Koffie by Vilakazistraat en ontbyt by die Voortrekkermonument

Dirk Hermann. Foto: Reint Dykema

Dirk Hermann. Foto: Reint Dykema

Dr. Dirk Hermann se toespraak by die Black Management Forum (BMF) se Gautengse beleidskonferensie oor gelykheid, nierassigheid, restitusie en maatskaplike geregtigheid. Klik hier vir ‘n nuusberig oor die konferensie.

Nadat ek gesien het dat my frienemy (friend and enemy) Mzwanele Manyi hier is, het ek besluit om nie by my geskrewe toespraak te bly nie, maar uit my hart te praat.

Die rede hoekom ek uit my hart wil praat, is oor twee Twitter-voorvalle. Die eerste was die feit dat Mzwanele in Afrikaans gereageer het op ʼn twiet van my. Ek waardeer dit. Ten spyte van die groot verskille tussen ons het dit gewys op respek. Hy het my uitgedaag om volgende keer in Xhosa te reageer.

Die tweede voorval was ʼn uitnodiging van Mzwanele op Twitter aan my om saam met hom ʼn koppie koffie by Vilakazistraat te drink. Ek antwoord graag op hierdie uitnodiging en wil my respek terugbetoon deur dit in Xhosa te doen.

Ndingathanda ukusela nawe i- kofu e Vilakazi Street, kodwa ke nawe kuza kufuneka uze kutya nam isidlo sakusasa e Voortrekker Monument. (Ek aanvaar graag jou uitnodiging vir koffie by Vilakazistraat, as jy saam met my ontbyt by die Voortrekkermonument sal nuttig.)

Dit is nodig dat ons mekaar se harte moet verstaan. Ons het verskillende verhale wat ons beïnvloed en ons moet dit met mekaar deel. Miskien is een van die groot probleme in Suid-Afrika dat ons mekaar nie regtig ken nie. Ons beoordeel iemand anders vanuit ons eie ervaring en so gebeur dit dat ons mekaar net eenvoudig misverstaan.

Suid-Afrika is ʼn land met ʼn groot verskeidenheid mense. Dit is hierdie verskeidenheid wat ons land so uniek maak. As ons mekaar beter leer ken, word ons ʼn ryker land en ryker mense. Ek weet van Jimmy Manyi, maar ken ek vir Mzwanele Manyi? Jy weet van Dirk Hermann, maar ken jy my hart? Vandag gee ek vir jou ʼn stukkie van my hart, ʼn Afrika-hart. Dit is dus ook jou hart.

Ek is ʼn kind van Afrika. Ek sien myself nie as ʼn “colonialist of a special type nie. Vir my is dit ʼn belediging. Nie net vir my nie, maar ook vir my voorouers wat geveg en gesterf het in ʼn stryd teen kolonialisme. ʼn Kolonialis beset, plunder en gaan terug na sy land met die rykdom van die kolonie.

My eerste voorvader se naam was Hans en hy het in 1657 in Suid-Afrika aangekom. Hy was deel van die eerste groep Vryburgers. Hans het besluit om sy gesig na Afrika te draai en sy rug op Europa. Van toe af het ons ʼn staanplekkie in Afrika gesoek.

My taal Afrikaans is vernoem na Afrika, en as groep het ons onsself na Afrika vernoem, Afrikaners. My mense was deel van die Voortrekkers en ons het in Afrika ingetrek. Saam met ons trek was daar groot bevolkingsverskuiwings, baie groter as ons trek, groot oorloë en inlywings, baie groter as die oorloë waarby ons betrokke was. Ons het uiteindelik in Natal aangekom en my voorouers was slagoffers van die Bloukrans- en Wenen-moorde. Al hierdie trekke en oorloë van verskillende groepe was met hul gesigte na Afrika.

