Knelvrae oor belasting

finansies-geld-geldwassery

Foto: Stevepb/Pixabay.com

Terwyl die meeste van ons dalk daaroor mor en brom, word belasting oënskynlik deur die meeste mense as ʼn onafwendbare gegewe, of ten minste in die lig van die spreekwoordelike Wet van Transvaal, aanvaar. Dat belasting moet toeneem en skuiwergate toegestop moet word sodat die staat se koffers verder kan groei, is nog ʼn gegewe wat klaarblyklik nooit bevraagteken word nie.

Regverdiging vir belasting neem verskeie vorms aan, maar omdat dié aanvaarde konsensus oor belasting so stewig vasgelê is, is bufferplakkerslagspreuke, soos die ou gesegde wat reken dat “belasting die prys is wat ons vir ʼn beskaafde samelwering betaal”, blykbaar al wat nodig is om dit te regverdig.

Wanneer “kundiges” oor belasting gesels, neem hul gesprekke gewoonlik ʼn tegniese aard aan. Dan word daar byvoorbeeld oor die verskillende geure en kleure van belasting, soos inkomstebelasting, BTW of invoerbelasting gesels. Die jongste belastingkoerse wat op individue van toepassing is, kan ook genoem word. Selfs menings oor die “optimale” belastingstruktuur wat “die minste versteuring” aan die ekonomie sal veroorsaak, kan die lig sien, maar vrae oor die grondliggende regverdiging vir belasting of die breër gevolge daarvan, word nie sommer openlik bepeins nie.

Soos ons seker kan verwag, word belasting in regerings-, politieke en sommige mediakringe bykans nooit bevraagteken nie.

Dat belasting klaarblyklik as ʼn onweerlegbare feit van die lewe beskou word, is ʼn gegewe. Tog is dié konsensus sekerlik nie vrygestel van breër beginselvrae of minstens kritiek nie. Indien die stryd om belasting op die vlak van bufferplakkerslagspreuke gestry word, is die teenstander van belasting darem ook nie sonder sy eie ammunisie nie. Ek dink byvoorbeeld aan nog ʼn slagspreuk wat lui dat “die mag om te belas die mag is om te vernietig”.

Om minstens twee redes moet belasting omsigtig benader word. Belasting beteken uiteindelik dat hulpbronne met dwang van mense afgeneem word. Diegene van wie hulpbronne ontneem word, ly beslis skade.

Verder berus belasting op iets wat hoofsaaklik net regerings deesdae by magte is om te doen; dit is om hulpbronne wettiglik met dwang (wat uiteindelik deur openlike geweld bekragtig kan word) af te neem.

Die gebruik van dwang moet moreel met groot omsigtigheid benader word. Gewoonlik moet daar baie goeie redes wees om vreedsame mense te dwing om enigiets vir enigiemand te doen. Gevalle waar dwang wel geregverdig kan word, is gewoonlik die uitsondering in ʼn beskaafde samelewing en nie die reël nie. Verder kan die gevaar van ʼn volmag om dwang te gebruik nie ontken word nie.

Allermins moet ʼn samelewing, soos ons sʼn, wat kinders wil leer dat dit nie reg is om behoeftes met dwang en geweld te bevredig nie, ook die vraagteken in konteks van belasting kan insien.

Dit is so dat mense miskien vrywillig tot belasting kan instem, maar dié soort instemming word in die hedendaagse politieke bestel nooit openlik van die individu versoek nie. Sover ek kan sien, is afskrifte van die sogenaamde “sosiale kontrak” nie beskikbaar nie, en ek het nooit so iets onderteken nie.

Dié instemming, indien dit enigsins bestaan, word eenvoudig deur die regerende politici aangeneem. Diegene wat poog om openlik, op skrif of in woord, hul geïmpliseerde instemming te onttrek se belastingaanspreeklikheid word geensins daardeur verminder nie. Dit beteken dat ons nie werklik ʼn geldige keuse oor belasting gegun word nie; uiteindelik berus belasting dan nie op iets soos vrywillige instemming nie.

Regverdiging vir belasting, en die gedurige uitbreiding daarvan, berus tans meestal op opvattings wat meen dat regerings hulpbronne wat by belastingbetalers afgeneem is, tot groter voordeel vir die “samelewing” kan aanwend as wat die geval sou gewees het indien diegene die hulpbronne self sou aanwend.

Die vraag oor noodsaaklike grondliggende “regeringsdienste”, soos ʼn werkende regstelsel, polisiedienste en nasionale veiligheid is natuurlik geldig, maar tog is hierdie basiese grondslag van regeringsdienste lankal oorskry.

Die omvang van die regeringsdienste, oordragbetalings, soos welsyn, en ander vorms van staatsbesteding is aansienlik oor die jare uitgebrei. Dat daar tans baie ruimte is om te beding vir kleiner regerings wat minder bestee en minder belas, kan nie ontken word nie.

