Konflik raak al hoe giftiger

sirie

Foto: Alexas_Fotos/Pixabay.com

Die wêreld hou al weer asem op vir die soveelste groot konfrontasie in die Midde-Ooste tussen die groot moondhede Amerika en Navo aan die een kant en Rusland en Turkye aan die ander kant. Dié keer is dit bewerings van gifgas wat Rusland en die Siriese regering die afgelope naweek op sogenaamde rebellemagte sou gebruik het. Pres. Donald Trump van Amerika het juis gister gewaarsku dat hy met “alle mag” gaan optree omdat ’n onbekende gifgas in die burgeroorlog gebruik is.

In ’n ander voorval het Engeland altesaam 23 Russiese diplomate uitgeskop omdat ’n voormalige spioen en sy dogter in Brittanje vergiftig is. Ander EU-lande het gevolg en die Russe is nou eintlik geïsoleer, hoewel hulle dit ontken en Brittanje nog geen bewyse kon verskaf nie.

Die kwessie van chemiese- en/of biologiese oorlogvoering is natuurlik niks nuuts in die geskiedenis nie. Op Suid-Afrikaanse bodem was die Boesmans die eerste “oortreders”: hulle het hul pyle in gif gedoop sodat hul teenstanders gouer kon doodgaan. In Angola het Kubaanse magte na bewering gifgasse teen Unita en die Suid-Afrikaanse weermag gebruik. Suid-Afrika is ook daarvan beskuldig, hoewel dr. Wouter Basson tot vandag toe volhou dat hy net teenmiddels teen die gas voorberei het.

Elders ter wêreld is gifgas deur die eeue gebruik. Daar is baie voorbeelde, maar die een wat in die gedagte vassteek, is die sogenaamde Agent Orange wat Amerika tydens die Vietnam-oorlog gebruik het. Dit was onder meer ’n plantdoder wat daarop gemik was om ’n moderne “verskroeide aarde”, soos die Britse troepe tydens die Anglo Boere-oorlog, te veroorsaak. Geen kos nie en die oorlog is klaar! Die Amerikaners het ook glo vroeër tydens oorloë teen die Indiane biologiese wapens gebruik deur komberse, besmet met pokkekieme, aan die plaaslike bevolking uit te deel.

Gegewe die stigma, ten regte, wat daar aan gifgas kleef, is dit geen wonder nie dat Amerika en sy bondgenote die twee voorvalle gekies het om die internasionale bloeddruk teen Rusland op te jaag. Gewoonlik probeer Amerika die taktiek as voorloper tot iets groters: soos in Irak, waar hy Saddam Hoessein van chemiese oorlogvoering beskuldig het, en in Libië, waar Moeammar Ghaddafi uit die kussings gelig en ’n “geen vliegsone” daargestel is om sy magte uit te wis.

Die wêreld weet nou reeds dat daar geen sogenaamde “wapens van massavernietiging” (wat chemiese wapens insluit) in enige van die twee lande was nie. Die taktiek het skouspelagtig geboemerang, Irak is in vodde en miljoene Libiërs vlug nou na die Weste omdat hulle geen toekoms meer in hul eie land het nie. Trump praat van onttrek uit Irak, maar dreig Sirië nou met “streng optrede”.

Gewoonweg sou ek nie soveel aandag daaraan skenk as dit nie was dat Trump geen benul van buitelandse beleid het nie. In stede daarvan maak hy staat op raadgewers wat hy in elk geval elke twee weke vervang. Sy jongste raadgewer oor die Midde-Ooste is John Bolton, wat saam met George Bush se destydse minister van verdediging, Donald Rumsfeld, as die argitekte van die Amerikaanse inval in Irak beskou word. Bolton was toentertyd Amerika se ambassadeur by die Verenigde Nasies. Nou is Bolton terug, en is dit toevallig dat Rusland weer van oortredings van die Chemiese Wapenkonvensie beskuldig word?

Dis nie seker nie, maar wat wel seker is, is dat die Midde-Ooste enige oomblik kan ontvlam. Die konflik kan nie militêr gewen word nie, maar het die potensiaal om miljoene vlugtelinge weer na die Weste te laat stroom.

Wat gaan Amerika dan doen? Sy hande weer in die lug gooi en Gods water oor die Europese akker laat loop?

Wat my verder verstom, is dat baie Suid-Afrikaners nie besef dat hierdie ’n propaganda-oorlog is nie en alles wat die Amerikaners opdis, vir soetkoek opeet. Gooi liewer ’n knippie sout by!

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Tienie Fourie

Tienie Fourie is ʼn oud-joernalis wat Suid-Afrika ook as diplomaat in Londen, New York en Wene verteenwoordig het. Hy het ook in Zimbabwe en China gewerk.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Rupert Ashford ·

Nou van wat is daardie mense dan dood? Trump moet wel onttrek en die sterkmanne in plek los in Sirie. Die gemors daar is ‘n Amerikaanse maaksel danksy Obama (daardie meester van buitelandse beleid?) en die CIA.

Jacques ·

Wie sê daar is mense dood? Die Amerikaners? Die mense en hospitale in die area weet van geen so ‘n aanval nie. Film is deur akteurs gemaak, soos verskeie vorige kere.