Ons het ons uiteindelik in die noorde gevestig. My oupagrootjie Marthinus Nicolaas het in die Eerste Vryheidsoorlog teen Engeland geveg. Hy het deelgeneem aan die slag van Majuba en so direk bygedra tot die oorwinning van ʼn Afrika-tribe teen ʼn koloniale mag. Maar nogeens het die Britse kolonialiste ons vryheidstrewe bedreig. Marthinus Nicolaas het oplaas ook aan die Tweede Vryheidsoorlog deelgeneem. Die Engelse wou ons goud plunder ter wille van die groter Empire. Daarvoor moes ons oorlog maak − nie ʼn oorlog om ander uit te buit nie, maar om ʼn staanplek in Afrika te verseker.

Marthinus Nicolaas se plaas is afgebrand. Hy is as banneling na Ceylon gestuur, sy vrou en seun is dood in ʼn konsentrasiekamp, maar sy dogter, my ouma, het dit oorleef. Oupagrootjie het weer sy plaas begin opbou en daarmee saam betrokke geraak by verskeie projekte om ná die oorlog weer op te staan. Dit was nie regeringsprojekte nie; inteendeel, die Engelse (soos tipiese kolonialiste) wou ons by die meerderheid inlyf en alles wat Afrikaans en Afrikaner was, vernietig.

Ons het ten spyte van die regering ná die oorlog weer opgestaan. Marthinus Nicolaas het die Rebellie van 1914 gesteun en weerstand gebied teen die Empire se pogings om sy koloniale belange na die destydse Duitswes-Afrika uit te brei. Die prys wat ons mense hiervoor moes betaal, was hoog. Party is doodgeskiet, ander het tronkstraf gekry en ander is boetes opgelê. Die opstaanaksies in daardie tyd was vanuit die gemeenskap, ten spyte van die regering se onderdrukking daarvan. Sentraal tot die opstaan was moedertaalonderrig. Moedertaalonderwys is in my verhaal ʼn instrument tot bemagtiging.

Die 1930-depressie het ons familie swaar getref en ons het deel geword van die armoede- en werkloosheidstatistieke. My pa kom uit so ʼn arm gesin. Sy oupa (Marthinus Nicolaas) het vertel van die oorlog en die dood van sy ouma.

My pa is ook ʼn kind van apartheid. Hy is nie ʼn krimineel nie. Hy het ʼn sagte hart, geniet wonderlike verhoudinge met swart Suid-Afrikaners en reik dikwels uit na mense wat swaar kry, veral swart mense. Ek dink dit is sy eie geskiedenis van armoede wat hom daartoe dryf. Ek het vir Pa gevra hoe dit gebeur het dat ʼn diskriminerende staatsbeheerde stelsel, apartheid, deur soveel goeie mense ondersteun is.

Hy het vir my ʼn lang brief geskryf waarin hy die konteks van apartheid verduidelik, maar nie probeer verdedig het nie. ʼn Onderliggende tema daarvan was, soos ek dit noem, die “never again”-sindroom. Die smart van die sterftes in die sogenaamde doodskampe was nog rou en ʼn “never again”-stelsel is in werking gestel. Ek wil nie apartheid simplisties aanbied as slegs ʼn produk van “never again” ná die oorlog nie, maar dit het, in elk geval op my pa, ʼn groot invloed gehad.

Apartheid was ʼn Suid-Afrikaanse paradoks. In reaksie op die hartseer van kolonialisme is die “logika” van kolonialisme deur apartheid voortgesit. ʼn Sentrale idee en stelsel wat van bo afgedwing is. Die prys wat Afrikaners vir apartheid betaal het, is dat hulle hul sin vir die gemeenskap verloor het in ruil vir gedienstigheid aan ʼn staatstelsel. Ironies het Afrikaners hul vryheid as gemeenskap deur apartheid verloor. Afrikaners het baie doeltreffende amptenare geword, maar die Engelse, wat grootliks buite die stelsel gestaan het, was entrepreneurs en het die ekonomie begin oorheers.

Die stelsel van apartheid was onvolhoubaar, diskriminerend en vernederend.

Dit bring my terug by vandag. Ek hoor weer “never again”. Ek hoor van ʼn stelsel wat moet bevry en herstel. Ek hoor meer van staat en minder van gemeenskap. Ek sien ʼn gemeenskap wat die juk van die slawerny van een stelsel wil afgooi deur slawe van ʼn ander stelsel te word.

