Kommunistiese China het genies en nou is ons almal siek

Foto: (Chinatopix Via AP)

Net soos wat baie lande hulself nou teen die Covid-19-pandemie pantser, is die aantal gevalle in die Chinese stad Wuhan, in die Hubei-provinsie, skynbaar onder beheer.

Volgens die owerhede het die virus nou reeds sy hoogtepunt in die Middel Koninkryk bereik en die vordering het aansienlik afgeneem. Nuusberigte blyk dit te bevestig, ofskoon Wuhan steeds op hete kole is en als nie naastenby normaal is nie. Die bereiking van die hoogtepunt is deels die rede hoekom talle Suid-Afrikaners besluit het om in China aan te bly toe die Suid-Afrikaanse regering onlangs sowat 180 mense daar ontruim het.

Mense neig om te vergeet dat hierdie virus sy oorsprong in China gehad het (die presiese oorsprong bly ’n raaisel) en ondanks sekere flinke stappe om dit hok te slaan (soos om hospitale op te rig), is China se vername skuldigheid aan die opkoms van hierdie pandemie onteenseglik. Covid-19 het gewys hoe magtig China geword het, maar dit het gelyktydig ook getoon watter bedreiging sy politieke stelsel is.

Luidens ’n onlangse verslag deur PricewaterhouseCoopers (PwC) oor Covid-19 en die ekonomiese impak daarvan op Suid-Afrika, was China verantwoordelik vir 9% van globale BBP in 2009, toe varkgriep ’n pandemie geword het. Nou is dit al ’n yslike 17%. Dit is tewens toenemend met die wêreldekonomie verbind deur middel van sy sogenaamde Belt-en-Pad Inisiatief (wat ten doel het om groot dele van Asië en ander ontwikkelende streke deur infrastruktuur aan China te verbind) en bestaande handel.

Mense met gesigmaskers loop in die leë strate van Wuhan waar streng noodmaatreëls in plek gestel is. Foto: (Chinatopix via AP)

Dié handelsoopheid is nie gevolg deur ’n oper samelewing nie. En daar is geen beter bewys van die mislukking van sy geheimsinnigheid, gesondheidspraktyke en outoritarisme as Covid-19 nie. Afgesien van die duisende sterftes en besmettings in China, gaan die virus minstens nog duisende mense besmet en laat sterf in ander lande. Dit sal stellig China se ekonomiese groei kniehalter, sowel as die wêreldekonomie en feitlik elke ander land se groei pootjie.

Pleks daarvan om eerlik en opreg te wees oor wat aan die gang is, het China se Kommunisteparty hardhandig te werk gegaan met diegene wat uitgepraat het. Hierdie gebrek aan deursigtigheid het die siekte toegelaat om binne en buite China te versprei en enorme skade te veroorsaak. Intussen het die Chinese regering die wêreld gepaai en miljoene Chinese aan fel toetsing en kwarantynmaatreëls onderwerp nadat Covid-19 uitgebreek en versprei het – tree dus ferm op teen ’n probleem wat jy self geskep het. Dit was ook die enigste manier hoe China die vloei kon keer en ondanks al die innovasie waarmee hulle so spog, kon hulle nie naby aan die ontwikkeling van ’n entstof kom nie of vasstel waar die virus begin het nie. Amerikaanse wetenskaplikes is nou besig om ’n eksperimentele entstof te toets om die besettingskoers te keer.

Die liggaam van ‘n slagoffer van die gevreesde koronavirus word uit ‘n hospitaal Wuhan, China, verwyder. (Foto: Chinatopix via AP)

Soos Tom Rogan onlangs in die Washington Examiner geskryf het: “Die Party se antwoord op die epidemie is een van ontkenning en bedrog, gekenmerk deur die verstrooide lyke. Diegene wat alarm gemaak het, is toegesluit en toe aan die dood oorgelaat. En die wêreld, in weerwil van al die ondraaglike stommiteit van baie Westerse skrywers, is die mees basiese inligting oor die uitbreking van die virus ontsê – inligting wat dalk hierdie, wat tans ’n globale pandemie is, kon voorkom het.”

