Kom ons onthou weer die lesse van Vegkop

Deur Barend Uys

Barend Uys. Foto: Verskaf.

Die moord op die jong boer Brendin Horner oorheers die afgelope paar dae die nuus in Suid-Afrika. Tydens die eerste hofverskyning van die aangeklaagdes wat in verband met die moord op die 21-jarige boer in hegtenis geneem is, het gemoedere hoog geloop. ’n Polisievoertuig, onder meer, is omgegooi voor dit aan die brand geraak het.

’n Video wat wys hoe polisielede ’n skokgranaat gooi en dan wegry, laat mens wonder of die SAPD daar was om die vrede te bewaar of onrus te stook. Die verhoor van die aangeklaagdes is uitgestel tot 16 Oktober.

Dié datum is vir Afrikaners belangrik – dit is die dag waarop die Slag van Vegkop in 1836 plaasgevind het. Die Voortrekkers, onder leiding van Hendrik Potgieter, het in ’n klein laer gestaan teen Doornkop, suid van waar die dorp Heilbron in die Vrystaat vandag staan. Daar was slegs 40 weerbare Voortrekkers wat moes weerstand bied teen ’n aanval van tussen 4 000 en 6 000 Ndebeles van Mzilikazi onder aanvoering van Kalipi.

Die Voortrekkers het op ’n wonderbaarlike manier as oorwinnaars uit die stryd getree. Twee Voortrekkers het gesterf en ’n verdere veertien is gewond. Die eer vir die oorwinning is ook aan die Here gegee en daarom breek die assegaai op die Bybel in die Voortrekker se hand op die Vegkop-monument.

Ons moet vandag weer die lesse uit die Slag van Vegkop onthou en dit van toepassing maak op plaasveiligheid wat vir ons tans so ’n groot uitdaging is. Die eerste ding is dat die Voortrekkers self hul bes gedoen het en op die Here vertrou het om die uitkoms te gee. Daar is eers probeer om met die naderende aanvallers te onderhandel. Daar is ook ’n dubbellaer getrek met beesvelle oor die binneste laer sodat die kinders, oumense en van die vroue daar kon skuil. Die laer is versterk met doringtakke en elke Voortrekker was vaardig en het met sy voorlaaiers gereed gestaan om sy verantwoordelikheid op te neem.

Die tweede ding is dat die Voortrekkers vriende nodig gehad het en van hul hulp gebruik gemaak het. Na afloop van die slag is al die Voortrekkers se vee, wat die trekosse ingesluit het, deur die aanvallers verdryf. Die Voortrekkers was uiters kwesbaar en het geen manier gehad om weg te trek van die gevaarlike omstandighede nie. Opperhoof Moroka II van die Seleka Barolong by Thaba ’Nchu het vir die Voortrekkers trekdiere gestuur wat dit vir hulle moontlik gemaak het om uit hul moeilike omstandighede te ontsnap.

Ons, as Afrikaners, moet vandag weer self verantwoordelikheid vir ons veiligheid neem. Ons moet onsself weerbaar maak en deelneem aan georganiseerde veiligheidstrukture van gemeenskappe. Tweedens moet ons goeie verhoudings bou met die ander kultuurgemeenskappe en hul gemeenskapsinstellings.

As Afrikaners sê, “Ons sal self”, dan sê ons dat ons self verantwoordelikheid gaan neem en dat ons nie van die regering afhanklik sal wees nie. Maar dit beteken nie dat ons nie graag vriende wil hê en nie met ander gemeenskappe wil saamwerk nie. Inteendeel – ons verstaan dat ons vriende nodig het om in vrede aan die suidpunt van Afrika voluit te lewe.

Ons sal self – maar ons sal nie alleen nie.

  • Barend Uys is hoof van navorsing en ontwikkeling by AfriForum.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
AmY

Hulle het ons drie honderd jaar terug gehaat.
Oor nog drie honderd jaar sal hulle ons steeds haat.
Maar dalk is ek verkeerd…