Kom ons bou ’n Afrikaanse Harvard in Afrika

Flip Buys. Foto: Reint Dykema

Flip Buys. Foto: Reint Dykema

Winston Churchill het gesê hoe verder ’n mens in die toekoms wil inkyk, hoe verder moet jy in die verlede kyk. Daarom is dit soms nodig om die haalbaarheid van ’n toekomsideaal aan die praktiese toets van die verlede te onderwerp. Een van die Solidariteit Beweging se drome is om ’n Afrikaanse Harvard in Afrika te bou. Mense wat na asem snak oor só ’n onmoontlik belaglike idee kan sekerlik nie kwalik geneem word nie. Sonder ’n gesonde historiese bewussyn en ’n sin van dringende verantwoordelikheid vir die toekoms, is dit beslis ’n lagwekkende gedagte.

Die grootste nadeel van die diskreditering en selfs kriminalisering van die Afrikaner se geskiedenis is dat ons die geleentheid ontneem word om lewensbelangrike lesse daaruit te leer. Daarom sê prof. Hermann Giliomee dat dit vir hom duister is hoe Afrikaners ’n gesonde politieke bewussyn kan ontwikkel as hul geskiedenis enersyds deur sommige net in skuld en skaamte, en andersyds deur sommige met blinde ontkenning bejeën word.

’n Lewende kultuur is ’n kultuur wat in staat is om te bou en nie net in stand te hou nie. Maar die vraag is of ons gemeenskap nog die “bouersmoed” het om weer ’n top Afrikaanse universiteit te bou? Kom ons beantwoord hierdie vraag aan die hand van die lesse van die twee “bougeslagte” wat hierdie land opgebou het.

Paul Kruger-geslag

Die Voortrekkergeslag van Paul Kruger het binne die bestek van een leeftyd van amperse uitwissing af tot by die bou van die eerste republieke in Afrika gevorder. Dís nie ’n sommerso prestasie nie – dit was van die eerste moderne republieke in die wêreld! Die Transvaalse en Vrystaatse republieke kan selfs as deel van die vyfdegeslag-republieke beskou word, naas die antieke Griekse en Romeinse republieke, en die Amerikaanse en Franse republieke. Hierdie merkwaardige “Paul Kruger-geslag” het in die moeilikste omstandighede denkbaar binne enkele dekades Westerse politieke, ekonomiese en regstelsels gevestig, asook ’n werkende staatsadministrasie met dorpe en stede. Die eerste demokratiese verkiesings in Afrika is in Winburg gehou waar die Voortrekkers leiers gekies het. Ons kan vandág nog trots wees op hierdie prestasies – as dit reg binne die konteks van daardie tyd geoordeel word. Daarom het iemand soos genl. Jan Smuts gesê hul dade was uiteindelik groter as hul planne!

Delarey-geslag

Maar ná die verwoestende oorlog was die “Delarey-geslag” nét so merkwaardig produktief as kultuurgemeenskap. In die sowat twee dekades ná 1902 het hulle gevorder van konsentrasiekampe en verskroeide aarde tot by die heropbou van ’n moderne land met die sterkste ekonomie in Afrika. Die bittereinders het tot die einde toe geveg, maar die “nuwe beginners” het die land weer opgebou.

Sakeondernemings en ’n moderne ekonomie is begin, kultuurorganisasies is gestig, koerante is gevestig, Afrikaans gemoderniseer, welsynsorganisasies gestig en skole, kerke en hospitale opgerig, asook politieke, landbou-, vroue- en jeugbewegings begin. Met ongelooflike kulturele energie is die land weer herbou van nuwe fondamente af tot heel bo. Afrikaners word vandag verkwalik vir alles wat skeefgeloop het, maar kry nie erkenning vir die prestasies wat behaal is nie. Ons is die enigste Westerlinge wat onsself, ons taal en baie van ons instellings na die kontinent vernoem het.

