Kleinsakeontwikkeling hang van die regte hantering van ‘die grondkwessie’ af

Deur Martin van Staden

Martin van Staden (Foto: Verskaf)

Historiese besitsontneming in Suid-Afrika het ekonomiese ontwikkeling aan bande gelê, veral wat kleinsakeondernemings en kleinskaalse boerdery betref.

Tesame met ʼn voortgesette beperking op onderverdeling en ʼn gebrek aan gewaarborgde eiendomsreg, asook bedreigings teen grondwetlike eiendomsregte, vertraag dit die tempo van grondhervorming en ekonomiese groei.

Só sê die skrywers van Laws Affecting Small Business: Land, deel van ʼn reeks boekies wat die Vryemarkstigting uitgee. Die navorsing in die LASB-boekies dek agt terreine van staatswetgewing en -regulering wat die vestiging en groei van kleinsakeondernemings in Suid-Afrika belemmer en benadeel.

Die skrywers maak verskeie aanbevelings om “die grondkwessie” op te los op ʼn manier wat vir Suid-Afrika die weg sal baan na voorspoed en ekonomiese vryheid vir al sy mense.

Die Grondwet moet gewysig word, nie om eiendomsregte te ondermyn nie maar eerder om te verhoed dat wetgewing dit ooit in die toekoms vir grondeienaars sal moeilik maak om gewaarborgde besitreg te verkry. Enige nuwe wetsontwerp wat eienaarskap kan verwater, soos die nuwe Wetsontwerp op Onwettige Betreding van Persele, sal dan aan bykomende grondwetlike maatstawwe onderhewig wees voordat dit wet kan word.

Naas dié inisiatief moet daar aan die houers van informele grondregte sekerheid van besitreg toegestaan word. Waar die houers van sodanige regte kleinsakeondernemings bedryf, is permanente sekerheid veral ʼn vereiste, sodat hulle toegang tot finansiering kan verkry. Die Wet op die Tussentydse Beskerming van Informele Grondregte wat uit 1996 dateer en jaarliks verleng word, moet daarom permanensie kry. Eienaars moet die ondubbelsinnige reg hê om hul regte te hou, te gebruik en geniet, verkoop, verhuur, en om hul grond met ʼn verband te beswaar.

Kleinskaalse boerdery moet moontlik gemaak word deur beperkings op onderverdeling af te skaf. Dit moet nie vir eienaars nodig wees om by ʼn minister toestemming te verkry om hul grond in kleiner dele te verdeel en teen bekostigbare tariewe af te verkoop nie. ʼn Groot aantal klein en bekostigbare eenhede grond word dringend benodig vir arm landelike mense wat eiendom wil besit en vooruitgang maak.

Die skrywers beveel aan dat openbare grond wat nie streng vir regeringsdoeleindes gebruik word nie aan haweloses oorgedra moet word, kosteloos en met volle eienaarskap. Dit is grond wat dikwels aan die departemente van openbare werke, landbou, verdediging en water en sanitasie behoort en leeg staan. Oral in die land is daar ook groot stukke grond wat aan provinsiale en plaaslike regerings asook staatsbeheerde ondernemings behoort en meesal onbenut lê. As erwe op sulke stukke grond aan haweloses oorgedra word, kan dit die probleem van plakkery en grondvergrype oplos.

Natuurlik moet dit nie ʼn strategie wees om mense eenkant te hou, soos met die tuislande nie – die oordrag van aantreklike en bruikbare stukke openbare grond, waarskynlik nader aan die stedelike gebiede, moet voorrang geniet.

Daarby, sê die skrywers, behoort dit onnodig te wees om oordragprokureurs (regslui met hoë uurlikse tariewe) vir alledaagse eiendomstransaksies te gebruik. ʼn Eenvoudige oordrag van eienaarskap, of die registrasie of kansellasie van ʼn eiendomsverband, behoort nie prokureurs se betrokkenheid te vereis nie, nes hulle gewoonlik ook nie betrokke is wanneer ons duur motors, juweliersware, of masjinerie verkoop nie. Die Staat se hekwagtery ten bate van oordragprokureurs – ʼn enorme finansiële las, veral vir die eienaars van kleinsake-eiendom – moet end kry.

Alle oorblyfsels van ongewaarborgde besitreg, soos dié wat in werking was om apartheid moontlik te maak (soos okkupasiereg en huurpag in townships) moet deur volle eienaarsreg vervang word. Onder apartheid was dit vir swart Suid-Afrikaanse burgers onmoontlik om eiendom in “wit” stedelike gebiede te besit, al was hulle in als behalwe naam wel die eienaars van sodanige eiendom. Baie daarvan duur vandag nog voort, wat dit vir die eienaars byna onmoontlik maak om hul eiendom tot hul finansiële voordeel te gebruik.

Laastens moet die nuwe Onteieningswetsontwerp met die Grondwet belyn word en moet dit die belangrikheid van gewaarborgde private eiendomsregte erken en respekteer.

Die nuusmedia maak dikwels die foutiewe aanname dat eiendomsregte en grondhervorming in stryd is met mekaar. Dit is hoegenaamd nie so nie. Grondhervorming is juis noodsaaklik omdat eiendomsregte in die eerste instansie voorheen geskend is. Dit is hoekom grondhervorming die besit van private eiendom moet uitbou – nie daarop inbreuk maak nie. Sodra dit op eiendomsregte inbreuk maak, is dit nie langer grondhervorming nie maar niks minder of meer as ʼn voortsetting van vorige Suid-Afrikaanse regerings se ingesteldheid teen eiendomsbesit en vir die ontneming van eiendom nie.

Die private eiendomsregte van alle Suid-Afrikaanse burgers, veral dié met ongewaarborgde besitreg ondanks hul eienaarskap, moet erken en gerespekteer word. Private eiendomsreg is van deurslaggewende belang vir ekonomiese ontwikkeling van watter aard ook al, soos jaar na jaar bevestig word deur indekse soos die Property Rights Alliance se Indeks van Internasionale Eiendomsregte en die Fraser-instituut van Kanada se jaarlikse verslag, Ekonomiese Vryheid van die Wêreld.

Dit is slegs enkele van die aanbeveling in die boekie LASB: Land.

Die LASB-boekies verteenwoordig ʼn derde van die Vryemarkstigting se boek Radical Economic Transformation: The Legal Route to Economic Freedom, wat ʼn omvattende hervormingspakket aan die hand doen om die Suid-Afrikaanse ekonomie te laat floreer.

  • Martin van Staden is die redakteur van die Vryemarkstigting se boek, ‘Radical Economic Transformation: The Legal Route to Economic Freedom’. 

Die volledig boekie oor die grondkwessie kan hier gelees word. 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

annie ·

‘n Mens mag seker maar gorrel en droom… soos fopnuus mos ok wettig is. Hierdie boekie is meer vergesog en lagwekkend as die destydse Maak-‘n-Las-grapjasprogram.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.