Koalisies: Haelgeweer-huwelik of demokrasie-brug?

 Jacob Zuma (ANC), Julius Malema (EFF), en Mmusi Maimane (DA)

Jacob Zuma (ANC), Julius Malema (EFF), en Mmusi Maimane (DA)

In die onlangse plaaslike verkiesings het die kiesers ’n interessante en moeilike opdrag aan die politici gegee. Soos ek dit vertolk, kom dit hiérop neer: Politici, staak jul kleinlike onderlinge bekvegtery en werk saam om die dienste waarop ons, die mense, geregtig is, te lewer.

In altesame 27 munisipaliteite het geen enkele party naamlik ’n volstrekte meerderheid behaal nie. Dit beteken dat koalisies gesluit moet word, selfs koalisies wat met die eerste oogopslag onwaarskynlik lyk.

Die alternatief is dat die munisipaliteite onregeerbaar word. En dan is die lewering van dienste hééltemal in sy peetjie.

Koalisies is geen gewone verskynsel in die Suid-Afrikaanse politiek nie. In 1924 was daar ’n koalisie tussen die destydse Nasionale Party en die Arbeidersparty onder leiding van genl. J.B.M. Hertzog as premier.

Dit was ’n kombinasie wat moontlik gemaak is deur albei partye se afkeer van die Britse imperialisme en die Engels-oorheerste kapitalisme. Dis beskou as twee kante van dieselfde munt.

In 1933 is ’n tweede koalisie gesluit, toe dieselfde genl. Hertzog pens en pootjies saam met die verteenwoordiger van dieselfde Britse imperialisme en kapitalisme, genl. Jan Smuts se Suid-Afrikaanse Party, in die bed geklim het. Die jaar daarop het hulle saamgesmelt om die Verenigde Party te vorm.

Die eerste koalisie was ’n noodsaak, want geen enkele party het ’n volstrekte meerderheid gehad nie. Die tweede was nie noodsaaklik nie; die NP het toe wel só ’n meerderheid gehad.

Die tweede koalisie – en die daaropvolgende samesmelting – was uiteindelik ’n mislukking. Onverenigbare groepe is in ’n haelgeweer-huwelik ingedwing, en met die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog in 1939 het hulle weer uitmekaar gespat.

’n Derde koalisie is in 1994 gestig, toe die NP en die ANC saam in ’n regering van nasionale eenheid gedien het, ondanks die feit dat die ANC nie ver van ’n tweederde-meerderheid in die parlement gekom het nie. Die historiese omstandighede was egter uniek weens die noodsaak vir nasionale versoening.

Maar weens die uiteenlopende beleid en beginsels van die twee het dit nie lank gehou nie. In 1996 het die NP sy goed gevat en geloop.

Dis opgevolg met ’n kortstondige koalisie in Wes-Kaapland tussen die sogenaamde Nuwe Nasionale Party (NNP) en die Demokratiese Party om die Demokratiese Alliansie (DA) te vorm. Maar toe eersgenoemde se leier, Marthinus van Schalkwyk, ’n beter plek op die soustrein in samewerking met die ANC sien, los hy die DA en duik saam met sy eertydse aartsvyande in die ANC tussen die lakens.

Taamlik kort daarna het die NNP homself ontbind, en sy oorblyfsels het beginselloos by die ANC aangesluit. Van Schalkwyk is met ’n ministerskap en ’n yslike salaris beloon, maar het sy eer en die respek van sy kiesers verloor.

Op die Europese vasteland is koalisievorming ’n gewone saak. Dit gebeur bitter selde, indien ooit, dat één party meer as 50% van die setels behaal, en dus is ’n kombinasie van minderheidspartye byna altyd nodig om ’n regering – hetsy op nasionale, provinsiale of plaaslike vlak – te vorm.

Uit die aard van die saak soek partye wat in terme van beleid en beginsels nie alte ver van mekaar staan nie, mekaar se geselskap op. Dit gebeur egter ook dat geswore aartsvyande deur die verkiesingsuitslag in ’n koalisie gedwíng word.

Dis byvoorbeeld tans die geval in Duitsland en Nederland, waar gematig-konserwatiewe en gematig-linkse partye noodgedwonge koalisies moes vorm. Deurdat die onderskeie partyleiers, bondskanselier Angela Merkel en Sigmar Gabriel in Duitsland, en premier Mark Rutte en Diederik Samson almal taamlik pragmaties is, werk dit in die breë relatief goed.

Wat ’n mens van dié kort uiteensetting kan leer, is dat koalisies nie outomaties goed afloop nie. Dit kos harde werk – en dikwels sommer baie water by die wyn.

In sommige van die 27 Suid-Afrikaanse munisipaliteite waar koalisies gesluit moet word, sal twee partye wat op die oog af amper so ver soos die hemel van die hel verwyder is, moet saamwerk – die DA en die EFF. Kan dit slaag?

Gesien die onbekendheid van Suid-Afrikaanse politici met koalisies – en veral die noodsaak om kompromieë te sluit – kan ’n mens jou inderdaad afvra hoe lank dié samewerking gaan standhou. Veral die EFF staan bekend om sy bedenklike intimidasietaktiek en sy onbuigsaamheid, wat nie veel goeds beloof nie.

