Kloof tussen stad en platteland sleg vir Westerse samelewings

VSA-amerika-vlag-sparkler

Foto: Free-Photos/Pixabay.com

Êrens in die Withuis hang daar ’n groot geraamde kaart van die VSA. Elke distrik op die kaart is blou of rooi gekleur. Die kaart is basies ’n groot rooi massa, met blou aan die linkerkant, blou aan die regter boonste kant en hier en daar blou kolletjies. Net meer as 20% van die kaart is blou en die res alles rooi. Dit is natuurlik ’n kaart wat die 2016-verkiesingsuitslag volgens distrik aantoon. Terwyl Hillary Clinton byna 3 miljoen meer stemme as Donald Trump op haar verenig het, het sy slegs sowat 20% van die land se oppervlakte gewen.

Hierdie groot verdeling tussen die liberale stedelike gebiede en die konserwatiewe voorstedelike en landelike gebiede bestaan reeds vir dekades in die VSA en neem eerder in intensiteit toe as af. Baie kommentators praat van twee Amerikas, selfs twee onversoenbare volkere wat nie werklik meer so baie met mekaar in gemeen het nie.

Tydens die Oostenrykse presidentsverkiesing in 2016 het Alexander van der Bellen van die Groenparty daarin geslaag om Norbert Hofer, van die regspopulistiese Vryheidsparty met sowat 350 000 stemme uit ’n totaal van net meer as 4,5 miljoen stemme te verslaan. Van der Bellen het die land se hoofstad Wene gemaklik gewen, maar kon buite Wene slegs vier van die land se 94 distrikte inpalm. Sy verkiesingsukses is suiwer moontlik gemaak deur ’n groot voorsprong in die kosmopolitaanse Wene en kleiner oorwinnings in vier ander stede. Elke ander kleiner stad, dorp en landelike gebied is deur die regse Hofer verower. Die kaart van Oostenryk lyk selfs nog meer verdeeld as die Amerikaanse kaart.

Hoewel Emmanuel Macron gedurende Mei 2017 met sowat 66% van stemme die Franse presidentskap gemaklik verower het, het Marine Le Pen van die Front National, groot dele van Frankryk geografies verower. Ook ’n kaart van die Franse verkiesingsuitslag toon hoe die regse Le Pen plattelandse gebiede, kleiner dorpe en net soos Trump en Hofer ou industriële gebiede waar groot werkloosheid heers, verower het.

Tydens president Trump se besoek verlede jaar aan Pole moes dié land se regse regering, wat met ’n groot meerderheid verkies is, mense met busse van landelike gebiede na die hoofstad Warskou aanry ten einde ’n groot en indrukwekkende opkoms by Trump se toespraak in dié stad te verseker. Ook in Pole is die hoofstad Warskou meer links-liberaal en die platteland konserwatief.

In aanloop tot die verkiesing later vanjaar in Hongarye skryf ’n Engelse onderwyser wat in Boedapest werk, Will Collins, in ’n Amerikaanse tydskrif van die groot skeiding tussen Boedapest en die res van Hongarye. Terwyl Boedapest liberaal, sekulêr en teen grense gekant is, gaan die Hongaarse eerste minister, Viktor Orban, met die steun van veral konserwatiewe kiesers buite Boedapest gemaklik die verkiesing wen.

ie stryd tussen liberale stede en landelike voorstede en dorpe is ook ’n stryd tussen die behoud van die goeie soos die Christelike geloof en totale sekularisering. Dit is ongelukkig ook ʼn desperate stryd om hulpbronne en ’n stryd tussen intellektueles en mense wat as dom of oningelig beskou word. Dit is ’n stryd tussen die stad se geldmag en die agteruitgang van ’n vergete platteland. Die breuk is tragies. Konserwatiewes en Christene het stede, intellektuele gesprekke en vooruitgang nodig om te bly voortbestaan. Die liberale stede het kultuur, identiteit en die landelike netso nodig. Nie een van die twee groepe besef egter hul verlies in hierdie toenemende verdeling in Westerse samelewings nie.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Jaco Kleynhans

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is Uitvoerende Hoof van die Orania Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

10 Kommentare

Casper Labuschagne ·

Moet geen fout maak nie, hierdie verskynsel is nie net tot die Westerse samelewing beperk nie. Dieselfde kaart in Suid Afrika sal amper geen dele in stedelike gebiede toon waar Zuma noemenswaardige steun sal hê nie, maar doer diep in die bos woon tientalle miljoene met strepieskode ID boeke wat nog nooit van die DA gehoor het nie.

