Kleinsakeminister se subsidies sal korrupsie en ondoeltreffendheid bevorder

Deur Gary Moore

Gary Moore

Die minister van kleinsakeontwikkeling beoog om ʼn meestersplan vir kleinsakeontwikkeling in die Staatskoerant te publiseer as ʼn beleid vir die ondersteuning van kleinsakeondernemings, soos in die Nasionale Kleinsakewet van 1996 in die vooruitsig gestel word.

Die Wet definieer ʼn kleinsakeonderneming as ʼn eienaarbestuurde sakeonderneming wat in een van elf ekonomiese sektore bedryf word en die hoeveelheid werknemers en jaarlikse omset het wat hom as ʼn mikro-, klein- of middelslagonderneming in sy sektor kategoriseer. Die meestersplan verwys na mikro-, klein- of middelslagonderneming gesamentlik as “KMMO’s”.

Die beoogde meestersplan stel dinge voor wat onnodig is en dinge waarvoor die Nasionale Kleinsakewet nie magtiging gee nie.

Die meestersplan bekla die trae gebruik (“low uptake”) van die KMMO-definisie in die Nasionale Kleinsakewet en dat “belanghebbendes huiwerig is om in te val”. ʼn Verdere klagte is dat talle wette en staatsdepartemente verskillende definisies van ʼn “klein besigheid” of “kleinsakeonderneming” gebruik.

So merk die meestersplan op dat die Inkomstebelastingwet, die Wet op Koöperasies en die Wet op Breedgebaseerde Swart Ekonomiese Bemagtiging almal verskillende definisies gebruik. Die meestersplan wys ook daarop dat die Suid-Afrikaanse Inkomstediens, die departement van handel en nywerheid en Statistiek Suid-Afrika wisselende definisies gebruik om KMMO’s na te spoor en te moniteer.

Die meestersplan voer aan dit is noodsaaklik dat alle statute en regeringsdepartemente die Nasionale Kleinsakewet se definisie van KMMO’s moet gebruik vir “bydraes tot die invordering van belasting” en om “ʼn dieper, ryker begrip te bied van die wye spektrum faktore wat op die bedryf van ʼn besigheid betrekking het, oor geografiese liggings en sektore heen”.

Dié wet gee egter nie aan die minister die reg om magte bo en behalwe die ondersteuning, ontwikkeling en bevordering van KMMO’s uit te oefen nie.

Die minister tree buite haar magte op wanneer sy ander ministers en departemente aanmoedig om die wet se KMMO-definisie te gebruik om “bydraes tot belastinginvordering” te bevorder of bloot om “ʼn dieper, ryker begrip” te bied van faktore wat op die bedryf van sakeondernemings betrekking het.

Dit is ʼn oorskryding van haar magte om ander ministers aan te spoor om die wet se KMMO-definisie te gebruik in statute wat hulle administreer en wat miskien die kwessie van kleinsake aanroer, maar oorwegend op ander doelwitte gerig is as om kleinsakeondernemings te bevorder.

Die minister wil ook hê regeringsdepartemente moet haar standaarddefinisie gebruik om ondernemings vir ondersteuning te teiken en aansporings doelgerig aan te wend. Sy kan werklik nie bekostig om kleinsakeondernemings te subsidieer nie. Die meestersplan erken daar is begrotingsperke.

Selfs al sou die minister dit kon bekostig om almal te subsidieer wat hulle as kleinsakeondernemings aanmeld, sou sodanige subsidies waarskynlik onvermydelik selektief en onregverdig wees, korrupsie en bedrog bevorder en verkwisting in die hand werk deur ondoeltreffende produsente toe te laat om die doeltreffende produsente te ondermyn.

Die minister behoort daarop te konsentreer om die soort wetgewing te identifiseer wat ʼn nadelige invloed het op kleinsake, soos dit in die Nasionale Kleinsakewet omskryf word, en dan vir alle staatsinstellings − wat die wetgewing wat so geïdentifiseer is moet toepas − riglyne uit te vaardig oor hoe hulle hul wette kan wysig om die las van wetlike vereistes, waaraan kleinsakeondernemings moet voldoen, ligter te maak.

Die wet magtig die minister om by wyse van ʼn kennisgewing in die Staatskoerant die soorte wetgewing te identifiseer wat op kleinsake ʼn invloed kan hê, en om riglyne te publiseer vir ʼn evaluering en hersiening van die uitwerking van bestaande wetgewing op kleinsake.