Selfs al speel belasting so ʼn “lewensgewende” rol, en selfs al word dié grootskaalse gebruik van dwang ten einde sulke dienste te verskaf moreel reg verklaar, moet die oënskynlike voordele van belasting ook teenoor ander nadele oorweeg word.

Ekonomies is dit ooglopend dat uitermatig hoë belastings vernietigende eerder as opbouende gevolge sal hê. Die nadelige effek van belasting op aansporings is niks nuuts nie. Die meeste ekonome erken afruilings tussen belasting en ander ekonomiese uitkomste. Die meeste regerings weet ook dat verhogings aan belastingkoerse verby ʼn sekere punt nie noodwendig groter algehele belastinginkomste sal beteken nie.

ʼn Dwase regering wat poog om ʼn 100%-belasting op inkomste in sy grondgebied te hef sal groot skade veroorsaak, want bykans niemand sal vrywillig formele werk of sake onderneem met dié vooruitsig dat hulle geen inkomste daarvoor sal verdien nie. So ʼn 100%-belastingkoers sal die formele ekonomie heeltemal in die wiele ry en is sprekend van die vernietigende krag van belasting.

Dit is wel so dat werk, produksie en ondernemerskap nooit geheel en al sal eindig nie, maar die struktuur daarvan sal in ʼn omgewing van uitermatige belasting hewig verdraai en lamgelê word. Dit sal gebeur omdat mense wat belastingkoerse subjektief as “te hoog” ervaar toenemend van werk en ondernemerskap ontmoedig sal word. Waar werk en ondernemerskap wel plaasvind, sal dit buite die belastinggaarder se net plaasvind.

In dié konteks word daar soms na ʼn inkomste-effek verwys wat as teenvoeter vir ontmoedigende effekte voorgehou word. Volgens dié effek sal sommige mense harder werk om inkomste wat weens belasting verloor is, op te maak.

Buiten die feit dat dit sal beteken dat die sommige netto-belastingbetalers verder van ontspanning ontneem word en hul lewenstandaarde ten bate van die regerende groepe verder aangetas sal word, is dit so dat die inkomste-effek net so ver kan gaan om ʼn verlies aan produktiwiteit teen te werk.

Daar is terselfdertyd ook ander ekonomiese “wette” in werking wat inkomste-effekte kan teenwerk, soos die beginsel dat hoër belasting mense toenemend op die kort termyn instel, wat op sy beurt private beleggings, en die vorming van die produktiewe kapitaalstruktuur, kan belemmer. Dit het ʼn swakker kapitaalstruktuur tot gevolg wat toekomstige vooruitsigte kan belemmer.

ʼn Verdere probleem is dat die las van belasting as’t ware na ander groepe in die ekonomie verplaas kan word. Dié ekonomiese beginsel, dat ʼn belastinglas nooit suiwer tot diegene wat regtens daarvoor aanspreeklik is, beperk kan word nie, is ook nie onbekend nie.

Die regverdiging vir Suid-Afrika se hoë progressiewe belastingkoerse is juis dat die sogenaamde hoë inkomstegroepe meer belasting sal betaal – tog is dit nie regtig so eenvoudig nie.

Dit kan gebeur dat van die “rykes” wat die hoër belastingkoerse in die gesig staar (op die marge), kan besluit om minder goedere en dienste te produseer. Indien dit gebeur, sal pryse van goedere of dienste wat die “rykes” aan die mark bied gewoonlik duurder word. In so ʼn geval is die las van ʼn hoër belasting nie tot die “rykes” beperk nie.

Dit is verder denkbaar dat hoë inkomstegroepe nie net hoër belasting bloot sal aanvaar nie. Sulke individue kan op denkbare maniere daarop reageer. Sommige kan hul belange herstruktureer om hul belastinglas te beperk, sommige kan selfs die land verlaat, maar ʼn verdere moontlikheid is dat sommige net eenvoudig aangespoor sal word om minder te werk.

Laasgenoemde twee moontlikhede sal die produktiewe potensiaal van die ekonomie belemmer. ʼn Belasting op die “rykes” kan byvoorbeeld dus sowel hoër pryse as verswakte produksie op lang termyn beteken, wat uiteindelik kan beteken dat baie meer mense as net die sg. “rykes” vir die belasting op “rykes” betaal.

Slotsom

Saamgevat beteken dit alles dat belasting moreel, sowel as ekonomies, omsigtig benader moet word. Belasting kan groot skade berokken en hoe groter die belastinglas gemaak word, hoe groter die denkbare skade wat aangerig kan word.

Dit bring ons by die dieper vraag oor hoe ʼn welvarende en beskaafde samelewing werklik geskep kan word. Hieroor meen die SNI dat die welvarende samelewing ʼn ingesteldheid vereis wat dit moontlik maak vir mense om toenemend tot meer en beter produkte en dienste op die mark by te dra. (Dit sal in ʼn volgende artikel bespreek word.)

