Korrupsie steel meer as net geld

Argieffoto (Foto: SAPD, Facebook)

Argieffoto (Foto: SAPD, Facebook)

Deur Johan Schoeman van die Solidariteit Beweging

Dit begin lyk asof die daaglikse berigte oor bedrogpleging, korrupsie en “staatvang” dieselfde uitwerking op Suid-Afrikaners het as die berigte oor die toename in misdaad enkele jare gelede. Mense raak vuisvoos en afgestomp, so amper asof ʼn mens wag vir die rapportering oor die volgende vergryp.

Sou ons kortliks ʼn register wou opstel van korrupsieskandale, word ons gekonfronteer met die vraag: Waar begin ek? Daar is verskeie organisasies in Suid-Afrika wat aktief is op die terrein van korrupsiemonitering. Hierdie burgerlike organisasies vervul in werklikheid ʼn belangrike doel om, saam met die media, gevalle wat tekens van korrupsie, bedrog of enige verwante misdaad toon, openlik aan die kaak te stel.

Die Solidariteit Navorsingsinstituut het byvoorbeeld in September 2015 ʼn verslag oor die stand van korrupsie in Suid-Afrika die lig laat sien. In hierdie verslag is tien gevallestudies waar korrupsie hoogty vier, uitgelig en bespreek. Hierdie terreine was:

  • plaaslike regering
  • tenders
  • voorafbetaalde elektrisiteitsmeters in Pretoria
  • die SAPD
  • die metropolisie
  • PRASA
  • vervalste kwalifikasies
  • binnelandse sake
  • die kabinet en parlement
  • die Nkandla-sage

Dit sal nie moeilik wees om terreine tot hierdie lys toe te voeg nie. Daar word ook in die verslag melding gemaak van Suid-Afrika se verswakkende posisie op die rangorde van Transparancy International, ʼn internasionale organisasie wat korrupsie in lande monitor. Benewens hierdie organisasie meld organisasies soos Corruption Watch, Africa Check en die Instituut vir Interne Ouditeure syfers wat skrikwekkend is. Hulle noem byvoorbeeld dat ongeveer R1 miljard in 2011/2012 direk as gevolg van korrupsie verlore gegaan het (sommige syfers praat selfs van tussen 25 en 30 miljard), en ongeveer R700 miljard sedert 1994.

Syfers soos hierdie is dikwels gewoon spekulasie, maar gee darem ʼn aanduiding van die omvang van die probleem. Daar is selfs sprake daarvan dat sommige groot maatskappye nou al “fasiliteringsgeld” by die jaarlikse begroting voeg ten einde sekere transaksies suksesvol te kan deurvoer. By die lees daarvan in die Suid-Afrika van 2016 wonder ʼn mens onwillekeurig watter verskil hierdie soort geld sou kon doen aan die stimulering en opbou van ʼn ekonomie wat vir alle praktiese doeleindes in ʼn resessie verkeer.

Gewoonlik word die gevolge van korrupsie deur “harde” syfers soos hier bo te gebruik, geïllustreer. Daar is egter ook ʼn ander kant daarvan; iets wat meer diepgaande en meer langdurig is. Hierdie “sagte” kwessies is in werklikheid eintlik van meer belang en beteken ook dikwels die vernietiging van verhoudings tussen mense op verskeie vlakke. Dit kan kortliks as volg opgesom word:

  • Wanneer korrupsie rugbaar word, veroorsaak dit negatiewe persepsies by wie ook al daarvan te hore kom. Sonder om in die sielkunde daarvan betrokke te raak, is dit so dat persepsies, reg of verkeerd, dikwels die werklikheid vir persone verteenwoordig. Dus, werklike korrupsie skep die beeld/gevoel van iets korrup en beïnvloed mense (beleggers, werknemers, werkgewers) se reaksie daarop. Om hierdie persepsies reg te stel kos baie tyd en moeite.
  • In aansluiting by bogenoemde veroorsaak korrupsie skade aan mense/instellings se reputasie. Weer eens is reputasie iets wat slegs met groot moeite, tyd en inspanning weer opgebou kan word.
  • In ʼn land, of selfs in ʼn organisasie, skep die voorkoms van korrupsie ʼn vertrouensbreuk tussen mense en leiers/bestuurders. En weer eens is so ʼn breuk iets wat slegs oor tyd herstel kan word, indien ooit.

Dit is belangrik om te besef dat korrupsie nie net ʼn probleem in Suid Afrika is nie en nie net die steel van geld impliseer nie.  Onlangse internasionale onthullings oor politici wat inligting en netwerke tot eie voordeel gebruik het en selfs probeer om die gepaargaande persepsies te manipuleer, blyk nou ʼn alledaagse verskynsel te wees.