In die lig hiervan, is dit gepas om skepties te wees oor die jongste gerusstellings deur die Chinese owerhede dat als onder beheer is. The Economist het onlangs hierdie voorbehoude en vrese perfek opgesom: “President Xi Jinping het, as ’n soort segeronde, Wuhan besoek omdat dit daar is waar die pandemie eerste kop uitgesteek het. En tog duur onsekerheid selfs in China voort, want niemand weet of ’n tweede rondte besmettings op pad is soos die kwarantyn verslap word nie.” Desnieteenstaande het die staatsmedia die regering se hantering van die situasie luidrugtige lof toegeswaai, en terselfdertyd alle blaam na die Weste, en meer bepaald Amerika, verskuif.

‘n Sportsentrum in Wuhan is in ‘n tydelike hospitaal omskep. Foto: (Cheng Min/Xinhua via AP, File)

Vir die Chinese leiers is die sterftes in hul land die moeite werd indien die Party en die land se prestige behoue bly. Onder kommunistiese bestelle is mense se lewens afskryfbaar. Individuele en minderheidsregte word afgeskryf ten gunste van die staat se belange en hul verderflike ideologie. Vra maar net die geteikende Oeigoere-gemeenskap en politieke andersdenkendes wat in heropleiding en aanhoudingskampe vergaan.

Ons het so gewoond geraak daaraan om aan China te dink as ’n massiewe land met ’n lofwaardige kultuur, dat ons neig om te vergeet dat hul regering ’n onderdrukkende en verfoeilike regime bly.

Dus, terwyl heelwat ontwikkelende lande probeer om kommunistiese China na te boots om hul ontwikkelingsdoelwitte te behaal, moet hierdie krisis en China se rol daarin nie vergeet word nie. Dit mag dalk die tweede grootste ekonomie ter wêreld wees, maar dit het hierdie status oor die laaste vier dekades bereik te danke aan kapitalisme en handel, en nieteenstaande hul korrupsie en deurdringende totalitêre politieke praktyke tuis en elders.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Eugene Brink

Dr. Eugene Brink is ʼn entrepreneur, sake-konsultant en onafhanklike politieke kommentator.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Johan Venter ·

En twee dae gelede het die Sjinese ambassadeur in Suid-Afrika, Lin Songtian, Sjina se hulp vir Suid-Afrika aangebied om die virus te beveg.

Therese ·

Skitterende artikel waar nie geskroom word om ‘n ding te sê soos dit is nie.
Vir welbekende redes is dit skielik ‘n doodsonde om China te noem as die oorsprong van die virus.
Onsekerheid bestaan dan seker waar die Spaanse Griep van 1918 sy oorsprong het?

Staatshoofde, in koorsagtige wedywering om te beïndruk, en ‘n oorywerige mediakorps wat hulle teen mekaar afspeel, is besig om samelewings oneindig groter skade aan te doen as wat “Die Virus” ooit kon doen.

Senior burgers en mense met swak immuniteit kon beskerm word sonder dat ekonomieë in duie moes stort in die proses. Die gevolge van hierdie histerie gaan astronomies wees.

Pierre ·

Ironies genoeg reken hulle die Spaanse Griep het ook heel waarskynlik sy oorsprong in China gehad. (‘n Chinese mediese ondersoek het natuurlik gese, nee glad nie, dit was glad nie van China af nie)

Die enigste rede hoekom dit die “Spaanse Griep” genoem is, was oor die Westerse lande enige nuus daaroor ge-sensor het, aangesien dit WW1 was en hulle nie die mense wou ontstel nie – met die dat dit oorlog ook nog boonop was.
Spaanse nuus was egter vry om daaroor te rapporteer (hulle was nie betrokke in WW1 nie), en dus het dit die algemene indruk geskep dat dit van Spanje af kom.

Ek stem – die ekonomiese impak van hierdie gaan op die ou end veel erger wees as die siekte self.

Therese ·

Pierre!
Wraggies uitgevang!
Google toe te láát oor die “Spanish Flu”, en was te lui om my fout reg te maak, gedink ek kan daarmee wegkom. :-)

Jaco ·

Skitterende en eerlike artikel Eugene. Die kommunistiese party het reeds met sy agt stappe begin om seker te maak dat niemand, die blaam voor hulle deur gaan plaas nie. Die Amerikaanse hoofstroom media doen reeds hulle werk vir hulle. Selfs die gevreesde rassisme woord is uitgepluk en afgestof deur die tweede magtigste nasie ter wêreld. Soos iemand in Sjina dit egter gestel het, is dit nie die Sjinese of selfs die Wuhan virus nie, maar wel die CCPV oftewel, Chinese Communist Party Virus. My hart gaan uit na die Sjinese wie se lyding net erger word. Soos die 4de Industriële revolusie sy kloue inslaan, gaan hulle en ons egter dieselfde lot deel.

