Kom ons herdefinieer ‘Afrikaner’

Ek werk hard vir Afrikaans se behoud in hierdie land en hou my gewoonweg uit politieke debatte. Ek moet egter tog die onderstaande siening van die bors af kry omdat dit my werk ontsettend moeilik maak.

Afrikaner3Ek lees naamlik in Beeld van 1 Julie 2013 dat Frik Lotz van Sasolburg die volgende skryf oor wie en wat ‘n Afrikaner is.

“Die vraag van wie en wat is ’n Afrikaner duik weer op

Die antwoord is eintlik eenvoudig, maar diegene wat aanhoudend vra daaroor, dink seker nie so nie of is hulle dalk net moedswillig?

In ’n neutedop kan ’n mens seker die Afrikaner beskryf as ’n inheemse, wit Afrikaanssprekende volk van Suid-Afrika met sy eie unieke kultuur, tradisies, geskiedenis en natuurlik sy Gelofte. Nie almal wat Afrikaans praat, is Afrikaners nie en nie alle wit mense is Afrikaners nie.

Die Afrikaner is van Afrika. Hy het ’n reg om in Suid-Afrika te wees en het ook die reg op selfbeskikking soos vervat in die Grondwet.

Die Afrikaner weet wie hy is.”

Verskoon my tog as dit nie vir my so klinkklaar is as vir Frik nie. Inteendeel, ek vind sy beskouing van wie en wat ‘n Afrikaner is verstommend eng en eiegeregtig.

Hoe kan ons nog vandag in 2013 steeds Afrikanerskap net vir wit mense toe-eien? Is net wit mense so bevoorreg om inheems te wees (bedoelende gebore in SA, dus in Afrika), Afrikaans te praat, ‘n unieke kultuur en tradisies te hê? En dan word die nakom van die Gelofte van 1838 ook nog as kwalifiserende eienskap geag. Dit lyk my so as hy sê: “Nie almal wat Afrikaans praat, is Afrikaners nie en nie alle wit mense is Afrikaners nie.”

Hiermee sluit ons ander mense uit wat ook Afrikaans praat. Dis besonder eiegeregtig om Afrikaans en alles wat daarmee saamgaan, net as JOU eiendom te beskou. Wat en wie gee jou die reg om my en ander Afrikaanssprekendes (wit, bruin en swart) uit te sluit? Want, soos Frik sê, “die Afrikaner is van Afrika”. Hoekom uitsluit en nie insluit nie?

Ons is OOK van Afrika, ons is ook hier gebore, ons deel ook unieke Afrikaanse tradisies en kulturele gebruike. Ons is daarom ook Afrikaners, dus mense wat in Afrika gebore is en Afrikaans praat. Ek is nie en wil egter nie ‘n Afrikaner wees in Frik se eksklusiewe terme nie.

Afrikaans dra rééds so swaar aan sy bagasie van uitsluiting en nou verswaar ons dit nog verder met hierdie soort beskouings.

Die Afrikaans wat ek liefhet, waaraan ek my loopbaan wy en waarin ek my menswees uitleef, is anders. Dit is ‘n Afrikaans wat mense nader trek en omarm, wat uitreik na my taalgenote ongeag herkoms. Dit is ‘n inklusiewe Afrikaans en ons neem aanstoot as ons uitgesluit word uit ‘n term wat histories ook vir ons bedoel is.

Ek is van oordeel ons moet eerder die term “Afrikaner” herdefinieer as dat dit almal wat Afrikaans praat, insluit. Dan beweeg ons weg van die assosiasie met kleur. Want die assosiasie met kleur vind ek diskriminerend. Ek kan Frik en ander wat soos hy dink, die versekering gee dat dit net ‘n kwessie van tyd is voordat Afrikaanssprekendes uit ander etniese groepe hulself ook Afrikaners noem, maar dan in die omvattender betekenis.

En Frik, ek is nie moedswillig nie, ek het net ‘n breër visie op menswees in hierdie land as jy.

Lees ook:
Wie en wat is ‘n Afrikaner? – Deur Flip Buys

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Wannie Carstens

Prof. Wannie Carstens is direkteur van die Noordwes-universiteit se Skool vir Tale, voorsitter van die Suid-Afrikaans Akademie vir Wetenskap en Kuns en waarnemende ondervoorsitter van die Afrikaanse Taalraad; en betrokke by meerdere ander organisasies ter bevordering van Afrikaans.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.