Kleurblinde nasie bly steeds ʼn ontwykende droom

Amerikaanse vlag amerika

Argieffoto (Foto: Gordon Dean)

Deur Johann Holzapfel

Hoe meer dinge verander, hoe meer bly dit dieselfde…

Die ideaal van ʼn kleurblinde, verdraagsame, ekonomies gelyke en vreedsame samelewing ondanks politieke, kulturele en godsdienstige verskille en die letsels van apartheid, slawerny en segregasie is tot vandag in Amerika en Suid-Afrika steeds ʼn droom.

Die bevindinge ná ʼn omvattende ondersoek oor rassisme wat in Maart 1998 in die VSA bekend gemaak is, is woordeliks ook van toepassing op die Suid-Afrika van vandag, waar die pigmentpotjie ondanks 1994 se optimisme oor die “reënboog-nasie-in-wording”weer prut:

“Die rykes (wit) word ryker en die armes (oorwegend swart) armer. Mense word steeds op grond van hul velkleur behandel en buite verhouding tot hul getalle aan swaarkry en armoede blootgestel. Swart en wit wantrou mekaar. Mense praat steeds van ons en hulle. Die kloof tussen ryk en arm het groter geword. Jong swart misdadigers laat die tronke oorloop. Al hoe meer swart kinders sak uit op skool.”

Met die vertrek van Barack Obama ná agt jaar in die Withuis en bewindsoorname van die Republikein Donald J. Trump is daar nou vrese dat die kloof tussen swart en wit selfs wyer en dieper kan word.

Tydens Obama se twee termyne was daar heelwat retoriek oor die vloek van rassisme en is miljarde bestee aan programme om die gaping te vernou, met weinig impak.

Met die meeste van Obama se ambisieuse programme soos bekostigbare gesondheidsorg vir almal (Obamacare) bestem vir die ashoop, sal hy straks onthou word as ʼn idealistiese en goeie man “met edel voornemens” wie se voetspore eerder deur die waaisand van die geskiedenis loop as gegiet in beton.

Die hoop op groter rasse-harmonie onder ʼn eerste swart president het beskaam: 57% van die bevolking meen rasseverhoudinge is tans “net so sleg” soos in die 1990’s; 47% meen dat Obama geen verskil gemaak het nie en 34% meen dat rassisme vererger het. Agt uit tien Afro-Amerikaners meen dat die regstelsel teen hulle diskrimineer en ʼn meerderheid wys ook op min “persoonlike interaksie” tussen wit en swart en is “ongemaklikheid” in gesprekke oor kleur.

Daar was wel die opkoms van ʼn relatief welvarende swart middelklas, die verskansing van burgerregte in federale wette om minderhede teen diskriminasie te beskerm, die wettiging van gay-troues en regstellende aksie.

Maar gesindhede het nie verander nie.

Agt individue (almal mans, ses van Amerika, een van Mexiko en een van Spanje, volgens Oxfam se jongste syfers) wat gesamentlik oor net soveel welvaart soos 3,6 miljard mense van die armste lande in die wêreld beskik, bevestig daardie gaping.

Net soos in die VSA is die samelewing in Suid-Afrika vandag, 22 jaar sedert die demokratiese oorgang, steeds hoofsaaklik in twee verdeel: een swart en die ander wit.

Daar is steeds sporadiese voorvalle van haatspraak, gewelddadige rasse-konflik en rassespanning op kampusse.

En die ironie is dat daar in die normale omgang tussen mense van alle kleure en geure wel hartlikheid en welwillendheid is; dat wit en swart anders binne die groep dink en handel as wanneer hulle daagliks as individue met mekaar in aanraking kom.

Daar is groeiende kommer oor die deesdaagse populistiese anti-wit-retoriek van Julius Malema van die EFF (“hulle – die wittes – het ons grond gesteel en ons sal dit terugvat”).

Pres. Jacob Zuma se aanvalle op “monopolistiese wit kapitalisme” word beskou as ʼn poging om verlore steun vir die ANC te herwin met beloftes van versnelde grondverdeling om swartes met eiendomsreg te bemagtig en ekonomiese ongelykhede uit te wis.

Dis ʼn lekkergelofie dat die een se verarming sal help om die agtergeblewene uit sy ellende te lig en derhalwe die resep te wees vir groter vrede en gelykheid. Daarmee saam strenger wetgewing en swaar strawwe weens haatspraak as kuur vir rassisme.

