Kom ons praat reguit oor Afrikaans

adv-jan-heunis

Advokaat Jan Heunis, president van die Konvokasie van die Universiteit Stellenbosch. Foto: Youtube.com.

Hierdie is ’n verkorte weergawe van dr. Jan Heunis, president van die Konvokasie van die Universiteit Stellenbosch, se toespraak by ’n saamtrek van die Afrikanerbond in Malmesbury op Dinsdag 4 September:

Oor hierdie saak moet ons met mekaar reguit praat.

Wanneer daar nie meer ‘n universiteit is wat Afrikaans as ‘n primêre taal van onderrig gebruik nie, sal dit die begin van die einde van die breër Afrikaanssprekende gemeenskap se kulturele huis wees.

Dit het nie alleen enorme implikasies vir Afrikaans se hoër funksies nie, vir Afrikaans as wetenskapstaal nie, maar ook vir huidige en voornemende studente wat in Afrikaans wou en wil studeer; asook vir primêre en sekondêre skoolonderrig in Afrikaans wat noodwendig sal afneem namate daar nie meer ‘n geleentheid vir tersiêre onderrig in daardie taal is nie. Vir Afrikaanse boeke, koerante en tydskrifte, noem maar op.

Omkring 13 September 2018 op u kalender. Dit is die dag waarop die konstitusionele hof Gelyke Kanse se aansoek om die taalbeleid van die Universiteit van Stellenbosch tersyde te laat stel, sal aanhoor.

Ten spyte van al die versekeringe dat dié beleid nie sou lei tot ‘n noemenswaardige vermindering van die Afrikaanse aanbod nie, is dit ‘n gegewe dat daar van Afrikaans in lesingslokale bitter min oorgebly het en in die administrasie van die Universiteit, feitlik niks.

So seker as wat die son in die ooste opkom, is 13 September 2018 dus D-dag vir Afrikaans. Dit is Afrikaans se quo vadis-oomblik.

In ‘n artikel in Die Burger van 29 Augustus 2018 skryf Christo van der Rheede dat gedeelde waardes die grondslag lê vir ‘n gedeelde visie en dat dit ‘n waardegedrewe en verenigde Afrikaanse gemeenskap is wat die toon moet aangee om die waardes en ideale, soos vervat in ons Grondwet, te respekteer, te beskerm en daaraan uitvoering te help gee.

Maar hy bespeur in sy daaglikse omgang met die Afrikaanse gemeenskap hoe erg verdeeld Afrikaanssprekendes is en dat dit gepaardgaan met ‘n vyandigheid en aggressiwiteit wat simptomaties is van ‘n groter probleem waarvan die wortels diep strek. Hiermee het die geskiedenis en hedendaagse politieke, ekonomiese, kulturele en sosio-maatskaplike uitdagings en onsekerheid waarmee die Afrikaanse gemeenskap gekonfronteer word, veel te make.

Die risiko, sê hy, is dat onderlinge konflik so ‘n destruktiewe impak op die Afrikaanse gemeenskap sal hê, dat dit weldra geen konstruktiewe bydrae meer tot Suid-Afrika se vooruitgang te lewer sal hê nie.

Daarby laat sommige van ons toe dat ons die mond gesnoer word of bly ons sommer uit eie beweging stil, kwansuis asof ons nie geregtig is op ‘n standpunt nie of nie geregtig is om ons standpunt uit te spreek nie – so asof die Grondwet nie ook ‘n dokument van versoening en ‘n nuwe begin is nie.

Volgens Van der Rheede sal die faktore wat die breë Afrikaanse gemeenskap se bydrae ondermyn, geïdentifiseer moet word en ‘n werkbare, regverdige oplossing daarvoor gevind moet word.

Indien hierdie faktore in stryd is met die beginsels soos in die Grondwet vervat, is daar sekerlik ‘n geregverdigde stryd wat ‘n nierassige Afrikaanse gemeenskap kan voer om dit uit die weg te ruim. Dit is vir so ‘n stryd dat ek u oproep. Dat ek ‘n beroep doen op u rede en op u hart.

