Koronavirus ken nie grense en diskrimineer nie – ons reaksie daarop mag ook nie

Jan Bosman van die Afrikanerbond.

Ten tyde van die skryf van hierdie artikel het die koronavirus meer as die helfte van die wêreld se bevolking op een of ander manier tot hul huise beperk; vele lande het afsonderingsmaatreëls ingestel. In die drastiese verspreiding van die Covid-19-virus is daar nie gediskrimineer nie. Dit het toegeslaan op mense van alle kontinente, alle rasse, gelowe, kulture, tale en geslagte, ryk en arm. Ons reaksie daarop moet ook nie diskrimineer nie – of so het ons gedink.

Met die aanvanklike aankondiging van die staat van algehele afsondering op 23 Maart 2020 sê president Ramaphosa: “Ek wil dit duidelik stel dat ons van alle Suid-Afrikaners verwag om in belang van die Suid-Afrikaanse nasie op te tree en nie in hul eie selfsugtige belang nie.” Hy sluit dan kragtig af: “Ek doen ‘n beroep op ons almal, elkeen van ons, om ons deel te doen.”  

In sy aanvanklike hantering het president Ramaphosa getoon dat hy wel oor die nodige leierskap en staatsmanvaardigheid beskik om Suid-Afrika deur die krisis te lei. Dit was ook die oorwegende reaksie van die meeste kommentators en politieke partye. Dit was die tipe leierskap wat ons reeds met die aanvang van sy termyn wou sien, maar wat ons nou vir die eerste keer ervaar, sonder die druk en houvas van die ANC en Luthuli-huis.

Ons sou egter verwag het dat die regering se aanvanklike reaksie op die koronavirus en die dodelike verspreiding daarvan wêreldwyd, bo eng ideologiese grense sou strek. Ongelukkig het die ANC-regering besluit om voort te gaan met die toepassing van swart ekonomiese bemagtiging (SEB) en om demografiese verteenwoordiging nougeset toe te pas.

Die eerste aanduiding dat die voorwaardes van SEB sou geld, het die nekhare laat rys en het ʼn ander dimensie verkry toe Khumbudzo Ntshavheni, minister van kleinsakeontwikkeling, sê alle kleinsakeondernemings sal wel vir hulp oorweeg word, maar hulle moet “demografies verteenwoordigend” wees. Dit was haar reaksie nadat die departement in ʼn eerste konsep laat blyk het dat SEB-reëls toegepas sou word op aansoeke.  Die kleinlike toepassing is gevolg met bepalings vir finansiële hulp vir die toerismebedryf met Mmamoloko Kubayi-Ngubane, minister van toerisme, wat gesê het die bystand vir klein, mikro- en mediumgroot ondernemings (KMMO) sal gegee word in ooreenstemming met haar departement se beleid oor SEB en ekonomiese transformasie. Dit is gevolg deur die departement van landbou, bosbou en visserye wat slegs swart-, bruin- en Indiërboere aanmoedig om vir finansiële hulp by dié departement aansoek te doen.Die geldigheid en die grondwetlikheid van die regering se rasse-onderskeid in die toekenning van hulppakkette vir finansiële verligting tydens die Covid-19-pandemie, moet nog getoets word. Daarmee is politieke partye en burgerlike instellings reeds besig.

Al waarop dit dui is dat swart ekonomiese bemagtiging so geïnstitusionaliseer is, dat dit die enigste maatstaf is in ʼn krisis, selfs al is dit die koronapandemie. Die enigste gevolgtrekking wat ons kan maak, is dat die koronavirus nie grense ken nie en nie diskrimineer nie – maar die ANC-regering se reaksie hierop diskrimineer wel. Ongelukkig vertel die aandrang van sy ministers op ras in die toekenning van hulp, ‘n verhaal van intellektuele en ideologiese bankrotskap.

