Kom ons haal angel uit taaldebat

Stellenbosch_UnversityEk is een van die kandidate vir die Raad van die Universiteit van Stellenbosch. Die Konvokasie kan naamlik ses kandidate aanwys. Vir hierdie rondte word gestem vir drie kandidate en daarvoor is ses kandidate benoem.

Waarom moet oud-Maties (dus Konvokasielede) vir my stem?

Laat ek verduidelik: Vir my is die US nie net nog ʼn universiteit in Suid-Afrika nie. Dit is eerder dié simbool van akademiese uitnemendheid in die land – geen ander universiteit in SA het byvoorbeeld ʼn ekwivalent van STIAS (Stellenbosch Institute for Advanced Studies) of ʼn satelliet in die ruimte nie. My taak as US Raadslid sal wees om hierdie uitnemendheid verder uit te bou en ook te verseker dat daar altyd vir Afrikaanssprekendes ʼn “welkome tuiste” aan die US sal wees.

Wat bedoel ek hiermee? Die Universiteit van Stellenbosch was die afgelope bykans tien jaar knaend in die nuus, meestal oor taal aan die US. Van die ander prestasies wat ʼn universiteit laat uitstaan, soos uitsonderlike onderrig wat jong mense begeester en knap navorsing wat help om die wêreld ʼn beter plek te maak, is daar selde melding gemaak. Taal het dus bykans alles aan die US gedomineer.

Afrikaans het weer ʼn etiket gekry: die taal wat ander tale wil uitsluit. Toe ek in my eerste termyn lid geword het (in 2010), was die gedagte dat hierdie etiket weggewerk moes word, maar dat die posisie van Afrikaans tog bestendig moes word – dis die rede waarom Konvokasielede in 2010 vir my gestem het.

Die strategie was heel eenvoudig: Haal die angel uit die taaldebat deur seker te maak dat die US voortgaan om ʼn gehalte-universiteit te wees. Dit help nie dat ons Afrikaans behou, maar dit wat oorbly, is nie goed nie. Onthou, ons as oud-Maties se kwalifikasies word in die mark beoordeel as gekoppel aan ʼn top-universiteit. Daarin het ek en van die ander Raadslede geslaag, naamlik om die US goed te hou. Kyk net na die US se jaarverslae van die vorige paar jaar (2011, 2012, 2013) om te sien dat die universiteit puik presteer het.

In hierdie proses kon die vorige taalbeleid krities in ʼn rustiger atmosfeer geëvalueer word, en daar is uiteindelik ʼn hele paar aanpassings gemaak, o.a. die invoer van die tolkstelsel (gegrond op die suksesse aan die NWU se Potchefstroom-kampus) en die gewraakte T-opsie (d.w.s. dubbelmedium) kon stadigaan uitgefaseer word. Hiermee is groter rustigheid wat taalsake betref op die kampus gekry.

Die taalsaak is hiermee egter nie afgehandel nie. Daar is nog praktyksprobleme in die klasse en in die nuwe termyn wil ek graag hard hieraan werk sodat die taalbeleid nie net woorde op papier is nie, maar ook in die praktyk moet werk.

As die ooreengekome praktyk goed werk, dan is Afrikaans goed af. Andersins is daar probleme.

Ek sê nie hiermee dat alles nou klopdisselboom is nie. Inteendeel! Daar is nog heelwat skaafwerk aan die beleid nodig. Daarmee wil ek my besig hou in ʼn tweede termyn as die Konvokasie my daarmee sal vertrou.

As Konvokasielede vir my wil stem, vra ek dat hulle ook vir dr. George du Toit en mnr. Johan Theron sal stem. Ons vorm ʼn goeie en doeltreffende span.

* Om voor 17 Maart 2014 aan die verkiesing deel te neem, stem hier op die Universiteit van Stellenbosch se webblad.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Wannie Carstens

Prof. Wannie Carstens is direkteur van die Noordwes-universiteit se Skool vir Tale, voorsitter van die Suid-Afrikaans Akademie vir Wetenskap en Kuns en waarnemende ondervoorsitter van die Afrikaanse Taalraad; en betrokke by meerdere ander organisasies ter bevordering van Afrikaans.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.