‘n Verskynsels wat ek weekliks in Kroonstad opmerk (nogal by Ace Magashule se vulstasie hier op die hoek) is hoe op laat Sondagmiddag die swart bourgeois klas van die stede hul luukse duur motors vol brandstof maak nadat hulle oor die naweek vir familielede op die platteland gaan kuier het. Dit is ‘n wafferse parade van die uistpattighede van die nouveau riche wat hier hul nuutverkrygte welvaart ten toon stel en is ‘n duidelike voorbeeld van SA se swart gaping tussen die stede en die platteland.

Loeis ·

Jy maak ‘n aanname dat die DA die alternatief is waarvan die miljoene in die bos moet hoor.

Laat ons geen illusies he nie, asseblief, daar is talle ander opposisiepartye ook. Dit bring ons by die twee punt: dit is nie net die massas in die bos wat totaal oningelig is nie. ‘n vrou het direk na 2014 se verkiesingsresultate bekend gemaak is, in Afrikaans, op Afriforum se Facebook blad geskryf dat dit VF+ en FN se skuld is dat die ANC “koning gekraai” het. Ek noem haar graag totaal oningelig (sy het waarskynlik in graad nul ook wiskunde baie ver gedruip). As enigiemand wonder waarom ek die voorafgaande skryf, dan is daardie persoon ook bitter oningelig, en moet regtig gaan uitvind wat in die politiek aangaan.

Casper Labuschagne ·

+Loels ek het juis die die DA as voorbeeld gebruik in die konteks van die bostaande skrywe, spesifiek omdat die DA ‘n stedelike magsbasis het en omdat daar soms aansprake gemaak word dat die DA vorentoe die regerende party kan word. Vir wat dit werd is, die EFF steun toon dieselfde verskynsel as stedelike party met beperkte plattelandse steun en daar is ook plattelandse partye soos die IFP sonder stedelike steun. Onkunde het vele fasette, daar is vername groeperinge in die samelewing wat nie volledig ingelig is nie, juis omdat hulle in ‘n terugvoersiklus vasgevang is en net die positiewe terugvoering kry wat hul onderlinge (of vandag se rekenaargedrewe wêreld) glo dat hulle graag wil hoor. Die NP regering voor 1994 was ‘n klinkende voorbeeld hiervan waar sommige geglo het dat hulle die ANC by die stembus sou verslaan. Heelparty partywerkers by stembusse vanaf die laat 1950’s tot en met 1994 sal getuig van kiesers wat by die stembusse opgedaag het en hoogs ontstoke was omdat generaal Smuts se naam nie op die stembrief verskyn het nie, iets wat ek self teëgekom het.

Loeis ·

Jy maak ‘n paar geldige punte, Casper.

Ek vermoed dat Maimane se verkiesing tot leier van die DA ‘n strategiese skuif was om die swart stedelike middelklas na die DA te trek, iets wat in ‘n mate gewerk het. Daarteenoor staan Zuma wie waarskynlik veral op die Natalse platteland gewild is. Ramaphosa se verkiesing tot nuwe leier van die ANC, daarteenoor, sal waarskynlik ook tot die swart middelklas spreek, en dit is een van die redes waarom die ANC dalk verlore stemme uit daardie groep kan terug wen.

Die bogenoemde, saam met hulle hantering van die de Lille-sage, asook hul swak beplanning rondom die water situasie in Kaapstad, kan die DA selfs swakker uit volgende jaar se verkiesing laat tree as in 2014 – van ‘n DA oorwinning is daar dus geen sprake soos dinge nou staan nie.

My beste raaiskoot is dat partye soos die Kaapse Party in die Wes-Kaap, die IVP in Natal en VF+ plek-plek landswyd gaan groei, dus ‘n tipe provinsiale verdeling, in sommige gevalle. ‘n Koalisie van opposisie partye het dus tussen hulle steun in stede en die platteland, asook in verskillende provinsies, en het dalk ‘n kans, ‘n klein kans, om die ANC in 2019 uit die kussings te lig, maar dis dalk te veel om voor te hoop.

Hendrik ·

‘n Stad is ‘n plek waar mense skoon motors (laat) was op ‘n Sondag.

