Koronavirus: dis die tyd van totalitêre regering

Bheki Cele. Foto: Kopano Tlape/GCIS

Die nuwe koronavirus, Covid-19, het wêreldwyd aan staatsleiers, ook dié wat demokraties verkies is, die geleentheid gegee om hul ware kleure te wys – en in die proses beleef die wêreld sekerlik die grootste fase van totalitêre regering sedert die Tweede Wêreldoorlog.

Absurde reëls

In Suid-Afrika kan ons maar net die kop skud oor die absurde reëls ten opsigte van ons persoonlike vryhede met die afsonderingsmaatreëls wat skielik ingestel is. Dit is die laaste paar weke skielik onwettig (vir die meeste mense) om te gaan werk, met jou hond op straat te gaan stap of ’n legkaart te koop. Van die maatreëls is uitsonderlik onredelik en ons sal seker nog baie jare wonder hoe het beheersugtige ministers soos Bheki Cele en Fikile Mbalula dit reggekry het om oornag soveel mag te bekom om oor ons daaglikse bestaan besluite te neem.

Dit is uiteraard nie net inbreuk maak op ons vryheid nie, maar dis ook kommerwekkend dat sulke vryhede sommer net van ons ontneem kan word. Suid-Afrika is natuurlik nie die enigste land wat hierdie tipe drakoniese reëls en regulasies ingestel het nie. Bykans alle regerings het een of ander vorm van inperking van mense en hul vryhede aangekondig en afgedwing om die virus te bekamp.

Selfs die VSA, wie se staat gebou is op persoonlike vryhede, het erge inperkings in ’n mindere of meerdere mate in verskillende deelstate afgedwing. Alles natuurlik in belang van die beheer oor die Covid-19-virus, maar die gelate aanvaarding van landsburgers van sulke inperkings sal sekerlik nog jare bespreek word. Terloops, oor die sukses of mislukking van die inperkings sal daar seker ook nog groot debatte gevoer word.

Toe die kommunistiese Chinese regering hier teen einde Januarie sulke inperkings ingestel het, het die res van die wêreld met skok gestaar na die Chinese se totalitêre beheermaatreëls en vertrapping van menseregte. Net om self ’n paar weke later deur dieselfde proses te gaan en basies in polisiestate te verval. Nie eens Nazi-Duitsland of die Sowjetunie het (in buite-oorlogse tye) mense so ingeperk en bronne van inkomste so beheer nie.

Totalitêre magte gedy

Benjamin Netanyahu. (Foto: Abir Sultan, AP)

Dit is nie net bewegingsvryhede wat in die proses vertrap word nie. In baie lande is persvryheid, opposisie teen regerings of enige kritiek terselfdertyd gesmoor of erg ingeperk. Dit sluit in lande soos Thailand, Bangladesj, Turkye en Egipte, om maar ʼn paar te noem. Geen kritiek of opposisie word toegelaat nie. Op die koop toe het die meeste lande misdadigers vrygelaat uit tronke, meestal weens tronke se oorbevolking, wat op die medium termyn die verarming wat die koronavirus gaan meebring, in ʼn ernstige misdaadprobleem gaan laat ontaard.

Staatsleiers in demokratiese lande, soos eerste minister Viktor Orbán van Hongarye, die Filippyne se president, Rodrigo Duterte, en Israel se Benjamin Netanyahu het vinnig die magte van hul parlemente ingeperk en hul regeer nou met dekrete terwyl hul veiligheidsmagte amper ongekontroleerde magte bekom het.

Ander regeringsleiers het weer die koronavirus-uitbreking aangegryp om protes op te skort of hul eie politieke posisies te versterk. So het Rusland se Wladimir Poetin ’n grondwetlike verandering aangekondig wat dit moontlik maak om nog langer as ’n dekade as die Russiese president aan te bly.

China het die protesbeweging in Hongkong, wat die Chinese regering se grootste politieke uitdaging sedert die Tiananmen-plein-proteste in 1989 is, in die kiem gesmoor en Frankryk se president Emmanuel Macron het die geelbaadjie-beweging (gilet jaunes) se weeklikse gewelddadige betogings – wat vir meer as ’n jaar ’n instelling in Frankryk se grootste stede geword het – eenvoudig verbied.

Ook in Indië het eerste minister Narendra Modi protesoptogte oor sy anti-Moslem-praktyke gesnoer.

Selfs verkiesings bly in die slag. Minstens 47 lande het reeds presidensiële-, parlementêre-, deelstaat- of plaaslike verkiesings uitgestel. Terwyl Westerse lande soos Pole (wat in Junie verkiesing moet hou) en Suid-Korea (wat op 15 April reeds hul parlementêre verkiesing gehou het) se verkiesings voorgaan, het ongewilde regerings in Afrika die geleentheid benut om verkiesings op te skort. Ethiopië het reeds vroegtydig sy nasionale verkiesings van einde Augustus uitgestel en Malawi se regering poog om die verkiesing wat voor Julie moet plaasvind, te systap.

