Korrupsie moet ʼn misdaad teen die mensdom wees

Argieffoto

Die laaste aantal weke voor Kersfees is Suid-Afrikaners gebombardeer met aantygings en beskuldigings van wydverspreide korrupsie in die kommissie van ondersoek na staatskaping soos gelei deur die voorsitter, adjunkhoofregter Raymond Zondo.

Dit is egter die laaste paar dae waarin die (tot nou onlangs) betreklik onbekende Angelo Agrizzi, voormalige bedryfshoof van Bosasa, senior politici begin impliseer het en verhale vertel het van groot bedrae kontant wat in ʼn kluis by Bosasa uitgetel is waarmee politici se “goeie wil en samewerking” mee gekoop is.

Vir die eerste keer word die omvang en diepte van korrupsie en staatskaping blootgelê. Vuisvoos middelklas Suid-Afrikaners steier onder die bedrae wat ter sprake is waarmee staatsamptenare se rojale salarisse aangevul is met kontant en goedere soos vleis en drank.

Die kommentator Max du Preez skryf op News24: “Ons Suid-Afrikaners het vermoed dat korrupsie en omkopery redelik wydverspreid was, maar Agrizzi se verhale het dit vir die eerste keer laat insink hoe ontsaglik algemeen dit geword het. Dit laat ons vermoed dat feitlik alle tenders en transaksies tussen die staat en die private sektor van twyfelagtige aard is.”

Hoe verskriklik ironies is dit nie dat die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping gevestig is en met werksaamhede begin het in 2018, met die Afrika-unie (AU) se tema vir die jaar: Winning the Fight against Corruption: A Sustainable Path to Africa’s Transformation.

Die geveg teen korrupsie in Suid-Afrika het nog nie eers begin nie, die skaal en omvang daarvan word nou eers blootgelê en dit kan nog baie jare duur vir die strafregstelsel om die geïmpliseerdes te vervolg. Met die bekendstelling van bogenoemde tema van die Afrika-unie sê Muhammadu Buhari, president van Nigerië, op 28 Januarie 2018: “Corruption rewards those who do not play by the rules and also creates a system of distortion and diversion thereby destroying all efforts at constructive, just and fair governance”.

Hoeveel van diegene in die staatsdiens, verkose verteenwoordigers en sakelui nie volgens die reëls gespeel het nie, sal hopelik nog alles ontbloot word. Dat die stelsel reeds skrikwekkend misbruik is, het al aan die lig gekom, maar dit is duidelik dat konstruktiewe en regverdige bestuur die slagoffer was van die verhale van staatskaping wat ons nou reeds gehoor het. Of dit gaan herstel en óf dit herstel kan word, is ʼn ander vraag. Dat die glybaan van korrupsie al reeds ʼn ver en lang pad aankom, is ewe duidelik.

Transparency International publiseer jaarliks ʼn korrupsiebarometer. In die jongste barometer wat verlede jaar gepubliseer is, word 180 lande gemeet en sak Suid-Afrika van 64ste na 71ste. Alle aanduidings is daar dat ons nog verder sal terugsak.

Prof. William Gumede skryf ʼn jaar gelede in Wits se aanlyn nuusbrief: “Gebrek aan aanspreeklikheid is een van die grootste redes vir Afrika se volgehoue onderontwikkeling, mislukte state en burgeroorloë. In Afrika is die beskerming van korrupte, moorddadige en diktatoriale leiers dikwels meer heilig as die regte van gewone burgers, die openbare belang en die welsyn van die land.” Hy sê dan: “Trouens, straffeloosheid, gebrek aan enige gevolge vir die gedrag en gewone burgers se aanvaarding van Afrika-leiers se outokratiese gedrag, korrupsie en die aanblaas van etniese konflik om aan bewind te bly, is van die hoofredes vir onstabiliteit in Afrika.”

Die aanvaarding van die korrupte gedrag is waarskynlik die rede vir Amnestie Internasionaal se standpunt dat nagenoeg 75 miljoen mense in Afrika suid van die Sahara by omkopery betrokke was in die laaste jaar.