Die begin van oplossings vir die probleem van korrupsie val ver buite die grense van hierdie kort oorsig. Maar om dit effe meer prakties en persoonlik te maak, plaas jouself in hierdie posisie :

As verteenwoordiger van ʼn groot internasionale maatskappy kry jy opdrag van jou maatskappy se besturende direkteur om na land X te vlieg en ʼn transaksie van etlike miljoene te beklink met die verteenwoordigers van ʼn ander maatskappy wat slegs vir een dag in die land is en jou slegs die betrokke dag kan ontmoet. Met jou aankoms op die lughawe word jy meegedeel dat jou inentingsdokument verval het en hulle jou nie in die land gaan toelaat nie. Nadat jy die dringendheid van jou besoek probeer verduidelik het, sê die amptenaar aan jou, eenkant en vertroulik natuurlik, dat jy, soos hy dit sien, een van drie keuses het:

  • Jy moet maar terugvlieg en aan jou bestuurder gaan verduidelik dat jy toegang tot die land geweier is. Persoonlik besef jy wat die gevolge hiervan vir jou werk gaan wees.
  • Jy kan die klein kamertjie daar oorkant besoek en die nodige inentings kry. Jy sien egter dat die kamertjie redelik vuil is en dat dit lyk asof die instrumente op die tafel reeds ʼn paar keer gebruik is.
  • Jy kan natuurlik ook ʼn “klein” bydrae maak tot die amptenaar se persoonlike finansies, waarna die nodige toegang makliker sal wees.

Wat kies jy? Bogenoemde is waarskynlik ʼn eenvoudige skets om te illustreer dat dit maklik is om skielik gekonfronteer te word met situasies wat hulself leen tot korrupsie of onetiese gedrag. Dalk is die belangrikste om aan te dui dat die pleeg van korrupsie uiteindelik op ʼn keuse berus, maar met in agneming daarvan dat, indien korrupsie wel toegelaat word en voortduur, dit maklik kan ontwikkel tot ʼn situasie waar dit so uitgebreid raak dat mense eintlik verwag dat daar so opgetree kan en gaan word. Dan raak korrupsie die reël eerder as die uitsondering. Die skade daarvan is langdurig en medebepalend vir die staat se uiteindelike mislukking.

ʼn Kommentator oor etiek het genoem dat elke mens se optrede van só ʼn aard behoort te wees dat dit enige tyd ʼn algemene reël kan word. Dit het waar geword in Suid-Afrika, maar dalk nie op die manier wat ons kommentator bedoel het nie.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

6 Kommentare

Ensen ·

Korrupsie word as aanvaarbaar in die kultuur gesien en ons weet hoe moeilik dit is om kultuur te verander. Die plaaslike bevolking moet goed bewus gemaak word dat geld wat korruptes ontvang is geld wat noodwendig weggekanaliseer word van hulle sosiale toelae said, skole, hospitale, huise. Druk die bedrag geld wat die ANC verlore laat raak in korrupsie uit in eenhede wat hulle konkreet kan sien. Alleenlik dan sal hulle verstaan waarom korrupsie sleg is.

Ekke ·

Ons moet entrepreneurs word, met mekaar besigheid doen, deur middel van e-Handel met die buiteland besigheid doen, en selfs n eie plaaslike geldeenheid ontwikkel sover dit wettig is. So kan ons al minder afhanklik van die regering en korrupsie word.

Pappapiet ·

As ‘n pa nie die regte voorbeeld stel nie, kan hy mos nie daarop aandring dat sy kinders ‘n skoon lei sal he in soverre dit hul karakter, morele beginsels ensomeer betref nie. Eweneens kan korrupsie nie aan bande gele word as dit in die land se regering aan die orde van die dag is nie! Dan bleik dit ook nog dat daar nie slegs kortpaaie gevat word nie, maar dat dit juis die terrein is waar die “argitekte” van korrupsie hul bevind! En dis nie net ter plaatse nie, dit gaan wereldwyd in ‘n mindere of meerdere mate so, hetsy of dit kapitaliste, sosialiste, kommuniste of watse “iste” is….

Eckhardt Bosch ·

Johan, hoe onderskei jy tussen omkopery en ‘n geskenk?
Vele kulture in Afrika ag die gee van ‘n geskenk as ‘n belangrike teken van respek. Dit word dan ook geag as deel van die besigheidstransaksie om ‘n geskenk te gee. Dit is ook waar vir sommige Afrikaners waar hulle ‘n bottel wyn as geskenk gee om die besigheidstransaksie te fier. Ek wonder net of die weste sukkel om die verskill te verstaan tussen omkopery en geskenk gee. Hoor graag.

Kolver ·

Echardt, dis eintlik baie eenvoudig. As dit ‘n geskenk is, moet die geskenk aan die eienaar gegee word, siende dat hy/sy die verlies lei indien die verskaffer wat nie die beste is gekies word nie. Dus, as jy die geskenk gee aan die aankoper met die doel vir sy/haar eie gebruik, is dit omkopery. Dieselfde geld vir munisipaliteite, regerings entiteite – die eienaar is die burgers van die stad of die land. Indien jy dus ‘n bottle wyn present gee, moet dit verklaar word en verkoop word op ‘n veiling anders is dit korupsie. Die geld gaan dan terug in die regering/munisipaiteit se rekening.

John ·

Etiek is ingebed in godsdienstige beginsels waarvan die Bybel se riglyne die vaste voetstuk vorm waaruit ander godsdienste tot ‘n mindere of meerdere mate ontleen. Ander antieke bygelowe en godedienste is gerig op mensgemaakte idees en begeertes. Ateisme is suiwer ek-aanbidding. Alle grootmense weet wat reg en verkeerd is. Die Bybel vat in die 10 gebooie alle verantwoordelikhede jeens die naaste mooi saam. Om dus te se ‘n mens kan doen wat jy wil, beteken dat jy jou eie gewete verkrag en jou wend tot ‘n selfgemaakte geloof waarin die verontregting van die eie ek, of die naaste, gewoonlik as die hoofrede aangevoer word vir verkeerde aksies.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.