Koalisies: Waar gaan ons staatsman vandaan kom?

Deur Fanie Cronje

Argieffoto

Koalisievorming is tans gevestig in die volksmond en dit is die nuwe gonswoord en -onderwerp.

Sou ʼn mens Suid-Afrika se demografie, kulturele verskeidenheid (wat natuurlik taalverskeidenheid insluit) en godsdiensverskeidenheid in ag neem, is dit duidelik dat daar min state meer geskik is vir koalisies as juis Suid-Afrika. Die debat word tans oorheers deur moontlike scenario’s vir koalisievorming met die oog op die 2024-nasionale verkiesing.

Die oogpunt waaruit die scenario tans beoordeel word, is die “mislukte” koalisies in drie of vier van die groot metro’s.

Suksesverhaal

Die eerste voorbeeld van hoe ʼn koalisie behoort te funksioneer, is natuurlik die 1992-1994-onderhandelinge wat gelei het tot die sogenaamde eerste demokratiese verkiesing. (Ek weet ek ignoreer die Smuts/Hertzog-samewerking in die laat 1930’s, maar tog was die eerste werklike sinvolle koalisievorming in die aanloop tot die 1994-verkiesing en die uiteindelike Grondwet in 1997).

Die gevoel na afloop van die onderhandelinge (koalisievorming) was dat hoewel niemand gekry het wat hulle wou gehad het nie, daar genoeg was om die partye relatief te laat voel dat hulle suksesvol was. Dus niemand was 100% tevrede nie, maar niemand was ook 100% ontevrede nie.

Deur die denkwyse te bevestig, het die twee belangrikste partye dié as ʼn wen, volgens hulle mandaat, aan hul kieserskorps verkoop. Die probleem was egter dat beide groepe se ondersteuners na ʼn tydperk toenemend begin fokus het op die “nie 100% tevrede nie” met die frase “uitverkoop” wat aan beide kante geuiter word – veral natuurlik na die meer radikale randfigure toe soos die EFF.

Na my mening was die doodskoot vir die koalisie die onttrekking van die een party deur die voormalige president De Klerk. Dit het die ander party, die huidige regering, met ʼn mandaat van die oorwinnaar gelaat. Dit is iets wat nie in ʼn koalisie geduld kan word nie.

Weereens, die perfekte koalisie is een waar daar geen oorwinnaar is nie, net die gedeeltelike bereiking van eie doelwitte en die formulering van ʼn nuwe gesamentlike doel. Dit moet dan deurlopend aangepas word.

Koalisie op drie regeringsvlakke

Hoewel sodanige formele koalisie op nasionale vlak met die oog op die nasionale verkiesing, veral deur die opposisie groepering, die eerste prys is, is dit ook nie noodwendig noodsaaklik nie. ʼn Ooreenkoms rakende samewerking na afloop en afhangende van die uitslag is dalk genoeg, maar koalisievorming op provinsiale vlak is dan noodsaaklik.

Kiesers stem gereeld vir een party op nasionale vlak en ʼn ander party op provinsiale vlak. Provinsiale vlak is nader aan die kiesers en dan kan hulle oortuig word om ʼn ander stem as op nasionale vlak uit te bring.

In die verband kan die “vrese” dat stem vir iemand anders as die ANC negatiewe implikasies vir die verskeidenheid van sosiale toelaes inhou, ondervang word. Dit is juis daardie “swaai stem” wat noodsaaklik is om die verkiesing te wen. As die afgewaterde doel sou wees om die ANC-regering te verhoed om skadelike wetgewing deur te voer, kan dit dan in die provinsiale wetgewer, wat natuurlik ook nasionale wetgewing moet goedkeur, verhoed word.

As voorbeeld is die Wes-Kaap reeds onder DA-beheer en sal dit waarskynlik so bly. Die opkoms van die IVP in KwaZulu-Natal en die ooreenkoms met die DA, waar laasgenoemde buite stemming gebly het tydens sommige uitgesoekte plaaslike raad-verkiesings, kan dan dalk net verseker dat KwaZulu-Natal uit die hande van die ANC gehou word.

In Gauteng is dit moontlik dat die bestaande vennote van die DA, ActionSA, die VF Plus, ACDP en moontlik die PA, saam met ander partye wel die provinsie kan verower. Wat betref die Noordkaap sal dit noodsaaklik wees om iemand soos die PA te betrek. Die laaste moontlikheid is natuurlik die Oos-Kaap en weereens sal hier gekyk moet word na samewerking met die UDM om dalk saam met die “hoof groepering” die mag te bekom.

Koalisie as ANC-teenvoeter

Dit lyk vir my asof daar ʼn beter kans sal wees om op hierdie manier die ANC se mag te beperk. Dit is dan vyf provisies wat beheer word en kan enige skadelik wetgewing in die raad van provinsies, gekelder word. (Baie soos wat in die VSA gebeur waar kiesers poog om te verseker dat dit selde gebeur dat een van die partye ʼn meerderheid in beide die Huis van Verteenwoordigers en die Senaat het.)