Terug na Suid-Afrika. Kundiges het al bereken dat die Guptas en hul medewerkers sowat R40 miljard tot R50 miljard van die fiskus geplunder het. Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, het in Mei 2018 aan verslaggewers gesê dat staatskaping die land sowat R100 miljard gekos het. Ebrahim Patel, minister van ekonomiese ontwikkeling, is ook aangehaal waar hy gesê het dat korrupsie die Suid-Afrikaanse bruto binnelandse produk (BBP) minstens R27 miljard jaarliks kos, maar is sy waarneming dat dit gelei het tot die verlies van 76 000 werksgeleenthede.

Korrupsie vestig ook sekere persepsies en dit gaan jare neem om dit te herstel. Die Suid-Afrikaanse Instituut van Geoktrooieerde Rekenmeesters (SAIGR) het in Augustus 2018 resultate bekendgemaak van ʼn gesamentlike navorsingsprojek van die Duke Universiteit, die SAIGR, Africa Investment Advisors en die CFO Magazine South Africa. Die menings en persepsies van 27 van Suid-Afrika se groot maatskappye se hoof- finansiële beamptes is onrusbarend want, alhoewel die uitwerking van onetiese gedrag op die nasionale psige onmoontlik is om te meet, is die ekonomiese effekte van sulke onetiese gedrag wel meetbaar asook die waargenome skade wat veroorsaak word deur korrupsie. Die opname het bevind dat:

  • 75,6% glo korrupsie verminder die gehalte van goedere en dienste;
  • 66,6% glo korrupsie verhoog pryse;
  • 63% glo korrupsie verminder belastinginkomste wat deur die regering ingesamel word;
  • 63% glo korrupsie belemmer die uitbreidingsproses; en
  • 55,6% glo korrupsie belemmer mededinging.

Daar is ten minste nou begin met ʼn kommissie van ondersoek na staatskaping (Die sogenaamde Zondo-kommissie). Heel opportunisties het voormalige president Zuma die kommissie in Januarie 2018 by wyse van proklamasie gevestig vir ʼn aanvanklike tydperk van ondersoek en terugrapportering van 180 dae. Dit was ʼn onmoontlike opdrag van die begin af. Die kommissie het egter ‘n hofbevel verkry wat die kommissie se lewe vir ‘n verdere 24 maande vanaf die datum van 1 Maart 2018 verleng het. Die Kommissie het die mandaat ontvang om ondersoek in te stel en aanbevelings te doen na enige en alle bewerings van staatskaping, korrupsie en bedrog in die openbare sektor en kan dit enige saak na die betrokke wetstoepassingsagentskap verwys vir vervolging of verdere ondersoek. Dit is dus duidelik dat prosesse van afhandeling, aanbevelings en vervolgings nog etlike jare kan duur.

In die tussentyd is die prosesse ook onderworpe aan politieke gebeure en invloede. Ons weet maar te goed wat het in die laaste jare gebeur met die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), die Openbare Beskermer (OB) en senior polisieaanstellings. Die ANC as regerende party het oor jare al gewys dat hyself nie in staat is om op te tree teen individue nie en nog minder die politieke wil het om daadkragtig op te tree teen korrupsie.

Vanuit verskeie internasionale oorde, ook vanuit Afrika, begin oproepe kom dat diegene wat aan onwettige aktiwiteite bly deelneem, nie net as misdadigers beskou word nie, maar ook betrokke is in misdaad teen die mensdom.

Professor Patrick Lumumba, die Keniaanse intellektueel en regskundige wat in Julie 2018 die Nelson Mandela-gedenklesing gelewer het, het onomwonde die stelling gemaak dat korrupsie ʼn misdaad teen die mensdom is omdat dit die kwaliteit van lewe van mense negatief beïnvloed. Hy het terselfdertyd ook gewaarsku dat dit nie net nodig is om korrupte individue te vervolg nie, maar dat die hele etos van ʼn staatsdiens verander moet word.