Min gebeurtenisse het hierdie Van der Rheede-waarhede skerper in fokus gebring as die Universiteit Stellenbosch se besluit om Engels te promoveer tot die primêre onderrigtaal en die gebruik van Afrikaans af te skaal in so ‘n mate dat dit in die praktyk noodwendig daartoe sal lei dat dit kort voor lank sy status as onderrigtaal geheel en al sal verloor.

Hierdie onreg aan die hand van ons taalgenote roep ‘n nierassige Afrikaanse gemeenskap op tot ‘n geregverdigde stryd in ooreenstemming met beginsels soos in die Grondwet verwoord.

Die besluit van die Universiteit Stellenbosch stapel die een skokkende feit op die ander:

  • Die mense wat die proses van verengelsing dryf, is Afrikaans-sprekendes.
  • Hulle doen dit, so argumenteer hulle, ter wille van transformasie, terwyl transformasie en onderrig in Afrikaans nie vreemdelinge vir mekaar, of teenpole, of uitsluitend hoef te wees nie en die breë Afrikaanssprekende gemeenskap dit nie voorstaan of bepleit nie.
  • Hulle weier om na rede te luister, soos wat hulle weier om in ‘n eerlike oop debat te tree met diegene wat van hulle verskil.
  • In die strewe om van die Universiteit ‘n wêreldklas-instelling van uitnemendheid te maak, het die Universiteit Stellenbosch veral in Gauteng en KwaZulu-Natal uitnemende studente gewerf wat verdien om aan so ‘n uitnemende instelling te studeer, met die gevolg dat die getal wit Engelssprekende studente tot so ‘n mate gegroei het dat hul getalle gelyk is aan dié van Afrikaanssprekende studente.
  • En toe, in plaas daarvan om albei tale as gelyke tale van primêre onderrig in te stel, word die transformasieperd ingespan om die afskaling van die Afrikaanse aanbod ter wille van ‘n groter Engelse aanbod te regverdig – so asof die bruin komponent van die Afrikaanse gemeenskap nie ‘n transformasie-aanspraak het nie.

Hierdie is nie ‘n saak vir draadsitters nie. Die geskiedenis gaan diegene wat niks meer gedoen het nie as om die hele proses gade te slaan en miskien meewarig die kop te skud, net so hard oordeel soos diegene in die owerheidstrukture van die Universiteit Stellenbosch wat verantwoordelik is vir die besluite wat tot die vernietiging van Afrikaans as onderrigtaal aan daardie instelling gelei het.

Hierdie is die moment waarop, soos Helen Zille na sommige van ons verwys het, die burgers van die Republiek van Stilte sal moet opstaan om getel te word. Hierdie is nie ‘n saak waaroor u net in u binnekamer met u lewensmaat of langs die braaivleisvuur met u vriende fluistergesprekke kan voer nie. Hierdie is ‘n tot-hier-toe-en-nie-verder-nie-moment vir die ganse Afrikaanssprekende gemeenskap.

Langenhoven het by geleentheid van die Senaatsdebat oor die vervanging van Nederlands as amptelike landstaal met Afrikaans gevra: “As Nederlands julle taal is, waarom praat julle dit nie? As Afrikaans julle taal is, waarom skryf julle dit nie?”

Wat aan die Universiteit Stellenbosch aan’t gebeur is, dring die vraag aan ons op: As Afrikaans julle taal is, waarom gedoog julle hierdie onreg?

Ná al die pleidooie wat op dowe ore geval het, al die debatte waartydens daar nie na rede geluister is nie en die bestuur en die senaat en die raad kop omlaag voortgebeur het om Engels tot uitsluiting van Afrikaans as die US se taal van onderrig ingestel te kry, het daar net een manier oorgebly waarop hierdie dier wat op Stellenbosch los is, oorwin kan word. En dit is deur ‘n beroep op die howe.

Die vraag is dus nie soseer of Gelyke Kanse die saak sal wen of nie. Die vraag is of die breë Afrikaanssprekende gemeenskap kan bekostig om die saak nie te voer nie. Soos met elke goeie vraag word die kiem van die antwoord in die vraag gedra.

Kan u u voorstel watter oordeel die geskiedenis oor ons sou uitspreek indien ons sonder slag of stoot sou toelaat dat Afrikaans as onderrigtaal aan die US te gronde gaan?