Tog kan koalisies, veral in die groter stede, dálk – let op die voorbehoud – iets goeds vir die Suid-Afrikaanse demokrasie inhou.

Kom ons skilder ’n scenario waarin die DA en die EFF saam ’n stad moet bestuur. Dit kan op een van twee rigtings uitloop.

Ten eerste, die DA is verreweg geen volmaakte party nie, maar sy verteenwoordigers het wel veel meer ervaring, kwalifikasies en kundigheid betreffende stadsbestuur. Dit beteken dat die EFF vir die eerste keer in sy bestaan kennis gaan maak met die gebroke werklikheid – die grense van die moontlike – waarbinne politici moet optree en te werk gaan.

Vir die eerste keer kan die EFF leer dat die keuse in die politiek dikwels – meestal – nie tussen goed en sleg is nie, maar tussen sleg en nóg slegter.

Dit kan vir die EFF-verteenwoordigers ’n ontnugterende ervaring word. En, wie weet, dalk leer hulle genoeg daaruit om nie langer so ’n bedreiging vir die demokrasie te word nie.

Anders gesê, die moontlikheid bestaan dat die EFF deur die demokratiese meul gelouter kan word. Dit sal ook beteken dat die EFF se konfronterende politieke styl getemper kan word.

Maar daar is ook ’n tweede moontlikheid. Dit is dat die EFF alles wat die DA-verteenwoordigers doen as deel van ’n rassistiese en kapitalistiese komplot beskou om sy “revolusie” te neutraliseer, en dus alles in sy vermoë doen om die DA se bestuurspogings van binne te kelder.

In dié geval sal die koalisies nie lank hou nie.

Die Suid-Afrikaanse en internasionale ervaring met koalisies wys dat die samewerkende vennote ’n minimum politieke wil aan die dag moet lê om die koalisie te laat slaag. Daardie minimum wil het in 1939 en 1996 verdwyn.

Die groot vraag is of dit nou – en dit nogal tussen vennote wat ideologies veel verder van mekaar verwyder is – wel aanwesig is en, nog belangriker, aanwesig gaan blý.

Op die keper beskou, is ek skepties. Maar kom ons gee hulle ’n billike kans.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Theresa ·

Punt is daar was tydens die ANC regeringstydperk swak diens gelewer. Hopeloos te veel geld vermors met eie verryking en ook deur betogings toe te laat wat plekke vernietig en opbou weer nodig maak. Munisipaliteite het nie puik (soms absoluut GEEN) diens gelewer nie. Die veiligheid van wettige landsburgers was glad nie as ‘n prioriteit afgedwing op onwettige insluipers en onwettige mense in ons land nie. Om dus saam met die party te smelt wat regtig nie presteer het nie, is onsinnig.

Theuns ·

Ek is ook baie skepties. In ‘n koalisie huwelik gaan dit oor toegewings wat na beide kante toe gemaak moet word! Die toegewings van die DA se kant af moontlik die volgende behels: ((1. Verwoesting van die Afrikaanse taal op Universiteite en skole.(2. Voorsetting van die verwydering van Afrikaner straatname en standbeelde! (3. Hoogs betaalde poste vir EFF lede, selfs burgermeesters. Op die munisipaliteite waar daar nie ‘n meerderheid is nie sal seker uitgedeel word op die basis van een vir my en een vir jou. ((4. Swart op wit rassisme sal voortduur. (5. Grond hervorming en onteinning sal in felheid voortgaan. Dit sal noodsaaklik wees as ‘n “beeld poetser” vir albei partye! En die EFF, wat sal hulle gee? Niks behalwe ‘n meerderheid stem vir die DA. As jy nog nooit van ‘n “Catch 22” gehoor het nie hier is hy!

Karma ·

Waar’s die mense nou, wat my nou die dag so gekritiseer het omdat ek gesê het die ANC en die EFF sit een van die dae rondom dieselfde vuur en kook groot potte pap? Die DA het verniet na die EFF-koningmakers gevry in Nelson Mandela, Tshwane en Egoli ….. en ek sit en lag lekker hier op my ou draadjie terwyl diegene wat hul tyd en energie gaan vermors het om te stem, nou al-benouder begin kla – en uiteindelik BESEF dat niks, maar niks, gaan verander nie!

Frik ·

As al die draadsitters gaan stem het het die DA dalk n volstrekte meerderheid gehad.

Rupert Ashford ·

In die begin sal ‘n gedeelde behoefte om die ANC te troef hulle bymekaarsit, maar die EFF is vernietigers nie bestuurders nie. Koalisies behoort nie lank te hou nie maar kom ons wag en kyk, miskien verras hulle ons.

Ken ·

Ek sou nie sê die DA het minder kennis van stadsbestuur as die ANC nie, want die ANC het ook nie. ANC stadsbestuurders het net kennis van hoender wegneemete spyskaarte en bestuur van luukse motors.

Org ·

Interessante en goeie ontleding. Ja, dit is behoorlik n innibedspring orgie waarin ons nou is.

Neels ·

Die vlak van politieke insig en debatvoering voorspel dat koalisie politiek nie in die huidige politieke landskap kan of sal oorleef nie. Vir koalisies het jy een broodnodige bestanddeel nodig en dit is VERTROUE, iets waarvan die huidige politici geen idee het nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.