Hiermee sluit hy aan by die Global Organisation of Parliamentarians Against Corruption (GOPAC) wat in Kanada gesetel is en wat al in November 2013 die standpunt gestel het dat daar “sommige vorme van korrupsie so ernstig is en waarvan die uitwerking op die menslike lewe, menseregte en menslike welsyn so katastrofies is, dat hulle die gewete van die internasionale gemeenskap moet skok en die wil van nasies moet mobiliseer om oor grense heen te handel.” Daarom was hulle eensgesind in die mening dat “grand corruption” ‘n misdaad onder die internasionale reg is en moet internasionale instellings en alliansies in staat gestel word om die skuldiges te vervolg, te oordeel en te veroordeel. In die lig daarvan moet dit volgens die GOPAC ook nodig wees om die “tipe Groot Korrupsie as ʼn misdaad teen die mensdom te oorweeg.”

Hulle definieer “Groot Korrupsie” as dat “dit plaasvind op hoë vlakke van die politieke stelsel, wanneer politici en staatsagentskappe hierdie gesag misbruik om hul mag, status en rykdom te onderhou.” Volgens hulle verbreek “Groot Korrupsie” nie net nasionale wette nie, maar is dit meer ernstig, want dit verdraai en ondermyn die oppergesag van die reg self. Hulle sê dan “Groot Korrupsie is sistemies, want dit word geïntegreer in die ekonomiese, sosiale en politieke stelsels wat dit aanvanklik moes bestry.” (GOPAC Besprekingsdokument oor Korrupsie as Misdaad teen die Mensdom) Volgens alle aanduidings en waarnemings is Suid-Afrika ʼn tipiese voorbeeld van “Groot Korrupsie”.

Alhoewel die Rome Statuut van die Internasionale Strafhof nie na “Groot Korrupsie” as ʼn misdaad teen die mensdom verwys nie, is die GOPAC van mening dat ʼn nuwe “Groot Korrupsie Statuut” by die Internasionale Strafhof aanvaar moet word wat sulke misdade “uitdruklik onwettig maak binne die internasionale strafregstelsel en dit duidelik maak dat die Internasionale Strafhof sulke oortredinge kan vervolg.”

As vertrekpunt moet daar ook na Internasionale Riglyne gekyk word soos wat reeds in die VN se Internasionale Konvensie teen Korrupsie, wat op 31 Oktober 2003 aanvaar is en op 22 November 2004 deur Suid-Afrika geratifiseer is. Hierin word baie duidelik verpligtinge geplaas op state wat betref wetgewing en ander maatreëls wat ingestel moet word om korrupsie in die openbare en private sektore te bestry.

Ironies genoeg handel Artikel 7 oor die aanstelling van staatsamptenare op die beginsel van meriete, gelykheid en bekwaamheid. Die beleid van kaderontplooiing en ook regstellende aksie is in stryd met die bepalings van die konvensie en moet dan ook gesien word as oorsake vir korrupsie. (VN Konvensie teen Korrupsie – 2003).  Dit plaas ook die verpligting op state om instellings daar te stel wat korrupsie kan ondersoek. Dit het die Skerpioene met groot sukses gedoen en het ʼn skuldigbevindingskoers van tussen 82% en 94% gehad.

Op die ANC se 2009-konferensie is egter besluit om die eenheid te ontbind en is begin om ʼn tragiese hoofstuk in Suid-Afrika se geskiedenis te skryf. Adv. Paul Hoffman van Accountability Now skryf heel tereg oor die doel met die ontbinding van die Skerpioene “sodat die staatskapingsprojek van die Zuma-administrasie ongehinderd kon voortgaan”.

Daar is nou ʼn begin gemaak met die ondersoek na staatskaping en korrupsie. Ongelukkig het selfs die Zondo-kommissie se eie personeel dit nie vrygespring nie en is sy sekretaris ook enkele dae terug geïmpliseer. Hoewel baie nog aantygings is wat ondersoek moet word, is die skaal en omvang van so ʼn aard dat mens die vraag moet vra of Suid-Afrika se strafregstelsel nog die vermoë het om dit behoorlik te ondersoek en die reg behoorlik toe te pas?

