Kom ons bou!

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging. Foto: Reint Dykema

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging. Foto: Reint Dykema

Daar is deesdae genoeg rede om moedeloos te raak. Die nuus se daaglikse dosis van korrupsie, wanbestuur en strafloosheid lei tot negatiwiteit en pessimisme oor die toekoms. Mense voel tereg bitter oor die wanbesteding van hul hardverdiende belastinggeld, oor die onbevoegde regering en oor die dubbele standaarde met rassesake.

Die gevaar is dat dít wat in die land gebeur ʼn mens só negatief kan maak dat ons nie meer hoop vir die toekoms sien nie. Hierdie toekomsloosheid word dan aan ons jong mense oorgedra wat op hul beurt dan ook hoop vir die toekoms verloor. Moedeloosheid lei tot magteloosheid wat verlammend op almal inwerk. Negatiwiteit voel dalk geregverdig, maar dit bring nie oplossings nie – dit tap net energie.

Afrikaners se geskiedenis was egter nog altyd ʼn verhaal van krisisse wat oorkom word en nie een van ondergang daardeur nie. Ons het nog altyd ons geskiedenis gemaak, en is nie net déúr die geskiedenis gemaak nie. Ons historiese suksesresep was nog altyd “skeppende vernuwing volgens beproefde waardes”. Pres. Paul Kruger se laaste boodskap was nie dat die beste uit die verlede net behou moet word nie, maar dat ons daarmee ʼn toekoms moet bou.

Die skeppende energie waarmee ons historiese krisisse nog altyd oorkom is, spreek van vindingryke kulturele ondernemingsgees eerder as ʼn moedelose aanvaarding van die onafwendbare “werklikhede”. Die sleutel hiertoe was nog altyd ʼn begeesterde verantwoordelikheidsbesef en ’n sin vir dringendheid. Afrikaners het dinge nie net aan die staat oorgelaat nie, maar sterk gemeenskapsorganisasies gebou om ons doelwitte te bereik. Ons het nie net gewag dat dinge self beter word nie – ons het dinge self verbeter. Die geheim was dat ons nie net bly hoop het die see word kalmer nie; ons het sterker skepe gebou. Ons sit nie net en wens nie; ons werk met werklikhede.

Dít was die kulturele kapitaal waarmee ’n land opgebou is, deur skole en universiteite, dorpe en stede, banke en maatskappye, en kerke en hospitale te bou. Natuurlik leef ons nou in ander tye, maar die basiese beginsels bly dieselfde: hou moed, neem verantwoordelikheid, begin met die werk, en hou aan, hou vol en bou op. Die afgelope jaar het weer gewys dat ons voorouers se opbougees nog in ons is. Neem nou maar die twee verhale van Afrikaans. Die een gaan oor die staat se afbreek van Afrikaans in ons universiteite, skole en die openbare sektor. Daarteenoor gaan die ander oor die opbou van Afrikaanse instellings soos Pretoria FM, Akademia, Maroela Media, Afrikaanse kuns en musiek, en nog vele meer.

Die afbreek- en oorvatkultuur onderliggend aan die aanval op Afrikaans en Afrikaners se kulturele bates gaan nie die voorstanders daarvan help nie. Kyk maar hoe dit by die meeste histories Afrikaanse universiteite, dorpe en stede gaan. Daar het nog niks blywends tot stand gekom deur af te breek nie. Beskawings kom tot stand deur opbou, nie deur afbreek nie.

Kom laat ons dus nie mekaar moedeloos praat nie. Die verlede gaan nie terugkom nie, die hede gaan nie weggaan nie, en die toekoms gebeur nie vanself nie. Kom ons bou!

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

JC ·

Dankie Flip!
Afrikaners (en Solidariteit natuurlik) is ysters!!