Wat soos ‘n paal bo water staan, is dat indien Gelyke Kanse die saak wen, sy werk dán eers sal begin en dat Afrikaanssprekendes daardie organisasie dan sal moet uitbou om toe te sien dat ‘n prinsipiële oorwinning nie wegsyfer in die sand van berekende of onverskillige niksdoen en versuim nie.

Ek het goeie moed dat daar ‘n saak aan die konstitusionele hof voorgehou sal word wat op sterk grondwetlike pilare staan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Johannes ·

Dis so hartseer dat Afrikaanssprekendes doelbewus taalselfmoord pleeg!

Gemaskerde Sopbeen ·

Afrika demokrasie: ‘n Stelsel waardeur die minderheid blankes kan meedoen aan hulle ondergang, en goed voel daaroor, soos in beweging gestel in 1992 deur FW de Klerk en kie. Hierdie land het nie ‘n regering nie…………dit word deur die “howe” regeer, want elke besluit en keuse word voor ‘n hof gedaag en getoets. Gaan kyk bietjie hoe vorder Afrikaanse gemeenskappe in die buiteland……….want daar veg hulle nie teen ‘n oormag nie.

Jerry ·

Daar is n Marais in die kaap wat sit en wag vir julle! Gaan na hom toe, vat sy hand en kry n nierassige Afrikaanse momentum vir die taal. Daarin le die oplossing, nierassige Afrikaans asook nierasige Afrikaners! Vat ook as nierassig CR se hand vir die beskerming van die ander belande, daarin ook le die verdere oplossing.

adriana ·

Die grootste sondebok is die lib De Villiers.
Ek het geen rspek vir hom nie. – Seker in ANC se sak.

Judge Dredd ·

Ondersteun privaat afrikaanse universiteite soos Akademia.
En nie net met geld nie – al hierdie akademiekusse wat Afrikaans wil behou moet aansoek doen en help met kurrikulum ontwikkeling.

Jerry ·

N doelbewuste Solidariteit en forum ondermyningsfoefie is aan die gang om Afrikaanse by alle instansies te laat sneuwel ten einde Afrikaans net by Afri-Forum en Solidariteit instansies aan te bied!

Gerhard ·

Ek wonder nogal hoe hulle so iets kan regkry. Veel eerder val die gematigdes se wiele af en moet iemand die blaam kry.

Hans ·

Het op tv waargeneem en ook gehoor oor radio dat van die personeel van US wat in onderhoude gebruik word net engels gebruik-en dit gebeur in programme wat veronderstel is om afrikaans aangebied te word.

Jerry ·

Jy kan ophou wonder Gerhard, hier is hoe Afri-Forum en Solidariteit dit regkry. Tree polities inkorrek op en vol ondermynende bravade en met onversetlike standpunte wat jy baseer op jou eie weergawe van feite sodat die ander groepe begin om die boere, die Afrikaner en sy belange te teiken en dan begin jy om die ander groepe daarvoor te blameer. Jy misluk om die belange in die breer Suid Afrikaanse gemeenskap te beskerm met opset sodat die belange soos bv taal net beskikbaar raak by Solidariteit en Afri-Forum instansies. Met jou, blameer en weerstandsfoefie, mislei jy die Afrikaner en bemark jy jouself as die enigste alternatief vir die Afrikaner . Lede getalle begin groei, instansies brei uit en Afrikaners dans na jou ideologiese pype en dit is hoekom ek julle slimjanne noem, maar daar kom n tyd dat slim sy baas gaan vang!

Henry ·

Jis ou Jerry, wanneer jy so bekommerd raak oor Solidariteit en Afriforum se suksesse en groeiende ledetalle, klink jy alhoe bekender en bekender…
:-)

Eish ·

Dit is met n beklemming in my hart dat ek my verjaarsdagmaand betree. Ek wil glad nie bygelowig klink nie, maar September gebeur aardskuddende goed. Die tweede wêreld oorlog het op 1 September begin. Die terreuraanslag in die VSA was in September en nou die aanslag op Afrikaans op my verjaarsdag!
Eish!

