Konflik in Libië lei tot groeiende internasionale onstabiliteit

Fayez al-Sarraj.
(Foto: AP Photo/Gregorio Borgia)

Dat die wêreldpolitiek steeds meer onstabiel en gevaarlik word, is ’n stelling wat byna nie eens gestaaf hoef te word nie. Naas al die ander brandpunte – Rusland, China, Islamitiese fundamentaliste – het ’n nuwe brandpunt in die laaste tyd na vore getree wat potensieel gevaarlik kan word.

Dit is Libië, waar die burgeroorlog ontwikkel in iets wat byna op ’n wêreldoorlog in die kleine lyk.

Nadat die bewind van die Libiese diktator, kol. Moeammar Ghaddafi, in Oktober 2011 omver gewerp en hy vermoor is, het die land toenemend in ’n chaos en burgeroorlog weggesink. Deur die jare sedertdien was daar verskeie faksies wat met geweld om die heerskappy gewedywer het, maar dit het nou uitgekristalliseer in ’n reguit geveg tussen twee groepe.

Die een is die “amptelike” regering in die hoofstad, Tripoli, wat gelei word deur premier Fayez al-Sarraj en wat as sodanig deur die Verenigde Nasies erken word. Die ander is genl. Khalifa Haftar, leier van die rebellebeweging wat homself die Libiese Nasionale Leër noem, in die tweede stad van die land, Sirte.

As dit nou nog maar net dié twee partye was, was dit el erg genoeg vir die bevolking van Libië, die gras wat deur die vegtende olifante platgetrap word. Die konflik word egter aansienlik vererger deurdat verskeie buitelandse moondhede hulle daarmee bemoei – en dít het potensieel ernstige internasionale implikasies.

Khalifa Haftar. (Foto: AP Photo/Ivan Sekretarev, File)

Aan premier Al-Sarraj se kant staan Turkye en Katar; Haftar word gesteun deur Egipte, Rusland en die Verenigde Arabiese Emirate. Verskeie ideologiese oortuigings en belange loop in die proses in mekaar oor.

Al-Sarraj staan ideologies na aan die fundamentalistiese Islam; Haftar is meer sekulêr georiënteer. Dit is ’n gedeeltelike verklaring vir waarom spesifieke lande een van die twee kante steun.

Turkye word gelei deur pres. Recep Tayyip Erdoğan, ’n magsbeluste politikus wat die fundamentalistiese Islam en Turkse nasionalisme in sy ideologie kombineer. Sy regering het reeds verskeie maatreëls geneem om die ortodokse Moslems tevrede te stel.

Een daarvan was om vroeër vandeesmaand die eeue oue gewese Christelike katedraal in Istanboel, die Hagia Sophia (voltooi in 537), van ’n religieus neutrale museum opnuut in ’n moskee om te skep.

Terselfdertyd droom Erdogan daarvan om van Turkye, soos voor die 19de eeu, weer ’n groot moondheid te maak wat die hele Midde-Ooste domineer. Dus veg Turkse troepe op beduidende skaal in die noorde van Irak en in Sirië.

Fayez al-Sarraj saam met pres. Recep Tayyip Erdogan. (Foto: Turkish Presidency via AP, Pool)

Dis ook deel van die verklaring waarom Erdoğan aktief aan Al-Sarraj se kant in die Libiese burgeroorlog staan deur grootskaalse wapenlewerings aan Tripoli. Hy het ook 15 000 Siriese vegters gewerf wat hy betaal om in Libië te veg.

Aan die ander kant staan Egipte en Rusland, wat die fundamentalistiese Islam as ’n bedreiging beskou. Russiese huursoldate, bekend as die Wagner-groep, veg aan Haftar se kant, en gevorderde Russiese vliegtuie is in die lugruim bo Libië opgemerk.

Ook die Egiptiese parlement het ingestem tot die stuur van Egiptiese troepe oor die grens na Libië.

Maar die religieuse kwessie is maar ’n enkele aspek. Die omgewing van Sirte is ryk aan olie en aardgas – en dus groot rykdomme. Buitelandse moondhede kwyl by die gedagte om dit onder hul beheer te kry.

Pres. Abdel Fattah al-Sisi van Egipte het ’n lyn wes van Sirte op die kaart getrek wat nie ongestraf oorskry mag word nie (twee derdes van Libië se olie en gas lê oos van die linie).

Pres. Abdel Fattah al-Sisi. (Foto: John MacDougall/Pool via AP, File)

Dit stop egter nie hier nie. Die situasie dreig nou ook om Navo te verdeel – en uiteindelik selfs te laat skeur.

