Konseponteieningswet ongrondwetlik sonder wysiging van Grondwet

Deur Gary Moore

Die Onteieningswet van 1975 magtig die minister van openbare werke om eiendom vir openbare doeleindes te onteien en maak voorsiening vir die betaling van vergoedingsgeld aan die ontneemde eienaar. Sodanige vergoeding moenie die eiendom se markprys, soos tussen die regering en die eienaar ooreengekom of soos deur ’n hof bepaal, oorskry nie.

Die Grondwet van 1996 sê ’n eiendom kan kragtens ’n “wet van algemene toepassing” vir openbare doeleindes of in die openbare belang (onder meer vir grondhervorming) onteien word, onderhewig aan die betaling van vergoeding ten bedrae van ’n som geld waarop die betrokkenes ooreenkom, of soos deur ’n hof beslis.

Die vergoedingsbedrag, sê die Grondwet, moet billik en regverdig wees en ’n redelike balans weerspieël tussen die openbare belang en die betrokkenes se belange, met inagneming van alle tersaaklike omstandighede, onder meer bepaalde omstandighede wat gelys word.

In 2020 het die minister ’n konseponteieningswet ter tafel gelê wat bedoel is om die wet van 1975 te vervang met een wat dié wet grotendeels herhaal, maar klousules bevat wat bepalings van die Grondwet in ag neem.

Die konseponteieningswet van 2020 herhaal in breë trekke soortgelyke bepalings as die wet van 1975, wat lui dat as die minister dit oorweeg om eiendom te vervreem, sy aan ’n inspekteur magtiging kan verleen om ’n spesifieke eiendom te betree ten einde die geskiktheid en die waarde daarvan te bepaal.

Waar die wet van 1975 sê dat waar die bewoner van die eiendom nie daartoe instem dat die inspekteur ’n gebou op die grond betree nie, die inspekteur dit wel na ’n kennisgewingstydperk van 24 uur kan doen, lui die konsepwet egter (ter erkenning van die grondliggende reg op waardigheid en privaatheid) dat as die bewoner nie vir die betreding en inspeksie toestemming gee nie, die regering verplig is om ’n hofbevel te verkry wat toegang magtig.

Soos die wet van 1975, sê die nuwe konsepwet (effens aangepas) insgelyks dat die feit dat die eiendom sonder instemming vervreem is nie in ag geneem moet word by die berekening van die vergoedingsbedrag wat vir die eiendom betaalbaar is nie, so ook nie enige verbetering of vermindering in die waarde daarvan wat toegeskryf kan word aan die doel waarvoor dit onteien is nie.

Die konsepwet herhaal dan die woorde van die eiendomsklousule in die Grondwet dat die vergoedingsbedrag billik en regverdig moet wees en ’n redelike balans moet weerspieël tussen die openbare belang en die betrokkenes se belange, met inagneming van alle tersaaklike omstandighede.

Die konsepwet van 2020 gaan dan ’n stap te ver om steeds, soos in die Grondwet voorsien word, ’n “wet van algemene toepassing” te wees. Die wetsontwerp bevat naamlik ’n klousule wat probeer uitstippel presies wanneer dit billik en regverdig kan wees om geen vergoeding te betaal nie. Die klousule lui dit kan billik en regverdig wees om nulvergoeding te “betaal” in gevalle “waar grond in die openbare belang onteien word”.

Die klousule noem dan presiese omstandighede wat as tersaaklik geag word, en wat in aanmerking geneem moet word om te bepaal wanneer dit billik en regverdig kan wees om nulvergoeding te “betaal” wanneer grond in die openbare belang onteien word.