Die vorige keer wat ek aan ʼn Black Management Forum deelgeneem het, het Enoch Godongwana gesê dat nie een van die swart elite in die gehoor daar sou gewees het as dit nie vir die stelsel van BEE was nie. Wat ʼn belediging vir hulle! Maar die gehoor het hom nietemin toegejuig. Hulle glo hul sukses hang van die stelsel af. Daar was ʼn tyd toe Afrikaners ook hande geklap het vir ʼn stelsel, maar nie besef het dat hulle slawe van die stelsel geword het nie.

Tydens ʼn gesprek oor “defining the soul of BEE” het een van die swart deelnemers swart Suid-Afrikaners wat nie die rol van die stelsel wil erken nie, “house niggers” genoem. Met ander woorde, jy mag nie self suksesvol wees nie.

Dit bring my by die volgende paradoks. Ek leer my kinders − en dit hoor hulle oral − dat die stelsel hulle nie gaan help nie. Jy moet hard werk en hard leer. “White children, you are on your own.” Op ʼn ironiese wyse, anders as die kinders van apartheid, is hulle vry van die stelsel. Hulle beleef die diskriminasie van ʼn stelsel, maar hulle is nie verslaaf aan daardie stelsel nie. Vryheid van ʼn stelsel skep entrepreneurskap. Hulle gaan soos kurkproppe wees wat onder water gehou word, maar uiteindelik boontoe skiet.

Die gevolg is dat regeringsamptenare sal vra: Waar kom al die wit mense nou vandaan? Daar moet nog méér diskriminasie in die stelsel wees! Kom ons stel nog meer stelsels, swaarder boetes en meer inspekteurs in werking. Die subopskrif daarvan is: Kom ons maak ons eie mense nog meer afhanklik van die stelsel, want “never, ever again”.

Ek praat vandag oor paradokse. Vir my lyk dit of die ANC vanuit die “never again”-sindroom die denkfout van die apartheidsgeslag voortsit. In ʼn poging om ʼn vorige stelsel reg te stel, word die “logika” van die stelsel voortgesit. ʼn Groot sentrale idee, stelsel en staat (of empire) waarby almal moet inskakel. Daardie “logika” gaan niks herstel nie en niemand gaan bevry word nie.

Dit maak van die ANC natuurlik “colonialists of a special type”.

Met alle respek, ek sien meer Jimmy as Mzwanele in die sisteem van BEE. Ek sien meer Jimmy as Mzwanele indien Rhodes val, maar die koloniale taal is die enigste medium van instruksie.

Mzwanele, dit is my verhaal. Hoewel dit nie volledig is nie, is dit ook nie verkeerd nie. Net so is jou verhaal nóg volledig nóg verkeerd. Ons verhale raak eers verkeerd wanneer een van ons sy eie verhaal as volledig wil aanbied en van die ander een verwag om bloot daarby in te val.

Kom ons begin weer praat in Suid-Afrika en hou nie op praat nie. As ek my ervaring nie met jou deel nie, takseer jy my aksies bloot vanuit jou eie ervaring. Ons kan mekaar nie verstaan as ons mekaar se verhale nie ken nie.

Mzwanele, ek sien uit na ons ontbyt by die Voortrekkermonument. Ek belowe ook koeksisters, een van die nuwe Afrikaanse rose asook  ʼn pakkie biltong vir ons gesprek oor die Wêreldbekerrugby op pad na Vilakazistraat.

Al ons verhale saam voltooi die algehele, dinamiese Suid-Afrikaanse verhaal. Ons is immers verenig in ons verskeidenheid.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Dirk Hermann

Meer oor die skrywer: Dirk Hermann

Dirk Hermann is die bestuurshoof by Solidariteit.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

16 Kommentare

Niel van Zyl ·

20 jaar plus van Suid-Afrikaanse demokrasie is dit nogsteeds ‘n geval van ons en hulle. As mens dit skematies kan voorstel deur twee naby geleë eilande gaan dit meer oor hoe groot elkeen se eiland is en wat daarop is.
Dit is tyd dat Suid-Afrika ‘n ingenieur (lees staatshoof/regering) aanstel wat besef dit bring niemand iets in die sak om die koek te verdeel tussen die twee eilande nie, maar sal wonders verrig as daar ‘n brug gebou kan word tussen die twee eilande wat almal vrye en regverdige toegang tot albei eilande gee.

