Korrupsie – Op pad na die slegste van Suid-Afrika

Argieffoto

In een van sy sowat 20 000 persoonlike briewe wat hy geskryf het, skryf genl. Jan Smuts [volgens prof. Hermann Giliomee] in Desember 1948: “Die beste, soos die slegste, gebeur nooit in [Suid-Afrika] nie.” Dan wil mens amper sinies byvoeg dat genl. Smuts in daardie stadium nie geweet het van die ANC in regering, die skaal van korrupsie of Covid-19 nie.

In byna elke gesprek wat mens voer, wit of swart, is die huidige regering se onbeholpenheid ter sprake en is daar deur die bank ʼn mismoedigheid met die voortgesette skaal van korrupsie en misdaad. Op enige gegewe oomblik kan mens die koerante of die aanlyn nuusdienste lees en is daar verslag oor nog ʼn tender wat misbruik is vir korrupsie, nog ʼn politikus of senior staatsamptenaar wat geïmpliseer word, nog Covid-19-noodlenigingsfondse wat wanaangewend is, of nog ʼn plaasmoord, nog ʼn geldwa wat opgeblaas is, ʼn skietery in die kerk en so kan mens aangaan. Suid-Afrika is waarskynlik nie op die punt waar die slegste ooit gebeur nie, maar ons is baie naby daaraan.

Op Donderdag 23 Julie 2020 spreek die president weer die nasie toe en lewer ʼn ernstige betoog teen die korrupsie van noodleningsgelde. Drastiese maatreëls word aangekondig om dit hok te slaan. Maar dit is nie asof dit enige gerusstelling bied nie. Dit is al bekende woorde wat al verskeie kere in die verlede gesê is en is ons al van een ondersoek na ʼn ander ondersoek en van een kommissie na ʼn volgende kommissie. Hoe lui die spreekwoord? “Woorde wek maar dade trek.” Alvorens politici en senior staatsamptenare nie met dringendheid verhoor en gevonnis word nie en dat ons nie sien en beleef hoe geregtigheid plaasgevind het nie, sal die leë woorde niemand meer beïndruk nie.

Korrupsie kos die land al honderde miljarde rand. Dit is duisligwekkende syfers en die omvang daarvan plaas Suid-Afrika ook tans 54ste op ʼn lys van 199 lande op die wêreldwye korrupsiepersepsie-indeks (ʼn daling van vyf plekke sedert die vorige jaar). Dit is NIE ʼn trotse prestasie nie. Suid-Afrika en veral die politieke omgewing moet ʼn dringende kultuurverandering ondergaan. Politieke korrupsie deur patronaatskappe en tenderbedrog neem ongekende afmetings aan.

Dit vereis veral daadwerklike optrede in die ANC intern en teenoor sy lede. ANC-lede se korrupsie is gewis nie ʼn onlangse verskynsel nie. Die struggle-kultuur van die ANC het vir een of ander rede aan ANC-lede die vrye mandaat gegee om hulself bo die reg te plaas.

Hieraan is ons onlangs herinner toe oudminister Nomvula Mokonyane by die Zondo-kommissie na staatskaping getuig het. Ter inleiding het sy besonder baie klem geplaas op haar aktivistiese verlede vandat sy 15 jaar oud was. Hiermee word die indruk gewek dat sy almal net eers weer moes herinner aan haar struggle-geloofsbriewe, wat enige moontlike wandade moet verskoon.

Ter sprake is die ANC se eie verbintenis tot die Suid-Afrikaanse Grondwet wat in 1996 as Wet 108 van 1996 gepromulgeer is. In dieselfde jaar wat die Grondwet gefinaliseer en aanvaar is, word die Grondwet reeds ondermyn deur niemand minder nie as oudpres. Jacob Zuma wat toe ANC -voorsitter was en by ʼn ANC-geleentheid in Durban sê “[die ANC is] belangriker” as die Grondwet. “Geen politieke mag kan die ANC vernietig nie – dit is slegs die ANC wat homself kan vernietig … [die Grondwet is slegs daar] om sake te reguleer.” Toe al moes ons geweet het dat die Grondwet die onderspit gaan delf in die plundering van die staatskas.

Die beginsel van art 9 (1) in die Suid-Afrikaanse Grondwet wat sê “elkeen is gelyk voor die reg en het die reg op gelyke beskerming en voordeel van die reg” is skynbaar nie van toepassing op die struggle-lede nie. Inteendeel kry mens die idee dat mense dink dat ʼn struggle-betrokkenheid ʼn vrypas is na oortredings wat hulle bo die reg stel.

Reeds in 1997 toe Allan Boesak na Suid-Afrika terugkeer het om verhoor te word na aanleiding van bedrog met buitelandse skenkersgelde word hy op die lughawe verwelkom deur die minister van justisie Dullah Omar, wat volgens mediaberigte die klagtes teen Boesak afgemaak het as dat hy ʼn “slagoffer van struggle-boekhouding was”.

So waarom word die struggle dan deurentyd voorgehou? Die antwoord hierop is in November 2004 gegee deur Smuts Ngonyama, die ANC se nasionale woordvoerder, wat by ʼn R6,6 miljard-SEB-transaksie in Telkom betrokke was en ter verdediging gesê het dat hy “nie by die struggle betrokke geraak het om arm te wees nie”.

