Knysna: Die ‘perfekte storm’

knysna6

Foto: Reint Dykema

Deur Thomas van Dalen

“Terwyl ʼn reusestorm in die Wes-Kaap gewoed het, het ons voorberei vir erge stormwinde, met die verwagting dat dakke afgewaai sou word en mense in informele nedersettings sonder huisvesting sou wees”, onthou Knysna se brandweerhoof, Clinton Manuel.

In die vroeë oggendure van Woensdag 7 Junie het ʼn bosbrand in die noordwestelike buitewyke van Knysna na Sedgefield se kant toe uitgebreek wat deur nege brandweermanne bestry is. ʼn Stormsterkte noordwestelike wind het dit baie gou buite beheer verby Buffelsbaai laat woed in die rigting van Brenton on Sea.

Nadat dit groot gedeeltes van Brenton in puin gelê het, het die vlammesee skielik van rigting verander en teruggedraai na Buffelsbaai, waar dit duisende hektaar fynbos tot as verbrand het. ʼn Sterk wind het die vlamme in die rigting van Sedgefield aangeblaas, asook in die dennewoude rondom Knysna Heights. Aanliggende woonbuurte is deur die vlamme verswelg. Teen Saterdagmiddag is die meeste huise in Brenton on Sea vernietig asook in Knysna Heights. Verskeie huise in die res van Knysna is ook in puin gelê. Vier Lugmag-helikopters saam met helikopters van Working on Fire kon teen Vrydag 9 Junie begin om met Bambi-bakke die vlamme te “bombardeer”.

Teen Satermiddag 10 Junie het die wind effens bedaar en kon die brandweer met teenbrande begin in ʼn poging om die vuur se vernietigingspad te stuit. Teen Sondagoggend 11 Junie, het die strategie vrugte afgewerp en was daar slegs twee vure wat nog aktief gebrand het, maar wat onder beheer was. Teen Maandagmiddag 12 Junie was daar slegs nog hier en daar smeulende oorblyfsels van wat eens ʼn gewilde toeristemekka was. Sedert Vrydag was daar sowat 1 200 brandbestryders op die onderskeie brandlyne ontplooi.

Op ʼn vraag aan Manuels of Knysna se brandweerdiens nie hierop voorbereid was nie, het hy geantwoord dit was werklik die “perfekte storm”.

Die nooddienste was voorbereid op ʼn moontlike ramp, maar niemand kan voorbereid wees op ʼn insident van hierdie omvang nie. Die ramp word geklassifiseer as ʼn tipe 1-insident, wat dieselfde klassifikasie is as die New Yorkse 9/11-tragedie waar die Twin Towers vernietig is.

Alle omstandighede het meegewerk om die brand, wat onder normale omstandighede vinnig geblus kon word, tot die grootste ramp in 150 jaar in Suid -Afrika laat ontstaan het.

Manuels verduidelik dat daar ʼn teorie bestaan dat sulke groot brande slegs elke 150 jaar ontstaan, en dat die laaste een na oorlewering in 1869 miljoene hektaar in Suid Afrika vernietig het. Dit is ook opmerklik dat op sommige plekke hele woonbuurtes ongeskonde is hoewel dit in die pad van die verwoestende vuur was, en net ʼn volgende buurt totaal in puin gelê is. Manuels skryf dit toe aan twee faktore: brandroetes vanweë topografie en termiese golwe. Termiese golwe het die dieselfde effek as die deining van die see, waar die golf opgaan, spoel die vlamme skadeloos oor alles onder dit en vernietig alles waar dit afgaan.

Skenkings van reg oor die land het van Donderdag 8 Junie begin instroom, in die vorm van kos, klere en verskeie ander benodigdhede. Teen Sondag was daar in die dorp ʼn oorskot voorraad kos en klere en het die hulporganisasies begin om spesifieke skenkings te versoek.

Tydens ʼn gesprek op 15 Junie met Knysna se adjunk-burgemeester, Peter Myers, het hy genoem dat sowat 500 woonhuise, 30 gastehuise en 150 plakkerhutte vernietig is. Net sowat 50% van die eiendomme wat vernietig of beskadig is, is verseker. Hy het ook genoem dat dit ten minste R30 miljoen sal kos om net die waterinfrastruktuur te herstel. Hierna volg die elektrisiteit asook die rioleringstelsel. Die hele proses om Knysna tot sy vorige glorie te herstel sal ʼn paar miljard rand kos en ʼn paar jaar neem.

Teen Dinsdag 13 Junie was die munisipaliteit volstoom aan die gang om die skade te assesseer, sodat die munisipaliteit kan bepaal waar en aan wie om hulp te verleen. Myers het tydens die onderhoud ʼn beroep op die Suid-Afrikaanse publiek gedoen om Knysna te besoek tydens die vakansieseisoen asook om die komende oesterfees te ondersteun. Myers het verduidelik dat die insidentbeheerstelsel ná afloop van die brand omskep is in ʼn administratiewe stelsel om met die rehabilitasie van die dorp te begin. Verskeie klusters sal vir die bestuur van proses verantwoordelik wees, byvoorbeeld ʼn sosiale kluster, een vir infrastruktuur, een vir administrasie ensovoorts.

Knysna is platgeslaan deur een van die grootste rampe in menseheugenis, maar is reeds besig om soos ʼn feniks uit die as te verrys.

  • Van Dalen is die burgerregte-organisasie AfriForum se provinsiale koördineerder van die Oos- en Wes-Kaap.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

Santie ·

Puik artikel deur kundiges. Mens kan jou net vervies vir die onkundiges wat dadelik weer klimaatsverandering die skuld gee, terwyl dit ‘n sikliese probleem is. Wonderlik hoe almal tog weer dadelik begin organiseer en opbou.

Henry ·

As ‘n ou inwoner van Knysna, wat hierdie ramp ook aan eie bas beleef en aanskou het, wil ek die skrywer van hierdie artikel bedank vir sy weergawe. Andersyds en met alle respek moet ek daarop wys dat daar ongelukkig talle feite foute is.

As voorbeeld “…Teen Saterdagmiddag is die meeste huise in Brenton on Sea vernietig…” Gelukkig staan die meeste huise nog.

Die vernietiging van eiendomme in woongebiede soos Eastford, Westford, Knysna Hoogte, Paradise, Kanonkop, Welbedacht wat in die pad van die woeste vuur vanaf die Karatara omgewing oor Knysna dorp gewoed het, het die lewens van talle van ons bedreig. Dit het ook verseker dat ons wel en weë vir laaaang tye vorentoe nie meer so wonderlik wil lyk soos dit voor Woensdag 7 Junie 2017 gelyk het nie.

Nietemin. ‘n Onmeetbare groot dankie aan al die mense van hierdie droewe land, wat sonder skroom of vrae so mildelik bydra om die las en pyne van Knysna se inwoners, wat in talle gevalle al hul besittinge verloor het, te verlig.

Dit is mynsinsiens die mees belangrike, vertroostende, hoopgewende en blywende gebeurtenis van die ganse tragedie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.