Koalisiepolitiek is vol slaggate

Argieffoto: isdei.blogspot.com

Argieffoto: isdei.blogspot.com

“Werk mooi met jou vyande, jy’t hulle immers self gemaak!” Menige politieke leier in die land wens nou seker hulle het vroeër al na hierdie brokkie raad van ’n onbekende wysgeer geluister.

Dis nou ná die politieke deurbraak wat teweeggebring is deurdat die ANC by verskeie stadsrade nie ’n volstrekte meerderheid behaal het nie. Dit bied aan die DA en minderheidspartye die kans om met koalisies die beheer van ’n paar stede en dorpe by die ANC af te neem. Dit is baie goeie nuus, omdat dit ’n kans op beter plaaslike regering bied en die tendernetwerke by baie stede in dorpe ’n slag kan toedien.

Maar koalisiepolitiek is vol slaggate – of selfs mynvelde! Die eerste vraag is met wie ’n party ’n koalisie moet vorm. Die keuse is tussen vriende of vyande, met familie of vreemdes, uit liefde of selfs uit weersin. Die DA sal byvoorbeeld makliker ’n koalisie met die IVP wil vorm as met die EFF. Koalisiepolitiek kom algemeen voor in lande met proporsionele kiesstelsels soos in Europa. Gewoonlik kies ’n party dan ’n kleiner party as vennoot wie se beleid die naaste aan sy eie is. In baie lande is daar al gevestigde tradisies van partye wat met mekaar saamwerk. Maar dis nie so eenvoudig in Suid-Afrika nie.

Vegtende faksies

Die eerste probleem is dat enige politieke party self ’n koalisie van vegtende faksies is, en nooit eenvormige menings oor partybeleid het nie. Daarom sê politici gereeld: In die politiek sit jou opponente oorkant jou in die banke, en jou vyande agter jou rug! Hulle sê ook ’n goeie toespraak in die politiek is een wat beter is as jou opponente s’n, maar nie so goed soos jou eie kollegas s’n nie. Daarom maak ’n politieke “huwelik” met ’n ander party die kwessie van regering baie uitdagend. Churchill het nie verniet gesê die enigste ding wat moeiliker is as om in ’n koalisie te veg, is om alleen te veg nie. Dis nie maklik om alleen te regeer nie, dis baie moeilik om saam met ’n vriend te regeer, en dis bykans onmoontlik om saam met ’n vyand te probeer regeer.

Verlam

Koalisievorming is veral vir die kleiner vennoot gevaarlik. Gaan dit goed, kry die groter party die krediet, maar gaan dit sleg, dra jy saam die blaam! Daarom is dit soms beter om ’n goeie opposisie te wees as ’n swak regeerder. Die beste voorbeeld hiervan is die geskiedenis van die DA. Terwyl die eertydse NP ná 1994 in ’n regeringskoalisie met die ANC was in die regering van nasionale eenheid, wou die DP van Tony Leon hom nie laat inbind nie. Die DP-leier het die stem van die opposisie in die parlement geword, terwyl die NP verlam is deurdat hy deel van die regering was. Die NP se kiesers het begin sien dat dinge nie so gaan uitwerk as wat hulle leiers belowe het nie, en hulle het in hulle massas na die DP toe begin oorstap. Uiteindelik moes die enkele oorblywende NP-leiers eerloos by die ANC aansluit.

Die tweede voorbeeld is toe die VF+ ’n beslissende stem in die Kaapstad-stadsraad uitgebring het om Helen Zille tot burgemeester te verkies. Ná ’n tyd van swak ANC-regering het Zille haar goed van haar taak gekwyt. Dit het die DA laat groei terwyl die VF+ se aandeel gou deur die kiesers vergeet is. So het hierdie koalisie die DA op die pad boontoe geplaas, maar die VF+ se steun ondermyn.

Prys van koalisie

Die EFF is as die grootste van die kleiner partye die beste geplaas om met die groter partye te beding. In werklikheid kan die EFF besluit wie van die ANC of DA stadsrade soos Tshwane, Johannesburg, Ekurhuleni en Port Elizabeth regeer! Maar dis nie so eenvoudig nie. Die EFF het sy party gebou op raserige opposisie teen die ANC en die DA, wat hom gaan inperk as hy deel van ’n regerende koalisie van ’n stadsraad word. Dit kan hom kiesers laat verloor. Terselfdertyd kan die DA ook kiesers verloor as hulle met die EFF in die bed klim, omdat die DA se kiesers juis vir die party stem teen die ANC en Julius Malema. Die grootste vraag is hoe hoog die politieke prys is wat die ANC en DA onderskeidelik vir die EFF sal moet betaal in ruil vir steun.

Die ander moontlikheid is dat die EFF byvoorbeeld die DA kan help om ’n metro te beheer sonder ’n formele koalisie, maar dan met elke besluit van ’n stadsraad vir of teen die voorstel stem. Dit kan ’n stadsraad verlam, omdat ’n meerderheid ANC- en EFF-raadslede so ’n radikale besluit sal kan neem wat die DA-burgemeester moet uitvoer! Maar enige koalisie met die EFF kan hierdie radikale party ’n vetomag gee oor elke besluit van die DA, omdat hulle die stadsraad te eniger tyd sal kan laat val.