Michael ·

Ek stem saam bou skole,universiteite,opleiding sentrums en hospitale wat werk met bevoegde mense in beheer en elke persoon wat bereid is om Afrikaans te praat moet bydra dit is hoe ‘n volk selfonderhoudend word en sy toekoms verseker.
DANKIE SOLIDARITEIT/AFRIFORUM

Disselboom ·

Daar is oulike pogings aan die gang. Die bouwerk bly egter ‘n soort Kleinfontein-model, waar jy ‘n huis met jou eie geld bou op grond waarvoor jy nie die kaart en transport het nie, totdat die instellings soos Akademia werklik op sy eie voete staan sonder dat elke kursus aan die regering se toestemming onderhewig is.

bendons ·

Flip mooi so en dankie vir jul goeie werk, maar Disselboom is reg. Ons ploeter net voort. Wat van Artikel 235 van ons grondwet. Kom on bou daarop of is dit ook die deel van ons grondwet wat nikswerd is nie, nie die papier werd waarop dit skryf is nie. Hoop ek is verkeerd.
Ek bid elke dag vir almal in die land. Ons kan opstaan en weer die beste volk in die wereld word maardanmoet ons boustene van graniet wees op ons eie grond.
God seen julle almal met die nodige durf en kennis.

skorra ·

How De swernoot skakel ek hierdie verbrande engelse spelkorrigeerder in android AF???? Groot ASB ek gaan nog op die foontjie spring!!

Wicus ·

Settings-personal – language & input

Vat spellchecker af
Daar behoort ook ‘n Default Android keyboard opsie te wees – hieruit is spul verstellings moontlik.

Probleem is verskillende Android toestelle het eie soortige gesigte en menus.

Hoop die help :-)

chrisp ·

he he he.
Wens ek kon help skorra maar tenminste maak jy my dag.

skorra ·

Baie dankie almal, het dit reggekry om die ding af te skakel. Nou kan ek Afrikaans tik sonder dat dit vanself zumiaans word!!!

Johann ·

Laai vir jou die Swiftkeyboard by app world af, gesukkel op ‘n end, mooi so Philippolis goeie insetsel

Theo B ·

Dankie mooi bemoedigende woorde maar helaas ek stel nie meer belang nie. Ek wens ek kon net pad vat na waar my kinders ‘n toekoms het. SA se probleme is te diepliggend.

Ansie ·

Theo B, kom soek asiel in Nederland, hier’s maar net 17 miljoen mense, ? baie plek. ? In heel Europa stroom nou mense uit Afrika in. De meeste kan niks bydra nie, tenminste kan Suid Afrikaners hulle eie brood verdien hier. Wat my betref is jy welkom hier.?
Groete, Ansie B.

John ·

Dit wil gedoen wees. Waarmee ons bou is uiters belangrik. Ons moet soos die een klein varkie in die storie slim wees en met goeie stene bou anders blaas die wolf ons huisie weg. Ons taal word ook stukkie vir stukkie onder ons neuse weggesteel en ons dink die mense is aan ons kant. En met net een Engelssprekende in ‘n skool/werkplek moet daardie een geakkomodeer word en ons kultuur kom onder druk want nou moet ons niks se oor ons eie aard/geskiedenis/godsdiens nie, maar eerder in daardie individu s’n belangstel. Selfs die geslagte en ons ras moet nou koes, ook in die kerk. Die Bybel is ook onder verdenking. Die wereldwye kunsmatige gelykmaking en ineenklits van uiteenlopende gure en geure gaan ‘n gedrogtelike onsmaaklike gebaksel afgee wat met die eerste prik ontplof… Europa probeer ook die resep… staan weg!

Johannes ·

Dankie Flip, dis die enigste pad. Dankie vir wat julle doen. Sterkte!

Frans ·

Flip, dankie vir so ‘n besielende boodskap aan die begin van ‘n nuwe jaar. Ons deel jou visie. Ons gaan ons eie toekoms skep!

Ou Erdvark ·

Mnr Buys, baie dankie vir hierdie opbouende bemoedigende woorde en rigtingwysers vir die pad vorentoe.

