Kitsoplossing vir Suid-Afrika se probleme

finansies-bestuur-geld-tyd-stevepb-pixabay

Foto: Stevebp/Pixabay.com

Tydens ʼn onlangse gesprek met ʼn senior joernalis voer sy aan dat of ons vir die ANC stem of nie, en of ons van die regerende party hou of nie, dit steeds vir alle Suid-Afrikaanse burgers van die uiterste belang is om te hoop en te help dat die land beter bestuur word. Dit is op stuk van sake ook ons reg om betrokke te raak by die land se bestuur om toe te sien dat ons swaar verdiende belastinggeld reg aangewend word.

Die een ooreenkoms tussen die Solidariteit Beweging as ʼn lede-organisasie en die regerende party lê daarin dat ons as vakbond moet toesien dat lidmaatskapgeld, net soos belastinggeld, effektief en met omsigtigheid aangewend word. Dan is daar ook van ons lede se gesinslede, families en vriende wat nie lede van ons organisasie is nie, maar wat steeds wil sien dat ons ʼn goeie diens aan lede bied en ʼn bydrae tot die opbou van die breër samelewing lewer.

Soos Solidariteit wil bly groei en nog meer vir ons lede wil bied en bereik, kan ek aanvaar dat die ANC vir altyd aan bewind wil bly; die ekonomie wil laat groei om só meer belastinginkomste te verdien; werkgeleenthede wil skep; wêreldgehalte-onderwys en tersiêre instellings wil vestig; beleggers wil lok, gehaltediens op alle regeringsvlakke wil lewer; en swart ekonomiese bemagtiging wil laat slaag.

Om voorgenoemde doel te bereik poog die regering al sedert 1994 om die land beter te bestuur deur programme soos die HOP (heropbou- en ontwikkelingsprogram), Gear (groei, werkverskaffing en herverdeling), die Afrika-renaissance, Nepad (nuwe groeipad), Asgisa (versnelde en gedeelde groei-inisiatief van SA), die nywerheidsbeleid-aksieplan, ruimtelike ontwikkelingsraamwerk, phakisas oor mynbou en oseane en onlangs die NOP (nasionale ontwikkelingsplan) wat geloods is. Ongelukkig het nog nie een van die programme sukses behaal nie.

Reaksie op swak regering

Daar word ook deurgaans uit opposisiegeledere en deur prominente landsburgers gepoog om van die land ʼn beter plek te maak deur koalisievorming in metropole, parlementsittings te ontwrig, ʼn nuwe vakbondfederasie te stig, protesaksies oor dienslewering te hou, hofsake teen die regering aanhangig te maak en om deur ʼn politiek korrekte forum, SaveSA, te eis dat die president se kop rol. Dan toon sekere groot maatskappye hul afkeur vir die wyse waarop die land bestuur word deur hul sake elders te neem en daarmee saam verlaat kundige mense wat werkskeppers en groot belastingbetalers is ook die land uit protes – maar al hierdie pogings en reaksies bring steeds nie ʼn positiewe ommekeer in die land teweeg nie.

In ons poging om van die land ʼn beter plek te maak, is die Solidariteit Beweging daagliks besig met veldtogte om ons lede se belange te beskerm; die regering se heersende ideologiese denkraamwerk aan te vat; projekte te loods om armoede te verlig, burgerregte te beskerm, veiligheidstrukture te vestig, ongrondwetlike wetgewing en regulasies te beveg en, as ons ʼn bose plan kon verhinder of vertraag, skep dit wel hoop, maar benewens dit alles word die land steeds swak bestuur.

Die kitsoplossing

Êrens mis ons iets, want dit voel dan soos in die Bybelboek Prediker dat alle pogings om van die land ʼn beter plek te maak net ʼn gejaag na wind is. Dan kyk ek na my eie werksplek binne die Solidariteit Beweging waar dinge reg gedoen en, soos genoem, suksesse behaal word tot voordeel van ons lede, ondersteuners en medeburgers en dan wonder ek waar die verskil tussen ons en die regering lê. Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, het die antwoord gegee tydens die Solidariteit Beweging se krisisberaad op 5 Mei 2015 toe hy aangedui het dat hy glo dat die beweging se sukses, benewens groot genade, in die goeie personeelaanstellings lê wat gedoen word.

Dít is die kitsoplossing vir die land se probleme – goeie aanstellings!

Genl. Norman Schwarzkopf, wat in beheer van die Amerikaanse troepe tydens die Golfoorlog was, se leierskapfilosofie is dat “om die regte mense aan te stel die kragtigste instrument is waaroor ʼn leier beskik”. Schwarzkopf voer ook aan dat “as swak aanstellings gedoen word, die leiers eenvoudig gaan misluk”.

Steve Jobs, voormalige grootbaas van Apple, het beklemtoon dat dit ʼn uitvoerende hoof se hooftaak is om die regte aanstellings te doen, terwyl Jack Welch, voormalige hoof van General Electric, glo dat die regte aanstellings belangriker is as om ʼn strategie uit te werk. Jim Collins, skrywer van die Good to Great-reeks, sluit hierby aan deur van mening te wees dat dit die eerste taak van ʼn nuwe leier moet wees “om die regte mense op die bus te kry; die verkeerde mense van die bus af te kry; dan die regte mense op die regte sitplekke te kry, en om eers daarna saam met die span te besluit waarheen die bus op pad is”.