Die rassedebat (soos reeds sedert die 1990’s in die VSA) het gelei tot oorgevoeligheid oor selfs die gebruik van die woord “swart” in gesprekke. En dikwels oorreaksie op wat beskou word as “rassisties bedoel”: Die persgesig-voorval op Stellenbosch is nog vars in die geheue en pas weer was daar die storm oor ʼn boer van Cradock wat ʼn swanger bruin vrou, wat hom om ʼn geleentheid dorp toe gevra het, in ʼn hok agter op sy bakkie laat sit het – nadat hy haar voor wou laat sit het, maar sy die bak verkies het “omdat dit warm was”.

Die Eisenhower-stigting se verslag was die opvolg op die werk van die federale Kerner-kommissie wat deur pres. Lyndon B. Johnson in die 1960’s aangestel is om die oorsake van die bloedige rasse-onluste van die vroeë 1960’s in stede soos Newark, Detroit en Los Angeles te ondersoek.

Van die bevindinge was:

Daar was wel vordering in die vorm van ʼn opkomende swart middelklas, meer verkose swart amptenare op staats- en federale vlak en swart sakelui met ekonomiese spierkrag, asook die opkoms van demokratiese verkose Afro-Amerikaanse politici in hoë ampte.

Maar dit word volgens die verslag oorskadu deur selfs groter ongelykhede tussen die swart minderheid en die wit meerderheid as ooit tevore:

“Die Amerikaanse ekonomie bloei, inflasie is op hok en die werkloosheidsyfer die laagste in 25 jaar, maar almal deel nie in dié welvaart nie.”

Die rykdom (tot vandag) is in die hande van ʼn skrale 1% wat van die VSA die nywerheidsland maak met die grootste gaping tussen ryk en arm met min hoop dat die prentjie sal verander sonder drastiese staatsinmening.

Sowat 40% van die land se swart kinders bevind hulle in minderwaardige skole in die armste dele van stede soos Chicago, New York en Washington. Meer as die helfte sak vroeg uit. Dit plaas ʼn al groter las op deelstate se begrotings en ʼn toename in misdadigheid – een uit drie jong swart mans wat met die gereg bots, is in die tronk of op parool.

Maar dis oor die hoe om iets aan die saak te doen dat konsensus ontbreek.

Daar bestaan wel talle programme om minderheidsgroepe deel van die welvarende hoofstroom te probeer maak. Een denkskool meen regstellende aksie, wat reeds in die 1990’s die wind van voor gekry het, moet volgens die stigting voortgesit en selfs uitgebrei word omdat “die omvang van sodanige programme moet ooreenstem met die omvang van die probleem”.

Hoewel regstellende aksie, die verskansing van burgerregte in wetgewing en programme teen armoede baie krediet kry vir die opkoms van ʼn welvarende swart middelklas, bly ras en armoede ineengestrengel. Die een vererger die ander.

Maar die ander kamp verwerp die verslag as onwetenskaplik weens veralgemenings en omdat mense sito-sito in groepe onder kleursambrele gedruk word sonder inagneming van taal- en kultuurverskille wat in Afrika oor eeue reeds aanleiding gee tot konflik tussen swart en swart.

Ook regstellende aksie, pleks van groter klem op individuele prestasie en beloning, word verwerp. Die argumente is dat die boosheid van segregasie en apartheid nie uitgewis kan word deur nuwe onreg in die vorm van omgekeerde diskriminasie en pigment as voorkeur-kwalifikasie bo bevoegdheid vir ʼn amp of selfs universiteitstoelating nie.

Dié kamp se siening is dat die verslag ʼn oorvereenvoudiging is van die land se ingewikkelde sosiale en rassewerklikhede.

Soos ʼn kommentator dit hier gestel het: “Hierdie benadering is in stryd met individuele voortreflikheid en verantwoordelikheid wat tel en Amerika sterk gemaak het. Nie omgekeerde diskriminasie in die vorm van kunsmatige programme vir sogenaamde agtergeblewe groepe nie.”

Jim Sleeper, skrywer van die boek Liberal Racism, wat die motiewe van mense bevraagteken wat steeds die rasse-tamboer slaan, het dit soos volg gestel:

“Ons het ʼn rasse-nywerheid in dié land. Dié mense ignoreer die goeie nuus want hulle teer op die slegte nuus. Hulle is van slegte nuus afhanklik vir hul inkomste en vir die regverdiging van hul standpunte.”

Hou dit alles ʼn boodskap vir Suid-Afrika in? Ja, was dit destyds al die mening van Jim Fischer-Thomson, ʼn ervare joernalis in die Amerikaanse inligtingsagentskap wat hom toespits op Suider-Afrikaanse politiek en sosiale tendense.