John ·

Eish, en dan is dit vandag die 11de en jy ken van 1e en dan is ‘n klomp na mekaar erg veral as jy krieket speel. Maar sowieso sal die lente jou gemoed verbeter en die donker koue in die huis verjaag. Dink so daaraan: Jy het sover so baie Septembers oorleef… selfs jou geboortedag. Wat gaan ons in elkegeval sonder jou bydraes doen. Ons staan by jou. Onthou ons ander is in dieselfde bootjie…

dejager ·

Foeitog Jerry.Afriforum is inderdaad die enigste wat opstaan teen die vyande van Afrikaans.Dit is ongelukkig nou bietjie laat om mooi broodjies te bak wat almal terwille is in hierdie land.
Die Afrikaner het nou al só vêr agteroor gebuig dat hy nouself uit die pad rol.
Doen so voort Afriforum.Maak dit nog warmer vir hulle.

JAN ·

Afrikaans is die bedryfsbate / produk van Naspers. Dit het niks te doen met die welsyn van die Afrikaner Boere volk nie.
Dis ń monopolistiese produk. Baie soos Tabak en Dagga bv.
Die mees gesofistikeerde sielkundige propaganda is steeds in Afrikaans. Selfmoord teologie.

Jerry ·

Mnr. Van der Rheede, die faktore wat Afrikaans in die bree Suid Afrikaanse gemeenskap ondermyn is reeds geidentifiseer. Die hoof faktor van ondermyning is Afri-Forum wie die meeste daarby baat dat Afrikaans net by Afri-Forum en Solidariteit instansies aangebied word. Hoe meer Afrikaans in die bree Suid Afrikaanse samelewing sneuwel, hoe beter is die vooruitsigte vir nog selfbeskikking akademias! Deur opsetlik te misluk om sekere belange te beskerm soos taal, word diegene teen Afrikaans, onbewustelik gesterk in hulle kwaad, want die een se dood is die ander een se brood! Die ANC, EFF, UDM, DA en universiteitsowerhede het almal hoek en sinker geval en in Afri-Forum se hand ingespeel. Volgende op die agenda behoort Afrikaanse skole en kerke te wees!

IK ·

Neef Jan skryf:
DIE AFRIKAANSE TAAL.
Die Afrikaanse Patriot,
Waarmé nog baing mense spot,
Sal eenmaal nog baas worre;
Lat hulle spot, lat hulle lag,
Ons beurt kom seker oek een dag,
Van dag nie – dan tog morre

Nou rijm ons lekker, want nou kan
Gên Hollander of Engelsman
Ons met sijn taal vermaak nie;
Ons Afrikaans klink net so mooi,
Lat hulle mar met woorde gooi,
Hull’ sal ons tog nie raak nie.

Want Hollans of oek watter taal
Hull’ oek ons andag bij bepaal,
Ons sal daarna nie hoor nie;
Ons Afrikaans die blij mar baas,
Lat hulle spot, lat hulle raas,
Hull’ kom ons net nooit voor nie.

Nou seg ons in ons eije taal
Die ding ver hulle net so kaal,
Dat hulle niks kan praat nie;
Ons Afrikaans is meer bekwaam
Daartoe as al hull’ tale saam,
Wat ver ons tog niks baat nie.

Gé mar die vuurwa vinnig stoom,
dan hardloop hij dwars deur stroom,
Al staat hul’ nog so dik, ja;
Lat net die vuurwa eenslag skré,
En al wat voor is sal pat gé,
Die ding lat ‘n mens mos skrik, a !

Nou Afrikaners, hou mar stijf,
Ons taal krijg bij die dag meer lijf,
Kom, staat mar algar same,
En werk verenig hand an hand
Ver Moedertaal en Vaderland,
Ons hoop sal nie beskame.

(Afrikaanse Gedigte versameld deur F.W. REITZ, hoofregter in d’Oranje Vrijstaat 1888).

Jerry ·

Foeitog dejager, Afri-Forum se strategiese babbel is gebars. Almal weet nou dat Afri-Forum die aanslag teen Afrikaans heimlik verwelkom, want dit versterk en brei Afrikaans uit by Solidariteit instansies vir nog selfbeskikking Akademias. Hulle gaan seker nou vir die regse navorsingsinstituut in Amerika moet vra vir strategiese aanpassings!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.