoed vra dat ons as Christene ons in hierdie tyd opnuut afvra of ons lewensstyl die karaktertrekke en waardes van die Een wat in die stal in Bethlehem gebore is, weerspieël.

Suid-Afrika sal baie anders lyk as Christene lewe, werk en regeer volgens die leer en voorbeeld van Christus.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Isak Burger

Isak Burger is die voormalige president van die Apostoliese Geloofsending van Suid-Afrika.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.