Die publiek moet sien dat die reg toegepas word en die tyd sal leer of senior politici en staatsamptenare agter tralies gaan beland.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jan Bosman

Jan Bosman is Hoofsekretaris van die Afrikanerbond.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Realis ·

Hoe gaan jy die Westerse beginsels afdwing? Dis deel van die volks DNA. Goed soos korrupsie, gereëlde huwelike, vrou regte miskenning, rassisme, kinderarbeid, ens. ens. In Afrika, Midde Ooste, Suid Amerika en die Ooste is daar reëls en regulasies in plek wat geen Westerling gaan verander nie.

Fanie ·

Met die wapenskandaal was dit westerlinge wat die ANC regering omgekoop het.

Pvt ·

SA is vol korrupsie landmyne.
Grootste een is regering.
Ek sal nooit met SA regering besigheid doen nie.

John ·

Korrupsie/Mammon is ‘n misdaad volgens die Hemelwette… Die mensdom is nie ‘n magtige wese nie… dis ‘n term… en die duiwel het sy poot in die ronde bol, wat in die Bybel tot Aarde gedoop is, Gen 1:1. Geen respek vir die Hemelvader in Sy Drie-enigheid nie, loop hiermee saam. Korrupsie is, eenvoudig gestel, slegtigheid, sluheid en totale verroting van aardse wesens. Hoe om dit reg te stel? Lees die Bybel en skrik.

Judge Dredd ·

Probeer eers kommunisme as misdaad teen mensdom te verklaar.

Werner ·

As jy wil weet hoe Suid-Afrikaanse staatsamptenare te werk gaan, kyk gerus Narcos op Netflix. Ons amptenare werk presies soos die Meksikaanse/Colombiese aptenare. En natuurlik ook lande soos Zimbabwe en Venezuela. Dis skrikwekkend, maar as jy verstaan hoe hulle werk, verstaan jy ook dat dit jou morele plig is om belasting van hierdie skurke te weerhou sover jy kan. Ons kan nie deelneem aan hierdie speletjie nie.

Jerry ·

Jy kan praat, jy kan doen, jy kan maak net wat jy wil, dit gaan absoluut niks verander na waarheen SA oppad is. Elke revolusionere kaderslang se kop wat afgekap word, se plek word onmiddellik ingeneem deur die volgende kader wat in die ry van miljoene kaders staan en hulle beurt afwag. Die ANC appels is vrot, hetsy of dit die Zuma of CR faksies is. Die kanse dat Zondo dus vrot is, is goed, hy is nog net nie geimpliseer nie. Die wetstoepassers, ondersoekers, vervolgingsgesag, die regbank beskik oor meer vrotappels as goeie appels. Die ANC het nou n fase betree waar alle vrotappel kaders hulle moet gedra asof hulle goeie appels is. Wees dus gewaarsku dat hierdie n fase van misleiding op n ongekende skaal is, wat die weegskaal finaal in die ANC se guns gaan swaai, plaaslik en in die buiteland. Die ekonomie wat nou herstel word en die Afrikaner se sakeryk wat gebou word, gaan met die ANC se volgende fase deur verandering in wetgewing geteiken word en geplunder word. Wat ookal die Afrikaner nou doen om dit te keer, hy gaan sy skoolgeld betaal op die harde manier uit die lesse wat hy gaan leer. Die onafhanklikheid van die regbank is nie so onafhanklik soos wat dit op die oog af lyk nie en kan enige oomblik van die een kant na die ander kant oorhel!

Dries du Toit ·

Net so Jerry. Eerlikheid is ons ondergang. Kyk nou wat gaan word van Agrizzy. Hy was eerlik. Nou gaan hy die prys betaal

Kwaliteit Gehaltebestuur Aardvark ·

Geen kwaliteit- en gehaltebestuursprogram kan suksesvol wees as die leierskap nie gesien word dit self toe te pas en af te dwing nie. Die toekoms van SA lyk maar duister.

JAN ·

probeer weer.
Liewe Jan en Moederator
Baie dankie vir die mooi akademiese outopsie van die status quo.
Maar wat daarvan ? van alles wat u korrek beskryf – ‘so what’
Wat gaan die AB daaromtrent doen ?
Gelukkig het MM vir Rhoda Kadali gekry

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.