Kom ons praat oor nasionale boekeweek

lees-boek-seun

Foto: Tookapic/Pexels.com

Dit was die skrywer CS Lewis aan wie ons die aanhaling te danke het dat ons lees om te weet ons is nie alleen nie.

Verlede week was nasionale boekeweek, ’n wonderlike geleentheid om ons kinders en kleinkinders lief te maak vir lees – ’n liefde en ’n vaardigheid waarvoor hulle ons altyd dankbaar sal bly, en wat hulle altyd tot voordeel sal strek.

Waarom sê ons so? Want die persoon wat baie goed lees, sal ook baie goed skryf, en deur die ontwikkeling van taalvaardigheid baie goed praat. In hierdie dae waarin kommunikasie koning is, is dit gesogte en nodige vaardighede.

Maar, so sou die twyfelaars kon beweer, boeke en koerante en tydskrifte is duur, dan nie? Dit hang natuurlik af van jou posisie, want geld is relatief. As jy regtig nie geld het nie, is daar mos biblioteke, deur die belastingbetaler gefinansier en deur die owerhede geadministreer tot die algemene heil van die gemeenskap. Daardie boeke kos jou as gebruiker niks, en dis ’n skatkis van leesgenot en kennis.

As jy wel ’n paar rand te spaar het, is ’n goeie boek, koerant of tydskrif nie soveel ’n uitgawe nie as wat dit ’n belegging is. Dit sal jou lewe verryk, nou en altyd, en ’n goeie boek is altyd handig om naby te hê, ook vir terugverwysing. Boonop is boeke – so kan enige bedrewe eiendomsagent jou vertel – van die grootste bydraers om ’n huislikheidsgevoel aan jou huis te gee – ’n geselligheid en gemeensaamheid wat net die geduld van papier in die hand kan werk.

Boonop is die ondersteuning van die Afrikaanse boek spesifiek ’n pro-aktiewe stap ter ondersteuning van die Afrikaanse taal, ons pêrel van groot waarde. Die Afrikaanse letterkunde – prosa, poësie en dramatekste – is ’n bron van plesier en trots vir ons almal wat die taal liefhet.

Afrikaans kan met blik omhoog en skouers terug sy plek volstaan tussen die letterkundeskat van die wêreld. Aan die prosakant word die erns van Karel Schoeman, die allegoriese briljantheid van Etienne Leroux, die spanning van Deon Meyer, die bedrewenheid van Andre P. Brink, die geworteldheid van Ronelda Kamfer en die luim van Jan Spies moeilik oortref.

Afrikaanse digters soos Eugene Marais, DJ Opperman, NP van Wyk Louw, Loftus Marais en Nathan Trantaal maak ons trots en gelukkig, en dramas van die hoogste peil het name soos C Louis Leipoldt, Opperman (nogmaals), PG du Plessis, Deon Opperman en Christiaan Olwagen gewaardeerde volksbesit gemaak.

Ons elkeen se genotvolle plig is dus duidelik: Sorg dat niemand alleen is nie. Koop ’n boek, gaan neem een uit of deel dit uit aan iemand wat daarby kan baat nadat jy met die boek klaar is. Dis ’n edel daad vir die gewer, die koper en die uitnemer en die ontvanger, want lees en boeke is ’n groot genade vir ons geliefde land en ons geliefde taal.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Sarie ·

Sien nie dat die skrywer van Roets praat nie. Smaak verskil koop dan Chris Steyn se halwe fiksie boek. Maar lees tog net.

Mien ·

Boeke is my verweer teen die lewe. Jan Jan, jy kon maar jou ma, Irma Joubert, by jou lys van moeite werd skrywers gevoeg het. Kinders moet met boeke grootword. Dit maak werklik’n groot verskil.

Casper Labuschagne ·

Wat julle ook al doen, koop ten minste een Afrikaanse boek tydens boekeweek en lees dit. Of koop ‘n boek vir elke lid van die gesin en neem ‘n plaasvakansie vir ‘n naweek waar julle almal niks anders gaan doen as om te sit en te lees nie.

Nog een ding, besoek die plaaslike biblioteek. Let op hoe die Afrikaanse boeke nou heel agter is, hoe daar nouliks ‘n nuwe Afrikaanse boek, of ten minste een wat in hierdie eeu verskyn het, te bespied is. Let op hoe amper niemand in die biblioteek Afrikaans kan praat nie en hoe dat daar nie een Afrikaanse kennisgewing is nie. En bedink hierdie stand van Afrikaans, want ons het dit aan onsself gedoen.

Hermien ·

Dankie aan ons biblioteek wat uitstekende boeke, ook in Afrikaans vir ons kinders en volwassenes aanhou.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.