Só ʼn ingesteldheid op waardeskepping vereis dat ʼn samelewing enige hindernisse tot die produktiewe samevoeging van arbeid, kundigheid, kapitaal en hulpbronne in vrye ondernemerskap tot ʼn minimum beperk. In dié opsig is belasting ʼn verdere hindernis wat ook tot ʼn minimum beperk moet word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

11 Kommentare

John ·

‘Die gebruik van dwang moet met groot omsigtigheid benader word’… maar as die skoen aan die ander voet is en die inwoners te staat afdreig oor hoe om die belasting te spandeer maar self sku is om bydraes te maak en selfs skade aanrig wat onnnodige uitgawes veroorsaak? En wanneer die staat self die fondse ge-in soos ‘n dwase koning verspil op nog mooi blink krone? Die Grieke glo hoeka dat mens so min as moontlik aan die staat skuld en ‘hom’ om elke hoek en draai moet verkul, omdat my-geld-my-geld is, maar soek wel op hul oudag pensioene. En kyk waar staan hulle na eeue van so dink. Arm Griekeland moet bakhand staan by die EU en IMF in ruil vir huisvesting vir duisende uitlandse vlugtelinge en oppertuniste… soos hulself.

Johann ·

Ek is geen ekonoom nie maar ek sien nou al hoe die minister van finansies plan moet maak met allerhande nuwe belasting om die regering se koffers te vul. Kom ons vat ‘n goeie voorbeeld van grondonteining. Vat die grond en die poging om te boer sal misluk. 90% van die plase wat oor gegee is het misluk. Gee die plase dan vir die “boere” en hulle sal weier om belasting te betaal. Die wittes word minder en minder. Hulle verlaat die land en ook met die regstellende aksies verloor die wittes ook werk. So geen belasting nie.

Landbou ekonoom ·

As n deskundige op die gebied kan ek bevestig dat minder as 90 persent van grondhervormingsprojekte totale mislukkings is. Punt.

Landbou ekonoom ·

Korreksie, ek bedoel dat meer as 90 persent van grondhervormingsprojekte totale mislukkings is, baie meer.

William ·

Die staat moet aan ons dienste lewer.
Gebeur dit-nee.
Waar is veiligheid, dan nog BEE en uitsprake wat teen ons gekant is?.
Maar ons BETAAL nog steeds?.
Hoekom betaal eimand nog steeds belasting?.
“Bury them alive”.. daai persoon word nie eers aangespreek nie.
Gaan bietjie na die lisensie kantoor.. hulle WIL nie werk of help nie. Munisiepaliteiete?..
Nee Mense, genoeg is genoeg.
HOU OP OM DIE ONDERDRUKKERS TE BEVONDS!..
Boere laat staat weet tot en met as hulle daadwerkilk optree teen die plaasaanvalle. Belasting weerhou gaan word.
Sal sien of hierdie kommentaar gepupliseer word. Lykmy ons kan ook nie se wat ons voel nie.

Wiseman ·

Ons betaal vrywilliglik die salarisse en hulpbronne vir hulle om haatpropaganda teen ons wittes te verspry en om anti-wit beleid op te stel en uit te voer. Ons finansier ons eie ondergang deur belasting aan hierdie kriminele regering te betaal.

Belasting ·

Die staat wil nie aan die wit mense n diens lewer nie. Punt!!!!! Die wit mense word onder dwang geplaas om aan die staat n “diens” te lewer. Dis hul strategie om “ryk” te word onder ons “dwang”. So katrol hulle alles baie stywer en onsmaaklik vir die wit mense….die staat voel dan niks eers vir sy eie medemens wat nog vir die wit mens.

URSULA ·

ek het R82000.00 betaal omdat ek werk en Pensioen van my oorlede man kry (2x inkomste)
nou het ek weer n INV’s gekry nog uitstaande vanaf 2007 met Rente
hoe werk dit bel hulle kantore kan niemand my help nie stuur ek n e-mail of al die bewyse kry ek geen antwoord nie maar wel net die Brief om te se ek moet betaal met nog rente
urs

Landbou ekonoom ·

Deur om belasting te betaal aan n regering wat ons haat betaal ons vir die finansiering van ons eie ondergang.

William ·

@Landbou ekonoom –Presies!..
Hoekom is ons so dom om dit te doen?.
Asof jy vir jou moordenaar sy mes vir hom slyp!.
Nee wat mense!–wakker word!..
Hulle het ons uit die werks mark geforseer, nou will hule tot mense in die BUITELAND belas-groot ANC put wat leegloop.
Die enigste manier wat hulle sal VOEL, is deur belasting opstand!.

Philip ·

One betaal almal erf be lasting kan men’s dit verklaar end terug kry of swam met joy total last tel

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.