Kom ons besin oor identiteitspolitiek

Ace Magashule (Foto: Itumeleng English/ANA)

Twee aanhalings uit berigte wat in Maandagoggend se koerante verskyn het:

Daar is nie meer Afrikaanse universiteite in die land nie. As jy op Afrikaanse onderrig aandring, kelder jy die kinders. Waar gaan die kinders ná skool studeer?” – Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys.

Dis nie reg dat beheer van die land se hulpbronne steeds grootliks in die hande van wit mense is 25 jaar ná die eerste demokratiese verkiesing nie. Hulle is die afstammelinge van koloniste wat ons rykdom gesteel het.” – Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC.

Na aanleiding van dié woorde wil ek vandag oor die verskynsel van identiteitspolitiek besin. Dis ’n begrip wat jy in die internasionale politieke gesprek steeds meer hoor.

Die punt is dat die steun van regs-populistiese partye en politici ’n omvang aangeneem het wat niemand vyf of tien jaar gelede voorspel het nie.

Peilings wys dat Nigel Farage se Brexit-party die grootste enkele Britse party in hierdie week se verkiesings vir die Europese parlement kan word. Nederlandse peilings wys dieselfde oor die Forum voor Democratie en die Rassemblement National, met onderskeidelik Thierry Baudet en Marine le Pen as leiers.

Peilings met soortgelyke uitslae kan in mindere of meerdere mate oor die hele Europa gesien word. En dit volg op pres. Donald Trump se “oorwinning” (ek gebruik aanhalingstekens omdat hy minder stemme as sy teenstander gekry het) in die Amerikaanse presidentsverkiesing.

In Indië stuur die Hindoe-nasionalistiese premier Narendra Modi op ’n verkiesingsoorwinning af. In Turkye bly die Islamities-nasionalistiese pres. Recep Tayyip Erdoğan gewild.

Daar is meer sulke voorbeelde.

Wat al dié partye en politici met mekaar verbind, is hul verwerping van die liberalisme en die hantering van individuele regte as grondslag vir die bedryf van politiek. Premier Viktor Orbán van Hongarye noem sy eie benadering openlik “illiberale demokrasie”.

Die twee aanhalings aan die begin van dié artikel wys duidelik hoe die meerderheidsbeginsel kan ontaard as dit ’n allesoorheersende ideologie word. Die ANC gebruik dit as uitgangspunt vir sy kwotastelsel waarvolgens die samestelling van die bevolking teen elke prys en op alle lewensterreine op alle beroepe toegepas moet word.

Kundigheid, opleiding en ervaring? Uitgediende koloniale begrippe. Bekwaamheid? ’n Ekskuus vir wit bevoorregting. Afrikaans? ’n Rookskerm vir voortgesette apartheid.

Die punt is dat individuele regte, sonder in agneming van identiteit, tot misbruik deur ’n permanente meerderheid kan lei. Bowendien ignoreer dit ’n kragtige emosionele behoefte by baie mense om deel te wees van ’n groep of gemeenskap waarby hulle gemaklik voel.

As politici dit ignoreer, kry jy ’n ruk na regs, soos tans op talle plekke in die wêreld gesien kan word.

Maar nou moet ’n mens versigtig wees om nie die baba met die badwater uit te gooi nie. Die feit dat individuele regte in die verlede ten koste van etniese identiteitspolitiek oorbeklemtoon is, beteken nie dat individuele regte of die meerderheidsbeginsel dus waardeloos is nie.

Individuele regte, die vrug van die liberalisme, beteken dat ons ten minste pas in Suid-Afrika ’n verkiesing kon hou. Dat enigiemand binne die perke van haatspraak sy sê kan sê. Dat enigiemand die intellektuele armoede van Lesufi en Magashule se uitsprake aan die kaak kan stel. Dat ’n boek oor Magashule se skokkende korrupsie gepubliseer mag word.

Dis ironies dat Orbán se “illiberale demokrasie” in lande soos Zimbabwe in die praktyk gebring word. Verkiesings word weliswaar elke vyf jaar gehou, maar tússen die verkiesings word die lewe vir die opposisie só moeilik gemaak dat hulle geen billike kans het om hul boodskap te verkondig nie.

Dieselfde geld trouens vir Hongarye, wat in 2011 ’n wetsontwerp aanvaar het wat mediavryheid volgens die organisasie Human Rights Watch sterk ondermyn. Die televisie is vir alle praktiese doeleindes – soos die SABC by ons – ’n propaganda-orgaan van die staat.

Selfs in Amerika het die Trump-administrasie die demokrasie al beskadig, al is dit goed genoeg gewortel om selfs hom te oorleef.

Dus, enersyds, moenie die liberalisme, die meerderheidsbeginsel of individuele regte tot ’n allesoorheersende ideologie verhef nie. (Ek definieer die begrip ideologie hier as ’n gedagtestroming wat aan jou voorskryf hoe die werklikheid móét lyk, pleks van dat hy die werklikheid help verhelder.)

Andersyds, moenie ’n fetisj van identiteit maak nie. Dis nie die alfa en omega van menswees nie.

Ek het al in die verlede daaroor geskryf, maar dis die moeite werd om dit weer te noem: Elke mens is soos ’n diamant met ’n honderd verskillende vlakke wat sy of haar identiteit bepaal. Byvoorbeeld, ek is Christen, Afrikaner, Suid-Afrikaner, man, eggenoot, akademikus, historikus, joernalis, gematig konserwatief – noem maar op.