“In die apartheidstyd is klem gelê op groepe. Dit was swart, wit en bruin en laasgenoemde twee is benadeel. Dit was dus net logies dat ná 1994 se verkiesing steeds gefokus is op die kleur van die benadeelde en bevoordeelde groepe en groot verdeeldheid selfs binne byvoorbeeld die swart groep geïgnoreer is om agterstande uit te wis.

“Maar is dit ʼn langtermyn-oplossing? Nee. Want dit ignoreer individualiteit en persoonlike verantwoordelikheid met ʼn soort vakbond-mentaliteit, wat mislukkings beskerm ten koste van die potensiële presteerders en wat middelmatigheid bevorder.”

Die vraag is dus steeds: Wat het geword van Martin Luther-King se visie, wat op 28 Augustus 1963 die wêreld aangegryp het met sy woorde:

“Ek het ʼn droom dat ons kinders eendag nie beoordeel sal word op grond van die kleur van hul vel nie, maar die inhoud (gehalte) van hul karakter.”

Dit bly hier sowel as in Amerika steeds ʼn droom.

  • Holzapfel was in 1998 Nasionale Koerante, nou Media24, se korrespondent in Washington en het verslag gedoen oor die Milton Eisenhower Foundation se ondersoek en bevindinge.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

23 Kommentare

Kobus ·

Laat my dink aan die beeld in Daniel met die voete van klei (die vermenging van die nasies) en wat volg…

jean ·

So was, is en sal dit altyd wees….wêreldwyd!… selfs in die diereryk. Dit maak nie saak hoeveel konferensies ens gehou word nie…..

JC ·

Integrasie, multi-kulturalisme en eendragtigheid is ‘n pypdroom in ‘n veelrassige, heterogene en diverse land soos SA. Dit het ons skynbaar 23 jaar geneem om dit te besef. In pleks daarvan dat dit erken word, word die teenoorgestelde gepropageer- tot onlangs toe- trouens, daar is nou soveel tekens van totale onverdraagsaamheid tussen die verskillende kulture dat dit die stryd teen sg. “apartheid” hoogs hippokrities en ongevraagd laat voorkom aangesien afsonderlike ontwikkeling met eie grondgebied soos aparte stede en landelike gebiede duidelik die toekoms moet wees.
Verskillende kulture sal NOOIT kan klaarkom nie. Dr Verwoerd was so slim as om dit te besef en dit te probeer implementeer deur ‘n beleid van afsonderlike ontwikkeling maar tot die nadeel van die wereld is hy op skandelike wyse van die inwerkinstelling van die beleid en sy lewe beroof. Die probleem is nie soseer kleurverskille as wat dit kulturele verskille is nie.
NIEMAND GAAN HUL KULTUUR EN HUL TAAL OPGEE NIE, nie wit of swart nie. Dit is ‘n dilemma wat slegs opgelos kan word deur noodwendige skeiding om almal hul regmatige spasie en plek vir groei te gee. In elk geval, waar multi-kulturalisme werk verg dit bitter harde werk en opoffering soos in die Wes-Kaap. Hulpbronne kan beslis egter beter gebruik word. Dit is ook interessant om daarop te let dat onverdraagsaamhied minder voorkom (soos gebiede soos die Wes- en Noord-Kaap a.g.v. meer homogeniteit d.i. Afrikaanse kultuur (blank en bruin)

Heinrich ·

Wyse woorde JC; stem heelhartig saam! Voeg dan by dat hoe meer kleur-en kultuurverskille in wetboeke ingeskryf gaan word hoe groter gaan die gemors word!

Haat politiek ·

Daar is nerens ‘n kleurblinde land/nasie in die wereld nie. Oral is daar diskriminasie agv velkleur of geloofsoortuiginge. Daar sal nooit VREDE in enige land of respek vir mekaar wees solank een persoon dink hy verdien beter as ‘n ander en die ander een speel slagoffer omdat hy so min het nie. Strawwe aan ‘agtergeblewes’ word onmiddellik as ‘n rassistiese poging gesien ongeag wat ‘n persoon aanvang. Ongelukkig is liberale mense BAIE onverdraagsaam en as hulle nie hulle sin kry nie, is dit rassisme of diskriminasie. Daarom het regsbanke en alle regeringsamptenare al so ver oorgehel om almal HAPPY te hou dat hulle die groep wat hulle aanvanklik ondersteun het weggestoot het. NERENS Is almal ewe ryk of ewe slim of ewe bevoorregd nie, en dit het NIE met velkleur te doen nie, dit het met RESPEK vir ander te doen en met die feit dat jy vir jou EIE GELUK verantwoordelik is .. NIKS het nog verbeter deur iets te VERNIETIG nie, en kerm het nog minder gehelp. Daar is ook geen wenners in ‘n oorlog of opstande of protesoptrede nie .. vandag ‘n verhoging, more maak die myne toe.

