Konserwatiewes se voorsprong in Britse verkiesing raak kleiner

Theresa May (Foto: Steve Parsons/PA via AP)

Sedert Theresa May skielik verlede jaar eerste minister van Brittanje geword het, het haar gewildheid bly toeneem en word sy deur politieke kommentators met die ystervrou Margaret Thatcher vergelyk. Met ’n sak vol politieke kapitaal het May op 18 April vanjaar die skokkende aankondiging gemaak dat Britte op 8 Junie in ’n vervroegde verkiesing sal moet gaan stem. Die volgende Britse verkiesing was veronderstel om eers in 2020 plaas te vind.

May se strategie was duidelik: Sy en haar Konserwatiewe Party se steun was aan die toeneem terwyl die Arbeidersparty erg verdeeld was met hul leier Jeremy Corbyn wat net te ekstreem links is en nie daarin kon slaag om die Arbeidersparty agter hom te verenig en veral werkersklaskiesers uit die politieke sentrum binne die party te hou nie.

May se besluit om ten spyte van beloftes dat sy nie ’n vroeë verkiesing sal uitroep nie, wel so te maak is toenemend as ’n meesterlike skuif gesien. Teen laat April het mense begin voorspel dat die Konserwatiewe Party sy klein meerderheid in die Britse parlement aansienlik sou uitbrei. Die Thatcher-vergelyking is weer gemaak.

Thatcher was sekerlik een van die suksesvolste eerste ministers wat Brittanje nog gehad het. In 1979 het sy haar party tot ’n reuse-oorwinning by die stembus gelei. Die party se parlementslede het met 62 toegeneem. In die verkiesing van 1983 het sy op die sukses van 1979 voortgebou en het die Konserwatiewe Party se parlementêre koukus met nog 37 lede aangevul.

May het nog geen verkiesing as eerste minister van Brittanje gewen nie. Hoewel haar styl, briljante intellek, vermoë om moeilike politieke vrae te antwoord en meer populistiese vorm van konserwatisme oor die afgelope paar maande tot baie kiesers gespreek het, moet sy nog by die stembus getoets word.

May en die Konserwatiewe Party se gewildheid die afgelope paar maande is veral veroorsaak deur die Verenigde Koninkryk Onafhanklikheidsparty, ook bekend as UKIP, wat in duie gestort het nadat dié party sy bestaansdoel, Britse uittrede uit die Europese Unie, verwesenlik het. UKIP het nog in die vorige verkiesing vier miljoen stemme getrek, meestal mense wat andersins vir die Konserwatiewe Party sou stem. Verder het die Arbeidersparty se binnegevegte en Jeremy Corbyn se ekstreem linkse standpunte baie gemagtigde werkersklaskiesers na May se sagter, omgee-tipe konserwatisme getrek.

Volgende week se vervroegde verkiesing is dus die grootste geleentheid in baie jare vir die Konserwatiewe Party om ’n sterk meerderheid in die Britse parlement daar te stel. ’n Gewilde eerste minister en verswakte opposisiepartye behoort tot ’n groot swaai na die konserwatiewes aanleiding te gee.

Tog wys peilings wat oor die afgelope paar dae gedoen is presies die teenoorgestelde. Die Arbeidersparty is besig om in te haal en die gaping tussen dié party en die Konserwatiewe Party word vinnig kleiner. Intussen het May ’n reeks foute begaan en moes sy oor verskeie kwessies haar standpunt verander.

Indien die Konserwatiewe Party volgende week swakker as verwag doen, iets wat toenemend waarskynlik lyk, sal May nie soos Thatcher as ’n ystervrou wat Brittanje in ’n nuwe era ingelei het, onthou word nie, maar eerder as die eerste minister wat ’n baie groot kans deur haar vingers laat glip het.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Nico K ·

Ek is nie seker of die meeste Britte so seker is dat die onttrekking uit die EU so goeie ding was nie. Onthou die meerderheid in daardie referendum was bitter klein. En dalk begin van hulle twyfel.

Eish ·

Ek dink jy het n punt beet. Snaaks hoe die geskiedenis hom herhaal. Dis bykans soos by ons in die negentigs met die FW wigte en teenwigte referendum. Meerderheid het ja gestem, meerderheid kla nou soos mannetjieskat op volmaan.

Leendert ·

Dit sal baie jammer wees as sy, deur haar eie toedoen, met haar reeks foute in die pylvak, ‘n baie groot kans deur haar vingers sou laat glip. Die wêreld het weer ‘n persoon met die statuur van ‘n Margaret Thatcher nodig.

Jammer ook van Merkel se blapse, die twee vrouens in dieselfde tyd op die wêreldverhoog, kan nogal ‘n verskil maak.

Gideon ·

Die uitslag sal ‘n goeie aanduiding wees hoe akkkuraat meningpeilings is, ook hoe geloofwaardig die hoofstroom media en kommentators in die Engelssprekende Europese kultuur is.

Glenn Baard Namibia ·

Die Britte moet maar maai wat hulle saai. Die Liberaliste is besig om die hele Weste te verwoes.
Ek het geen simpatie met die Britte nie en dit gaan my verstand te bowe dat kiesers nog die ver linkse Arbeidersparty met n idioot soos Jeremy Corbyn ondersteun.
Hulle voer die terroriste in en wonder wat is verkeerd as n bom ontplof. Die vlag van radikale islam wapper reeds lankal oor Brittanje.
Ek dink Churchill het al lankal sy kis gevat en geloop.

Nee wat kry vir julle.!

Brian ·

May is nie Thatcher se voetsole werd nie.

Daardie vergelyking kan eenvoudig nie getref word nie.

Verder moet die Tories ophou om hulself as konserwatief te beskryf. Hulle is al jare lank nie meer nie. Labour-lite is meer toepaslik.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.