Korrupsie in Suid-Afrika en Brasilië

lula-da-silva-brasilië

Lula da Silva, ‘n voormalige president van Brasilië. Foto: Ricardo Stuckert/Presidência da República.

’n Ongelooflike rits ooreenkomste kenmerk die verhoor van oudpresident Jacob Zuma en ’n voormalige president van Brasilië, Lula da Silva.

Binne enkele dae het beide hul dag in die hof beleef, met korrupsie as grondliggende tema. Beide se ondersteuners wil niks daarvan weet dat hul leiers iets verkeerd gedoen het nie en beskou die tamatiestraat waarin hulle beland het, as sameswerings van hul politieke vyande.

Danksy Zuma se meesterlike vermoë om hofsake te vertraag, het die Suid-Afrikaanse oudpresident se regsproses bietjie agter geraak by dié van sy Brasiliaanse ampsgenoot.

Da Silva is naamlik reeds aan korrupsie skuldig bevind en tot twaalf jaar gevangenisstraf gevonnis. Zuma moet nog formeel skuldig bevind word – ná sy saak jare lank deur politieke inmenging vertraag is.

Da Silva het ’n beroep gedoen dat hy nie intussen tronk toe moet gaan terwyl daar op die uitslag van sy appèl gewag word nie. Die hooggeregshof het uiteindelik, ná ’n gekopkrappery tot diep in die nag, wel beslis dat Da Silva, in afwagting van sy vertoë, solank sy tronkstraf moet begin uitdien.

Zuma se regspan beoog om ’n soort vertoë aan die appèlhof te rig om die aanklagte teen hom te laat terugtrek. Hy  het duidelik nog beduidende steun, hoewel waarskynlik nie so oorweldigend as die steun wat Da Silva geniet nie. Verskeie regskenners meen Zuma se vertoë het geen plek in die reg nie, veral omdat die appèlhof reeds beslis het dat die terugtrek van die klagtes juridies verkeerd was.

Dit mag vir baie vreemd klink, maar volgens Transparency International se indeks, is Brasilië selfs nóg meer korrup as Suid-Afrika. Op die mees onlangse ranglys was Suid-Afrika 71ste uit 180 lande, en Brasilië 96ste.

Die groot hinderlike is egter dat Brasilië en Suid-Afrika se staatshoofde nie ál was wat in die onlangse verlede weens beweerde of reeds bewese korrupsie in tamatiestraat beland het nie. In Israel is elke eerste minister die afgelope 20 jaar vir korrupsie ondersoek. Frankryk se gewese presidente staan ook tou om beskuldigings die hoof te bied.

Met die onlangse Australiese balpeuterskandaal, word nog sterk vermoed dat dit nie ’n uitsonderlike geval was nie, maar iets alledaags in moderne krieket. Baie mense kan dan ook nie begryp waaroor daar so ’n bohaai is nie. Daar is immers niks verkeerd daarmee om die bal aan die een kant blink te vryf en só ’n beheerde swaai van die bal te bewerkstellig nie. Hoekom sou dit nou so verkeerd wees om die anderkant van die bal ook vir beweging deur die lug te dokter?

Tog lyk dit of daar ’n wêreldwye verset teen korrupsie ontstaan, eerder as die blote inval daarby om nie ekonomies agtergelaat te word nie.

Maar die korrupsiepersepsie-indeks se syfers toon wel dat dit nog in ongemaklik baie lande ’n probleem is wat Suid-Afrika, en selfs Brasilië, na kerkdienste laat lyk in vergelyking met korrupsie elders.

En só word lande van hul toekoms beroof.

’n Reusetaak wag op pres. Ramaphosa as hy sy woord gestand wil doen oor die inperking van korrupsie en daarvoor het hy elkeen van ons se samewerking nodig.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Herman Goosen ·

Dit is een van die redes waarom Sjina en Rusland so graag besigheid met hierdie lande doen. Daar is ‘n redelike mate van ekonomiese aktiwiteite, maar die bevolking het oor die algemeen min westerse waardes en is oop vir omkopery en politieke invloede

jcwf ·

Hier in die Verenigde State is daar genoeg ‘westerse waardes’, Herman.

Maar daar is ook baie omkopery en politieke invloede… Invloede van Rusland en sy mafia. En die Amerikaanse Zuma word nog nie hof toe geneem nie. Hy sit nog en twitter in sy White House.

Sakeman ·

Verkeerd jcwf. Ek en alle sakemense wat ek ken was nog nooit vir omkoopgeld in VSA gevra nie, ek glo dit gebeur maar baie skaars en nie naby op die vlak van wat dit in SA is nie. In SA word dit van sakemanne verwag.

Nico K ·

Ek het in die vroeg 90’s al ‘n berig gelees in Time magazine dat korrupsie die groot rede is dat Suid Amerika (Brasilië ingesluit) nie ekonomies groei nie. Dit is natuurlik baie relevant op Suid Afrika en die hele Afrika.

Marthinus Willemse ·

Volgens die Financial Secrecy Index (FSI) (www.financialsecrecyindex.com) is die tien korrupste lande, van nr 1 na 10: Switserland, die VSA, Kaaiman Eilande, Hong Kong, Singapoer, Luxemburg, Duitsland, Taiwan, Verenigde Arabiese Emirate (Doebai), en Guernsey. Volgens die FSI het die VK, Brasilië, Swede en Italië die laagste tellings. Hulle kyk na belastingontduiking, en sien dit tereg as `n vorm van korrupsie. In 2013 was die VSA nr 6, met state soos Delaware, wat Panama op sy neus laat kyk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.