Kom ons bou Zuma uit ons lewens uit!

dirk_hermann

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit.

Soos miljoene Suid-Afrikaners het Solidariteit alle vertroue in Jacob Zuma as president verloor. In ’n opname deur Kantar TNS, ’n wêreldwye marknavorsingsmaatskappy, wil 74% van Suid-Afrikaners hê Jacob Zuma moet bedank. Die probleem lê egter veel dieper as net dit. Daar is fundamentele probleme met die ANC se vermoë om te regeer en met sy onderliggende ideologie.

Die ANC kan struggle, maar kan nie regeer nie. Die verwydering van Jacob Zuma is egter ’n kritieke taktiese stap en druk om dit te bewerkstellig, moet uit alle oorde kom. Solidariteit steun die etlike burgerlike organisasies in hul pogings om Zuma te verwyder. Ons is egter nie naïef deur te dink dit bied die volle antwoord op Suid-Afrika se probleme nie.

Hoe reageer die Solidariteit Beweging op krisisse en onsekerhede in Suid-Afrika? Ons antwoord is om dít waaroor jy beheer het, uit te bou. Daar is baie dinge waaroor ons nié beheer het nie, maar ons gaan nie daaroor in ’n depressie verval nie.

Ons neem kennis daarvan, verreken dit en bou dan nog harder aan dié dinge waaroor ons wel beheer het. As die minister van finansies verwyder word, neem ons kennis; ons sal deelneem aan die debat, maar ons bou Solidariteit uit om nog sterker te wees om mense se werk te beskerm. Ons ontwikkel meer diensmetodes, lei personeel beter op en gebruik tegnologie om mense te bemagtig.

Om ’n antwoord te bied op die ekonomiese uitdagings bou ons kennisfabrieke om mense toe te rus. As die minister van hoër onderwys misluk om funksionele staatskolleges daar te stel, bou ons Sol-Tech met 1 000 voornemende ambagslui in die onderskeie fases van opleiding. Sol-Tech word algemeen beskou as een van die top- tegniese kolleges in die land.

Indien die transformasiebeheptheid van die hoëronderwyssektor oor universiteite spoel en #FeesMustFall alles wat voorkom breek, bou ons ’n nuwe universiteit, Akademia, wat staan vir wêreldklas- tersiêre opleiding in Afrikaans. By Akademia word studente nie net met kennis toegerus nie, maar met ’n onderliggende waardestelsel wat nodig is om in Suid-Afrika mee te ding.

Terwyl die staatstudiehulpstelsel disfunksioneel is en die terugbetalingskoers 5% beloop, betaal Solidariteit Helpende Hand se Studiefonds R40 miljoen aan studente uit en het ’n terugbetaalkoers van 97%.

Ons neem kennis daarvan dat die minister van maatskaplike ontwikkeling, wat moet instaan vir die brouwerk met die uitbetaling van maatskaplike toelaes, steeds stewig in die saal sit, maar terselfdertyd bou ons Solidariteit Helpende Hand uit. Meer as 4 000 behoeftige kleuters kry elke dag ’n maaltyd danksy Solidariteit Helpende Hand. Helpende Hand het 170 takke landswyd wat bykans ’n duisend maatskaplike projekte dwarsoor Suid-Afrika aanpak.

Ons sien dat Suid-Afrika se eie rasse-ideoloog en voormalige minister van sport nou die minister van polisie is. Ons neem kennis daarvan, maar in dieselfde week waarin dié aanstelling gedoen is, kon ons aankondig dat AfriForum sy 100ste gemeenskapbeveiligingstruktuur geskep het.

As munisipaliteite nie meer kan regeer nie, maak AfriForum honderde slaggate reg, toets water, maak straatligte reg, vervang pompe en help om stortingsterreine te rehabiliteer.

Ons sien wat gebeur by die SAUK, maar ons bou ’n nuwe media-instelling, Maroela Media, met 1,3 miljoen unieke maandelikse lesers wat dit nou die grootse Afrikaanse nuuswebblad in Suid-Afrika maak.

Ons help bou aan gemeenskapsradiostasies, die FAK, ons nuwe instelling vir voortgesette onderrig, bekend as S-Leer, ons bou aan finansiële instellings en nog meer.

Ons is almal woedend oor die manier waarop daar met ons belastinggeld omgegaan word, maar binne die Solidariteit Beweging maak ons van kleingeld groot geld. Elke lid van Solidariteit dra R10 per maand tot die Solidariteit Boufonds by. Baie R10’e word ’n Sol-Tech en ’n Akademia. Ons pak projekte soos Virseker aan en bied in samewerking met vennote ander finansiële dienste aan om fondse te genereer. Mense maak bemakings en trusts en individue maak skenkings.

