Kies koers en hou koers

Deur Ilze Nieuwoudt

Argieffoto (Foto: Maroela Media)

Die slaggat-gevulde paaie van ons land kan jou nou waarlik na plekke neem. Die paaie kronkel berg op en berg af. Al langs riviere, dorpies met rye kerke aan die een kant van die pad en kroeë aan die ander. Die paaie loop oor die een na die ander diepblou berg en lei die soekers tot by ʼn selfs dieper blou see. Soms spring verroeste pleknaambordjies op langs die pad tussen hier en nêrens.

Mooi name. Name wat vir die mense van daardie geweste iets beteken. Soos Putsonderwater. Reddersburg. Morgenzon. ʼn Storie wat deur generasies heen saamgedra is, ja, name wat soms ook swaardra. Soos Tweebuffelsmeteenskootmorsdoodgeskietfontein.

Vra jou vriende oor hul geboortedorpe en jy kan maar weet, daar is stories wat saam met hierdie antwoord gaan kom. Stories oor die mense, hul vriendelikheid, hulle hardekwas manier van doen, hul eiewysheid of selfs oormatige kalmte.

En terwyl jy nou so uitvra, loop die storie sommer ompad tot by die oupas en oumas. “Van watter Ferreira’s is julle? Langkloof se mense?” sal die ouer garde sommer probeer uitsnuffel. Of soms net sonder om doekies om te draai, beweer dat die “Potgieters van sus en so se wêreld darem maak moeilik kan wees”, of sommer kwetsend vertel van die “Bont Louws” van Namakwaland wat so skoorsoekerig is. Mense en hul plekke was nog altyd ineen verweef.

Wanneer ʼn plek boonop jou huis, jou tuiste is, raak dinge persoonlik. As gebore en getoë Pretorianer is daar vir my net een huis – Pretoria. Dis ʼn saak van identiteit. Jy kan mos ʼn Pretorianer, Kapenaar, Namakwalander en dies meer sommer op ʼn myl hóór aankom. Die woorde wat uit elke streek se mense vloei, het hul eie klank en ritme.

Die Noorweegse linguis Botolv Helleland het in ʼn vaktydskrifartikel net meer as ʼn dekade gelede aangevoer dat individue se bekendheid met hul omgewing sowel as die name van plekke in hulle omgewing ʼn noodsaaklike bydrae tot individue se welstand maak.

Interessant genoeg is hierdie soort van welstand die laaste ding op die lippe van die besluitnemers wat nou (wéér) links en regs wil plekname verander. Niks uit die verlede is nou meer goed of selfs net aanvaarbaar nie.

ʼn Maand of twee gelede is aangekondig dat Graaff-Reinet, Suid-Afrika se vierde oudste dorp, geoormerk is om herdoop te word. So ook die bekende Uilhuis se dorpie, Nieu-Bethesda – ʼn pleknaam ontleen aan die bad waarvan in Johannes 5 geskryf is met die naam Betesda. En so wyd soos die vlaktes van die Karoo, so lank strek die lys van plekname wat die regering nou hoop om in dié streek en nou ook in Limpopo te verander. Aberdeen en Adendorp in die Karoo kan ook dalk in die slag bly.

Verlede maand het die geografiesepleknaamkomitee aangekondig dat aansoeke ingedien is vir die herbenaming van Tzaneen. Die voorgestelde name is Tshaneng Town of Kgosi Makgoba Town. Die valbyl hang ook oor die naam van die lieflike Debegeni-waterval buite Tzaneen. Die naam Dipitseng Dokodiba Ga-Makgoba-waterval is hiervoor voorgestel. Die dorp Haernertsburg, tussen Tzaneen en Polokwane, moet skynbaar verander na Bjatladi Ga-Makgoba.

En terwyl die regering hard werk aan hierdie nuwe handelsmerk-Suid-Afrika waar alle tekens van die Afrikanerminderheid uitgewis moet word, het misdaad in die Wes-Kaap spesifiek nou so ʼn erge verleentheid geword dat die minister van toerisme, Patricia de Lille, onlangs ʼn ooreenkoms met Alistair Mokoena, die direkteur van Google Suid-Afrika, onderteken het om dié maatskappy se kaart- en roeteplatform, Google Maps, te “herprogrammeer” om nie meer die roete tussen die Kaapstad-lughawe en Kaapstad deur Nyanga as voorkeurroete vir reisigers te gee nie. Misdadigheid in die gebied en aanvalle op motoriste het besluitnemers oortuig om dié aanpassing te maak.

Misdadigheid is daar steeds, maar nou hoef die buitewêreld net nie soveel daarvan te weet nie. En of Google Maps jou binnekort by jou bestemming tussen die Dipitseng Dokodiba Ga-Makgoba-waterval en Bjatladi Ga-Makgoba gaan laat kry, bly vir nou ʼn ope vraag. Lekker reis – pasop net vir die slaggate!

  • Ilze Nieuwoudt is ‘n mediaskakelbeampte by AfriForum.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

koos ·

Belaglik, kyk net hoe sorg die nuwe plekname vir ekstra kos in die townships. Maar stem sal hulle stem vir die huidige korrupte regime.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.