Dus ʼn ingeboude beperking van die mag van ʼn politieke beleid of dogma. Die nadeel is natuurlik dat die ANC steeds sal voortgaan met sy vernietiging van die ekonomie – hopelik dan met sekere beperkinge deur die magsverdeling in die raad van provinsies. Daarbenewens natuurlik ook die wyse waarop die publiek toenemend die pligte van die staat begin oorneem.

Koalisie-krisisse

Hoe om dit te bewerkstellig? Almal is bewus van die huidige krisisse op plaaslike vlak, veral in Johannesburg, en dat sekere partye hul mantel na die wind draai. Vir Gayton Mckenzie van die Patriotic Alliance (PA) gaan dit blykbaar net oor posisies en hoe dít “sy mense” tot voordeel kan strek. (Sjoe, klink nogal baie na die ANC se “our people”).

Gaan terug na die standpunt dat niemand 100% kan “wen” nie. Hier is dit dalk veral die DA wat sal moet kyk na sy benadering rondom koalisies en wat sal moet besef dat hulle nie ʼn 100% uitkoms gaan kan kry nie. Ten einde dit te bereik, sal hulle soos in die Wes-Kaap die verkiesing met ʼn meerderheid moet wen.

Die feit dat hulle die sterkste opposisie party is, beteken egter steeds dat die DA sy vennote selfs meer benodig as wat die ander koalisievennote hulle benodig. Ons weet wat in Johannesburg gebeur het waar daar, deur die uitstekende werk van dr. Corné Mulder, ʼn gesamentlike doel gebaseer op ʼn waardestelsel daargestel is. Dit is die doel en die uitkoms wat die partye gesamentlik wil bereik en sal in hoofsaak al die deelnemende partye ter wille wees.

In die groter prentjie moet elke deelnemende party dus die vermoë gegee word om aan sy ondersteuners te kan sê: “ons het julle nie versaak nie”, wat belangriker moet wees as die negatiewe uitkoms van wat nie bereik is nie.

Geen ander opsies

Dit is dalk die enigste wyse waarop die koalisiesamewerking kan funksioneer.

Verder sal dit staatsmanskap benodig om sodanige koalisie van opposisiepartye te vestig. Dit lyk ongelukkig nie asof sodanige leierskap tans bestaan nie – dalk uitgesonder dr. Corné Mulder wat heel waarskynlik weens historiese redes nie aanvaarbaar sal wees vir ʼn beduiende deel van die bevolking nie.

Sy ideaal van ʼn UDF-tipe beweging is waarskynlik in die kol. Dus die betrekking van burgerregte organisasies kan van uiterste waarde wees, veral sou ʼn mens dan meer konsentreer op die provinsiale verkiesings. Daar is ook nuwe partye met dieselfde oogmerke soos die Mzanzi Rise-party van Songeso Zibi, Musi Maimane se BOSA-beweging, ander organisasies soos OUTA, AfriForum, Solidariteit, SAAI, TLU-SA, en andere.

Ek besef dat organisasies soos AfriForum nie by politiek betrokke wil raak nie, maar dan ook is die spreekwoordelike “kalf in die put”. Die ondersteuning vir ʼn samewerkende inisiatief is darem ook nie rêrig gelykstaande aan ʼn politieke rol en/ of party nie. Hier moet dalk ook gekyk word na ander kulture se gemeenskapsorganisasies met dieselfde oogmerke – veral op plaaslike vlak – om steun verder te verbreed.

Hopelik word hier êrens ʼn “staatsman” ontdek wat ons die toekoms kan inneem!

  • Fanie Cronje is ‘n inhoudskepper vir AfriforumTV en het reeds twee reekse getiteld “Groeiende Federalisme” en “Landbou Allegaartjie” vervaardig en aangebied. Hy bied ook programme op Ramkatradio aan.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Wanneer gaan die besef inskop dat Suid Afrika net nog ‘n Afrika land is waar ander reëls geld? Oorweeg ander opsies of sink saam met die massas. ‘n Nuwe laag verf gaan nie help nie.

Jaco ·

Die ou konserwatiewe Party en die Herstigte Nasionale Party, elk met ‘n beleid wat 99% soos die ander een s’n was, kon nie eens met mekaar saamwerk in verkiesings nie.

Manie ·

So min as wat ek van die EFF hou, moet ek erken dat hulle die magsleutel tot volgende jaar se verkiesing hou. Hulle 10 tot 12 % stemme gaan bepalend wees in ‘n koalisie en meer skrikwekkend gaan Malema se aandrang op ‘n hoë pos (adjunk president) wees. Die ANC is desperaat om aan mag vas te klou, dus is ‘n koalisie met die EFF hul enigste redding vir ‘n volgende termyn, maar ook hul ondergang vorentoe.

annie ·

Weer ‘n Mulder? Regtig? G’n koalisie sal ooit in SA werk nie omdat die partyleiers almal ongelukkig was van waar hul kom en elke leier die leier van die koalisie sal wil wees wat daaruit spruit dat daar elke week ‘n nuwe leier uitgekonkel sal word. Velkleur, geloof, politiek en griewe sal brandpunte bly. Vergeet van die onmoontlike probeer eerder ‘n sirkus stig.

Harley Davidson ·

Die probleem gaan inkom Indien die anc verloor of hulle die mag sal oorhandig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.