Die omstandighede wat genoem word, is soos volg (effens verkort):

  • waar die grond in onbruik is en die eienaar se hoofdoel nie is om dit te ontwikkel of aan te wend om inkomste te genereer nie, maar om uit ’n appresiasie van markwaarde voordeel te trek;
  • waar ’n instelling van die staat grond besit wat sonder teenprestasie verkry is en dit nie gebruik om sy kernfunksies te verrig nie en dit redelik waarskynlik nie vir daardie funksies sal benodig nie;
  • waar die eienaar afstand gedoen het van die grond deur te versuim om beheer daaroor uit te oefen;
  • waar die markwaarde van die grond gelyk is aan of laer is as die huidige waarde van die staatsinvestering of subsidie in die verkryging van die grond of die kapitale verbetering daarvan; en
  • wanneer die aard of toestand van die eiendom vir ander persone of ander eiendom ’n gesondheids-, veiligheids- of fisieke risiko inhou.

Dit is egter nie die reg of plig van hierdie klousule van die 2020 konseponteieningswet of enige wet van die parlement om te spesifiseer onder watter omstandighede dit billik en regverdig kan wees om nulvergoeding te “betaal” nie.

Dit is nie die wetgewende gesag se reg of plig om te sê hoe die howe in spesifieke gevalle die Grondwet se eiendomsklousule moet vertolk nie, en die Grondwet voorsien ook nie dat die wetgewer dit kan doen nie.

Hierdie klousule in die konseponteieningswet maak inbreuk op die skeiding van magte wat implisiet is aan die Grondwet.

Die skeiding van magte dui nie op ’n rigiede afbakening van funksionele rolle tussen die regsprekende en wetgewende owerheidsvertakkinge nie. Maar, sê die Konstitusionele Hof, dit is nodig dat elke sodanige vertakking van die regering versigtig moet wees om nie in te meng by ’n operasionele ruimte wat ingevolge die Grondwet aan ’n ander vertakking toegewys is nie.

Die Grondwet voorsien dat die hoër howe oor konstitusionele sake sal besluit. Of die hoeveelheid vergoeding wat vir ’n onteiening aangebied word ’n billike en regverdige bedrag is, is juis so ’n konstitusionele aangeleentheid.

Dit is buite perke as die wetgewer op die howe se domein inbreuk maak deur omstandighede voor te skryf waaronder nulvergoeding billik en regverdig sal wees, tensy ’n konstitusionele wysiging goedgekeur word wat die eiendomsklousule in die Grondwet verander om sodanige wetgewing toe te laat.

Inderdaad was daar onlangs ’n poging om juis so ’n wysiging aan die eiendomsklousule in die Grondwet aan te bring, maar die poging het misluk. ’n Konsepwysigingswet van 2021 wou die eiendomsklousule verander om te bepaal dat waar grond en die verbeterings daarop vir grondhervormingsdoeleindes onteien word, die vergoedingsbedrag nul kan wees, en dat wetgewing die omstandighede moet uiteensit waaronder nulvergoeding betaalbaar kan wees. Die wysigingswetsontwerp kon egter nie die vereiste ja-stem van twee derdes van die lede van die Nasionale Vergadering behaal nie en het gevolglik verval.

In dié omstandighede is die konseponteieningswet van 2020, wat probeer stipuleer wanneer dit billik en regverdig kan wees om nulvergoeding te betaal, ongrondwetlik en ongeldig, en die Nasionale Vergadering se portefeuljekomitee oor openbare werke behoort die klousule dienooreenkomstig uit die wetsontwerp te verwyder.

  • Gary Moore is ʼn senior konsultant by die Vryemarkstigting.

Die menings wat in die artikel uitgespreek word, is dié van die skrywer en word nie noodwendig deur lede van die Stigting gedeel nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

annie ·

Boere moet gou doenlik vir hul sensusvorms op internet registreer en rustig tuis voltooi. Dit bevat algemene en persoonlike vrae en ander spesifiek gerig aan boere oor wat, waar en hoeveel. Vir navrae en vir veiligheid is ‘n gratis nommer beskikbaar ook tov die identifikasie van sensusopnemers.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.