Ander koalisies

Daar is dorpe waar die DA en die VF+ ’n koalisie sal kan sluit, wat ’n beter kans op blywende sukses het. Die VF+ sou die DA kon help om die bewind by die ANC oor te vat, in ruil vir perke op rasbeleidsrigtings soos kwota’s en BEE-tendertoekennings. Maar indien die VF+ dieselfde voorwaardelike koalisie met die ANC sluit, sal sy kiesers hom beslis kwalik neem. Aan die ander kant kan ’n koalisie tussen die ANC en VF+ die rassepolarisasie wat moontlik met ’n koalisie tussen die DA en VF+ kan gebeur, teenwerk. Dink net hoe die ANC sy ondersteuners teen ’n koalisie tussen die DA en VF+ kan opsweep – iets wat gereeld in die Wes-Kaap teen die DA voorkom.

Maar daar is ander moontlikhede ook. Hoewel “minimum” koalisies meestal voorkom, is “maksimum” koalisies veral in lande soos Suid-Afrika ’n goeie idee. ’n Minimum koalisie is wanneer ’n party die minimum getal partye by sy koalisie kan betrek om te regeer. So ’n koalisie is meer bestendig, veral as die beleidsafstand tussen partye klein is. Maar die doel van ’n maksimum koalisie kan soms goed werk, en word juis gebruik om alle groepe in te sluit. So kan dit ’n goeie idee wees as die DA op ’n bepaalde dorp byvoorbeeld die IVP en die VF+ by die stadsraad insluit.

Maar die waardevolle les wat politici oor die hele spektrum met hierdie verkiesing geleer het, is dat jy gaaf moet wees met jou vyande, want jy’t hulle dalk ná die verkiesing nodig!

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

John ·

Die EFF is die wonderparty. Hy wen nie veld in die verkiesing nie, maar hy kry dit present. Dis soos ‘n verniet-doktorsgraad vir ‘n bedelaar wat op die straathoek staan en skree. Malema loop grootkop rond.. sy rooi pet lyk al of dit gekrimp het. Die parlement sal ‘n permante mediese korps moet aanstel vir al die floutes wat gaan volg na die verkiesing. Die koalisies gaan ‘n uitbraak van ‘n ongekende virus tot gevolg he, wat jare gaan neem om onder bedwang te bring. Kouekoors en warmgloede, stemverlies en woede uitbarstings sal die hoof-simptome wees.. o ja, armswaaie en voor-en-middelvinger-sarkasme veral by diegene met asemnood.

Kassie ·

Die EFF is niks anders as die ANC op steroids nie :)

In ‘n proporsionele kiesstelsel is geen stem verkwis nie – al is dit vir hoe ‘n klein party.

In werklikheid vermenigvuldig mense hulle stemkrag deur vir ‘n kleiner party te stem en dan ‘n koalisie gesprek af te dwing.

Kyk maar na die vermenigvuldigingseffek van die stemme vir die EFF: Die EFF kan dikteer wat hy wil bereik en die magslus van die DA/ANC sal maar net moet spring.

Wat-ek-lees ·

Dit gaan werklik interessant wees om die bedmaats te sien, stinkvoete en al . . .

Kobus ·

Jip, lyk my mens moet maar jou morele waardes in jou sak steek, kyk maar verby jou kieser as jy een op straat raakloop.

pieter ·

ONTHOU DIE KP WAS GESTIG DEUR DIE NP OM DIE HNP SE RUG TE BREEK WAAR IS DIE NP NOU.KLINK VIR MY DIESELFDE MET DIE ANC EN DIE EFF.

Burger ·

Ek weet van geen land wat n skoon leier nie . Die meeste het ‘n vrymesselaarsverbintenis. Voor 94 was SA deur hulle regeer onder n die wolk van die institusionele kerk en die vrees van die kommunis. Vrymesselary en kommunisme is in elk geval in een bed .

Hulle laat jou soms voel die einde nou is, en vandag wil ek in geen ander land wees as SA nie.

Ek dink as jy kies om by politiek betrokke raak , kies jy ook om vuil te raak . Tog moet hulle daar wees. Dis die aard van die wereld wat nie kan verander nie …

Waarvoor ek baie dankbaar in SA is , is ons demokrasie . Al lyk hy hoe gebroke , hy is meer opreg as baie ander eerste wereld lande sin. Die grondwet en konstitusie het se krag getoon teen die president se vergrype. Mense het baie meer bewus geraak van die krag daarvan . En dis beslis goed , hulle sal dit onderdrukking daarvan verdedig. Die konstitusie het direk bygedra tot die ANC se verliese in die verkiesing.

Fanie ·

Seker eerder omdat die HNP so verkramp was dat niemand vir hulle wou stem nie.