Haan ·

“It is easier to fool people, than it is to convince them that they’ve been fooled”
– Mark Twain

Gerhard ·

Ai tog! Nou moet die wat Amerika ondersteun net ophou eensydig wees en vir ‘n slag sien hoe verkeerd hulle is. Die Russe is mos heeltemal onskuldig en as daar konflik tussen die twee is dan moet dit die Amerikaners en Weste wees wat lieg al het nie een van die twee kante bewyse nie. So ook is die Amerikaners verkeerd om in die Midde-Ooste in te meng en die plek beter te probeer maak en die Russe binne hul reg om diktators te ondersteun. Dit is totaal en al die Amerikaners se fout dat die oorlog plaasvind, so lank duur en so baie lewens verwoes. Rusland het niks daarmee te doen nie. En wie is die Amerikaners om ou vyande te probeer omverwerp wat hulle al dekades vyandig gedra, net die Russe mag so iets doen. Ook net die Russe mag ander lande inval en sommer ‘n deel annekseer. Ons weet die Amerikaners het daaroor ook gelieg, dit is bloot toeval dat die Russe daar was toe alles gebeur het. As die Amerikaners nou net eenmaal weggaan uit die Midde-Ooste sal alles vanself regkom net soos wat dit was voor hulle daar begin inmeng het, ons weet mos dit was ‘n paradys sonder enige probleme voor dit gebeur het.

John ·

Nee, dis nie die publiek wat so dom is nie, dit is die joernaliste wat sulke stories opdis en dit dan soos klipharde soetkoek aan ons verkoop. Die vyande van Trump speel ‘n gevaarlike speletjie met verwarrende inligting wat die wereld vol uitgebasuin word. Die gifgas en gif… gif… gif… wat Rusland en Sirie glo so gebruik klink bietjie te veel na wolf, wolf, wolf. Waarom sou Putin voor die verkiesing mense laat vergiftig sodat die vingers na hom moet wys en waarom sal die Siriese leier aanhou om gif teen sy eie mense in te span sodat hy weer onder verdenking kan kom… En Brittanje wat nog nooit ooit enige land beset het of erens oorlog gemaak het nie, gaan nou vir die wereld wys waar almal fouteer. Daar is beserkte mense buite en dit is nie Trump nie. Miskien moet die joernaliste hulself afvra: Is ek nie ‘n handlanger wat ‘n wereldoorlog help aanblaas nie?

Arak ·

Amerika se buitelandse beleid word direk bepaal deur Israel. Israel verkies chaos in die lande rondom hom vir sy eie veiligheid, en beywer hom vir die vernietiging van Iran. Omdat Sirië (Asad) ‘n bondgenoot van Iran is, moet hy waai teen wil en dank. Die hoofstroom media sal die leuen van die gif gasse weereens verkondig (soos laasjaar) tot ‘n vlak van histerie en dan Sirië verder vernietig. Ek is jammer dat Trump hom omring met sulke oorlogsugtiges en tans ook meegesleur word deur die waansin.

Casper Labuschagne ·

Wat ter sprake is, is of Sirië skuldig is aan chemiese oorlogvoering oor die afgelope weke alhoewel Assad al lankal chemiese wapens gebruik; of Rusland bloot die slagoffer van omstandighede is en of Rusland eintlik net optree soos die rugbyspeler wat deur al die ander spelers op die veld geslaan word terwyl die skeidsregter nooit sy onderduimshede teen die ander spelers raaksien nie; en of die Trump regering voldoende ingelig is en oor die vermoë besit om die kaf van die koring te skei.

Vir die gebruik van chemiese wapens in die verlede is Assad skuldig, al was dit dalk nie gedurende die laaste week nie. En vir daardie dade van die verlede kan Assad nie ongestraf bly nie.

Rusland se propaganda is skitterend, maar in elke liewe veld is hulle die vark in die verhaal, vanaf onverklaarde hulp aan Noord Korea, tot direkte inmenging in die Belarus, Ukraïene, Latwieë, Litoue, Kazakstan, die anneksasie van die Krimeense skiereiland, gekonkel in westerse demokrasië asook die gereelde vergiftiging van Russiese uitgewekenes wat vir Poetin durf kritiseer. Sou net helfte van die goed wel Rusland se skuld, verdien Poetin alle kritiek vanaf die weste.

Die eintlike motivering vir die VSA se komende aanval is dat alhoewel ISIS nou verslaan is, het Iran nou ‘n oop roete deur Irak en Sirië na Hezbollah in Lebanon. En nog Israel, nog Saudi Arabië of selfs Turkeie kan of durf waag dat daardie toestand bestaan nie – Assad moet tot ‘n val kom.

Wapenhandel agter als ·

Die rede waaromhulle met alle mag gekant is teen chemiese oorlog is omdat sulke wapens die mag uit die hande van die baie magtige wapenhandelaars hou, en die superrykes wil nie omseil word nie, hulle het baie geld om te maak uit gewone wapens.

Stephan de S ·

Tienie , moet nooit dink dat die lesers nie ook kennis en opinies het oor wêreldgebeure nie. Pasop dat jou oud-diplomaat onderrok van beterweet nie te ver uithang nie. Verder respekteer ek jou bydraes.

Bob ·

Goeie artikel. Al die lande propageer maar hulle eie agendas. Dat Amerika en Engeland oorlog dreig oor n beweerde(geen bewyse sovêr) chemiese aanval is baie verdag. Ek dink die agenda is maar Mag en Geld. Soos bo genoem die strategiese posisie van Sirië en dan natuurlik die oorlogmasjien wat baie geld genereer vir party lande.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.