Kettingbotsing in stadige aksie

Grafika: Verslaggewers Sonder Grense (http://en.rsf.org/)

Grafika: Verslaggewers Sonder Grense (http://en.rsf.org/)

Die bloedbad in Parys op 7 Januarie se nagevolge kring nog uit. Tien joernaliste van die satiriese weekblad Charlie Hebdo is doodgeskiet deur militante Islamiste, maar intussen het sy sirkulasie gestyg na honderdduisende kopieë. Die Franse wil weer militêre diensplig instel. Die saak kring ook uit van Frankryk na België, Nederland, Duitsland.

Belgiese polisiemagte skarrel na twee jihadi’s wat geskiet is in Verviers en polisie-uniforms by hulle gehad het. By implikasie had hulle dus ook aanvalsplanne. Die wapens vir die aanval op die Joodse supermark in Frankryk is bekom in die buurt agter Brussel-Suid-stasie. Burgemeester Bart de Wever het nou die weermag op sekere punte in Antwerpen laat ontplooi.

Die Belgiese Verviers is so ‘n kwartier se ry van die Nederlandse grens; die Nederlandse veiligheidsmagte het onlangs drie jihadi-vegters op pad na Sirië op Schiphol in hegtenis geneem. Stede soos Den Haag, Leiden, Arnhem en Amsterdam het almal verdagte netwerke. Voorverlede Vrydag is een van Amsterdam se drie Joodse skole uit voorsorg ‘n dag lank gesluit. Israel se premier doen ‘n beroep op Europese Jode wat ‘n veilige tuiste elders soek.

Meeste mense leef net voort, maar kan die nuusgolwe kwalik ontkom. Enkele Moslems kla oor brandaanvalle op moskees, of dat mense anders na hulle kyk. Moslem-meningsvormers probeer hul gemeenskap beskerm, of ontken die saak het met (militante politieke) Islam te doen.

Hul wonder ook waarom daar soveel ophef was oor 10 Charlies in Europa en min oor duisende strydslagoffers in die Midde-Ooste. Of meningsvryheid ook kwaadwillige kwetsing van andere se geloof insluit.

Intussen ontvlam die politieke debatte in Duitsland, ook binne partye en kabinette. Bondskanselier Angela Merkel noem dat die Islam ook in Duitsland hoort, met een oog op Duitsland se geopolitieke bande met Turkye. Haar streeksleier in Sakse, Stanislaw Tillich, noem egter dat Moslems hul geloof vry in die bondstaat Sakse kan beoefen, maar dit beteken nie die Islam behoort in Sakse nie. Die minister van binnelandse sake, Thomas de Maizière, noem weer dat die Islam by verre nie die meerderheid van mense in Duitsland daarstel nie, en dat godsdiensvryheid ook beteken dat mense andere in ag neem en met mekaar versoen.

Weens geloofwaardige dreigemente is die anti-Islamisering-demonstrasies van die Duitse PEGIDA in Dresden op 19 Januarie verbied. Die Nederlandse Elsevier se kommentaar is dat die afsegging onder druk van ekstremiste ‘n groter bedreiging vir demokrasie was as alle besware wat mens teen PEGIDA kon hê.

“Die probleme wat Pegida aansny – soos die ideologies-gedrewe asielbeleid en die groeiende invloed van Moslems – is te ernstig om van die tafel te vee.”

Politici regoor Europa debatteer dat die spoeg in alle rigtings spat. Hulle jarelange politieke en geopolitieke beleidrigtings sal egter reuseveranderings moet ondergaan: die Midde-Ooste brand, plaaslike en geopolitieke magstryde vermeng, en die vreedsame naasbestaan van alle mense en gemeenskappe sal vernuwing verg.

Charlie Hebdo in Parys se redakteur is verlede week ter aarde bestel onder die klanke van die ”Internationale”. Na die Val van die Berlynse Muur 25 jaar gelede is die utopie in Europa met nog vyftig jaar uitgestel.

 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Heinrich Matthee

Dr. Heinrich Matthee beklee die ere-leerstoel in veiligheidstudies by Akademia en is ʼn politieke ontleder in Nederland vir bedrywe in die Midde-Ooste.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.