Die krag om aktief te bou aan dít waaroor jy beheer het, is dat dit al hoe meer raak. Twintig jaar gelede het die Mynwerkersunie 33 000 lede gehad en was funksioneel bankrot. Ons het aan die ou Mynwerkersunie begin bou. Vandag is 18 instellings deel van die Solidariteit Beweging; meer as 400 000 mense is lede van die onderskeie instellings; en ons 2020-begroting beloop R3,5 miljard rand. Die krag van hierdie geld lê daarin dat dit gemeenskapsgeld is. Die opbrengs van die geld is die bou van die gemeenskap.

Ons glo dat die krag van die gemeenskap sterker is as die krag van die individu en die mag van die staat. Ons toekoms en dié van ons kinders is té belangrik om dit aan die staat oor te laat. Ons kan nie ons toekoms daaraan oorlaat of Zuma bly of gly nie, of daar ’n moontlike regeringswisseling gaan plaasvind en die onsekerheid oor hoe ’n ander party of alliansie moontlik kan regeer nie. Ons kan nie ons kinders uitlewer aan dinge waaroor ons nie beheer het nie. Ons mag mos nie ons toekoms aan ʼn wankelende staat uitkontrakteer nie.

Sodra ʼn gemeenskap besef hy is nie van ʼn sentrale mag vir sy toekoms afhanklik nie, voel mense bevry en het sommer nog meer energie om te bou. Ons moet beheer neem oor ons eie toekoms. As ons twyfel oor die toekoms moet ons dit bou. Hoe meer ons bou, hoe meer beheer kry ons.

Ons glo aan ʼn baie eenvoudige konsep en dit is vervat in die woordjie roeping. Dit beteken bloot dat jy op ʼn spesifieke tyd, op ʼn spesifieke plek ʼn spesifieke opdrag van die Here kry – met ander woorde doen net wat jy moet doen; doen dit goed en vertrou. Dit geld vir die Solidariteit Beweging, ander gemeenskapsinstellings en dit is ʼn waarheid wat vir elke gesin en individu geld.

Kom ons oefen almal baie druk uit om Zuma uit die kussings gelig te kry. Kom ons stem met mening om die ANC te verwyder, maar kom ons bou harder aan ’n toekoms waarin ons vry, veilig en voorspoedig kan wees.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Dirk Hermann

Dirk Hermann is die bestuurshoof by Solidariteit.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

25 Kommentare

emo ·

by watter plekke neem solidariteit bestuur vdag aan die optogte deel

Jean ·

Stem saam, wens net Solidariteit en Afriforum kon ‘n gedeelte van die BELASTINGGELD kry sodat hulle nog meer kan verrig. Die ANC steek alles in hulle sakke en dreig dan die volgende dag die wittes (wie se belastinggeld hy mors). Dalk moet die wittes nou maar helfte van hulle belastinggeld aan Solidariteit en Afriforum oorbetaal om universiteite, blyplekke en besighede op te sit. My hoop is nie op STEM nie, daar is te veel ANC ondersteuners en mense wat nog geintimideer en gebrainwash word deur die ANC. Praat ‘n bietjie met anderskleuriges, hulle glo nog hulle gaan huise, plase, werk, elektrisiteit en ‘n yskas kry as hulle net lank genoeg stem.

Inka ·

Ek dink hierdie is ‘n baie positiewe uitkyk en houding om te hê. Ek is trots Afrikaans, maar tog voel ek dat ‘n groot deel van die bevolking uitgesluit word van die positiewe bydrae wat Solidariteit maak deur die fokus op slegs Afrikaans. Ek besef dit word dalk doelbewus gedoen, maar ek persoonlik dink dit sal ‘n baie goeie voorbeeld stel as daar doelbewus werk gemaak word om ander groepe ook te bevoordeel en sodoende ‘n konkrete bydrae lewer tot verdere nasiebou, van ons hele nasie. Ek weet nie wat in Solidariteit se toekomsplanne is nie, maar ek hoop om so iets te sien gebeur.

Pietman ·

Inka, ek dink Afrikaners en Afrikaans word uitgesluit uit die SA samelewing en dit is juis hoekom organisasies soos Solidariteit en Afriforum bestaan. Universiteite , skole en besighede verengels. Op watter planeet bly jy?

Henry ·

Inka
Miskien moet jy veel eerder ‘n pleidooi aan al die stemvee van die ANC regime rig om hul klakkelose steun by die stembus te weerhou, tot tyd en wyl korrupsie, bedrog en al die oorbekende vergrype van die Zupta regime ‘n einde kry.