Internasionale noodleningsorganisasies het al verskeie kere in hul verslae die wêreld daarop attent gemaak dat, in tye van nood en krisis (hetsy ’n tsunami in die Indiese Oseaan, aardbewings in Suid-Asië, die orkaan Katrina of soveel ander rampe wat ontelbare voorbeelde opgelewer het), hoe diskriminasie voortduur. Dit was nog voor die uitbreek van die koronavirus.

Op 23 April 2020 sê die VN sekretaris-generaal Antonio Guterres in ʼn verslag betreffende Covid-19 en menseregte: Die onstabiliteit en vrees wat die pandemie veroorsaak, vererger die huidige kommer oor menseregte, soos diskriminasie teen sekere groepe, haatspraak, vreemdelingehaat… Dit is nie die tyd om menseregte te verwaarloos nie; dit is ‘n tyd waarin menseregte, meer as ooit tevore, hierdie krisis moet navigeer op so ‘n manier dat ons so gou as moontlik weer kan fokus op die bereiking van billike, volhoubare ontwikkeling en die handhawing van vrede.”

Op bladsy 10 van die verslag sê mnr. Guterres: “Ons is almal saam hierin. Ons reaksie moet inklusief, billik en universeel wees – anders gaan die virus nie hokgeslaan word nie.”

Die Internasionale Federasie vir die Rooikruis en Rooi-halfmaan-verenigings (IFRC) sê, onder meer, in 2007: “Rampe diskrimineer nie. Dit raak minderhede en meerderhede, bevoegde persone en persone met gestremdhede, jonk en oud, mans en vroue … rampe veroorsaak nie diskriminasie nie: dit vererger dit, en diskriminasie in ‘n noodsituasie kan lewensgevaarlik wees.”

Die VN se hoë kommissaris vir menseregte sê op hul webblad oor menseregte in humanitêre krisisse: “Humanitêre krisisse – met inbegrip van mensgemaakte konflikte, natuurrampe en pandemies – lei tot ‘n verergering van die verbreking van menseregte. Boonop kan verslegtende menseregtesituasies krisisse veroorsaak en die humanitêre behoeftes van die geaffekteerde bevolking verhoog.” Hulle gevolgtrekking is, Ons moet probeer om die kwesbaarste dele van die bevolking in te sluit met humanitêre beskerming en hulp, en diskriminasie en verpolitisering van die verspreiding van hulp te verminder.”

Dit doen die ANC egter nie, maar gaan voort met die toepassing van ʼn beleid van uitsluiting op grond van ras.

Dit alles was nog voor die koronavirus. ʼn Artikel in die mediese tydskrif Lancet op 1 April 2020 verwys na diskriminasie en rassisme in die bestryding van die koronavirus.

“Dade van diskriminasie vind binne sosiale, politieke en historiese kontekste plaas. Politieke leiers het die Covid-19-krisis verkeerd aangewend om rassediskriminasie te versterk, byvoorbeeld deur die grensmaatreëls te verdubbel en openbare gesondheidsbeperkings met antimigrante-retoriek te verwar. Huidige noodmaatreëls moet noukeurig oorweeg word vir gevolge op die langer termyn. Beleide wat nodig is om bevolkings te beheer (byvoorbeeld beperking van beweging of toesig) kan verkeerd toegepas word, en gemarginaliseerde groepe word tradisioneel geteiken.” Verder aan in die artikel staan: “Gesondheidsbeskerming berus nie net op ‘n goed funksionerende gesondheidstelsel met uitgebreide dekking nie, maar ook op sosiale insluiting, geregtigheid en solidariteit. In die afwesigheid van hierdie faktore word die ongelykhede vergroot en die diskriminasie duur voort, en bly so vir lank daarna. Verdeling en angstigheid teenoor andere, sal tot slegter uitkomste vir almal lei.”