Dit is uiters belangrik dat alle Afrikaners hul deeglik vergewis van wêreldgeskiedenis en in besonder Suid-Afrikaanse geskiedenis en hul eie familiegeskiedenis. En om dan te leer uit die foute van die verlede, die goeie daaruit te neem en op kreatiewe, vindingryke en opbouende wyse daarop te bou vir ‘n blink toekoms vir hul nageslagte.

Ons is ‘n klein volkie en daarom is dit gebiedend noodsaaklik om aktief betrokke te wees by gemeenskapsorganisasies ter bevordering van ons Afrikaner belange.

Deon Koegelenberg ·

Ek stem saam met Flip KOM ONS BOU …. kom ons maak iets wat die land en wereld sal verstom … Geen negatiewe gedagtes neeeee net positief …. net vooruitstrewend

Albert Hoffmann ·

Positiewe , nugter denkende leiers is wat Suid Afrika nodig het-doen so voort Flip , Afriforum en Solidariteit-sonder julle was dit nag!

Etienne ·

Ek waardeer die werk wat al die Afrikaanse organisasies doen….my vraag is waarom mors ons miljoene rande op tevergeefse hofsake en besoeke aan die VVO ens.Jul is doodreg as julle sê dat die Afrikaner dit vir homself moet doen – kyk maar na ons geskiedenis -wie het tot ons hulp gekom ? Engeland het ons land stukkie stukkie weggedra , ons Volk vermoor…Daar is gereeld sms veldtogte om geld in te samel vir die doodgeborê projekte.Wat van ‘n sms fonds om ons kinders te bemagtig om verder te studeer.Akademia is eenvoudig te duur , gaan vergelyk hul BCom Best Rek graad se totale koste met die prys van aanlyn CIMA kursusse ( by wie hul geakrediteer is) .Is die doel werklik om ‘ n “goedkoper ” alternatief aan te bied ? Jy studeer in Afrikaans en doen alles in die nuwe S A in Engels ? Glo my as jy in die bedryf is sal jy weet – alle rekeningkundige pakette is in Engels … en om die omskakeling te doen is vrek moeilik!

Gemsbok ·

Die dae van ryke bou vanaf Tafelberg tot Magaliesberg op die rug van goedkoop swart arbeid is verby. Dit is juis daardie goedkoop swart arbeid wat so mildelik in alle Afrikanerprojekte aangewend is wat veroorsaak het dat Afrikaners ‘n minderheid op hul geboortegrond sonder enige politieke invloed geword het (voor die Anglo-Boereoorlog was daar 3 Afrikaners vir elke Basotho in die Oranje-Vrystaat. Vandag is daar 10 Basotho vir elke Afrikaner, mildelik ingevoer uit Lesotho en Qwa-qwa om op plase, huise en die myne te kom werk – en raai wie bepaal die regering en regeringsbeleid?)

Die strewe na vryheid en selfregering was voor 1948 altyd die dryfkrag van Afrikanerherlewing. Daarsonder verskraal bouwerk tot die bou van tronke vir onsself. Om skole, kerke, universiteite en besighede te bou op terreine waar Afrikaners nooit politieke beheer sal kan bekom nie, is soos om morfien vir ‘n volk te gee wat op sterfte lê. Dit stel nie die onafwendbare uit nie, maar maak dit net gemakliker.

Leendert ·

Flip, dit is reg dat mens nie ophou moet praat met die mense nie, dit voel my later ons praat neer op hulle omdat hulle nie begryp nie, of omdat ons kulture myle van mekaar verwyder is.

Jig, nou is ek al weer by goete wat verskille uitwys. Die terwille wees media, ook die mense daar by jou wil die nie hoor nie.

Ek het nie ‘n idee hoe om in Julius se kop in te praat nie, in sy ore werk nie. So waarom is dit dat mens dan snaakse goed kwytraak? As iemand aan my als toegedig het wat die kommentators en jy, ook Dirk Herman al vir hulle beduie het, en hulle verstaan nog steeds nie, wat dan?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.