Koersvas na die toekoms – soos die Voortrekkers

universiteit van die vrystaat kovsies

Universiteit van die Vrystaat Foto: UV, Facebook

Baie Afrikaners het geskok toegekyk hoe radikale studente oudpres. CR Swart se standbeeld op die Kovsie-kampus uitbeitel. Vir baie was dit net nog ’n voorval in ’n reeks waarin Afrikanerbeelde geteiken en kampusse met geweld ontwrig is. Vir die Voortrekkers was dit egter persoonlik.

Oom Blackie was ’n Voortrekkervriend. Sy liefde vir kinders is legendaries. Op sy voorstel het die Vrystaatse Voortrekkers Sarel Cilliers se plaas, Doornkloof, in 1939 aangekoop. Vandag is Doornkloof ’n tuiskomplek vir duisende Voortrekkers. Uit erkenning vir sy meelewende rol as Hoofbeskermheer het die Voortrekkerbeweging die Presidentsverkennertoekenning na hom vernoem. Hy het ook die heel eerste Presidentsverkennertoekennings oorhandig.

Baie vra hoe kan die Voortrekkers met jeuglede oor positiewe burgerskap praat as kampusse brand; Afrikanerbeelde vernietig word; 22 000 mense as gevolg van afleggings hulle werk verloor; dorpe soos Nylstroom en Sabie geplunder word, en internasionale beleggers hulle aan Suid-Afrika onttrek? Boonop waarsku die ekonoom Mike Schüssler teen ’n dreigende fiskale afgrond en afgradering tot ’n rommelstatus-ekonomie. Of soos ’n Voortrekker op sosiale media vra: “Hoe kan ek met integriteit oor positiewe burgerskap praat as Afrikaners, soos oom Blackie, se standbeeld stadig maar seker uit Afrika uitgebeitel word?”

Ons kan nie met integriteit oor positiewe burgerskap praat as ons nie erkenning verleen aan jongmense se woede en vrees nie:

  • Woede waar wit en swart jongmense die geleentheid ontneem word om klasse by te woon, terwyl kampusboewe breek, plunder en steel.
  • Vrees vir viktimisering en etikettering: Selfs ’n verkeerde foto op sosiale media kan onbillike verguising tot gevolg hê.
  • Vrees vir wraakwoorde en rassedreigemente soos “dat ons elke witman se kind sal doodmaak”.
  • Vrees vir veiligheid: Vrees laat jongmense nie net uit universiteitskoshuise op Kovsies vlug nie, maar ook later landuit.

Vrees verlam en isoleer. Woede polariseer. Vrees en woede vuur swart en wit rassisme aan. As ’n land sy morele kompas verloor, beland ons in ’n wanhopige moeras van onverdraagsaamheid, rassisme en verbrokkeling van sosiale samehorigheid en eenheid.

Daar is geen kitsantwoorde op al die vrae en emosies nie. Daarom is positiewe burgerskap nie vir die Voortrekkers ’n holruggeryde cliché of die ruggraatlose stilbly-en-wegkyk-ontkenning van volstruispolitiek nie. Positiewe burgerskap is ook nie die een of ander goedvoeloomblik nie. Positiewe burgerskap is veel meer as trots op ons land, sy simbole en sportspanne.

Positiewe burgerskap begin by ’n eerlike erkenning in die woorde van NP van Wyk Louw:

Ek haat en ek het lief: ek weet nie hoe nie.
O my land, o my land: jy is ek.
Ek ken jou en ek haat jou soos ek my haat.
Ek het jou lief soos ek my soms lief durf hê.

  • ’n Erkenning dat daar in hierdie land dinge is wat my dwars in die krop steek en wat ek haat.
  • ’n Erkenning dat daar dinge is wat my hart warm laat klop van liefde.
  • Bowenal die erkenning dat die land onlosmaaklik deel van my menswees is.

Omdat die land onlosmaaklik deel van ons menswees is, is die emosies van haat en liefde by baie Suid-Afrikaners so intens. Die kontoere van die land is deel van ons kulturele identiteit en daarom sal niemand Afrikaners hier kan uitbeitel nie.

Positiewe burgerskap is vir die Voortrekkers ’n leefwyse wat gekenmerk word deur aktiewe betrokkenheid, diensbare leierskap en die trap van nuwe spore.

Onttrekking en isolasie is geen opsie nie. Die Voortrekkers sal as aktiewe landsburgers standpunt inneem wanneer grondwetlike taal- en kultuurruimtes misken of kultuurerfenisskatte bedreig word. Die Voortrekkers staan vir wat reg, billik en regverdig teenoor almal is. Die Voortrekkers leer jeuglede nie net waardes deur die Voortrekkerkode nie, maar ook hoe om die waardes te verwoord en in die praktyk toe te pas.

Dit maak my trots dat Voortrekkerstudente by Tukkies leiding geneem het om ’n biduur te reël toe die geweld op sy ergste was. Oom Blackie is skaars in die visdam gegooi of Voortrekkers het planne beraam om die standbeeld te herstel. Oom Blackie sou trots daarop gewees het dat die regstudent by Stellenbosch wat as voorsitter van Adam Tas onbeskaamd vir Afrikaans staan, ’n Presidentsverkenner is.