MW ·

Die liberale het vir dekades probeer om mense van verskillende rasse, tale en kulture saam te forseer as een mengelmoes, maar dit ontplof nou in hulle gesigte. Ons moet aanvaar dat ons nie almal dieselfde is nie en nooit sal wees nie. Dit het mos deesdae ‘n status simbool in SA geword om kinders van ander rasse aan te neem, terwyl daar duisende kinders van hul eie ras in weeshuise is. Ongelukkig is dit die kinders wat daaronder gaan ly, want hulle gaan self sien dat hulle verskil van hul ouers en daar gaan allerlei vrae aan hulle gestel word.

Nico K ·

Dit was die blanke in SA wat gereken het dat die afskaffing van apartheid sal lei tot ‘n land met geen rassediskriminasie. Tragies dat hulle toe nooit probeer het met federasie. Of selfs afskeiding. In die Wes Kaap kon ‘n aparte gebied geskep geword het wat nie deur die ANC beheer is nie. (Die meerderheid Bruines het vir die NP gestem in 1994.) Maar geen blanke politieke party het so opsie gesteun nie. Nie eers die KP nie. En nou sal ons dit nooit kry nie. Ek dink die hele Afrika se probleme sal verbeter as hulle hul lande opdeel vir elke groep.

Ivor ·

Ja. Tragies ne? Orania en Kleinfontein. Dis darem ‘n begin…

chrisp ·

As elke (ras) verantwoordelik is vir sy eie welvaard en groei in sy eie gebied kan daar mos geen rassisme wees nie?

Probleem opgelos.

JC ·

Dit wat ek hierbo beskryf het word ook geillustreer deur die optrede van die “president”. Hy tree nie op vir elke Suid-Afrikaner in ons vaderland nie, maar bemoei hom slegs met propaganda, slegte retoriek en aanhitsing rondom party politieke en ideologiese lyne, wat noodwendig ontstaan uit die standpunt van “ons” en “hulle”, dus; die ANC wat prominent swart (en nou Zoeloe gedomineerd is) is, en die res (ander partye en westers geinspireerde kulturele belange) wat noodwendig “boos” is. Ons “president” self is ‘n sprekende voorbeeld van die eksperimentele liberaal demokratiese flop wat die RSA vandag is. Pleks dat pragmaties en prakties gedink en opgetree word, en dat samesyn, vooruitgang en “opbou” gepreek word, word net ideologies geinspireerde onmin gesaai. Nie dat ons president eintlik veel geloof het in die idelogiese gefomfaaiery wat hy preek nie. Interessant genoeg ook, al word dit ontken, is swart nasionalisme ‘n fiksie, want dit gaan beslis nie daarom nie, maar om stamgebondenheid wat self geillusteer word deur Zuma se” zoeloefikasie” van die ANC, sien gebeure in Pretoria rondom die kandidaat vir ANC burgemeester verlede jaar. Dit is dus definitief NIE ‘n geval van “divide and rule” nie maar is DIE einste divisies natuurlik en onvoorkombaar.

Henry ·

“Liberaal demokratiese flop” seg jy. Ek dink hierdie land is bloot ‘n tipiese Afrikastaat wat deur ‘n korrupte regime geteister word – soos in die meerderheid Subsahara state se geval.

Wil jy vertel dat die Zulu volk se nasionalisme fiksie is???
Dit is juis die Zulu’s se nasionalisme en lojaliteit aan hul eie kultuurgoedere, wat ander volkere soos die Afrikaners, Xhosa’s, Tswana’s, Sotho’s, Venda’s ens uitsluit. Laasgenoemdes is eweso volkere met hul eie taal en kultuur – soos die Zulu volk – elkeen wat hul eie nasionalisme nastreef.

Versigtig wees. Om hierdie verskillende volkere as ‘stamme’ te bestempel, is natuurlik so goed as om Dr Verwoerd en die vorige regering se skepping van Nasionale state – oftewel Tuislande – as ‘n onsinnige oefening te beskryf.

Hou ook in gedagte dat die meerderheid van hierdie volkere wat jy as stamme bestempel, veel meer ‘volk’ as ons Afrikanervolk verteenwoordig.
Nasionalisme is toe nie alleen tot Afrikaners of Afrikaanssprekendes beperk nie.

