Kinders in chemiese bomaanvalle

sirie

Foto: Alexas_Fotos/Pixabay.com

Die skreiende tonele van kinders wat deur chemiese aanvalle in Sirië getref is, het pres. Donald Trump van die VSA oornag die spelreëls van die internasionale politiek laat herskryf.

“Geen kind deur God geskape verdien om so te ly en te sterf nie,” het hy verklaar.

Donderdagnag het die VSA 60 kruisermissiele van Amerikaanse skepe in die Middellandse See afgevuur op die lughawe van waar die Siriese vliegtuie opgestyg het wat die bomaanvalle uitgevoer het.

Dit is nie die eerste keer dat Sirië daarvan beskuldig is dat hy gifgas inspan nie. Soos vantevore, het Sirië ook hierdie aanval op ’n rebellebeheerde dorpie in die noordooste van die land ontken.

Ook Rusland, wat aan die kant van pres. Basjar al-Assad aan die oorlog deelneem en dikwels die leiding met lugaanvalle neem, het die gebruik van gifgas ontken. Een van die opsies wat die Russe geopper het, is dat daar ’n gifgas-opslagplek in die dorp was, en dat dit deur die bomme getref is.

Dit kan egter aanvaar word dat die gehalte van die intelligensieverslae waarop Trump sy oë kon lê, aansienlik in gehalte sou verskil van die stuk prulwerk wat pres. Jacob Zuma gebruik het om sy minister van finansies, Pravin Gordhan, af te dank.

Maar het Trump nie eerder emosioneel as strategies opgetree toe hy die kruisermissiel-aanval gelas het nie? Sy reaksie is wel verstaanbaar. Sirië het by herhaling getoon hy hou hom nie by reëls en ooreenkomste nie, en het selfs in ’n stadium met die internasionale gemeenskap saamgewerk om alle gifgas op te spoor en te vernietig. Die internasionale agentskap wat dit uitgevoer het, het selfs die Nobelprys vir Vrede gekry. Maar algaande het dit geblyk dat Sirië die wêreld ’n rat voor die oë gedraai het.

Die Russiese toetrede tot die oorlog het boonop Al-Assad se regering weer die botoon laat voer. Vredespogings is in werking gestel, en net so dikwels geskend. Die Russiese betrokkenheid het die werklikheid geskep dat Al-Assad deel van die oplossing sal wees, nie deel van die probleem, soos die ingesteldheid voorheen was nie.

Min of meer terselfdertyd het Trump ook laat blyk dat die VSA nie sal aarsel om eensydig in Noord-Korea betrokke te raak, as dit nodig sou wees nie. Tot dusver het die wêreld, die VSA ingesluit, China se beskermingsrol oor Noord-Korea gerespekteer. Trump het nou, op die vooraand van sy ontmoeting met die Chinese leier, Xi Jinping, ook laat blyk dat hy niemand se toestemming nodig het om die belange van die VSA en sy bondgenote te beskerm nie.

Trouens, Trump het iets van die rol van ’n internasionale polisiemag laat blyk toe hy gesê het die VSA behou hom die reg voor om eensydig op te tree as internasionale liggame voete sleep.

Natuurlik verdiep Trump se optrede die gevegslinies van die nuwe Koue Oorlog. Die probleem is dat die Koue Oorlog nie op alle fronte ewe koud verloop nie, soos die stryd teen die radikale Islam. En dit lyk juis of Rusland nou ook, ná ’n paar jaar se blaaskans, weer hieronder begin deurloop het.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Boerseun ·

Blyk of die globaliste n houvas op Trump gekry het, of hy was gekoop van staanspoor af. Hy het duidelik weg beweeg van die wat vir hom gestem het.

John ·

Die probleme tov Sirie is baie ingewikkeld en die waarheid ontwykend. Diegene wat IS ondersteun is die mense wat Sirie wil vernietig. Die opponente van Assad is uit Saoedi-Arabie en Engeland en die VSA is bondgenote van laasgenoemde. Israel kan Assad nie verdra nie weens sy pa se betrokkenheid by ‘n onverwagte aanval tydens ‘n Joodse fees. Baie Israeli’s het gesterf. Maar Rusland het bewyse dat die vorige kamma aanval nie deur Assad was nie en glo hierdie een is ‘n toegesmeerde Westerse flater want Assad sou vanselfsprekend as die skuldige uitgewys word. Sirie word ook opgemors vir… wie se onthalwe. Dis die vraag.

Daan ·

Dit was n false flag. Het julle gesien hoe dra die mense die lyke sonder beskerming. As jy dood is in ‘n gas aan val het jou klere nog gas in en almal wat aan die lyk raak sal dood gaan. Ek weet nie of ek dit moet glo nie.

Allan ·

Asof ons die “White Helmets” en die US se inteligensie moet glo, asb, ons is meer ingelig as dit.
Dit gaan oor bronne olie en die US$ wat deur die Petro dollar gesteun word. Israel, US en Saudi Arabia is die skurke in die verhaal, nie Assad en Rusland nie. Dit gaan oor “Regime change” – Assad staan in hulle pad. Lees die artikels in http://www.veteranstoday.com oor wat die swedse dokter sê wat gebeur het -wat jou sal skok. http://www.veteranstoday.com/2017/04/06/swedish-medical-associations-says-white-helmets-murdered-kids-for-fake-gas-attack-videos/

Allan ·

Lees die artikel van die Swedse dokters met videos op http://www.veteranstoday.com.

Dit sê vir jou wie die skuldiges is.

Dit gaan oor “regime change” deur “false flag” operasies, om die beheer oor die olie te bekom wat die Petrol dollar se waarde gee. Sonder die Petrol Dollar sal die US$ se waarde gehalfeer word.

Daan ·

Dis waar Allan. Iran verkwansel olie aan Rusland en China in goud en nie dollar nie, so die dollar is onder druk.

Nico K ·

Allan, verduidelik vir my. Wat maak Assad so wonderlik dat jy so groot ondersteuner van hom is? Nie dat ek dink sy vyand, IS, goeie outjies is nie. Maar om in die Midde Ooste kant te kies, is baie moeilik.

Daan ·

Sirie gaan oor gaslyne. As die gaslyn oor een deel van Sirie gebou word is daardie deel van die wereld soos Duitsland en Frankryk afhanklik van Rusland van gas en dan moet hulle roebel aanskaf om hulle gas te finansier, maar as dit oor n ander deel van Sirie gaan dan sal dit in dollar verhandel word. Asaad wil nie saam werk nie.Dit gaan alles om die dollar te beskerm. Sadam Hoesein wou olie verkwansel in euro an die dollar nie en hy lewe nie meer nie.Kadafi wou die libiese dinar wat deur goud geback is beskikbaar stel en hy lewe ook nie meer nie.

Gerhard ·

Afrikaners kan nie meer gered word nie. Die persentasie idiote onder die Volk is te groot.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.