Mike ·

Niel die populasie verskil en die verskil in lewensbeskouing sal natuurlik veroorsaak dat jou eiland nie lank jou eie sal bly nie.

Pietertjie ·

HOOR-HOOR! Ek hoop die toehoorders se harte en ore was oop genoeg om die kern van die boodskap te begryp…

Adriaan ·

My hart klop dieselfde as Dirk Hermann s’n, daar is soveel in ons verhale wat ooreenstem. Dankie, Dirk, dat jy weer ons verhaal vertel. Sal ook na die ander verhale wil luister wat in Vilakazi vertel sal word.

Piet Pompies ·

Ek was bevoorreg om vir 5 jaar in Australië te werk.Die Ozzies is Engels en meer liberaal as ons en het ook hulle inheemse groepe baie meer gehelp finansieel ook en daar was maar min diskriminasie.Met vele gevolge wat ‘n groot probleme geword het.
Ten laaste het die betrokke Minister gesê”We must now move to a system of seperate devolopement so that these people(inheemse rasse) can develope at their own pace because our system has failed them”

Ek het ook so twee jaar terug ‘n swart minister hoor sê”The schools are now worst that during Verwoerds regime”

Ek raak gatvol oor julle gesanik oor apartheid.Apartheid se grootste fout was ”Europeans only” en moes eerder gelees het ”The right of admission…..-‘

Ek sien Solidariteit raak so verlig dat hy homself in hierdie verligte lig nie meer raaksien nie en ook met hierdie lig homself verblind en eventueel sal uitbrand.

Francois ·

Maar ons mag dan niks sê nie. Maak jy jou mond oop op MM, dan haal hul dit af. Hulle is tog SO bang hulle word hof toe gesleep…HOE gaan ons praat as ons nie mag nie? Sê net vir my DIT!!!

HEVW ·

Het met min of meer met dieselfde gedagte as die van die 2 eilande omgegaan, maar net n kloof voorgestel. Meer dan 300 jaar kon die kloof nie oorbrug word nie. Dr Dirk Herman hierdie kloof is eenvoudig net onoorbrugbaar. Daar word voortdurend negatief verwys na die apartheidsera. Stem saam daar was negetiewe faktore. Maar se my watter volk ter wereld het deur die jare vir n ander volk soveel gedoen as die blanke volk in SA. Maar deur die jare was die “ander” met blindheid geslaan. Vandag word dit bejeen met verwerplikheid. Van aanvaarding is daar weinig tersprake. Die verbruikerskultuur is eenvoudig net te oorweldigend en omdat daar n agterstand in vergelyking met die Westerse wereld is, beleef hulle hul is geregtig op alle voordele en selfs vry van die westerse konsepte van reg en geregtigheid. Maar t.s.v. hierdie onoorbrugbaarheid bly ek steeds hier waar my ankers onuitwisbaar is en is bereid om die kruis te dra wat ons in hierdie land opgele is. As knegte van die Allerhoogste sal ons lewe en sterwe vir SA. Vir die jeug is hierdie ankers egter vervaag en kan ons hul nie veel verkwalik as hul hul selfbeskikkingsdrang elders gaan verwesentlik nie.

Bruno Stef ·

Dirk jou verhaal is die verhaal van baie van ons voorgeslagte netjies uiteengesit vir enige een wat vanaf opposissie tot eie geledere dit wat gese is te analiseer en dan n goed ingeligte gevolgtrekking te kan maak.Dit is ook die taal wat die Liberalis in SA nie wil verstaan nie jy kan nie soos sommige blanke kolonialiste in Afrika vasklou aan n Britse/Europese paspoort jy moet deel word van die Afrika kontinent met jou lojaliteit hier soos die meerderheid Afrikaners inderdaad ook is.