Deur swart ekonomiese bemagtiging en demografiese verteenwoordiging gaan die ANC al vir dekades voort met ʼn ideologie wat die kundigheid en ervaring waaroor baie Suid-Afrikaners en ook Afrikaners beskik, uitsluit. Veral jonger generasies wit-, bruin- en Indiërkundiges word gestuit om deel van die ekonomiese toekoms van Suid-Afrika te wees omdat hulle voortdurend teruggehou word deur regstellende aksie, swart ekonomiese bemagtiging, demografiese verteenwoordiging en die toepassing van kwotas. Die aanslag op die uitwissing van die koronavirus sou die ideale geleentheid gewees het vir die visioenêre leierskap in die regering om afstand te doen van die diskriminerende maatreëls en alle Suid-Afrikaners wat gereed staan om te help, ongehinderd toe te laat om dit te doen.

Die optrede van kleinlike politieke funksionarisse sal egter voortgaan om ʼn stelsel in stand te hou wat slegs voordeel bied aan trogvretende kaders. Dit is jammer, want ons moet die land en sy mense in hierdie tyd behulpsaam wees. Nou is die tyd om van ideologie afstand te doen en die land eerste te stel.

Die noodlottige effek van die koronavirus op die land, sy mense en ook die ekonomie, vereis buitengewone leierskap en buitengewone optrede. Dit vereis dat die president sal optree in landsbelang en die magte wat die Grondwet aan hom verleen. Dit vereis dat die president homself losmaak van die eng ideologiese beperkinge van sy party en die kleinlike eiebelang van diegene in Luthuli-huis. In hierdie krisis smag Suid-Afrika na leierskap met integriteit.

Die bekende Suid-Afrikaanse politieke kommentator, skrywer en joernalis, Justice Malala, skryf in die Financial Mail op 14 April 2020 in ʼn artikel met die opskrif “How numbskulls in the ANC sabotage Covid response” soos volg: “Die koronavirus het besighede – swart en wit – vernietig. Dit vernietig werk – swart en wit. Ons moet dringend die indiensneming behou by klein ondernemings wat in sowel swart as in wit besit is. Dit is nie die tyd om dringende en noodsaaklike befondsing per ras beskikbaar te maak nie. Ons het nie ʼn genie nodig om ons te vertel hoe skouspelagtig dit sal misluk nie.”

Suid-Afrika het nodig dat daar wedersydse vertroue moet wees, respek vir mekaar se standpunte en bowenal ʼn wil om mekaar tegemoet te kom en te probeer vind te midde van die probleme en uitdagings van die tyd, veral nou. Dit verg dat mnr. Ramaphosa die talente, kundigheid, ervaring en vaardighede van alle Suid-Afrikaners, wit en swart, sal erken, respekteer en bevorder. Dit verg nou dat die president finaal wegbreek van die ANC se knellende en beperkende houvas op die ekonomie en verouderde rasse-ideologie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jan Bosman

Jan Bosman is Hoofsekretaris van die Afrikanerbond.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

david ·

Interessante skrywe hierdie. Terwyl ek saam met skrywer stem, is ek bevrees dat Cyril Ramaphosa niks gaan en kan doen nie, want hy is ‘n gevangene van die rassisme wat die ANC so deurtrek het, dat die party eintlik terminaal siek is.
Ek het al baie in gepubliseerde skrywes beswaar gemaak teen Regstellende Aksie sedert 1994.
Die basis van my beswaar is eenvoudig–dis ‘n stelsel met ‘n Amerikaanse naam. maar met die verskil:
In die VSA was die doel om die MINDERHEID (hoofsaaklik swartes) beter geleenthede te gee as gevolg van hulle historiese agterstand, Die benadeeldes was die hoofsaaklik Blanke meerderheid wat as gevolg van hulle meerderheid status kon verhoed dat die stelsel skeefgetrek word.
In SA is die teenoorgestelde toegepas : die bevoordeeldes (Swartes) was ook die meerderheid en dit het die Blanke benadeeldes weerloos gelaat.
Regstellende aksie is doodeenvoudig minderheids onderdrukking, En die ANC se beleid te midde van die Covid virus maak dit net meer afskuwelik.

Adriana ·

Dieselfde boere wat hul nie wil help wat uitgesluit word, is die boere wat voedsel aan hierdie hele land voorsien in die moeilike tyd

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.