Om my te reduseer tot – sê maar – Afrikaner, is om my menswees drasties te verskraal. Ek is openlik Afrikaner, ja; ek sou myself selfs ’n Afrikanernasionalis noem, sy dit ’n inklusiewe een.

Maar my liefde vir my eie agtergrond kan nie gemeet word aan my haat vir ander se agtergronde nie. Ek kan nie verwag dat mense wat deur ’n ander agtergrond as my eie gevorm is, in alle opsigte met my moet saamstem nie; ek moet hulle dieselfde vryheid gun om hulself te wees as wat ek vir my opeis.

Ek het byvoorbeeld bruin kollegas gehad wat weens hul anderse agtergrond nie dieselfde passie vir Afrikaans en taalregte as ek gehad het nie. Maar omdat ek hulle as ordentlike, eerlike mense geleer ken het, het ons vriendskaplik en met wedersydse respek oor die weg gekom.

Dat sommige mense in talle lande na regs swenk, kan verklaar word deur die feit dat die ideologiese vorm van liberalisme, wat identiteit ontken of onderbeklemtoon, te lank die botoon gevoer het. Maar dit hou ook die gevaar in dat die regse populiste, soos in Hongarye, Pole, Turkye, Rusland en elders gebeur, die onmiskenbare voordele van die liberalisme – die liberale veelparty-demokrasie, vryheid van spraak, die regstaat en alles wat daarmee saamhang – nek omdraai.

Die Weste het veral in die jare dertig ’n periode meegemaak waarin die demokrasie byna deur die aggressie van die Nazi’s in Duitsland en Fasciste in Italië geknak is.

’n Mens moet baie versigtig met historiese vergelykings wees, want jy kan nie die huidige regse populiste sito-sito met die Nazi’s en Fasciste gelykstel nie. Maar terselfdertyd moet ’n mens in staat wees om uit die geskiedenis te leer.

Daardie les is: Beskerm die demokrasie, maar help om hom steeds te verbeter.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Leopold Scholtz

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

24 Kommentare

jongste oudste gewildste
Dirk

Sou dit so wees dat ons mekaar se identiteit in n demokrasie respekteer, dan sal ons nie links of regs trek nie, nie meerderheid of minderheidsoorheersing aanhang nie. Dan sal ons mekaar in alles gelyk behandel. Menslik gesproke is dit nie moontlik nie omrede gelowe, ideologiee, bevooroordeling, wantroue, soort soek soort, wraak, vergelding, geregtigheid, bedreiging, oorlewing ens laat dit doodeenvoudig nie toe nie. Ons trek links en regs omrede dit teen ons menswees indruis om identiteit anders as ons eie mee te vereenselwig, assosieer, respekteer! Die geheim is om mekaar se oorlewing nie te bedreig nie, om mekaar n plekkie… Lees meer »

Andreas

Ons wat hier lees verstaan dit, so ook ander artikels oor hierdie tipe van onderwerpe en politiek wat hier die lig sien, Maar waarheen lei dit ons, diegene wat dit onder oë moet kry, moet nog gebore word. Dit pas nie die heersers nie, ook nie die leier van die opposisie nie. Tensy aktiviste en diesulkes hierdie tipe inligting verder dryf, of mense wat in prominente posisies is twiet om hul misnoeë in die stand van sake te kenne te gee, sal niemand daarvan kennis neem nie. Is daar gemeenskapsleiers uit die minderheidsgroepe, ook die leiers van daardie politieke partye… Lees meer »

Hendrik

Liberalisme is nou in so ‘n vorm dat dit alles en amlam wat nie saamstem nie te vermorsel. Donnald Trump: Ek woon in Amerika vanaf 1990. Met die verkiesing van die “wonderwerk” obama het dinge vinnig begin verander. Ek self was op “food stamps” vanaf 2010. Aan die anderkant, met Trump, die ou vir wie jy geen ooghare het nie, aan bewind is ek en baie van my mede wekers nie meer werkloos nie. Indien ons moet kies tussen “food stamps” en ‘n joppie dan is die ouens soos Trump loshande voor! Jy kan maar self besluit; food stamps of… Lees meer »

Rupert Ashford

Mens kan die fascisme eerder gaan soek aan die polities korrekte liberale linkerkant van die politieke kant waar spraakvryheid slegs aanvaarbaar is as “jy” in bree trekke met “my” saamstem, maar as jy nie met my saamstem nie kan/mag ek enige soort boewery van verbale slegse, verdagmaak, karaktermoord pleeg, loopbaan vernietiging tot fisieke aanvalle op jou loods en dit is maar reg. Kyk na die groter prentjie…

Therese van Schalkwyk

Brittanje toon beslis kenmerke van ‘n “illiberale demokrasie” met die belaglike/onbeholpe wyse waarop ge-non-Brexit word. In talle westerse demokrasieë word konserwatiewes gedemoniseer op eg ondemokratiese wyse.

Skryf gerus president Trump se oorwinning sonder aanhalingstekens, want hy gaan dit heel waarskynlik in 2020 presies weer so doen. Die wyse Amerikaanse stigtersvaders het die “Electoral College” ingestel, so asof hulle die 2016-‘gevaarte’ sien aankom het.
Dit kan onmoontlik onkunde wees wat dr. Scholtz noop om die populêre stem-kwessie in elke artikel die afgelope twee jaar te noem; moet dus iets anders wees.