Kommando’s sou geweld en plundery gekeer het

Deur Roy Jankielsohn

(Argieffoto: Phill Magakoe/AFP)

Die geweld in KwaZulu-Natal en Gauteng in 2021 wat tot lewensverliese gely het en grootskaalse skade aan infrastruktuur en ons land se ekonomie aangerig het, het weereens beklemtoom hoe swak die besluit was om die kommandostelsel tot niet te maak.

Kommando-eenhede was opgelei, goed toegerus en kon vinnig ontplooi word. Hulle sou baie van die skade wat aangerig is kon keer deur private- en staatsinfrastruktuur te beskerm, padblokkades te beman en die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) onmiddellik met bykomende voete op die grond te kon ondersteun.

Veiligheid en sekuriteit bly ʼn ernstige bron van kommer vir alle Suid-Afrikaners, en veral mense in plattelandse gebiede waar wetstoepassing minder sigbaar is. Dit is egter duidelik dat die regering ná die afskaffing van die kommando’s nie daarin kon slaag om ʼn werkbare alternatief vir burgerlike deelname, veral wat plattelandse veiligheid betref, van die grond af te kry nie.

In sy openingsrede in die parlement in Februarie 2003 het oudpresident Thabo Mbeki aangekondig dat die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) sy territoriale reserwemag binne ses jaar gaan uitfaseer. In daardie stadium het die SANW se reserwemagte uit territoriale reserwes (kommando’s) en konvensionele reserwes (burgermag) bestaan. Daar was binne die kommando’s beide stedelike en plattelandse eenhede.

Die kommando’s het die SAPD met ʼn verskeidenheid van take rondom veiligheid en sekuriteit in veral plattelandse gebiede, maar ook langs ons land se grense ondersteun. Die kommando’s het hulle so goed van hul taak gekwyt dat hulle in sekere gebiede, soos met die bekamping van oorgrensmisdaad, vir die SAPD onmisbaar geraak het. Die SAPD en die konvensionele bene van die SANW het steeds nie die kapasiteit ontwikkel om die veiligheidsleemte wat die afskaffing van die kommandostelsel gelaat het, te vul nie.

Kort voor Mbeki se afkondiging dat hulle afgeskaf gaan word, was die kommando’s tussen 2001 en 23 Junie 2003 in 92 888 aktiwiteite ter ondersteuning van die SAPD betrokke. Hierdie aktiwiteite het onder meer 17 793 plaasbesoeke, 21 654 voetpatrollies, 23 295 voertuigpatrollies,  991  motorfietspatrollies en 976 perdpatrollies ingesluit.

ʼn Voormalige premier van die Vrystaat, Winkie Direko, het die persepsie van die regering oor die kommando’s met die volgende stelling in 2003 in die Vrystaatse wetgewer bekendgemaak: “Kommando’s is sleg vir hierdie land en moet deur ’n meer aanvaarbare polisiëringseenheid vervang word.” Soortgelyke neerhalende opmerkings om die regering se besluit oor die kommando’s te regverdig, is ook deur Mosiuoa Lekota, destydse minister van verdediging, gemaak.

Roy Jankielsohn.

Die kommando’s was ten tye van hulle uitfasering ʼn diverse instelling wat in baie gevalle uit boere en hulle werknemers bestaan het, wat saam opleiding gedoen het en saam patrollies gestap en gery het. Die kommando’s het ook ʼn kernbelangrike rol gespeel om ‘n vrye en regverdige verkiesing in 1994 te bewerkstellig, veral in KwaZulu-Natal waar politieke geweld voor die verkiesing aan die orde van die dag was. Dit is duidelik dat die vooroordele van die regering rondom die historiese rol en naam van die kommando’s hoofredes vir hul negatiewe stereotipering en uitfasering was.

Meer as ʼn dekade na die afskaffing van die kommando’s sukkel die SAPD steeds met beperkte hulpbronne soos onder meer voertuie, toerusting en goed opgeleide, kundige personeel om die veiligheidsleemte wat deur die kommando’s in die platteland gelaat is, te vul. Sektorpolisiëring moes die oplossing vir hierdie leemte wees, maar die SAPD kon hierdie strategie nie oral suksesvol in werking stel nie. Probleme met die implementering van die sektorstelsel sluit onder meer opleiding van polisiereserviste, genoegsame kundigheid en hulpbronne binne die SAPD, die swak implementering van vuurwapenwetgewing, en soms ook gebrek aan belangstelling in.

Die regering moet vir hierdie probleme, sowel as die algehele verval van wet en orde in ons land verantwoordelik gehou word. Veiligheid en sekuriteit is ʼn basiese voorvereiste vir ʼn geordende samelewing en ʼn stabiele ekonomie. Waar ons regering versuim om sy verpligtinge na te kom, sal burgers noodgedwonge stappe moet neem – soos met die onlangse onluste en plundery – om hulle eie veiligheid te verseker en eiendom te beskerm. ʼn Swak regering wat staatsinstellings (wat vir wetstoepassing verantwoordelik is) ondermyn, bly misdaad en politieke onstabiliteit se vernaamste vriend.

Die regering kan die kommandostelsel by die lysie van instellings wat hulle vir die verkeerde redes en met nadelige gevolge vir ons land tot niet gemaak het voeg en my heimwee daarna terugkyk.

  • Roy Jankielsohn is DA-LPW en DA-leier in die Vrystaat.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Hoekom

Goeie artikel

H.A.

# C ANC ER MUST FALL !

Mad Mike die Rhodesiër

Ek stem 1000% saam! Kommando’s is daar om te help met probleme soos wat ons in KZN en Gauteng gehad het. Nou moet buurtwagte en blokwagte die kommando’s se werk doen saam met hul daaglikse pligte om mense en eiendom te beskerm.