Korrupsie en regerende alliansie se onvermoë skep geleentheid vir selfbestuur

Deur Natasha Venter

(Argieffoto:
Alexas_Fotos/Pixabay)

Miljarde rand se skenkings en internasionale lenings om die koronavirus-pandemie in Suid-Afrika te beveg het plaaslike Covid-preneurs breed laat glimlag. Dié gelukkige hooggeplaastes se sakke wat reeds rinkel van pandemiefondse, terwyl voorbereiding vir mediese sorg van Covid-19-pasiënte (veral in die Oos-Kaap) ver agterweë bly, blyk min bekommerd te wees oor die lot van werkgewers en belastingbetalers wat Jan Taks se beursie weer moet volmaak sodra die Covid-19-fondse uitgeput is.

Een bedryf wat tans veral gebuk gaan onder ekonomiese druk en die irrasionele inperkingsregulasies, is die restaurantbedryf wat onlangs die ‘Million seats on the streets’-bewusmakingsveldtog van stapel gestuur het om werksverliese in die bedryf uit te lig deur vreedsame betogings landwyd te hou. Selfs daar het die magsbeheptheid van die regering sy kop uitgesteek en is die gebruik van waterkanonne en skokgranate op vreedsame betogers wyd gekritiseer. Dít terwyl die middestad van Pretoria aan die brand gesteek word deur betogende munisipale werkers.

Die korrupsie en bedrog wat veroorsaak dat miljarde rand se Covid-19-fondse die pad vind na kaders se sakke, soos pres. Cyril Ramaphosa self in sy jongste laataand toespreeksessie erken het, het volgens die president ʼn regeringsentrum om korrupsie en bedrog te beveg, genoodsaak. Hierdie sentrum gaan volgens Ramaphosa onder meer die onbillike prysverhogings van goedere en dienste, bedrog, die nie-uitbetaling van die Werkloosheidsverskeringsfonds, die misbruik en wanregulering van kospakkies, die skep van valse nie-winsgewende organisasies om sodoende verligtingfondse in die hande te kry, asook tenderbedrog ondersoek.

Landsburgers sal uiteraard die volste vertroue hê dat dié meganisme van die regering om korrupsie te beveg hierdie keer gaan lei tot daadwerklike gevolge vir skuldige partye, veral omdat daar bewerings teen Ramaphosa se seun Andile is oor sy beweerde betrokkenheid by taxi-tenders. Minister Tito Mboweni het intussen die erns van die saak benadruk deur te twiet dat ʼn tender ʼn etiese kontrak is en nie ʼn blanko tjek om te steel en te bedrieg nie.

Pres. Cyril Ramaphosa. Foto: Elmond Jiyane/GCIS

President Ramaphosa het ook verlede week bewys dat hy deur en deur ’n vakbondman is en dat dié onderrok van hom ver uitsteek. Dit blyk dat vakbonde se woord wet is en dat die ANC wetenskaplike feite met ’n knippie sout neem wanneer hulle inperkingsregulasies uitdink. Vakbonde het eerstens hul sin gekry in verband met die taxibedryf (elke taxi ry nou kwansuis met oop vensters rond) en daarna met die skole wat verlede week, op aandrang van sekere onderwysvakbonde, gesluit het.

Regulasies in hierdie verband is egter nog nie gepromulgeer nie, wat tegnies beteken dat skole wat nie gesluit het nie, se deure oop mag bly. (Privaat skole is, tot Cosas se verbasing ná hul optog na sekere van hierdie instansies, tans met vakansie.)

Hierdie enkele gebeure die afgelope week dui daarop dat irrasionaliteit en onverantwoordbaarheid tans hoogty vier in die regerende alliansie in Suid-Afrika. Met die IMF en ander internasionale krediteure wat een of ander tyd hulle pond vleis gaan eis, moet die huidige situasie egter gesien word as ʼn geleentheid vir gemeenskappe om groter onafhanklikheid van die staat te bewerkstellig. Dit kan gedoen word deur selfbestuur bó staatsbestuur te kies en deur gemeenskappe wat verantwoordelikheid neem deur hulself te organiseer en self te doen.

  • Natasha Venter is veldtogbestuurder by AfriForum.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

annie ·

Die mees logiese besluit van die nuwe Zuma-regering is die verbod op alkohol per mond; dat dit net per hand mag geskied. Na ‘n draai deur die winkelsentrum is selfs kleuters heel beskonke van al die handevol 70%-bakhand. Eintlik behoort die bestuur by die uitgang te toets vir die nodige 0%-vlak.
Die druipvlak sal verbaas, maar dis seker ok ‘ok’ siende dat vanjaar geen druipeling mag oplewer nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.