Koalisieregering in Oostenryk breek uitmekaar

sebastian-kurz-oostenryk

Sebastian Kurz van Oostenryk. Foto: Raul Mee (EU2017EE)/Flickr.com

Vir meer as ’n week is daar chaos in die Oostenrykse sentrum-regse regering, bestaande uit die Oostenrykse Volksparty (ÖVP) en die Vryheidsparty (FPÖ). Die twee partye het eintlik goed saam gewerk en belangrike hervormings, wat hulle gehaat gemaak het by linkses en gewild by konserwatiewes en regses, van stapel gestuur.

Onder die koalisieregering is onwettige immigrasie bemoeilik deur beter grensbeheer en die inkort van finansiële voordele vir immigrante. Dit het ’n merkbare uitwerking op die getal immigrante gehad. Verder was daar ook ʼn belastingsverlaging wat goed vir die ekonomie en vir die burgers was. Alle aanduidings was dat die twee partye met die volgende verkiesing (wat nog ’n entjie weg is) goed sou vaar en weer saam sou regeer. Dit het gevolg nadat die ÖVP en die Sosiaal-demokratiese SPÖ, wat vir dekades saam regeer het, moeg vir mekaar geraak het. Die persoonlike verhouding tussen die leiers was ook nie na wense nie.

Vir die linkse elite in Europa en veral die hoofstroommedia was die koalisieregering van ÖVP en FPÖ ’n doring in die vlees: daar mag geen regse blok bestaan nie, en allermins mag so ’n regering suksesvol wees en dalk selfs nog ’n voorbeeldkarakter vir ander lande hê.

Dit wat onlangs gebeur het, toevallig (of nie so toevallig nie) ’n week voor die Europese verkiesing, herinner sterk aan die politieke TV-reeks House of Cards: die pers maak ʼn video bekend waarin die FPÖ-leier Heinz-Christian Strache en die koukusleier van die party, Johann Gudenus, in ’n gekuierde toestand by ’n vakansievilla op die Spaanse eiland Ibiza allerhande onsmaaklikhede oor kansellier Sebastian Kurz en ander politieke leiers kwytraak en teenoor ’n Russiese vrou – na bewering iemand met familieverbintenisse met ’n oligarg (ryk sakeman met politieke konneksies) – suggereer dat hulle partydonasies uit Rusland soek, in ruil vir tenders. Dis natuurlik korrupsie op sy beste en dit was net konsekwent dat Strache en Gudenus onmiddellik ná die onthullings bedank het.

Dit kon egter by die bedanking van die twee leiers gebly het. Pleks daarvan was dit die maksimale skandaal en het die hele regering uitmekaargeskeur. Die betrokke twee Duitse publikasies wat die video openbaar gemaak het, Der Spiegel en Süddeutsche Zeitung het Kurz, wat werklik heel onskuldig aan die saak was, ook aangeval en sy bedanking geëis omdat hy dit durf waag om ’n regering met “ korrupte regse populiste” te vorm.

Kurz het al die FPÖ-ministers afgedank en hulle deur tegnokrate vervang en regeer nou met ’n minderheidsregering. Hy sal homself aan ʼn mosie van wantroue moet onderwerp, en nuwe verkiesings is reeds aangekondig. Met Kurz en sy regering wat in die gedrang is, het die staatspresident, Alexander van der Bellen van die Groenparty (sy amp is seremonieel van aard) nou sterk na vore gekom as een wat ʼn gevoel van eenheid en harmonie moet versprei. Ook dit sal die Groenes punte by die EU-verkiesing laat wen.

ʼn Mens moet natuurlik versigtig wees vir samesweringsteorieë, maar kan nie help nie om te vra: qui bono? (tot wie se voordeel?). Die twee mediums wat die skandaalvideo bekend gemaak het, is bekende links-liberale publikasies met ʼn rekord van veldtogte teen die “regse gevaar”. Eintlik behoort Duitse publikasies nie aan die spits van ’n veldtog teen die regering van ’n buurland te wees nie. Dit ruik na inmenging en paternalisme. Oostenryk se burgers kies hul regering, nie die Duitse media nie.

Wat verder verdag is, is die tydsberekening: die video is al amper twee jaar oud, en Strache en die FPÖ was toe nog nie deel van die regering nie. Strache se beloftes van tenders, hoe verwerplik ook al, was toe net gedagtespeletjies, want hy was nog nie in staat om so iets te kon beding nie. Die video is waarskynlik berekend ’n week voor die Europese verkiesing bekendgemaak, om nie net die FPÖ nie, maar ook sy bondgenote in die regse alliansie “Europa van Nasies en van Vryheid” skade te berokken. Aanduidings is dat dié oogmerk reeds gedeeltelik geslaag het. Verder was dit oneties dat Strache en Gudenus blykbaar doelbewus in ’n lokval gelei is: ’n spoggerige villa, deurspek met afluisterapparate en kameras, alkohol wat vrylik gevloei het, ʼn aanvallige jong vrou wat die manne op hulle gemak laat voel het sodat hulle nie meer op hul hoede was nie. Natuurlik verskoon dit nie hul gedrag nie, maar hulle is doelbewus uitgelok.

Hierdie skandaal sal seker nie gou oorwaai nie. Dit is egter ook moontlik dat dit ʼn boemerang word vir die linkses, wat nou so lekker lag – as daar dieper gedelf word na wie agter die video sit en wie se belange daardeur bevorder word. Op die ou einde verloor almal en is die vertroue in die politiek, wat onder Kurz en sy regering begin herstel het, erg beskadig.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Liberaal ·

Dis ons linkse suster in europa se ekwivalent van die geskepte bird eieland skandaal wat hier toe nie gevlieg het nie. Ons linkse leiers kan baie slings wees met die media want hulle wil julle manipuleer om vrywillig als wat julle besit aan die supperryke eite oor te gee, insluitend julle lewens.

Therese van Schalkwyk ·

Ai, dis regtig teleurstellende gebeure, en soos hier beskryf word, beslis báie verdag.
Nét mooi toe die meer konserwatiewe kant vordering begin maak.
Kan net styf duimvashou dat dit op groot skaal boemerang in die toekoms.
Politieke inmenging deur die linksgesinde pers, en nogal van buite landsgrense, is so kenmerkend, al dekades lank aan die gang en uiters frustrerend.
Dit behoort in die “misdaad-teen-die-mensdom”-kategorie. :-(

Sebastiaan ·

Wel, die regering het uitmekaar geskeur en Kurz is ontsetel, maar die skandaal het die linkses by die onlangse EU-verkiesing niks gebaat nie. Die ÖVP van Kurz het gewen, en die FPÖ net ‘n bietjie verloor, terwyl die SPÖ basis dieselfde gebly het, ten spyte van die groot bohaai oor die video. In ander Europese lande het dit geen uitwerking gehad nie. In September is verkiesing in Oostenryk, kom ons kyk, maar dalk is Kurz weer terug.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.