1994-omwenteling

Dit is merkwaardig dat die eerste twee dekades ná die omwenteling van 1994 in soveel teenstelling staan met die opbouprestasies van die Kruger- en Delarey-geslagte. Soveel van wat deur hierdie twee geslagte opgebou is, het in die afgelope 20 jaar ten gronde gegaan of is onherkenbaar getransformeer en verengels. Daar is wel talle individuele prestasies deur Afrikaners soos op sakegebied, maar gemeenskapsprestasies is daar min. Hoogs opgeleide mense wat onontbeerlik vir die voorspoed van die land is, verlaat Suid-Afrika om ryk lande te help in stand hou eerder as om weer hier op te bou. Dít ondanks soveel meer hulpbronne en kundigheid waaroor die eietydse Afrikaner beskik.

Daar is verskeie redes vir hierdie kommerwekkende kulturele onproduktiwiteit en -onderprestasie. Die belangrikste is waarskynlik die verlies aan kulturele selfvertroue en gemeenskapsverbrokkeling wat ná 1994 ontstaan en ’n tyd lank bestaan het. Daarmee saam het ’n soort vertrouenskrisis onder Afrikaners ontwikkel. Dis soms asof die Afrikaner van volle vertroue in hul leiers, instellings en projekte na volle onderlinge wantroue beweeg het. Gelukkig het daar oor die afgelope jare weer ’n nuwe dinamika en nuwe kulturele energie ontwikkel wat positief, opbouend, insluitend en skeppend vorentoe wil kyk. “Vertrouenskapitaal” is ’n voorvereiste vir die samewerking wat nodig is om weer ’n toekoms te kan bou.

Dit beteken nie dat daar nie verskille mag wees nie. Maar ons mag nie toelaat dat die blinde vértroue van vroeër in ’n blinde wántroue verander nie. Dít waaroor ons verskil, hoef ons nie so te verdeel dat dit ons verlam nie. Daar is tog meer wat ons saambind as waaroor ons verskil.

Afrikaanse Harvard

Die RAU het in 1991 ’n eredoktorsgraad toegeken aan die destydse Britse premier, Margaret Thatcher. Op die plegtigheid op 20 Mei 1991 het sy in Afrikaans die volgende gesê: “Afrikaners is met reg geheg aan hul godsdiens, hul kultuur en hul taal. Dit is ’n taal wat uit Suid-Afrika se geskiedenis gegroei het.” Die Britse ystervrou het hier met reg die belangrikheid van Afrikaanse universiteite beklemtoon, maar die lot van Afrikaans by diesélfde universiteit is tekenend van die druk op Afrikaans by al die openbare universiteite.

’n Taal en sy mense se voortbestaan berus nie op abstrakte regte nie, maar op praktiese dade waarmee hy daagliks sy bestaansreg bevestig, aldus prof. Hermann Giliomee.

Net soos Afrikaans nie aan ’n bepaalde groep behoort nie, maar almal s’n is wat lief vir ons taal is, wil ons ook nie Akademia net vir die Solidariteit Beweging hê nie. Dis die geesteskind van prof. Giliomee en prof. Schlemmer, dis ons baba, maar ons wil dit aanbied as ’n kind vir die hele Afrikaanse taalgemeenskap.

Ons weet hoe moeilik dit gaan wees om Akademia van ’n klein begin tot ’n wêreldklas universiteit uit te bou. Maar ons weet ook dat dit moontlik is, want ons voorouers het dit mos al bewys – in veel moeiliker omstandighede as vandag. As  hulle dit kon doen, kan ons ook. Daar skort mos niks met ons nie. Ons het veel meer om mee te werk: Ons begin nie van voor af nie; ons het ’n hoogs ontwikkelde taal; ons het topbreinkrag; ons het die geld tussen ons, en daarby ’n topskolestelsel. Ons hoef nie soos vroeër van voor af te begin nie – ons moet net begin bou!