Anys ·

Watter uitkomste met koalisiepolitiek ookal, dis die publiek wat telkens weer die onderspit delf. Terwyl politici mekaar die stryd aanse, vergaan alles rondom ons. Daarom is Afriforum, as deel van Solidariteit ‘n gawe uit die Vader se hand. By die Monument n jar of wat terug het Afrikaners n besluit geneem dat “elkeen ‘n leier sal wees in sy gemeenskap en dat ons sal regeer temidde van n regering.”Dis ons uitkoms.

johann ·

Ek wonder net hoe gaan al die mense nou voel wat vir die DA gestem het oor ‘n koalisie met die EFF.
Verraai? Gaan die DA nou sy ware kleure gewys?
Sou daar ‘n koalisie wees met die EFF, kan ek voorspel dat die ANC met die nasionale verkiesing weereens die meerderheid stemme verkry.

Columbiana ·

Hoe voel die DA kiesers. Ons voel heel goed dankie. Ons het gestem vir die greater good van die land en nie net vir een kleur een ras of een kultuur. Ons het gestem vir SA. So hoe voel ons. BITTER GOED EN BITTER TROTS

Chrisjan ·

En wat is die alternatief dan Johann? Indien die DA nie met die EFF of die ANC saam werk nie gaan die ANC saam met die EFF saamwerk. So jy verkies eerder Pretoria onder ‘n ANC en EFF regeering as ‘n DA en EFF of ANC. Want daai klein partye soos die FF Plus en Kie is nie genoeg vir die DA om Pretoria en Johannesburg te regeer nie. So nou kies maar tussen DA en EFF en ANC en EFF. Ek kies dan maar eerder ‘n DA koalisie regeering as ‘n ANC EFF regeering.

Johanna Botha ·

Amen Columbiana ! Ons het almal n plek en ons moet almal saamwerk dis net al

Boerseun ·

Johanna, saamwerk dalk n goeie idee, maar met EFF saamwerk weet ek nie. EFF staan vir radikale, ongedisiplineerde moeilikheid makers, onthou bv net studente betogings en aanhitsing deur partylede dat wittes doodgemaak en uitgeroei moet word, grondvergryping, ens. Mis ek iets? Of is dit dalk beter om ver weg van rooi party te bly?

John ·

Johanna, ons het almal ‘n plek onder die son? So, die konserwatiewe indivudualiste het ook ‘n bestaansreg? Mooi! Saamwerk, nee. Iemand moet die fort hou. Te veel saam voel te veel soos binne-in ‘n sardiensblik.

GJ de C K ·

Ja – die DA “blues” kom.

Maar dis goed ook so: Ons positiewe toekoms lê aan die ander kant van bedrieglike “kieries” soos party-politiek en die verpanding van ons heerskappy aan onchristelike volksvreemdes en hulle ongesonde instellings en maniere.

Columbiana ·

GJ.
Wanneer gaan julle outjies ophou grawe in die Bybel om julle standpunt te regverdig. Regtig weet jy dis so skandelik. Publiseer asb daai stuk in die Bybel wat se Afrikaners/wittes is die heersers. Asb ek nooi jou uit om die specified woorde Afrikaner uitverkorene etc aan te haal.

Nico K ·

Ek stem saam met Columbiana. Kan die Afrikaner nog as ‘n Christelik volk beskou word? Daar is te veel Afrikaners wat dit nie meer is nie.

Moegviraldiebeloftes ·

Die stede/dorpe waar daar koalisies gevorm moet word om die meerderheid oor die anc moet gedoen word nou gaan dit nie oor kleur geur en ander dinge wat in die parlement gebeur nie – dit gaan oor dienslewering in die dorpe en stede goeie dorpsbestuur. Enigiets volgens my ondervinding is beter as die anc se korrupsie en vergrype. ek is ook nie verheug oor eff koalisies nie maar as die da hulle kan wys hoe kan hulle dit weer doen in die dorpe/stede waar hulle gewen het en so wen ons almal. Ons land is vir ons almal ‘n plek om te bly, kos om te eet, ‘n werk om na toe te gaan en jouself op te hef en baie belangrik om in vrede met mekaar te lewe. DIT is wat baie mede suid-afrikaners met wie ek te doene gekry oor al die grense van menswees wil hê en die verkiesing wat nou verby is het bewys ons wil dit hê. Diegene wat nog al die politici se beloftes gaan nagekom word moet wakker word – dit gaan nie alles so gebeur nie. Maar vir die wat gestem het kan ons darem sê ons het probeer en wonder bo wonder nog reggekry om mense in plek tekry wat die werk kan doen en die wie nie gestem het nie bly stil want met jou stilswye het gesê jy is tevrede met die toestand van sake

Kerneels ·

EFF is klaar in selfde raad. Is dit nou so sleg as hulle saam met DA stem om dienslewering te weeg te bring. In ons Munisipaliteit sal DA amper geen se he as ANC met EFF koalisie form nie dus eder DA en EFF. Dan is daar hoop.

Jcwf ·

Indien Zuma ‘n bosberaad hou waar ‘n belangrike oorsaak van sy party se verlies -hyself- nie eers bepraat mag word nie, dan gaan dalk in ’19 die ANC nie meer ‘n meerderheid hê nie. Dit beteken dat die koalisiepolitiek in die stede van nou die koalisiepolitiek van die heel land moet gaan word. Ek hoop hulle leer dit skielik!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.