Onthou ook om vir die ANC se ondersteuners daarop te wys dat die 783+ aanklagte wat teen Zuma se naam staan, steeds in iemand se kas lê en stof vergader, maar dat ons Suid Afrikaners nie sulke vergrype en ongeregtighede sal vergeet nie.

Inka ·

Pietman, ek bly op ‘n planeet waar Afrikaners ‘n baie slegte reputasie het as gevolg van die geskiedenis van ons land. En terwyl baie Afrikaners nie die eng uitkyk het wat heeltyd wil teruggaan in die verlede en dink alles was beter in die ou bedeling nie, is daar soveel wat presies hierdie vooropgestelde idee van Afrikaners verbeeld, dit is eintlik skokkend. Kyk maar net na die kommentaar op hierdie forums, telkens word daar vingers gewys na die “Ja-stemmers wat die land verraai het”. My kommentaar op Afriforum se werk is nie kritiek nie, ek dink hulle doen fantastiese werk. Ek sou net graag wou sien dat hierdie tipe organisasie ook beplan om ten minste tot ‘n mate inklusief te wees. Niemand wat in ‘n “bubble” grootword word op die ou end daardeur bevoordeel nie.

Inka ·

Henry, ek verstaan nie regtig hoekom jy my na die ANC ondersteuners toe wil stuur nie…? Dirk Hermann se skrywe se uitgangspunt is juis dit: beantwoord dit waarmee ons ongelukkig is deur te BOU, nie deur te kla, of te breek, of vingers te wys nie. Ek stem heelhartig saam met hulle strategie en het eenvoudig kommentaar gelewer oor iets wat ek persoonlik graag sou wou sien in hulle organisasie. Weet nie hoekom jy nou met my baklei oor die ANC nie, ek het niks eers oor hulle gesê nie.

Henry ·

Inka. Soos Pietman, deel ek nie jou skuldgevoel/skaamwees oor Afrikaners nie. Soos in meeste volkere se geskiedenis, is daar ook dom dinge deur ons Afrikaners aangevang is en selfs herhaal mag word.
Is hoe dit is.

Dat daar uiteenlopende sienswyses en lewensbeskouinge onder Afrikaners bestaan, is ‘n stokoue werklikheid. Dit is egter nie uniek, of tot Afrikaners beperk nie. Dit is tiperend van alle volkere – nou en deur die eeue heen – en sal vorentoe waarskynlik so bly. Newwirmaaind al die drome oor ‘n utopiese planeet waar globalisme die wagwoord sal wees.

My versoek aan jou is tog heel eenvoudig en sluit aan by Pietman se verwysing na die rede/oorsprong van Solidariteit en Afriforum se bestaan. Laasgenoemdes en mbv fondse wat uit Afrikaner geledere kom, se verantwoordelikheid is om gate toe te stop, wat deur die huidige grotendeels korrupte regime gelaat word. ‘n Regime wat vir seker geen agting vir die belange van Afrikaners en/of Afrikaanswees toon nie. Inteendeel.

Indien die ANC se kiesers sou erken dat die regime wat hulle tydens die vorige verkiesings by die stembus ondersteun het, vir die rommeltoestande in hierdie droewe land verantwoordelik is, kan daar moontlik weer vorentoe ‘n lig in die donker rommeltonnel verskyn.

Rentia ·

Ek is dankbaar vir Solidariteit se harde werk & positiewe benadering. Maar ek stem saam met Inka: dit moet nie net Afrikaanssprekendes bevoordeel nie. Laat ons eerder ‘n voorbeeld stel deur alle groepe se belange te bevorder met dieselfde toewyding wat ons aan die dag lê met ons eie belange. Dis tog wat Jesus ons leer: “doen aan ander wat jy graag wil hê ander aan jou moet doen”. Dít is die Christelike Afrikanerkultuur waarop ons trots moet wees en nooit verskoning oor hoef te vra nie, want die liefde doen die naaste geen kwaad nie. Laat ons dus as Afrikaners nasiebou met passie aanpak & ‘n helpende hand uitstrek na álle Suid-Arikaners sodat ons almal in vrede en liefde kan saamleef!

AN ·

Selfbeskikking? Hoe? In Orania ja.
Gee asb ‘n aanduiding hoe gaan self beskikking prakties uitgevoer word.
Solidariteit doen goeie werk en is ten minste “pro-aktief”

PvZ ·

Kyk asb na Orania. Lees ook op hulle webblad van hulle “dorp tot stad” droom. Prakties baie uitvoerbaar, en heel haalbaar. Hulle verrig ook wondere met bitter min tot hulle beskikking.

