Kollektiewe bedinging in die vals nuus-era

Betoging by Eskom se Megawatt Park in Johannesburg (14 Junie 2018). Foto: Twitter via @NUM_Media

Die uitgerekte onderhandelinge en dreigende stakings by Eskom het die land onlangs in ’n WhatsApp-groephisterie gedompel. Daar was aan die begin van die proses daagliks boodskappe en stemboodskappe waar daar gepraat is oor ’n totale stilstand wat weke sou neem om op te klaar. Maar hoe moontlik sou so ’n stilstand wees? Die waarheid is baie makliker gesê as gedaan.

Kollektiewe bedinging is ’n proses waartydens propaganda ’n onontbeerlike rol het. Bloot uit die aard van so ’n proses is daar ’n magspel tussen partye, waar die party met die beste argumente nie noodwendig beter vaar as die party met die beter geoliede mediamasjien nie. Die vraag ontstaan waar die lyn lê tussen propaganda en vals nuus? Kan die publiek onderskei tussen ’n goed geplaasde mediaverklaring wat bedoel is om simpatie vir ’n saak te wek, en blatante waninligting?

Die meerderheid Eskom-werkplekke is nasionale sleutelpunte. Die implikasie hiervan is dat, ingevolge wetgewing rakende nasionale sleutelpunte, hierdie werkplekke veronderstel is om bewaak te word, en dat geen optogte by of naby ’n nasionale sleutelpunt toegelaat sal word nie. Die minister van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het verreikende magte om nasionale sleutelpunte te beveilig, soos geïllustreer deur die inhegtenisneming van lede van die Suid-Afrikaanse Vervoer- en Verwante Werkersunie (Satawu) tydens ’n demonstrasie by die OR Tambo lughawe in 2007.

Die vraag ontstaan: As hierdie werkplekke bewaak word teen sabotasie, betreding of enige ander verhindering, hoe sal die werk aangaan as al die werknemers staak?

Die reg om te staak is nie ’n absolute reg nie. Werknemers wat werk doen wat beskou word as noodsaaklike dienste, mag nie staak nie. Dis die geval vir werkers by Eskom. Dit beteken Eskom-werknemers mag nie aan ’n staking deelneem nie. Dit is ook so bevestig deur die Appèlhof in 2010, toe Numsa en Eskom nie daarin kon slaag om ’n nuwe minimumdiensooreenkoms te bereik nie. So ’n ooreenkoms spesifiseer die minimum diens wat gehandhaaf moet word en maak voorsiening dat sekere werknemers mag staak. Die appèlhof het die aangeleentheid terug na die noodsaaklikedienstekomitee verwys om te bepaal presies wat noodsaaklike diens by Eskom sou wees, en daar is geen teken van ’n nuwe ooreenkoms nie. Dus sou ’n staking by Eskom onbeskermd wees.

Hoe bring ons die histerie en die regsagtergrond bymekaar? Dis belangrik om seker te maak van die feite voordat boodskappe blindelings versprei word.

Moet bloot nie inligting versprei tensy jy doodseker is van die feitelike korrektheid daarvan nie. Wees veral bedag op die verspreiding van ’n boodskap vol ongeverifieerde inligting omdat dit jou persoonlike vooroordele bevestig.

Suid-Afrikaners het voorheen deur voorafbepaalde kragonderbrekings geleef, munisipaliteite word afgesny weens wanbetaling, en ons sien buurte vir dae sonder elektrisiteit weens diensleweringsprobleme. En dis net in die stedelike gebiede, die landelike gebiede is veel erger. Ons is almal bang die ligte word afgeskakel, en niemand kan voorspel of dit sal gebeur of nie. Dit bly wel belangrik om te onderskei wanneer ons te doen het met ’n stuk propaganda wat gebruik word om maksimum druk op ’n ander party in ’n onderhandeling te plaas.

Die behoud van wet en orde is van uiterste belang, en so ook die hoop wat Suid-Afrikaners plaas in die partye in hierdie onderhandelinge, om te sorg dat daar (op ʼn volwasse manier) ’n ooreenkoms bereik word, eerder as om histerie onder die publiek aan te blaas.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Jahni de Villiers

Meer oor die skrywer: Jahni de Villiers

Jahni de Villiers is ʼn arbeidsreg- en arbeidsverhoudingespesialis. Sy werk vir Agri SA as hoof van Arbeid en Ontwikkeling. Sy is tans besig met ʼn LLM-graad en haar proefskrif handel oor seksuele teistering in die werkplek. Sy is passievol oor die rol van die vrou in die werkplek.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

5 Kommentare

Paul ·

Eskom se onvermoë betreffende dienslewering en die houvas was vakbonde op ons daaglikse bestaan begin kry, en al meer kry, is soos om met onstabiele waterstof te speel. En nou het ons nog die harklop van die land Eskom aan China verpand.

rina ·

Kry al die ou senior personeel terug wat Eskom jare terug so goed bestuur het asook al die ou personeel wat destyds in die procurement en finansieele afdelings gewerk het en siedaar, Eskom sal weer regkom

humor ·

Donker Afrika is dit dan bestem om tot aan die voleinding so te wees. Sekerlik, daar kom n uur dat beskaafdheid heeltemal sal swig.

John ·

Dit maak nie meer saak wie wat waar of nie waar uitsaai nie. Eskom se werkers het die maatskappy in sy graf ingewerk en nou wil hulle bonusse he vir hul dwaashede. En nie een van die 47 000 geniale toitrums mag afgedank word nie. En volgende jaar is dit weer dieselfde storie. Tot die tv-weervoorspellingskanaal raai ons aan om handaangedrewe wasbalies te gebruik ipv van elektriese wasmasjiene of om wasgoed met die hand te was om Eskom te help oorleef want krag kan dan seker spotgoedkoop aan die res van Afrika verskaf word. Antie Mogabe kan seker tog nie ‘n wasgoedjie self uitspoel nie, AfriForum sal pa staan. Nie?

Paul ·

Dan, ek sien Paul Mashatile, tesourier-generaal van die ANC beduie hulle dink aan ‘n model om Eskom wie se skuldlas by die R386 miljard bedra in drie te verdeel om dit meer beheerbaar te maak, dan het Dr Rob Davies minister van handel en nywerheid ook nou en dan iets te sê. Mashatile sê die top ses in die ANC gesels elk Maandag in hul weeklikse vergadering oor hoe om die ekonomie aan die gang te kry.

Ek sal vertroue in hulle begin kry as hulle liewer ekonome soos bv Mike Schussler en Dawie Roodt nader om advies, as wat hulle, die top ses, ekonomiese sake en die Regerings entiteite se probleme op hul eie probeer oplos. Hulle het net een ding waarna hulle kyk en dit is ANC ideologie. Ek glo ook hulle het nie naastenby genoegsame kennis oor die ekonomie nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.