Onlangs het Turkse en Franse oorlogskepe byvoorbeeld so amper-amper op die Middellandse See op mekaar geskiet. ’n Turkse konvooi met swaar wapens was in weerwil van ’n VN-wapenembargo na Tripoli onderweg, en toe ’n Franse fregat die Turke konfronteer, het laasgenoemdes hul wapens aggressief op die Fransman gerig (wat toe geretireer het).

Ook Griekeland, Turkye se tradisionele aartsvyand, word by die saak betrek.

Erdoğan se ambisie geld nie net vir die Midde-Ooste nie. Hy wil ook iets anders, wat baie nasionalistiese Turke as ’n vernedering ervaar, uit die weg ruim – die Verdrag van Lausanne.

Dié verdrag is in 1923 onderteken nadat die vervalle Turkse sultanaat deur die sekulêre nasionalis genl. Mustafa Kemal Atatürk omver gewerp is. Daarmee het Turkye afstand gedoen van verreweg die meeste eilandjies langs sy kus, wat onder Griekse heerskappy geplaas is.

Dit krap steeds aan die Turkse psige, en dis een van die dinge wat Erdoğan wil verander. Dus het hy onlangs ’n navorsingskip na die waters rondom die Griekse eilande gestuur, sogenaamd vir wetenskaplike navorsing, maar die Grieke vrees dat hy voorbereidings tref vir ’n aanspraak op die eilande.

Angela Merkel. Foto: (AP Photo/Markus Schreiber)

’n Paar weke gelede was dit net die dringende bemiddeling van die Duitse bondskanselier, Angela Merkel, wat voorkom het dat Griekse en Turkse oorlogskepe (formeel Navo-bondgenote) aanmekaar spring. Duitsland het ook pas aangekondig dat hy ’n fregat na die omgewing gaan stuur om die vrede te help bewaar.

Duitsland en die Europese Unie (EU) het weer hul eie belange wat verdedig moet word. Die chaotiese Libië is tans ’n deurgangsluik vir migrante van verder suid om oor die Middellandse See na Europa te vaar.

Die koms van duisende onwettige migrante na Europa het aansienlike maatskaplike, ekonomiese en politieke probleme vir die gevestigde partye meegebring. Dit is dus iets wat hulle graag wil keer as dit kan, en dus wil hulle die burgeroorlog in Libië soveel moontlik beperk.

Josep Borrell. (Foto: John Thys, Pool Photo via AP)

’n Konflik tussen Griekeland en Turkye kan Navo laat skeur, en dít is dus ook nie in hul belang nie. Die EU se hoofdiplomaat, Josep Borrell, het onlangs ’n dringende beroep op die EU-lidlande gedoen om militêre bates (vliegtuie en skepe) beskikbaar te stel om die wapenembargo teen die vegtende partye in Libië af te dwing.

Dit sal egter ’n botsing met Rusland en Egipte meebring. Rusland gebruik sy elmboë om sy invloed in die Midde-Ooste, wat sedert die einde van die Koue Oorlog dramaties in duie gestort het, te herstel. Die land is reeds op groot skaal in die Siriese burgeroorlog betrokke, en sy rol in Libië word ook al hoe groter.

Hoe nou vorentoe? Dis duidelik dat die konflik in Libië al lank wyer uitkring as bloot dié land, maar dat dit steeds groter internasionale implikasies het.

Dis ’n belangriker wordende bousteen in die groeiende internasionale onstabiliteit waarvan die uiteinde heeltemal onseker is.

 

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Leopold Scholtz

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Piet

Dankie Hillary en Obama vir die Libië gemors. ‘n Hele land vernietig vir die Olie baronne. Selfde wat Trump met Yemen en Bolivia doen. Die mense is regtig deur bose magte beset. Gelukkig het die goeie mense in Venezuala op gestaan en gewen teen die Amerikaanse predatoriese oorlog masjien, anders was hulle net soos Libië. Bid vir die arme mense

Therese

Die “groeiende internasionale onstabiliteit” sal deur die betrokke sondebok-partye opgelos moet word, want die VSA onder president Trump gaan nié, soos sy voorgangers, sy neus ongenooid oral insteek nie.
Angela Merkel het bv. van Erdogan ‘n bondgenoot gemaak tydens die vlugteling-krisis, dalk reeds spyt daaroor, maar hopelik kan dié twee stabiliteit beding?
Die Midde-Ooste bly ‘n nimmereindigende kookpot van konflik, geweld, stof en klippe.
Klaarblyklik floreer hulle daarop?