Ons Protestantse erfenis leer: Ora et labora. Bid en werk. Bid asof alles van God afhang en werk asof alles van jou afhang. Daar is baie dinge in ons land wat nie reggepraat kan word nie, maar wat “reggewerk” moet word. Voortrekkerjongmense werk dinge reg. Hulle staan ondubbelsinnig vir die Afrikaanse taal en Afrikanerkultuur, maar verstaan ook dat die Voortrekkerbelofte ’n belofte tot diensbaarheid is. As diensbare leiers leef hulle met deernis. Afrikanerjongmense het begrip dat baie van hulle swart en bruin maats moeiliker maatskaplike omstandighede moet oorkom. As diensbare leiers is Voortrekkers betrokke by talle gemeenskapsprojekte. Waar nood is, sal jy ’n Voortrekker met opgerolde moue vind. Hard aan die werk.

Jong Voortrekkers is reeds besig om ’n nuwe toekoms anderkant apartheid en anderkant die Zuma-era te skep. As eietydse pioniers skep hulle nuwe toekomswoorde soos selfdoenvaardighede, voorposdenke en selfverwerkliking waarmee hulle nuwe spore trap. Horisonne is nie vir Voortrekkerjongmense grense nie, maar nuwe Voortrekkervelde wat wag om ontdek te word. Hulle is nie brekers nie maar bouers. Hulle neem ou monumente in beskerming, maar bou terselfdertyd nuwe taal- en kultuurmonumente. Vandag se monumente is nie van brons en steen nie. In ons politieke en ekonomiese konteks is elke Afrikaanse proefskrif, Afrikaanse webwerf, Afrikaanse opleidingskursus, Afrikaanse projek, Afrikaanse CD, Afrikaanse film, Afrikaanse boek en Afrikaanse koerant ’n monument uit eie reg. Vir elke monument wat gebreek word, bou ons daagliks honderd nuwe monumente.

Die Voortrekkers se toekomsbeitel is nie ’n breekbeitel nie. Die Voortrekkerbeitel is NP van Wyk Louw se “klein-klein beiteltjie” waarmee ons daagliks “tik” en klink”. Die “donker naat loop deur my land”, maar op ’n dag sien ons “die nag daar anderkant gaan oop met ’n bars wat van my beitel af dwarsdeur die sterre loop”. Koersvas na die toekoms.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Danie Langner

Dr. Danie Langner is besturende direkteur van die FAK en die Voortrekkermonument.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

JC ·

Uitstekend!

Koervas die toekoms in, sonder vrees aan’t bou aan ONS pragtige land en kultuur!

Breytie ·

Ja, opstandigheid of ‘n gees van rebellie vernietig mettertyd die draer daarvan. Ons durf nie wanhoop in die teenwoordigheid van rebellie nie, ons moet juis opbouend werk en ons eie visie oordink. Ons gaan nêrens heen nie. Hier sal ons voortgaan terwyl ons skerper geslyp word deur moeilike omstandighede.

Andre Muller ·

Die is n puik artikel, regtig goeie stof tot nadenke nie net vir ons jongmense nie maar ook vir ons. Daar is soveel wat die land ons kan bied en die potensiaal moet ontsluit word deur doelgerigte mense. Doen so voort.

John ·

Die feit is dat ons Afrikaners seker nie eers meer 3 miljoen is nie, teen die oorwig sowat 55 miljoen anderskleuriges. As hierdie massa ‘ander’ nie hierdie klein groepie na waarde ag nie; nie insien dat ons hier ‘n bestaansreg het nie (president Zuma het wel lank gelede die Afrikaners as inherent aan Afrika aangedui) en glo dat alles wat ons het, aan hulle behoort, wag ‘n moeilike pad vorentoe. Al vat hierdie ‘ander’ alles van ons is daar steeds meer as 50 miljoen mense en hul nageslag wat in armoede gaan bly leef. So dis ook nie die oplossing nie, maar ek hoor nie een van die ‘ander’ dit se nie. Wat nou? Gaan ons meer en meer koes en laer trek, afsien van ‘eie’ sake en taal en grond en poste en ideale. Waar trek ons die streep? Weer as ons godsdiens in die gedrang kom, of gaan ons hierdie keer maar bes gee vir ‘n bietjie Afrika son? Is dit genoeg? Iewers sal ons hierdie stereotipe-siening oor ons moet knak, of die sonnetjie gaan te kwaai begin skroei.

Anonoom ·

Eksklusiwiteit kweek minderheid. Wees eerstens Suid-Afrikaner en verhelder jou waarskynlikhede.

Wynand ·

Ek is so trots op my Afrikanerskap ek kan dit op die bergtoppe verkondig. Niemand kan dit van my steel nie want dit is in my hart, siel, are en verstand.
Dit is wie ek is en waarvoor ek staan, tesame met my Christelike Geloof.
Ons moet egter een ding verseker hierdie jaar doen en dit is om 16 Desember – Gelofte dag – weer herdenk. Dit is belangrik. Baie belangrik – al doen jy dit net tuis – maar doen dit.

Toekoms ·

Aan Anonoom:
Probeer John eksklusief wees? Dit is nie hoe ek vir John verstaan het nie.
Mag `n mens dan nie jou taal, kultuur en erfenis verdedig nie? Sluit dit outomaties ander uit?
Sluit dit outomaties verandering en ontwikkeling uit?

Aan Wynand:
Ek gaan weer Geloftedag herdenk. Nooit weer uitlaat nie. Al doen ek dit net tuis.

Anonoom ·

Is jy seker jy het my verstaan? Terug na die toekoms, Toekoms?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.