Konvensionele- versus kernterreur

Die terreur-aanvalle op 11 September 2001 op die World Trade Center in New York. Foto: Wikipedia

Elke terreuraanval is inderdaad betreurenswaardig. Data vanaf die Globale Terreurdatabasis (GTD) wys daarop dat ongeveer 191 464 terreuraanvalle vir die tydperk 1970-2018 aangeteken is. Dié uiters hoë syfer moet egter in perspektief geplaas word. Uit ʼn totaal van 191 464 terreuraanvalle, het slegs 154 hiervan (oftewel 0,12%) 100 of meer lewens geëis en is slegs 7 011 (oftewel 3,66%) van dié aanvalle by wyse van selfmoordbomaanvalle, ʼn metode wat dikwels vrees onder Jan Publiek en regeringshoofde inboesem. Voorts is terreur vir minder as 0,01% van alle wêreldwye sterftes verantwoordelik.

Gedurende 2017, byvoorbeeld, was terreur vir slegs 0,05% van alle wêreldwye sterftes verantwoordelik. Konvensionele terreur, dit is terreur onder die kern-, biologiese en chemiese drumpel, is ongetwyfeld ʼn weerbarstige probleem, maar is beswaarlik die eksistensiële krisis wat dikwels deur die media, politici en sommige kenners uitgewys word. Hoewel konvensionele terreur hoog op die agenda van regeringshoofde en staatsamptenare is, word kernterreur dikwels (myns insiens, verkeerdelik) uitgebeeld as die belangrikste veiligheidsbedreiging vir state. Dít is veral die geval onder Westerse regerings.

Die skrikbeeld van kernterreur is byna so oud soos die kernera self. Reeds sedert 1946 waarsku die kernbomontwerper, J. Robert Oppenheimer, dat indien ʼn paar individue dit sou regkry om komponente van ʼn kernwapen in te smokkel, New York vernietig kan word. Op sy beurt, waarsku Theodore Taylor, ʼn kernfisikus, in 1976 dat dit uiters maklik sal wees om kernmateriaal te steel en ʼn kernbom te vervaardig. Vandag word ons al te dikwels gewaarsku dat kernterreur maklik is en wat meer is, dat dit uiters maklik vir terreurgroepe is om kernwapens te steel, te koop of self te vervaardig.

Dié prentjie, een wat eerder herinner aan ʼn Hollywood-draaiboek, strook egter nie met die werklikheid nie. Trouens, terreurgroepe het tot op hede weinig belangstelling getoon (en selfs minder vooruitgang) om ʼn kernwapen te bekom. Daar bestaan weinig bewyse dat Al-Kaïda – oënskynlik die toonbeeld van ʼn terreurgroep met kernwapenambisies – werklik ʼn begeerte gehad het om ʼn kernwapen te bekom of om vooruitgang te maak om hierdie doel te bereik.

Met dit in gedagte, vermeld Anne Stenersen, ʼn navorsingsgenoot aan die Noorweegse Instansie vir Verdedigingsnavorsing (FFI), dat inligting wat vanaf ʼn Al-Kaïda-rekenaar herwin is, aandui dat laasgenoemde groep slegs sowat $2 000 – $4 000 vir navorsing oor massavernietigingswapens begroot het, en als daarvan vir chemiese en biologiese wapens. Hierteenoor het Aum Shinrikyo, die Japannese terreurgroep verantwoordelik vir die chemiese aanval op die ondergrondse spoorwegstelsel in Tokio (1995), meer as $30 miljoen net vir hul sariengasprogram begroot.

Die spore van optimisme oor die onwaarskynlikheid van kernterreur lê egter veel dieper as bloot die argument dat terreurgroepe weinig belangstelling in kernwapens het. Wat gee dus rede tot hierdie optimisme? Daar bestaan drie maniere hoe terreurgroepe hulself tot kernwapens en, vervolgens, kernterreur kan wend: eerstens kan hulle ʼn kernwapen van ʼn goedgesinde staat kry; tweedens kan hulle ʼn kernwapen deur diefstal of sluikhandel bekom; en laastens kan hulle poog om hul eie kernwapen te vervaardig. Deur oorweging aan elk van dié maniere te skenk, sal ons sien dat die skrikbeeld van kernterreur uiters oordrewe is.

Sedert die gebeure van 11 September 2001 (hierna: 9/11), het die vrees dat terreurgroepe ʼn kernwapen vanaf ʼn goedgesinde staat sal ontvang, met rasse skrede toegeneem. Veral sogenaamde skurkstate, dié wat konvensionele internasionale gedragstandaarde verwerp, sal dit oënskynlik moeilik vind om nie kernwapens aan terreurgroepe oor te dra nie. Staatsondersteuning van kernterreur gaan egter met ontsaglike risiko’s gepaard – en elke kernstaat sal dit terdeë besef. Dit is ongetwyfeld die geval dat state hulself sal wil vrywaar van die risiko om die blaam en straf vir die kernmisdade van ʼn terreurgroep te dra. Meer belangrik, soos Keir Lieber en Daryl Press uitwys, “nóg ʼn terreurgroep nóg ʼn staat wat sodanige groepe van kernwapens voorsien, sal daarin kan slaag om anoniem te bly ná ʼn kernterreuraanval”.