Dat ondersoeke teen senior politici sou kom, het die regerende party begin pla. Soveel so dat ʼn resolusie op die ANC se Polokwane-konferensie in Desember 2007 aanvaar is wat die suksesvolle Direktoraat van Spesiale Operasies (“die Skerpioene”) moes ontbind. Die één instelling wat die vermoë en onafhanklikheid gehad het om hierdie soort korrupsie en kriminaliteit op hoë vlak te ondersoek en te vervolg, is op die ANC se aandrang in 2008 ontbind. Hiermee is die deur wawyd oopgemaak vir grootskaalse plundery en staatskaping en het die kaders nie op hulle laat wag nie.

Die SAKP se sekretaris-generaal, dr. Blade Nzimande, spreek direk tot diegene, toe hy op 22 Oktober 2018 naby Pinetown in Durban in ʼn toespraak sê: “Die feit dat u in die stryd (struggle) teen apartheid was, is nie ‘n lisensie dat u vandag u posisie in die beweging of die regering moet gebruik om te plunder en uself te verryk nie.” Dit val ook op dowe ore, want toe al val die kaders oor mekaar om hulself te verryk.

Die hoeveelheid ANC-ampsdraers en openbare verteenwoordigers wat by korrupsie of beweerde korrupsie betrokke is, neem by die dag toe. Duidelik is die staatskas nou reeds leeg geplunder en is die Covid-19-noodleningsgelde nou die volgende in die visier. Hieroor het president Ramaphosa drastiese optrede aangekondig. Of enige vervolging hieruit gaan spruit sal die tyd ons leer. Daarom staan mense ook sinies oor die IMF-lening van R70 miljard wat pas toegestaan is. Nog ʼn geldkraan wat oopgedraai word.

Korrupsie en patronaatskap is tans die enigste gom wat die kaders bymekaarhou. Prof. William Gumede van Wits skryf op 8 Mei 2019 in The Guardian: “Die ANC het tydens die stryd teen apartheid ‘n breë beweging georganiseer, wat verskillende ideologieë insluit, en ingespan in die stryd teen apartheid, van tradisionaliste soos Zuma tot kommuniste en kapitaliste soos Ramaphosa. In die periode ná apartheid het die ANC hierdie verskillende groepe byeengebring deur staatspatronaatskap, kompromiebeleide en die algemene ervaring van apartheidsonderdrukking.”

Drastiese optrede teen korrupsie is dalk te veel gevra. Van politieke beloftes oor optrede teen korrupsie het daar tot dusver dadels van gekom. In sy staatsrede op 16 Februarie 2018 sê president Ramaphosa: “Dit is die jaar waarin ons die gety van korrupsie in ons openbare instellings gaan draai.” Die beloftes is sedertdien op ʼn verskeidenheid van wyses opgevars en herhaal. Korrupte kaders word herontplooi en geen haan kraai ooit weer daarna nie. Die ANC wil ons troos met plegtige aankondigings dat die ANC se integriteitskomitee lede sal ondersoek. Soos om wolf skaapwagter te maak. Dit bring net soveel “gerustheid” as destyds toe Zuma die land se morele herlewingsbeweging moes lei.

Om korrupsie daadwerklik te takel verg dringende optrede en hiervoor moet ons kyk na ander wêrelddele. Ons het vantevore reeds die gedagte geopper dat daar ʼn permanente en onafhanklike statutêre teenkorrupsie-kommissie tot stand gebring moet word, gebaseer op die internasionale beste praktyke van soortgelyke kommissies wat reeds in Asië en Afrika tot stand gekom het. So ʼn onafhanklike teenkorrupsie-kommissie moet wye ondersoek en vervolgingsbevoegdhede hê. Net so kan daar ook teenkorrupsie-howe gevestig word. Suid-Afrika het met die aanbied van die Sokkerwêreldbeker in 2010 vier-en-vyftig spesiale howe gevestig om misdaad in die tyd te kon hanteer. Drastiese aksie is nodig en veral met diefstal van noodlenigingsfondse kan daar geen verskoning wees om nie die swaarste strawwe moontlik op te lê nie.

Korrupsie het die land reeds ontneem van soveel van sy potensiaal maar dit is asof die kaders nou met mening baklei vir die laaste beskikbare sent in die staatskas. Hulle doen dit wetende dat die openbare gety teen hulle draai en met vrees vir komende verkiesings. Dit demonstreer die slegste kant van Suid-Afrika, wat genl. Smuts nie kon indink nie en wat ons Grondwet daagliks ondermyn. Johan Steinbeck het nie verniet gesê nie: “Mag is nie korrup nie. Vrees korrupteer … miskien die vrees vir ‘n verlies aan mag.”

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jan Bosman

Jan Bosman is Hoofsekretaris van die Afrikanerbond.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Therese ·

Die fondasie vir korrupsie in die nuwe Suid-Afrika is m.i. gelê tydens die ‘NP – na – ANC – oorgawe – onderhandelings’ toe daar kits-superryk-magnate van sekere ANC – individue gemaak is.
Dít het die illusie van rykdom geskep wat opvolgende ANC – comrades hul mikpunt gemaak het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.