Dis ons taal, dis ons toekoms. Daarom nooi Solidariteit Beweging die hele Afrikaanse gemeenskap uit: Kom word deel van Akademia. Laat ons saam, soos N.P. van Wyk Louw dit so onvergeetlik stel, die skat van Afrikaans veilig deur die skare dra.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

HEVW ·

Iemand het min of meer die volgende gese: Gister is verby, more is nie in ons hande nie. Ons het net vandag, laat ons begin. Op die PUK vroere jare is iemand wat Calvinistiese beginsels gehandhaaf het gespot met die benaming calvyn – move. Ons onthou die gespot rock around the ossewa. Ons het in die vroere 80 jare reeds die bedreiging van ons Afrikaanse onderwys besef en het die beweging Afrikaner Onderwys gestig . RSA en SWA het saamgesnoer. Kongresse in die Kallie Human saal Bloem en SWA is gehou maar is deur die massakomminikasiemedia verongeluk. Ja, daar is is n faksie in eie geledere wat n remskoen gaan wees, maar ons kan. Die AFRIKANER KAN !!!!!!!.

Koekie Hall ·

Ek onthou die dae op Potch. Seks was toegelaat. Jy kon dit net nie staande doen nie, want dan was dit te na aan dans.

pieter ·

Ek dink die gedagte is om kommentaar op ‘n ietwat hoër intelek te lewer. Swak !

Julius ·

Ek twyfel nie vir ‘n oomblik dat ons as Afrikaners, so ‘n topvlak universiteit sal kan bou, en bedryf nie. Die ANC en kie. sal natuurlik alles in die stryd werp om dit te kelder, net omdat hulle, en hul meelopers, nie oor die vermoe beskik om enige iets met ware aansien en geloofwaardigheid te vestig nie.

AP van Schalkwyk ·

Briljante idee!!! Die problem wat ek sien is die feit of daar goedkeuring van die bestaande
orde (ANC regering en sy trawante) vir die stigting van n universiteit verkry sal word en sou besef word dat geen subsidies van die regering ontvang sal word nie.
Vir wie sal die universiteit toieganklik wees? Sal daar voorsiening gemaak word vir alle Afrikaners (wit en bruin)?
\Indien geen subsidies ontvang word nie sal die studiekoste baie hoog wees? Sal die mense wat hoop om betrek te word dit kan bekostig?
Sterkte en hou aan om hierdie idiaal na te jaag

zahn ·

Hierdie armgat het min, maar ek is in. As ons nie iewers ‘n begin maak nie, sal niks daarvan kom nie. Ek stuur graag my kinders soontoe, al is dit in die Transvaal. Skuus, Gauteng. Waar teken ek?

André ·

Ek is in mits dit ook die digitale wêreld omhels. Dis terloops ook die rigting wat Harvard en ander top universiteite inslaan. Die platforms is reeds daar en dIe talle geleenthede wag.

DMC de Koker ·

Hopelik sluit dit ‘n veeartsenykunde fakulteit in.

Gideon Roos ·

Die opbou van ons taal is a kwessie wat altyd sal teenstry met die gereg – die huidige owerhede. Dit is teen hul belang om ons toe te laat om onsself as ‘n taal gemeenskap op te bou. “n kultuur wat sterk is, saam staan, en vir sy voortbestaan veg, is ‘n vors wat niemand kan bekamp nie.
Maar voor ons om te werk vir opbou, moet ons eers ons trots op ons kultuur hervestig. Wanneer laas het ons die Slag van Bloedrivier gevier? Wanneer laas het ons Jan van Riebeeck dag gevier? Wanneer laas het ons Republiek dag gevier?
Ons moet ons foute in die verlede erken, maar nie in skaamte daaroor dwaal of a.g.v. daarvan ons identiteit ontken nie. ONS IS AFRIKAANS, dit moet ons nooit vergeet nie.

Koekie Hall ·

Ek onthou die dae op Potch. Seks was toegelaat. Jy kon dit net nie staande doen nie, want dan was dit te na aan dans.

Juan Olivier ·

Dit kan definitief gedoen word. Moet net nie laat die universiteit ontaard aan ‘n toilet wat linkse ideale aan studente oordra nie soos soveel ander universiteite.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.