Bruno Stef ·

Dit is n regverdige opmerking wat Jimmy Manyi gemaak het dat sommige blankes as ” colonialists of a special type” gesien moet word.Daar is en was hoevele wat n Britse /Europese/Portugese/Griekse /Joodse paspoorte dra bo en behalwe sy SA paspoort maar daar is sovele Afrikaners wat net n SA paspoort het en dit sluit aan by Dirk se stelling dat ons Afrikaners is en met taal/kultuur/tradisies aan Afrika verbonde is en dit oor geslagte so was.Dit maak van ons Afrikane net soos enige van die swart volkere in SA.

Wayne ·

Ek verstom my as ek al die kommentaar lees. Die alewige gepraat en seminars is n finansiele geleentheid en word uigebyt deur mense wat voordeel daar uit trek. Apartheid was nooit weg nie…. Dis omgekeer in 1994… Ons is nou in n “geen blankes” stelsel…. Geniet die rit… Wag vir die asse voor ons kan herbou weer. ps ” never again”…. Lagwekkend!

Johan Wiggill ·

Stem saam jou Wayne. Die artikel van Dirk Herman en meeste kommentare is die grootste snert wat ek in n lang tyd gelees het. Piet Pompies hierbo begryp ook die toedrag van sake. Afsonderlike ontwikkeling en selfbeskikking is die enigste antwoord en oorlewing vir Afrikaners. Dit is verstommend hoeveel Afrikaners alreeds oorgegee het.

albert ·

Dirk Om “in” te wees moet ‘n mens apartheid iewers in ‘n toespraak of ”n skrywe veroordeel en dit is jammer dat jy dit ook nou nodig gevind het om hierdie afgesaagde deuntjie te speel . Waarom vergelyk jy nie nou die “Nuwe demokrasie” en die geleenthede wat die afrikaner nou in hierdie land het met dit wat die swartes gehad het onder aparrtheid nie. Ek verkies het dat “apartheid” eerder as die “nuwe demokrasie” op afrikaners toegepas sou word dan sou ons minstens, soos wat hulle gehad het, ‘n eie land gehad het waar ons ons TE VOLLE self sou kon regeer en TEN VOLLE vry sou kon wees in ‘n ware demokrasie, met miljoen rande swart belastingbetalers geld wat in ons land ingepomp sou word om ons op te hef, eie skole, eie universiteite die grootste Baragwanath hospitaal in Afrika ens vir die afrikaner se gebruik.
In die “nuwe demokraties SA” beleef ons in elk geval die ergste rassisme teen ons maar onder verskuilde name soos BEE, alles wat die geografiese samestelling van die suid afrikaanse bevolking moet weerspieel ens.
Om apartheid nie net af te kraak nie maar in perspektief te stel moet uit die aard van die saak die swartes se posisie met die in ander afrika lande van daardie tyd vergelykk word – om appels met appels te vergelyk.
Apartheid het misluk as gevolg van die feit dat die swartes, soos PW Botha op TV opgemerk het, nie instaat is om hullle self op te hef nie. Nou moet die hele land en al die mense in hierdie land onder hulle onbevoegdheid ly terwille van ‘n sogenaamde “demokratiese” sirkus.

Henry ·

Stem met jou hartlik saam oor die vervelige ‘boetedoening’ Albert.
Ek is nie eers amper ‘n Afrikaan nie. Wil ook nie ene wees nie.
Ek en my voorsate is van Wes Europese afkoms wat tans in Afrika woon.
My voorsate van Wes Europa se norme en standaarde is ook myne
Ek en my voorsate is Afrikaners wat die taal praat en lief het. Bo alles…
Ons ken en respekteer die beproewinge van die verlede, asook ons kultuur wat deur die jare heen ontwikkel het.
Is maar hoe dit is…

ERNIE FABEL ·

In n vervalle wereld, waar onwaarhede met blink nuwe name die blinksterre van die wereld-spel geword het, word lewens-waarhede flink onder die mat ingevee. Wereld-volke wat oor eeue heen deur oorlogvoering, bloedvergieting en onmeetbare lewens-verlies eie kulture gevorm het, is vandag in die grootste verskeidenheid en getalle die wereld oor gevestig. So het God-Drie-Enig dit gewil toe Hy by die Toring van Babel [die eerste poging om n een-wereld orde tot stand te bring] n verskeidenheid van volke-in-wording die wereld in gestuur het. Elke volk kon toe n eie lotsbestemming kies, vir God of teen God.

