Koronavirus: Tussen Scylla en Charybdis…

Die nuwe koronavirus Covid-19. (Grafika: CDC/Alissa Eckert, MS; Dan Higgins, MAM via Wikimedia Commons)

Lesers moet nie vandag onmeetlike wysheid in dié artikel verwag nie (nie dat daar óóit énige wysheid hier te vinde is nie – maar dit daar gelaat). Maar ek het wel – hopelik – ’n gesonde verstand.

Ek gaan skryf oor ’n saak waarvan ek nie veel weet nie: Die hantering van die koronakrisis. Moenie antwoorde van my verwag nie. Ek wil eenvoudig aandui hoe moeilik die saak is.

Kom ons begin by die begin. Met die uitsondering van een of twee slimkoppe is die ganse wêreld met sy broek op die knieë gevang toe die eerste nuus oor ’n nuwe siekte in die Chinese stad Wuhan kort ná Kersfees begin deursypel.

Die Chinese regering het baie traag op die saak gereageer en dit probeer wegsteek. Die dokter wat die gevaar ingesien en onmiddellik die alarmklok gelui het, dr. Li Wenliang, is aangesê om sy bek te hou en met sy “leuenagtige verklarings” te stop (hy is self ’n paar weke later aan die siekte oorlede).

Dit was eers teen die helfte van Januarie dat Beijing die gevaar ingesien en Wuhan van die res van die land afgesny het. Selfs toe is te kenne gegee alles is onder beheer. Vandag weet ons dat die traagheid van die Chinese regering – en sy leuens na buite – duidelik bygedra het tot die snelheid waarmee die nuwe koronavirus soos ’n tsunami oor groot dele van die aardbol gespoel het.

Maar dit was nie net China nie. Ook die Europese Unie se lidstate, Rusland en Amerika is heeltemal onverhoeds betrap. Binne ’n ommesientjie het die siekte in Italië, Spanje, Frankryk, Duitsland en Nederland nes geskop. En dan het ’n mens nog nie eens na pres. Donald Trump se aanvanklike ongeërgde ontkenning van die krisis verwys nie. (Later het hy die geskiedenis probeer herskryf om dit te laat lyk of hy vinnig en deurtastend gereageer het, maar nou ja, Donald Trump is nou eenmaal Donald Trump.)

Nietemin, die feit dat álmal traag gereageer het, wys dat jy niemand regtig te veel daarvoor kan blameer nie. Dis soos die Prediker sê: “Wees nie alte regverdig nie en hou jou nie buitengewoon wys nie” (overgezet zijnde: moenie arrogant wees nie; wees beskeie).

Maar goed, toe die erns van die situasie duidelik word, het verreweg die meeste regerings deurtastend gereageer. Omdat die siekte deur kontak van mens tot mens oorgedra word, is die toegang tot openbare ruimtes soveel moontlik beperk in ’n poging om die omvang van die siekte hok te slaan tot tyd en wyl medisyne en entstof ontwikkel word.

Oor die hele wêreld, Suid-Afrika inkluis, moet honderde miljoene mense soveel moontlik tuis bly. In die noorde van Europa kan mense darem gaan stap of draf, maar in Frankryk, Italië en Spanje (nes in Suid-Afrika) is selfs dít nie moontlik nie. Stede knars tot stilstand. Spitstye en verkeersknope is iets van die verlede. (Die voordeel is dat die natuur herleef en die lug veel skoner is!)

‘n Illustrasie van Scylla en Charybdis. Foto: https://chase-grace-and-the-wrath-of-apollo.fandom.com/wiki/Charybdis

Dit het grotendeels gewerk. Van oor die hele wêreld word berigte ontvang dat die virus by minder bykomende mense gediagnoseer word, dat die toename van hospitaalopnames afplat, dat ook die sterftesyfer relatief daal. En dus staan regerings nou voor ’n yslike dilemma. Hulle moet tussen Scylla en Charybdis deurskuur – die legendariese rotse van die Griekse verhaal wat teen mekaar toeklap en skepe wat probeer deurkom, verpletter.

Scylla, om by die antieke beeld te bly, is die feit dat die opmars van die siekte skýnbaar (let op die voorbehoud!) gestuit is. Dit is ’n groot voordeel. Maar alle munte het twee kante, want vir dié sukses moes ’n ongelooflike prys betaal word. Volgens die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) kan die globale ekonomie vanjaar met 3% krimp. En as die resessie aanstaande jaar voortduur, kan dinge nog veel erger word. Dit staan nou reeds vas dat die ekonomiese krisis erger gaan wees as die Groot Depressie van die dertigerjare van die vorige eeu.