Waarom is dit die geval? Eerstens bestaan daar ʼn uiters sterk verband tussen die aantal sterfgevalle weens konvensionele terreuraanvalle en die waarskynlikheid van toeskrywing (‘attribution’). Kortom, hoe hoër die sterftesyfer tydens terreuraanvalle, hoe hoër die waarskynlikheid dat die skuldige geïdentifiseer sal word. Toeskrywingskoerse styg namate die dodetal styg. Tweedens, indien state terreurgroepe ondersteun deur ʼn kernwapen aan hulle oor te dra en dié groepe die betrokke kernwapen gebruik, sal die skuldige staat maklik geïdentifiseer kan word. Dit is geen geheim watter terreurgroepe deur watter state ondersteun word nie. Voorts wys John Mueller dat indrukwekkende vordering gemaak word in die forensiese ondersoek na die gebruik van kernwapens, soveel so dat die oorsprong van kernmateriaal nadat ʼn kernbom ontplof het byna moeiteloos met die bron daarvan verbind kan word.

ʼn Tweede manier vir terreurgroepe om ʼn kernwapen te bekom, is deur diefstal of sluikhandel. Post-kommunistiese Rusland word dikwels voorgehou as die plek by uitstek waar kernmateriaal en kernwapens maklik bekombaar is, hetsy deur diefstal of sluikhandel. Daar word vandag egter aanvaar dat die oënskynlike probleem van maklik bekombare kernmateriaal en kernwapens in post-kommunistiese Rusland uiters oordrewe is.

Stephen Younger, ʼn voormalige direkteur van navorsing en ontwikkeling oor kernwapens van die Los Alamos Nasionale Laboratorium in die Verenigde State van Amerika (VSA), het tot die volgende slotsom gekom: “It is probably true that there are no ‘loose nukes’, transportable nuclear weapons missing from their proper storage locations and available for purchase in some way”. Voorts wys John Mueller dat vrese oor die plundery van verrykte uraan ook uiters oordrewe is. Tot op hede is daar slegs sowat 7 kilogram verrykte uraan geplunder (ʼn kernontploffing vereis sowat 45 kilogram) en dít deur terreurgroepe met geen bande met groepe soos Al-Kaïda nie. Hoewel ʼn ander prentjie dikwels in die media geskets word, is kernstate uiters ernstig oor die veiligheid van hul kernarsenaal.

ʼn Derde manier vir terreurgroepe om ʼn kernwapen te bekom is om self een te vervaardig. Die afgesaagde Hollywood-draaiboek oor ʼn terreurgroep êrens in ʼn kelderverdieping in (gewoonlik) New York en druk besig om ʼn kernwapen te vervaardig, strook geensins met die werklikheid nie. Die tegniese ontwerp van kernwapens gaan die kennis en vaardigheid van alle terreurgroepe te bowe. Maar: wat van almal se geliefde vriend, Google, wat ʼn rykdom aan inligting het? Hoewel die internet volgens Christoph Wirz en Emmanuel Egger, twee senior kernfisici verbonde aan die Spiez-laboratorium in Switserland, uiters interessante en korrekte inligting oor die fisika en tegnologie van kernwapens verskaf, is dié inligting onvoldoende om ʼn kernwapen te vervaardig. Trouens, die slotsom van Wirz, Egger en Younger se argumente is dat die vervaardiging van ʼn kernwapen deur ʼn terreurgroep haas onmoontlik is.

Gegewe die ontsaglike struikelblokke wat terreurgroepe moet oorkom ten einde hul tot kernterreur te wend, is dit nie miskien moontlik dat kernterreur die vorm van ʼn sogenaamde vuil bom (‘dirty bomb’) kan aanneem nie? Anders as kernwapens, gebruik dié bomme (ook bekend as stralingsverspreidingstoestelle) dinamiet of enige ander beskikbare konvensionele springstof om radioaktiewe materiaal te versprei. Soos Robert S. Litwak korrek uitwys, dié bomme vereis nie verrykte uraan nie, maar kan van ander radioaktiewe bronne (onder andere sesium of stronsium) gebruik maak. Beide sesium en stronsium word in die handel of in hospitale gebruik. Hoewel modelle oor die aantal sterfgevalle weens ʼn vuil bom verskil, is kenners dit eens dat, ondanks wat wyd aanvaar word, stralingsverspreidingstoestelle nie massavernietigingswapens is nie.

Wat volg vanuit hierdie analise? Vier punte, hoofsaaklik: een, terreurgroepe het weinig ʼn werklike begeerte om kernwapens te bekom; twee, state wat terreurgroepe ondersteun deur kernwapens oor te dra, sal nie anoniem bly indien dié groepe ʼn kernwapen gebruik nie; drie, terreurgroepe wat hulle tot kernterreur wend, sal nie anoniem bly nie; en vier, die verkryging van ʼn kernwapen deur terreurgroepe, hetsy deur diefstal, sluikhandel of selfstandige poging, is haas onmoontlik. Konvensionele terreur is ʼn weerbarstige probleem in die internasionale politiek; kernterreur, hierteenoor, is nouliks een om mee te begin.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Eben Coetzee

Dr. Eben Coetzee is ʼn senior lektor aan die Universiteit van die Vrystaat se departement vir politieke studie en regeerkunde.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.