Johan Venter ·

Dr Brink, ek sien vanoggend die druk op gesondheidsorg in die private sektor word al groter, die NGV is nou erg in die visier, en ek haal aan:
1. Die huidige situasie betreffende die NGV is nié aanvaarbaar nie, sê Cyril.
2. Oproepe dat private hospitale deure moet open word al dringender.
3. Die regering het ‘n spesiale regulasie uitgevaardig om die private sektor se hospitale, dokters, verpleërs en toerusting te kan gebruik in die bekamping van die Covid-19-uitbreking. Is hierdie ‘n ‘tydelike’ nasionalisering van private gesondheidsorg?

Eugene ·

Dis baie geldige besware en vrae, Johan. Ek het dit nou al sit en deurdink en dis iets wat my baie ongemaklik maak. Dis dalk iets wat ek in ‘n volgende artikel kan aanspreek. Ek dink hierdie krisis word nou deur die regering aangewend om die private sektor onder sy beheer te bering en die vroee stadium van NGV in te stel. Die openbare sektor is heeltemal onvoorbereid hiervoor, ten spyte van heelwat meningsvormers se oningeligte versekering dat die staat die krisis goed hanteer. Dis nog te vroeg om dit te se en ek dink dis buitendien nie waar nie. Ons moet dus waaksaam wees oor allerlei maatreels wat nou gebruik word onder die dekmantel van Covid-19 en dalk permanent word. Groete, Eugene

Johan Venter ·

Dankie Eugene, ek waardeer. Lees dan ook hierdie, dit nou in teenstelling met hier voor:
Dr Zweli Mkhize het gister die volgende gesê toe hy met die SA Mediese Vereeniging en ander dokters in Pretoria vergader het:
“No-one has got 7 million people who are HIV-positive and many who are on antiretrovirals. No-one has got as much tuberculosis as we have. No-one has got the kind of inequality and spatial inequality and distribution of poverty to one part of the country, with affluence to one side. No-one has got that.
So far, the virus has mostly hit those who are middle-class citizens who can afford private health care.
At least 97% of the patients who have been diagnosed have been from the private sector. I don’t remember anyone that really came from a public hospital or public clinic.”
Waaroor ek wonder is as hy van die middelklas praat, is dit tien teen een daardie persone wat ook die land by wyse van persoonlike inkomste belasting dra en wat ‘n verdere impak op die ekonomie kan hê.

Marthinus W ·

Op Sputnik-nuusdiens is daar `n onderhoud met prof Wanda Markotter van Tukkies, oor die virus. Volgens haar is daar nog geen definitiewe bewys oor waar die virus ontstaan het nie. Sy se dis onverantwoordelik om al die skuld nou op China te pak.

Johan Venter ·

Wat wel ‘n bewese feit is, is dat die episentrum in Wuhan was. (Die res, en wat daar gevind is toe die owerheid toegeslaan het, is berigte wat in die media verskyn het, maar dit was net berigte.)

Therese ·

Met die eerste bekendmaking van die virussterftes in Wuhan was daar absoluut geen twyfel in enige van die hoofstroom-media oor waar die oorsprong is nie.
Dis eers heelwat later dat die ou gunsteling, rassisme, weer onder ons meer linkse vriende sy kop uitgesteek het, en skielik bestaan daar twyfel?
Heel komies, as dit nie so oneerlik was nie.

Anoniem ·

China se geheimhouding oor hoe en waar dit werklik ontstaan het (behalwe die vleismark teorie), asook oor en weer beskuldigings tussen China en Amerika, hulle handelsoorlog en dies meer begin al te veel klink dat die ding êrens deur omies met dik brille geskep is. Op die oomblik is daar net een voordeel trekker uit die hele affêre, al is duisende van hul eie mense dood. Ek glo nie sommer in “conspiracy theories” nie, maar die aangeleentheid begin sy kleure te wys. Die waarheid sal ook seker nooit bekendraak nie, daarvoor het die wêreld te siek geword. Klink amper soos onwaarheid het die nuwe waarheid geword.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.