John ·

Dr Hermann, met alle respek: Kom aarde toe. U skrywe is ongelukkig ‘n idealistiese droom. Ons bly in Afrika. Waar werk hierdie mooi uiteensetting van u op hierdie aardbol? En ons beleef ‘n krisis soos tydens die Boere-oorloe. Die ANC het sy eie weermag, waaronder ‘n klomp jongmense, ontplooi as sg MK-veterane (??). Hoe kan ‘n party ‘n eie weermag he in stryd met die wet en hulle ontplooi? Is dit nie die werk van die polisie nie? Moet die bloed eers vloei voor die akademici hul penne neersit? Of gaan ons wag tot ons weer trane mag gaan stort voor die VN wat vere voel vir wit mense in Afrika?

Boerseun ·

Ek het een groot probleem hier. Almal het na die groot 6 verwys en gehoop hulle gaan Zuma keer. Wel hier is die probleem. Die feit dat daar n groot 6 is wat besluite maak beteken al klaar dat “government” nie afsonderlik funksioneer nie, maar dis nou glad nie n probleem nie. Staan julle nie dan teen Zuma juis oor die idee dat hy gekoop is en besluite tot voordeel van die mense maak nie?

Dan op wie se payroll is die 6? Dit beteken iemand anders trek die toutjies wat in die geval van die ANC die britte en amerikaaners is. Zuma, deur die Chinese en Russe.

Op die ou end is julle optogte eitlik oor of jy Russies of Manderein op skool wil leer of engels. Ek gaan wel sê dat die Russe en Chinese gaan my nie forseer om engels te leer in skole in plaas van my moedertaal nie, en het die nasies ook my volk nie die leed aangedoen wat die engelse en amerikaaners het nie.

AL ·

Solidariteit en Afriforum het al ongelooflike baie sukses behaal in hul kort bestaanstyd – en dit nogal deur n klein ledetal.
Mense sluit by hul aan om ons volk en land te bemagtig, elke bydrae help.
Maroela Media is op sigself n sukses waarop ons trots kan wees.

PvZ ·

Jammer, nie privatiseer nie, maar nasionaliseer. Ek glo die mense weet wat ek bedoel.

Die Varkerasie Genootskap van Ligdraers van Geregtigheid ·

Groot dankie aan Solidariteit en Afriforum. Ons voorstelle:
1) Fokus op die uitbou van ons taal en kultuur;
2) Dokumenteer jou familiegeskiedenis as kosbare kultuurskat;
3) Fokus op die uitleef van ons waardestelsel: naasteliefde, reg en geregtigheid, e.d.m;
4) Fokus op ons jeug se opvoeding, onderwys en opleiding by uitnemendheid;
5) Fokus op kreatiwiteit en wêreldkompeteerbaarheid vir inkomsteskepping;
6) Raak self betrokke by ons mense se burgerlike strukture;
7) Fokus op spaar, spaar en nogmaals spaar.
8) Help bou die “SA Animal Farm kripvreters” uit ons lewes uit.

Carla ·

Baie dankie Solidariteit vir jul harde werk en eindelose insette. Ons staan agter jou en waardeer dit opreg. Jul visie is fenomenaal!

N Lourens Reitz ·

Riana ek is saam met jou oor selfbeskiking. aan die einde is dit al waar daar vrede en rustigheid gaan wees Laat elke volk homself regeer.

Rudy ·

Dis nou nie juisnof ons n regering nodig het nie is dit? Almal doen net wat hulle wil en die eerlike mense lei daar onder. Bou aan n harde kontant besigheid vir jou en jou gesin. Wat Sars nie het nie kan Jacob nie vat nie. Vergeet van BEE kry n Wasp; wit afrikaans sprekende persoon. Koop water. Moenie geld gee aan karton monsters nie. Laat die armes verarm n die krotte. Hulle het hom gekies. Hulle moet hom uit die wegruim of arm bly.

Piet van Niekerk ·

Kom ons pas die aanbevelings van Frank Karsten in sy boek Beyond Democracy toe. Demokrasie is uitgedien. Nou is die tyd om Libertarianisme te volg.

Die Eiland-Ouma ·

Lanklaas so ‘n positiewe boodskap gelees:
Baie,Baie DANKIE, Dirk !
Gee mens sommer weer moed as daar nog so ‘n duidelike helder roepings-begrip by julle jonger Afrikaners gehoor en gesien word.
Mag ons HEMELSE VADER ons almal begenadig om presies dit te doen wat jy so duidelik uitgestippel het ,
nl. …om ons roeping vas te maak,
sodat SY Naam verheerlik mag word .

Lewies ·

Waar het die vorige wit-regerings verkeerd gehandel om ons in hierdie dilema te laat beland?. Ek vra die vraag nie omdat ek nie die antwoord ken nie, maar hoop om die gewete los te kry van die geslag voor 94.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.