Terloops, jy moet nog vertel hoe die ANC regime met Zuma aan die voorpunt, daarin geslaag het om hul ondersteuners en die meerderheid kiesers te oortuig om na die Utopia van die liberales te verhuis.
:-)

JC ·

Dankie vir jou kommentaar Henry. Ek bedoel dat daar nie sprake is van ‘n alles-oorheersende swart nasionalisme nie, juis agv die onderlinge verskille. Ek stem saam dat daar zoeloe nasionalisme ens is net soos Afrikaner nasionalisme, “hence” die tipe “zoeloefikasie” wat ons sien in die ANC. Jy verstaan my soms verkeerd; Die “liberale milieu” gee Zuma en die ANC, en ander kwasi marxistiese, sosiale partye ongeoorloofde “breathing space” om te saai en te maai net soos hullle wil. Daar word dus nie met harde sosiaal ekonomiese werklikhede en kulturele verskille en die probleme en onwerkbaarheid van muti-kulturalisme gehandel nie, maar word die werklikhede, uitdagings en probleme verswelg in zuma en die ANC se retoriek. (erg gefaalde en onwerkbare sosiale geregtigheids paradigma). Onthou; vraag en aanbod en die realiteite van die marktekonomie (kompetisie) sal nog altyd die enigste werkbare oplossing en dryfveer vir welvaart en werkskepping wees en nie marxisme nie, dit weet ons uit empiriese ondervinding van die slaggate van marxisme. Tog wil die verromantisering daarvan, sonder enige kragdadige optrede wat met realiteite werk en wat die ekonomie op die herstelpad sal ly, nie ophou nie :-)

Rynhardt ·

SA is in n dodelike wurggreep van die nuwe werekdirde en die Anc.Ons mense het baie verarn in 23jaar met regstelkende aksie oftewel die wettiging van rassisme.Amerika se problene is baie diep as wat Trump besef.Verlede jaar het Larry King en Jesse Venture op die program, Political erken dat die twee party sisteem in die VSA uitgedien is, maar daar word nog steeds met dit volhard! SA sit met n Anc regering en Anc-faksies wat die land gevangene hou en doodwurg! Internasionale kommentators het dit duidelik gemaak:”Die liberale nuwe wereldorde werk nerens meer in die wereld nie!” Afgesien van die Anc,bly die agterbakse liberale die grootste probleem in SA ,as talle afrikaanssprekendes dit net wil besef.

Hannah ·

Volgende jaar hierdie tyd praat ons nog oor PRESIES dieselfde sake! Soos die skrywer van hierdie artikel reeds gese het: “Hoe meer dinge verander, hoe meer bly dit dieselfde.”

Paul ·

Oxfam se verslag is nie die papier werd waarop dit geskryf is nie.

Volgens Oxfam is ‘n boemelaar in Bangladesh ryker as ‘n 30-jarige middelklas-ou in Amerika wat ‘n huislening het.

Dis skrikwekkend hoe mense Oxfam se nonsens net so papegaai sonder om eers te wonder of dit waar is.

vermeende ·

Paul julle sien dit verkeerd, jy sien rykdom as bling-bling.
Kyk na die vergelyking in terme van bates en laste.
Die hobo het niks maar hy skuld ook niemand niks nie.
Hoeveel mense is daar vandag wat geen skuld het nie, baie, baie min en hulle is die rykes, nie die man met hope sluld nie.

mona ·

Polities inkorrek is aan die orde van die dag. Kyk maar na Amerika. (Trump).
Soort soek altyd soort. Jy kan dit nie meng of in iemand se keel afdruk nie – want dan soek jy probleme.
S A is die beste voorbeeld ooit. Dit is die enigste plek waar ons no 1 op die lys is – waar verskillende kulture ens. in ons kele afgedruk word.

Rupert Ashford ·

Die probleem is mense wil oornag uit armoede gepluk word en dit terwyl hulle op hulle agterstewe sit en bedien word. Roosevelt en ook Trump se die oplossing is om vir elke ou ‘n werk te gee, maar die oplossing klink alteveel na “werk” vir vandag se entitlement gedrewe mense. Probleem is herverdeling (sosialisme) werk nie want daar is nie genoeg vir almal as jy die motivering wegvat van die groot produseerders nie.

Pietsepan ·

Dit is juis MLK se droom wat bewaarheid is dat dit met die swart Amerikaanse burgers so sleg gaan. Hulle word nou beoordeel op grond van die inhoud van hul karakter en nie meer op velkleur nie. Dit gebeur hier ook.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.