Die onversadigbare drang na mag, oorheersing en rykdom het die sterker volke in eiendelose gevegte vir gebieds-uitbreiding gedompel en is die barbaarse-beginsel van ‘ die meerderheid neem alles ‘ gevestig. Tot vandag toe is die mensdom steeds die slawe van hierdie onheilige, verwerplike stelsel met nuwe naam, ‘ Demokrasie. ‘ Behendig word dit deur wereld/geld-magte gebruik om getal-meerderhede te bekom om sodoende die sogenaamde ‘ klein volke/minderhede ‘ te onderdruk en in onomkeerbare ellende in te dwing.

Daar is niks niet onder die son, het die wyse Salomo gese, en is hierdie bose stelsel van onderdrukking deur die eeue met nuwe name heropgedis – Vryheid en Gelykheid, Kommunisme, Sosialisme, Liberalisme, Demokrasie/Menseregte ens. Wat is daar wat Dirk Hermann nie hiervan verstaan nie – is die Bore-Afrikaner/ons, nie n sprekende voorbeeld van n ‘ klein volk/minderheid ‘ wat deur die wereld geldmag-wolwe vertrap en met leuens en nuut-klinkende suswoorde besteel en verneder word nie. Selfbeskikking/apartheid is n Godelike beginsel van self-verdediging en self-behoud wat die reg van alle volke is, en Dirk Hermann se stelling dat ‘ DIE STELSEL VAN APARTHEID WAS ONVOLHOUBAAR, DISKRIMINEREND EN VERNEDEREND ‘ getuig van n gebrek aan kennis van hoe die wereld funksioneer. Die volgende onsinnige stelling is eweneens n bewys van sy gebrek aan insig ‘ AFRIKANERS HET HUL VRYHEID AS GEMEENSKAP DEUR APARTHEID VERLOO R ‘ dus, n hunkering na selfbehoud veroorsaak jou verlies aan vryheid – hoe absurd.

Dit is juis hierdie sogenaamde geleerde/nagevorsde/wereldse uitsprake wat ons volk verwar en slawe maak van die ‘ Nuwe Wereld Orde ‘ waar daar geen selfrespek, geen selfbehoud en geen nasie-trots meer oor is nie, die volmaakte grysgebied waarvan God se
‘WEES DAN WARM OF KOUD, MAAR OMDAT JY LOU IS SPOEG EK JOU UIT MY MOND ‘

Albert ·

Ernie Ek stem 100% met jou saam en jy het dit goed gestel.
Dit is mos die politiek-korrekte ding om in skrywes en gesprekke apartheid af te kraak en so te demonstreer dat daar darem daaroor eensgesindheid is, so is die tafel dan gedek en kan ons nou verder praat oor die toekoms en hoe ons die nalatenskap van die ongelykhede van die verlede saam kan oplos en so op ‘n kruiperige basis vir ons ‘n plekkie in die son kan lospraat.
Hierdie kruipers het nie die guts om, soos dit selfs in die Grondwet vereis word, erkenning op te eis vir dit wat die (wit) mense in hierdie land met hulle inisiatief, inovering, kennis, kundigheid ens ens opgebou het nie. Dat die land, wat aan hulle “oorhandig” is, kon spog met eerstewereld infrastruktuur, damme, hospitale, paaie, brue, geboue, universiteite, ‘n sterk ekonomie, die negende beste weermag in die wereld ens ens waarvan die gelyke nêrens in enige Afrika land, sonder apartheid, gevind kan word nie, word nie eers genoem nie.
Die woorde soos argitek, ingenieur, beton, paaie, pypleidings noem dit ……….het nie eens in hulle woordeskat voorgekom nie.
Die gesprek is ‘n eenriging gesprek, die wittes moet hule sondes oor apartheid belei, nederig om verskoning vra en niks krediet vir wat hulle positief bygedra en opgebou het eers noem nie – dan kan ons praat.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.