Swak aanstellings in die praktyk

As die private sektor se geheim tot sukses in aanstellings lê, moet dieselfde beginsel in politiek ook geld. Pres. Jacob Zuma het ook goeie punte, maar verkeerde en swak aanstellings is een van sy grootste tekortkominge en die hele land betaal die prys daarvoor.

Ter illustrasie, in ʼn Rapport-artikel van 19 Februarie 2017 beskryf Tim du Plessis minister Lindiwe Zulu as ʼn “verleentheid van ʼn minister”; dít terwyl sy die belangrike portefeulje beklee om klein sakeondernemings te laat groei om só die ekonomie te laat groei en werk te skep. Dan is een van Zuma se binnekringkaders, minister Mosebenzi Zwane, minister van minerale hulpbronne. Zwane is een van die swakste ministers wat nog in dié belangrike portefeulje aangestel is en hy is besig om die mynbedryf te vernietig, terwyl sy adjunkminister, Godfrey Oliphant, wat ʼn oudmyner en mynboukenner is, deurgaans oor die hoof gesien word vir die ministerspos. Oliphant beskik oor die vermoë én aansien om dié sektor weer op koers te kry.

Plaaslike regering en dienslewering verkeer in ʼn krisis weens swak dienslewering en ʼn 184%-oorbesteding op sy begroting, maar die “naweek-special” van ʼn minister van finansies, Des van Rooyen, staan in beheer van dié uiters belangrike portefeulje en is totaal onbevoeg vir die pos. Dít terwyl minister Pravin Gordhan, wat goeie werk as minister van samewerkende regering en tradisionele aangeleenthede gedoen het en nou weer eens as minister van finansies vertroue by plaaslike en internasionale beleggers skep, moet veg om oorlewing.

Benewens al die verkeerde ministersaanstellings word die staatsdiens se leierskorps op alle senior vlakke ook met politieke aanstellings gevul en is die spesialiskenners binne staatsdepartemente nou meestal onder die “glasplafon” op middelbestuursvlak vasgepen. So het die belangrike tegnokrate beperkte geleenthede vir insette, hoewel hulle die groot taak het om die ideologies gestremde beleid van diegene bó hulle te implementeer en die gemors agterna uit te sorteer.

Regering veg teen sy eie mense

Die Vryheidsfront Plus het onlangs tydens die president se staatsrede hul ongemak uitgespreek omdat alles wat in die land skeefloop, wit mense se skuld is. Die president het daarop geantwoord dat die ANC nie “wit mense haat nie”. Dit mag alles goed en wel wees en is ʼn debat wat nog lank met ons gaan wees, maar wat het die regerende party dan teen sy eie mense en veral werkloses om hulle so te benadeel deur swak regering? Die regering en Cosatu verwys na die land se sogenaamde drieledige vyand van armoede, ongelykheid en werkloosheid wat kwansuis deur “wit monopolistiese kapitaal” veroorsaak word. Die ware drieledige vyand van die land en veral van die armes is die uitgediende ideologie dat die staat alles moet beheer, individuele magsbeheptheid en korrupsie.

Aangesien die regerende party se swak aanstellings tot swak resultate en power dienslewering lei, word radikale wetgewing en regulasies hul kitsoplossing om só hul verkiesingsbeloftes na te kom. Dit werk egter nie, want dit is so onlogies soos om ʼn speelding of instrument met ʼn hamer te slaan totdat dit werk.

Wat gebeur as ʼn lig uiteindelik opgaan?

Soos wat alle suksesvolle organisasies en regerings wêreldwyd geleer het wat die waarde van goeie aanstellings is, moet ons regering nog die waarde van goeie bekwame aanstellings oor alle regeringsvlakke en sektore heen leer. Indien dit wel gesnap word, sal die ekonomie begin groei; die regering meer belastinggeld inkry; werkloosheid drasties afneem; dienslewering sal in die meeste dele van die land op eerstewêreldstandaard wees; informele nedersettings gaan krimp; misdaad sal afneem; rassespanning sal oorskakel in nasietrots; staatskole sal die soort studente aan universiteite en kolleges lewer wat met die bestes in die wêreld sal meeding, “affirmative action” met ʼn sonsondergang-klousule sal slaag danksy ʼn aanbod van vaardige mense aan die arbeidsmark; die Springbokke, Proteas en Bafana Bafana sal weer die top-spanne in die wêreld word; en die VSA se pres. Trump sal bedank word vir die hoë muur wat hy rondom Nkandla gebou het.

Die onbeantwoorde vraag bly ongelukkig steeds wat gedoen moet word om die regerende party te laat besef dat die hoofslagoffers van sy swak aanstellings sy tradisionele ondersteuners – die armes en werkloses – is. Of, word dit dalk so verkies dat jou ondersteuners arm, ongeletterd en afhanklik van die staat moet bly?

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Gideon Du Plessis

Gideon du Plessis is hoofsekretaris van Solidariteit.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

John ·

Kyk hoe lank het ons nou al die Bybel en alles daarin wat presies aandui hoe ons moet maak om gelukkig en voorspoedig te wees of/en in vrede te woon, maar wie van ons doen dit… Selfs in die paradys het die ou slang…

humor ·

Dankie vir n insiggewende artikel wat so geskryf is dat selfs ons leke ook mooi verstaan.

Rupert Ashford ·

Gideon, baie goeie stuk. Net een probleempie: Waar op die kontinent het hierdie lig waarvan jy praat al aangegaan?

Gideon ·

Die maklikste manier om ‘n land te regeer deur diktatorskap is om die massas ongeletterd te laat bly. So werk dit in Afrika – maak nie saak waar in Afrika nie. Dit gaan nooit verander nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.