Ryk lande, soos sommige van dié in die EU, Noord-Amerika en dele van Asië, kan die impak van die terugslag verminder deur geld in die ekonomie te pomp. Dit het die nadeel dat die geld dikwels geleen – en later weer met rente terugbetaal – moet word, maar dit kan die pyn versag.

Maar wat van die Derde Wêreld? Wat van ’n land soos Suid-Afrika met ’n dualistiese ekonomie, sowel ’n Eerste Wêreldse as ’n Derde Wêreldse samelewing? Teen dié agtergrond het die ekonoom Dawie Roodt onlangs op Maroela Media die prikkelende vraag gestel “of die huidige inperking die lewe van meer mense gaan spaar as die massas wat van armoede gaan sterf?”

Hy voorspel dat die inkomste van die gemiddelde Suid-Afrikaner met tot 10% sal verminder. Vir die meeste van dié wat hierdie woorde lees, sal dit ’n ernstige terugslag wees; vir miljoene bewoners van die townships of plakkerskampe sal dit ’n hongerdood beteken.

Dít is dan die Charybdis, die rots aan die ander kant van die seestraat. Wat is belangriker? Gesondheid of ekonomiese groei? Op sigself is dit natuurlik ’n valse teenstelling. As jou bevolking by die duisende aan die koronavirus sterf, kan dit nie goed vir die ekonomie wees nie. Maar terselfdertyd, as mense by die duisende aan honger sterf of, nog erger, weens honger in die gegoede buurte invaar en huise en winkels plunder en dalk mense vermoor – is dít dan goed vir die ekonomie?

Op ’n veel minder intense skaal worstel die regerings van talle Eerste Wêreldse lande met dié dilemma. In Amerika word dit ekstra gekompliseer deur die feit dat ’n presidentsverkiesing in November gehou word, en die hantering van die probleem kan beslissend vir die uitslag wees. Dis hoekom ek aan die begin van die artikel geskryf het lesers moenie vandag onmeetlike wysheid van my verwag nie. Ek weet nie wat die antwoord is nie; ek kan slegs die probleem identifiseer en sy kontoere aanwys.

Ek is dankbaar dat ek nie in die skoene van presidente Donald Trump, Xi Jinping, Emmanuel Macron of Cyril Ramaphosa staan nie. Die dilemma sou my slapelose nagte besorg. Maar goed, dié mense word betaal om sulke besluite te neem. As dit werk, weet ons wie om te prys. Indien nie, het ons iemand om polities keelaf te sny. Dis maar soos die wêreld is.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

J ·

Hoe langer die verspreiding van die Corona virus vertraag word … soveel langer gaan die grendelstaat voortduur … soveel langer gaan die ekonomie verval en armoede en hongersnood voortduur.

Dit is ONAFWENDBAAR dat die virus uiteindelik alle mense op die planeet gaan bereik en die vernietigende gevolge van besmetting gaan voortsit. Die Staat se pogings on dit te stop is futiel!

Meeste mense is bestand teen die virus en kan gewoonweg voortgaan met hulle daaglikse aktiwiteite.

Miskien is dit beter om die virus te los sodat die mensdom ‘n kudde immuniteit daarteen ontwikkel.

Maar ekonomiese inploffing is AFWENDBAAR! Dit kan gestop word.

Is dit nie beter vir almal op die langtermyn, dat die land die DOENBARE doen nie? Red die ekonomie!

Los die onmoontlike …. want niemand in SA gaan die virus stop nie.

‘Choose your battle wisely …..!’

Frans ·

Amerika het ‘n wêreldwye handelstekort,dws die land voer meer in as wat dit uitvoer.Sy grootste handelstekort is met Sjina.Die land se negatiewe handelsbalans beïnvloed ook die politiek.Dit is moeilik om die land wat jy die meeste skuld agv ‘n nadelige handelsbalans nou te beskuldig dat dit oneties opgetree het veral as jy staatmaak op goeie verhoudings tussen die Presidente.

Therese ·

Die post-Covid-19 mensdom sal hulle sterre dank dat “Donald Trump nou eenmaal Donald Trump is”.
‘n Staatshoof wat daadwerklik die WGO se onbevoegde hoof, asook die kommunistiese Chinese regering se ondeursigtige optrede, onder die vergrootglas geplaas het.
Of die res van die wêreldleiers ruggraat gaan wys, sal gesien moet word. Australië het amptelik steun aan Pompeo uitgespreek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.