Korrupsie-bestryding is ’n voorwaarde vir sukses

(Argieffoto: stevepb/pixabay)

Daar is deesdae min onderwerpe in Suid-Afrika wat soveel aandag geniet soos korrupsie.

Van kleinskaalse omkopery van metropolisiebeamptes om dronkbestuurders te laat gaan, tot tenders by munisipaliteite wat gemanipuleer word, tot sogenaamde hoëvlak-korrupsie (grand corruption) waarby die land se topamptenare betrek word. Niemand kan ontken dat korrupsie krisisafmetings aangeneem het nie.

Die ANC, in hul eie ideologiese benepenheid en wêreld van ontkenning, dink egter nie korrupsie is een van die wesenlikste probleme wat ons in die gesig staar nie. Hulle is per slot van sake diegene wat grootliks verantwoordelik is vir die kanker van korrupsie en probeer dit daarom onderbeklemtoon.

Tydens ’n rondetafelgesprek oor die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) in Desember, het ek aan dr. Zweli Mhize, minister van gesondheid, uitgewys wat die ouditeur-generaal (OG) oor die beroerde toestand van sy departement gesê het. Ek moet hom krediet gee dat hy darem nie botweg ontken het dat daar korrupsie is nie. Hy het egter effens minagtend en ontwykend geantwoord en die gevolgtrekking gemaak dat slegs omdat korrupsie bestaan, dit nie beteken dat arm mense nie gehaltemediese sorg kan kry nie.

Ingevolge hierdie logika kan jy geld steel en verduister en dit maak nie saak nie. Munisipaliteite kan steeds gehaltedienste lewer en skole kan steeds presteer, al gaan miljarde rande verlore. Hiervoor is daar twee verdoemende teenantwoorde.

Eerstens hoef mens net enigiets waarvoor die staat verantwoordelik is, onder die loep te neem om te sien of die publiek en veral belastingbetalers enigsins ’n noemenswaardige rendement daarop kry. Die antwoord is eenvoudig en strak: Van Eskom tot die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) tot feitlik alle openbare hospitale tot ’n klein munisipaliteit in Limpopo lewer treurige diens en resultate. Trouens, daar word bespiegel dat vele munisipaliteite se rade ontbind kan word weens hul nienakoming van grondwetlike diensleweringspligte.

Tweedens, die OG vermeld die volgende pertinent in sy jongste verslag oor die geldsake van provinsies: “Die finansiële welstand van provinsiale departemente van gesondheid en onderwys benodig dringende ingryping om die ineenstorting van hierdie sleuteldienste te voorkom. Vergeleke met die ander departemente, is hierdie sektore (veral die gesondheidsektor) in ’n slegte toestand.”

Die OG herhaal elke jaar dat onreëlmatige uitgawes nie noodwendig korrupsie behels nie. Die klem val op “noodwendig”. Die feit is dat indien ’n verkrygingsbestuurder nie wetgewing en wetlike prosesse volg om goedere en dienste by verskaffers aan te koop nie, en duur tenders aan ANC-kaders toeken in ruil vir eie gewin, is dit korrupsie volgens alle gesaghebbende definisies daarvan. Ek hoef dit eintlik nie eens te verduidelik nie, want dit is al oorbekend en selfverduidelikend. Dit mors mense se belastinggeld wat vir legitieme doeleindes aangewend moes word.

Verder af in die OG se verslag word daar melding van swak dienslewering gemaak. Foto’s van dakke wat op die rand van ineenstorting is, voltooide geboue wat weens veiligheidsredes nie gebruik word nie en bakstene wat uit strukture val. Dit is klaarblyklik substandaardwerk wat beter en waarskynlik goedkoper deur iemand anders gedoen kon word, maar nie toegelaat is nie weens hul gebrek aan politieke bande en/of velkleur.

Die kommentator RW Johnson pak hierdie verskynsel onlangs briljant uiteen in ’n snydende artikel op Politicsweb. Hy voer aan dat ’n kleptokrasie – waar die politieke klas hul mag misbruik om die burgery uit te buit en hulself te verryk en oral in Afrika voorkom – verskeie vorme kan aanneem. Blote diefstal kom volgens hom oral in die openbare sektor en staatsbeheerde ondernemings voor. Dan beskryf hy hoe Eskom se personeel duisende familiefirmas beheer en hulle met massiewe kontrakte beloon.

Hy wys ook op hoe begunstigdes van swart ekonomiese bemagtiging (SEB) ver bo hul vaardigheidsvlakke en bevoegdheid bevorder of aangestel word. Daar is uiteraard ook ’n teenprestasie: Hierdie persoon raak dan deel van ’n groter patronaatskapnetwerk en word gedwing om kontrakte en gunste aan sekere persone uit te deel.

Volgens die teenkorrupsieorganisasie Transparancy International is daar ekonomiese, politieke, maatskaplike en omgewingsgevolge vir korrupsie. Ondermeer ondermyn dit die nasionale rykdom van ’n land (uiteraard ook dit wat dit koop) sowel as die legitimiteit van politieke instellings (soos byvoorbeeld die Openbare Beskermer). Inmiddels, knou dit sakevertroue en skrik veral internasionale beleggers af.

Die infame leuen dat die aanwesigheid van korrupsie nie beteken dat mense nie goeie dienste kan kry nie, is daarom maklik weerlegbaar. Die Bybel sê wie met min vertrou kan word, kan met baie vertrou word. Die ANC is reeds met baie vertrou en het dit verkwis en verduister.

Daar is ’n rede hoekom kleptokrasieë in Afrika se mense so arm en siek is, en Westerse lande se bevolkings langer en beter lewens geniet. Daar is geen werklik suksesvolle land met hoë vlakke van korrupsie nie.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Eugene Brink

Meer oor die skrywer: Eugene Brink

Dr. Eugene Brink is ’n strateeg en politieke ontleder.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Vrystater

Politieke leiers word aangestel as die wetgewers, en sien hulself dus maklik as bokant die wette wat hulle gemaak het. Dié wat hulle ingestem het, is daarna nie meer “kiesers” nie. Hulle het mos klaar gestem!
Nou daal die verloopte kiesers af na die vlak van “wetsgehoorsames.” Veral om, wetsgehoorsaam, belasting en BTW te betaal, sodat dié wat hulself as bokant die wet beskou, heel gepas ook vér bokant die broodlyn kan lewe en die opbrengste van hul gesagsposisies onder mekaar te kan verdeel.
Dit is die uitdaging waarvoor die burgers van enige land te staan kom.