JoeV ·

Daar is nie net twee partye nie, en die vet weet ons het iemand wat ons taal kan praat nodig om ons weer te bestuur, want lei kan ons nie. Mens dink aan die spelling van die taal alleen op openbare forums, die leitjies wat ek die anderdag op die radio hoor, Afrikaanse lied met Engelse titel.
Die land het eenheid van die rug af geskud en die skade is gedoen, DA gaan nie kultuur van verwoesting en minagting van die wette omdraai nie, dit gaan net wetteloosheid aanwakker by die massas om te bewys dat hulle nie van die multikulturele stofasie is wat die weste so graag in ons kele wil afdruk nie.
Stem gerus vir iemand wat jou taal en kultuur ken en respekteer.

Gerad ·

Is altyd interessant om die kommentaar kolom en veral die reaksie daarop te volg. Die hele speletjie is amper soos toy-toy. Ons praat in sirkels en kom tot niks maar ons voel beter want ons kon ons frustrasies asem gee.
   In hierdie speletjie geld gesprek-korrektheid soos politieke-korrektheid – net meer omvattend. Die korrektheid word natuurlik deur die dominees, doktore en professore met die grootste loopbaan ambisie bepaal.
   Is vir my nie vreemd om die verskil tussen die plattelandse en stads gemeenskappe te onderskei nie. Die stedeling het ’n parallelle horisontale gemeenskap struktuur of klasse stelsel. En het die leun naam van liberaliste verwerf (hulle is nie werklik bevry nie). Dis dus ’n mengelmoes van kulture in afsonderlike klasse. Gevolglik word die leemte aan gemeenskaplikheid, kultuur en waardes gevul deur modes; gedryf deur die media monster. Hulle leiers is dus ook mode navolgers.
   Die plattelanders dra natuurlik die vervloekte benaming van regses. Hulle leef in parallelle vertikale gemeenskap strukture waar ryk en arm, jonk en oud identifiseer met die gemeenskap. Pa en ma sorg vir oupa en ouma. Waar laasgenoemde help met instandhouding en kinders oppas. Hulle volg hoë waardes na, lewer agtereenvolgend beter nuwe geslagte en steun op sterk leiers.
   Maar sterk leiers is geneig om met ’n dolk doodgesteek te word, ’n jaggeweer doodgeskiet te word of deur die media monster gekruisig te. 
   Die oplossing: ’n Gemeenskap mentaliteit wat berus op konsensus. Iets soos die protokols maar vir geestelik gesondes. ’n Kollektiewe maind. Die res gebeur vanself.

Rede daarvoor ·

Die rede waarom stedelinge meer naief stem is omdat hulle in woongebiede gesegregeer is waar hulle van die harde realiteite beskerm word. SA was ook goeie voorbeeld in die ou dae: die kleiener gemeenskappe wat in daaglikse kontak met ander kulture is (platteland, kleiner dorpe waar hoe, mid en laeinkomstemense saam bly), en sien hoe hulle land verander, is beter ingelig as stedelinge wat in hul ivoortorings van gegregeerde woongebiede leef (Sandton, Kaapstad). Ek belowe julle die stemproses in die stedelike gebiede nou in New York, Parys ens sou heeltemal anders lyk as hulle gedwing sou word om segregasie stop te sit en alle verskillense groepe almal saambly.

Eish ·

Interressante kommentaar.
Die Volksblad het CJ Langhoven so vroeg as 1926 aangehaal deur n rubriekskrywer, vir sy kommentaar op n volkseinskap, gebrek aan eensgesindheid van die Afrikaner.
” En dit alles vanweë sy buitensporige slimmigheid. Die wortel van sy kwaad is dat hy n beterweter is. Sy beterweterskap bestaan daarin dat elkeen beter weet as al die ander wat elkeen beter weet as hy en beter as mekaar. Daarom sal jy nooit n Afrikanerleier kry nie. So gou as jy een het, het jy twee en daar is skaars twee, of elkeen van die twee is weer twee.”
Daarmee volstaan ek, anders weet iemand weer beter as ek.

BEE ·

Casper dis deurgaans so; nie net nie blank nie; die stede etc verdien 50keer meer as ons mense in die platteland; ons doen presies dieselfde werk, maar daar word gesê; dis platteland?? vewrstom my oor sommige dom sienings

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.