In die VSA gaan president Donald Trump vir Joe Biden die stryd aansê in November se presidensiële verkiesing en daar kom ’n groot stryery oor hoe mense kan stem. Die Demokrate het reeds begin mor dat posstemme uitgebring moet word (wat hulle gaan bevoordeel), terwyl Trump enige sulke pogings toeskryf as ’n poging om verkiesingsbedrog te pleeg. In Westerse demokrasieë kan lae stempersentasies sulke verkiesings erg beïnvloed.

Magsmisbruik volg

Lede van die polisie en weermag op patrollie tydens die staat van algehele afsondering. (Foto: SA Weermag/Twitter)

Die verlies van regte deur bevolkings is ’n gevaarlike tendens wat tydens die Covid-19-krisis plaasvind, aangesien baie regerings die geleentheid misbruik om politieke opponente by te kom, hul eie mag eenvoudig uit te brei of bevolkings sommer net te boelie. Soos ons al in die verlede gesien het, is dit daarna moeilik vir regerings om hierdie nuutgevonde magte weer op te gee. Die Covid-19-krisis is natuurlik die ideale geleentheid om staats- en totalitêre beheer uit te brei. Enige aksie word in die naam van beskerming van die bevolking teen die virus gedoen en die landsburgers moet maar daarby inval of gearresteer word. Aangesien regerings van Westerse lande self sulke maatreëls instel, kan hulle kwalik vinger wys na magsmisbruike in ander lande.

In ’n ordelike samelewing is hierdie situasie reeds ʼn uitdaging, maar in lande waar magsmisbruik maklik plaasvind, kan ons ’n nuwe era ingaan waarin die staat se magte uitgebrei word en die burgers aan die kortste ent trek. In min lande het bevolkings hulle op die regspraak beroep om hul regte te beskerm. Daarmee saam het veral ontwikkelende lande ernstige krisisse op hande weens die impak van die ekonomiese verarming wat noodwendig gaan volg op die inperkings en wêreldwye ekonomiese resessie. Dit kan weer lei tot groter politieke onstabiliteit en protesaksies as gevolg van verlies van werk of ’n skaarste na hulpbronne soos voedsel, geld of kommersiële produkte.

Moenie verbaas wees as mense se vryhede wêreldwyd nog vir maande of selfs jare ingeperk gaan word wees die koronavirus nie.

 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Nico Stegmann

Nico Stegman is ’n onafhanklike skrywer met 30 jaar ondervinding in navorsing en analise oor diplomatieke en internasionale aangeleenthede.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

7 Kommentare

jongste oudste gewildste
James

Meer mense moet Frederic Bastiat se pamflet “La Loi” – Die Reg – gaan lees. Vryelik beskikbaar op die internet in die Engelse vertaling: “The Law”.

Sodra jy dit gelees het – sal jy verstaan dat die meesste regerings in die wereld hul magte oorskry.

Maria

Ek dag Rusland se Wladimir Poetin het ’n grondwetlike verandering aangekondig lank reeds voor die pandemie. Die manier hoe lande se leiers hierdie krisis hanteer gaan nog vir baie spekulasie en interessante statistieke sorg.

Marthinus

Wladimir Poetin het Rusland se Nasionale Vergadering op 15 Januarie 2020 toegespreek, waarin hy veranderinge aan die grondwet voorgestel het. Volgens hom is die volk nou meer volwasse wat die politiek betref, dring hulle aan op groter vryhede, en is hulle meer veeleisend oor daardie vryhede. Daarom het hy voorgestel dat die President van Rusland voortaan slegs twee termyne dien (nie noodwendig opeenvolgend nie.); die Doema (parlement) meer magte kry, en die president s’n moet beperk word. Die Wêrelgesondheidsorganisasie het die koronavirus op 30 Januarie as gevaar beskryf, en eers op 11 Maart as pandemie geklassifiseer. (Walentina Teresjkowa, eerste vrou… Lees meer »

Adam Adriaan

Doen u self die guns en kyk op you tube na die volgende “dennis prager left vs right”. dan sal u sien waareoor alles gaan in die ou wêreld

Therese

Puik, insiggewend!
Die “gelate aanvaarding van inperkings” is werklik verstommend.
Terwyl vele die gedweë, gehoorsame, klikbek-gedrag sal bewonder, vind sommige van ons dit kommerwekkend, m.i. heel tereg.
Ons hoef hierna nooit weer te wonder hóé Hitler reggekry het wat hy ‘reggekry’ het nie.
Tropdiere voorwaar.
Die sukses al dan nie van drakoniese inperkings sal ongelukkig nooit regtig bewys kan word nie, want dit is ‘n eksperiment sonder ‘n toets.