Die meestersplan stel dit in die vooruitsig en identifiseer reeds soorte wetgewing wat ʼn nadelige uitwerking op kleinsake het, en gee ʼn effense aanduiding hoe sodanige wetgewing geëvalueer en hersien kan word.

Só noem die meestersplan dat voldoeningskoste volgens ʼn raming van die Nasionale Tesourie vir ondernemings aan die laer end van die skaal ʼn aansienlike persentasie uitmaak, terwyl dit buite verhouding andersom is vir sakeondernemings aan die hoër end.  ʼn Hoë voldoeningslas op besighede is simptomaties van ʼn onvermoë om die (bedoelde én onbedoelde) gevolge van die impak wat wette op sakeondernemings het, krities te ontleed en te beoordeel.

Die meestersplan merk op dat Suid-Afrika se rigiede arbeidswette oor die jare heen toenemend deur sowel die binnelandse as buitelandse gemeenskap onder die loep geneem is. Dit geld veral vir die gesamentlike bedinging tussen groot ondernemings en arbeidsinstellings van loonooreenkomste, wat dan uitgebrei word na partye wat nie deelgeneem het nie (dit wil sê kleiner ondernemings). Ofskoon vrystelling wel in sommige gevalle gegee word, is dit na wat vermeld word dikwels moeilik om daarvoor aansoek te doen en verg dit omslagtige administrasie. Verpligte loonverhogings neem nie die eiesoortige eienskappe van kleiner maatskappye en die vermoë van kleinsakeondernemings om met sukses teen hul groter eweknieë mee te ding en te oorleef in ag nie.

Luidens die meestersplan is die oorkoepelende vereiste vir alle ondersteuningspogings dat ʼn instaatstellende omgewing vir KMMO’s geskep word, wat beleggings onderskraag en bevorderlik is vir die uitbou van sakeondernemings in Suid-Afrika. ʼn Omgewing wat KMMO’s in staat stel om te ontwikkel en groei, impliseer dat wette deeglik ondersoek en geëvalueer moet word om hul gepastheid asook hulle bedoelde en onbedoelde gevolge vir KMMO’s te bepaal – die beginsel van “dink eers klein”.

Die meestersplan sê dit vereis dat wette voortdurend beoordeel moet word om seker te maak van hul mikpunte en of hulle in verhouding is tot die geïdentifiseerde probleem, die kleinste moontlike uitwerking op kleinsake het, getakseer is vir ander alternatiewe as wetgewing, en nie die samelewing meer kos as die voordeel wat die ingryping meebring nie. Daar moet klem wees op ʼn taksering van die impak van wetgewing wanneer dit by sakeinstellings se lisensiëring, belasting en indiensneming kom, asook die sonering van grond wat die gebruik daarvan beperk.

Luidens die meestersplan moet verslae (vermoedelik opgestel deur die departement van kleinsakeontwikkeling) oor die impak wat hierdie wette op kleinsakeondernemings het, met aanbevelings vir verbetering, dan aan die bevoegde departemente gestuur word.

Uit hierdie en ander opmerkings in die meestersplan is dit duidelik die minister beskik oor voldoende materiaal om haar magte ingevolge die wet uit te oefen ten einde die soort wetgewing te identifiseer wat ʼn nadelige uitwerking het op kleinsakeondernemings, soos in die Wet omskryf, en om vir staatsinstellings wat sodanige wette administreer, riglyne uit te vaardig wat die uitwerking van daardie wetgewing op kleinsakeondernemings uiteensit en aanbeveel hoe dié staatsinstellings hul wetgewing kan wysig om die las wat dit op kleinsakeondernemings plaas, te verlig.

Die verwydering van onredelike beperkings wat wetgewing op hulle plaas, sal kleinsakeondernemings in staat stel om geredeliker te groei, meer werknemers in diens te neem en in die algemeen tot ekonomiese groei by te dra.

  • Gary Moore is ʼn senior konsultant by die Vryemarkstigting. Hy het 30 jaar lank in Johannesburg as ʼn prokureur gepraktiseer. Hy is die skrywer van gepubliseerde artikels en monografieë oor die oppergesag van die reg, die regsgeldigheid van staatsoptrede, die betekenis van statutêre wette en wette wat kleinsake beïnvloed. Menings wat in hierdie artikel uitgespreek word, is dié van die skrywer en word nie noodwendig deur die lede van die Stigting gedeel nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.